Skip to main content

Palmsondag Preek: Lukas 19

Ek wil Jesus se heerskappy met twee woorde beskryf: Nederigheid en kontradiksie.

In Jesus se nederigheid, sien ons reeds die kontradiksie van nederigheid en mag: mag wat nie in vertoon (berede en voetsoldate, trompette en goue baniere) te vinde is nie, maar in liefde. In opoffering. DIT is hoe ware mag lyk: om ander te dien; om vir ander om te gee; om jouself vir hulle uit te giet; om lief te hê.

Toetrede

Lied 168 verse 1 en 3 Heilige Jesus (staan)

Votum

Voorganger: In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
Hulle het toe die donkievul na Jesus geneem. Hulle het hulle boklere oor die donkievul gegooi en Jesus laat opklim. Terwyl Hy aanry, het hulle hulle boklere op die pad voor Hom oopgesprei. Toe hulle naby die afdraande teen die Olyfberg kom, het die hele skare dissipels God vol vreugde hardop begin prys oor al die kragtige dade wat hulle gesien het.Hulle het uitgeroep:
Gemeente: “Geseënd is die Koning, Hy wat kom in die Naam van die Here! Vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste!”
Voorganger: Sommige van die Fariseërs in die skare het egter vir Jesus gesê: “Meester, berispe jou dissipels!” Maar Hy het hulle geantwoord:
Gemeente: “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep!”

Vlag-prosessie

Lied 547 Alle volke, klap jul hande (staan)

Seëngroet
Lofsang

Lied 400 verse 1, 2 en 5 Juig, juig in Hom (staan)

Geloofsbelydenis

Gemeente: Ek glo in Jesus Christus, die eniggebore Seun, ons Here
Voorganger: Hy wat in die gestalte van God was, maar homself verneder het deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.
G: wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het.
V: Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.
G: wat op die derde dag weer opgestaan uit die dood, opgevaar na die hemel en sit aan die regterhand van God die almagtige Vader.
V: God het hom tot die hoogste eer verhef en hom die Naam gegee wat bo elke naam is.
Gemeente: In die Naam van Jesus sal elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie buit en elke tong sal erken: Jesus Christus is die Here!
V: Tot eer van God die Vader.
G: Amen.

Lied

Vonkk 100 By Die Intog In Jerusalem (sit)

Gebed
Skriflesing

Lukas 19:28-40

Preek

Prosessies van Mag

Op ’n lentedag, rondom die jaar 30, aan die begin van Pasga, die groot fees op die Joodse kalender, was daar twee prosessies in Jerusalem*. Die een ’n grootse, vorstelike optog. Die ander ’n nederige, armsalige optog.

Uit die ooste, uit die rigting van die Olyfberg, kom Jesus aangery op ’n donkie, terwyl sy dissipels hom toejuig. Jesus kom van ’n agterlike plattelandse dorpie genaamd Nasaret – ’n dorpie waaroor selfs die Jode gespot het. Hy verkondig die boodskap van die Koninkryk van God. Sy volgelinge is veral uit die werkersklas… en armer.

Aan ander kant van stad, vanuit die weste, kom Pontius Pilatus, die Romeinse goewerneur van Idumea, Judea en Samaria, Jerusalem binnegery. Hy ry aan die hoof van ’n magtige optog van imperialistiese berede soldate, gevolg deur ’n bataljon voetsoldate.

Twee optogte: Jesus se optog verkondig die koninkryk van God. Pilatus se optog verkondig die mag van Romeinse ryk. En dit is die storie wat tot hier stadig momentum gekry het, maar in die volgende week gaan opbou tot breekpunt.

Natuurlik word Pilatus se optog nie genoem in die Bybel nie, dalk omdat die skrywers veronderstel dat hul lesers weet daarvan. Die Romeine het die Joodse gebied beset. Dit was dan ook veral tydens feestye – waarvan die Pasga die grootste is – wat hul militêre vertoon en teenwoordigheid op die sterkste was. Dit moes dien as ’n sigbare herinnering aan wie eintlik in beheer is.

Probeer in jou gedagtes die prentjie sien: die Romeinse optog, wat ten doel het om die mag van magtige Romeinse Ryk te vertoon. Die hele optog is ’n visuele magsvertoon: imposante perde, soldate in leer harnasse, rooi klere, vere op blink helms, wapens, baniere, goue arende op pale, die son wat op metaal blink. Die klanke van marsjerende voete, leer wat kraak, geklingel van perde se toom, dromme wat slaan, stof wat staan.

Die skare staar met ontsag, geboei deur die spektakel van magsvertoon – nuuskierig, maar waarskynlik ook gebelg (hoewel hulle dit natuurlik nie sal wys nie).

En dan Jesus. Op ’n donkie. Arm vissermanne se klere as saal.

En natuurlik is dit nie toevallig nie! Jesus beplan sy optog, omdat dit net so hard getuig as sy tuisgaan by Saggeüs vroeër in die hoofstuk, of sy gelykenis oor die muntstukke net voor hierdie vertelling. Jesus se optrede is doelbewus, want hy weet die Jode sal Sagaria onthou en sy optog as kontrasterende optog sien:

Sagaria 9:9–11
9Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is ’n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ’n donkie, op die hingsvul van ’n donkie. 10Ek sal die strydwaens in Efraim vernietig, die perde uit Jerusalem uitroei. Die pyl en boog waarmee oorlog gemaak word, sal gebreek word. Die koning sal vrede vir die nasies afkondig en hy sal regeer van see tot see, van die Eufraat af tot in die uithoeke van die aarde.

G’n wonder die skare is opgewonde nie. Hier is die vervulling van die belofte! Hier is hulle koning! Een hulle gaan bevry van Romeinse besetters. Een wat die strydwaens gaan vernietig, die perde uit Jerusalem gaan uitroei. Die pyl en boog waarmee oorlog gemaak word, sal gebreek word. Vrede vir die nasies sal afgekondig word.

Maar dalk het hulle nie daardie woorde lekker gehoor, nie goed verstaan wat dit beteken dat die koning op ’n donkie ry en vrede bring nie. Waarskynlik is dit steeds vandag waar: dat ons nie verstaan wat hierdie kontras beteken nie.

Nederigheid en kontradiksie

Ek wil Jesus se heerskappy met twee woorde beskryf: Nederigheid en kontradiksie.

Oor die nederigheid praat ons baie: nie prag en praal nie, maar diensbaarheid. Die inkarnasie van God, gebore as mens in ’n stal. Jesus wat nie ’n klip gehad het om sy kop te lê nie. Wat sy bokleed uittrek, kniel en sy volgelinge se voete was. Wat op ’n geleende donkie ry na die kruis.

En in Jesus se nederigheid, sien ons reeds die kontradiksie van nederigheid en mag: mag wat nie in vertoon (berede en voetsoldate, trompette en goue baniere) te vinde is nie, maar in liefde. In opoffering. DIT is hoe ware mag lyk: om ander te dien; om vir ander om te gee; om jouself vir hulle uit te giet; om lief te hê.

Jesus is die Koning wat oorwin, nie deur oorlog nie, maar deur liefde en opoffering.

Kontradiksie is so ’n goeie woord, want dis heeltemal anders as wat ons verwag! Ek kry die woord in ’n storie, wat eintlik ’n heel ander betekenis van “kontradiksie” in gedagte het: Tydens die Tweede Wêreldoorlog het ’n Franse pastoor van ’n protestantse kerk, Pastor André Trocme, in Nazi-besette Frankryk in ’n bergagtige dorpie genaamd Le Chambon, op Kersdag gepreek met die tema: “Hoe die donkie die gees van kontradiksie gekry het”.
Die mense van die omgewing het ’n ondergrondse beweging gehad wat vlugtelinge gered het – baie van die vlugtelinge Joodse kinders. Trocme se lidmate het in vrees geleef en nie met met mekaar gepraat nie, omdat hulle nie geweet het wie hulle gaan verkla aan hul Duitse besetters nie.

Vir hierdie groepie vreesbevange gelowiges vertel Trocme een storie na die ander – van ‘n donkie. Hy praat van die donkie wat Maria dra na Betlehem, met Josef wat langs hulle stap. Van die donkie wat hulle gery het met die vlug na Egipte. Die donkie van die barmhartige Samaritaan. En die donkie waarvan ons vandag gelees het. Elke keer vertel Trocme ’n storie van die donkie se eienaar wat weier om die donkie te laat gaan en hoe die donkie, deur hul eie hardkoppigheid en dapperheid, op die ou einde wel gaan. Deur hierdie byna kinderlike stories nooi Trocme die gemeente om – terwyl hulle vrees en bedreiging in die gesig staar, wanhoop en ontnugtering – om in hierdie omstandighede met ’n “gees van kontradiksie” te leef.

Ek hou van hierdie idee: ’n gees van kontradiksie. Teenoor die bose, liefdelose magte van onderdrukking en uitbuiting, die byna hardkoppige hoop en liefde en gehoorsaamheid.

En dis wat ons sien by Jesus. Aan die een kant die Romeinse magsvertoon. Van die ander kant, Jesus wat wys hoe werklike mag lyk. Die volk dink hy kom om Romeinse mag te breek, maar Jesus kom om God koninkryk te laat kom. En hierdie Koninkryk is anders – teenstrydig / contradictory – met wêreldse koninkryke. Jesus oorwin op ’n manier wat teenstrydig /contradictory is met die manier wat ons verwag, die manier wat ons ken.

En DIS die Jesus wat vir my onweerstaanbaar is. Jesus wat leer dat God se manier anders lyk as die wêreld s’n – contradictory.

Wat sê ons hoef nie te streef na sukses in die vorm van baie geld en mag, om baas van ’n reuse-maatskappy te wees, na menslike erkenning nie. Maar dat sukses is in liefde, diensbaarheid, opoffering, oorgawe. Ons is suksesvol wanneer ons gehoorsaam is aan God, wanneer ons leef in die Gees wat Jesus vir ons gewys het.

Wat oorwin, nie deur die vyand te vernietig nie, maar deur die vyand lief te hê, deur die vyand te dien.

Dat vryheid nie is in ’n lewe sonder probleme nie, maar in gehoorsaamheid en oorgawe.

Dis interessant dat hierdie kontradiksie nie ’n patetiese opgee is nie. Dis nie om toe te laat dat mense sommer op jou trap nie. Die feit dat Jesus ’n spieëlbeeld optog hou, is ’n direkte uitdaging aan die magte van sy tyd. Gees van kontradiksie. En dis konsekwent in Jesus se lewe: liefde, opoffering – téénoor die magte van die tyd.

Dis nie gelate aanvaarding van wat verkeerd is nie, maar juis uitdaag – en oorwin! – ANDERS as wat ons dink en verwag. Liefde. Opoffering. Nederigheid. Kontradiksie.

Ek hoop jy kan sien hoe relevant, hoe konkreet dit is vir ons vandag. Jy kan in enige situasie waaraan jy kan dink, vra: hoe lyk nederigheid en kontradiksie in hierdie situasie? Hoe leef ons in die teenoorgestelde gees as die gees van die wêreld, van die dag?

Ons is almal bekommerd oor die rigting wat ons land inslaan. Ons is woedend verslae oor korrupsie. Nes ons dink dit kan nie erger nie, bars nog ’n sweer oop. Ons almal leef in vrees vir geweld. Ons sien hoe rassisme toeneem.

Dan kyk ons na Jesus en ons sien: nederigheid en kontradiksie. Ons kyk na die wêreld en sien hoe rassisme met rassisme beantwoord word, haat met haat. Oral sien ons die hatige diskoers in die manier waarop ons praat met en oor mensewat van ons verskil.

En dan kyk ons na die man op die geleende donkie… en word ons uitgedaag tot totaal ander optrede, ander gesindheid. Wat nie beteken om alles maar gelate te aanvaar en fatalisties die einde te sien kom nie. Maar wat wel met liefde, nederigheid, in die teenoorgestelde gees, alternatiewe soek.

Denise Ackermann het verlede jaar ’n boek getiteld Surprised by the Man on the Borrowed Donkey gepubliseer – waarvoor sy die Andrew Murray / Desmond Tutu prys gewen het. In die boek werk sy die hele tyd met kontradiksies. Maar sy begin deur ’n storie te vertel, van hoe sy een oggend sit in die indrukwekkende Katedraal van Canterbury, terwyl ‘n prosessie biskoppe van die Anglikaanse Kerk besig is om hul plek in te neem. Die bekende Lambeth-konferensie van die Anglikaanse Kerk was besig om te konstitueer. Die prosessie, meestal mans, maar ook ‘n paar vroue, is in pragtige duur gewade geklee. Hul togas is onder andere van sy en helderkleurige brokaat gemaak, met goue omboorsels, en hooftooisels vol tossels.

“Ek leun vooroor om te kyk wie kom almal die kerk binne,” skryf Ackermann. “Die deure begin toegaan agter die Aartsbiskop van Canterbury. Wie kort nog? Wie mis ek?” ‘n Verrassende prentjie spring helder op in haar gedagtes. Sy mis Jesus, die Man op die geleende donkie. Hoe sou dit lyk as Jesus op sy donkie die katedraal binnekom?

Of ons land? Ons stad? Jou lewe?

Die skare sing, swaai palmtakke, gooi klere neer, want hulle sien uit na die Koning wat oorwinnend terugkeer, terwyl hul vyande naak en bebloed in kettings agterna strompel.

Oor ’n week sal hulle skree: “Kruisig hom!” Omdat hulle nie verstaan dat hul Koning kom wanneer hy self, naak en bebloed, aan ’n kruis hang en sê: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Gebed
Dankoffer
Slotsang

Lied 223 Aan Jesus, Koning, al die eer (staan)

Seën
Respons

Lied 223 refrein

The Last Week: What the Gospels Really Teach About Jesus’s Final Days in Jerusalem deur Marcus J. Borg en John Dominic Crossan

palmsondag, preek, Rethie van Niekerk

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.