Skip to main content

Liefde lei ons op anderste paaie – Johannes 13

Thuma mina (thuma m’na) / Thuma mina (ezizweni) / Ndizoya ndithandaze

Stuur my /  Stuur my (na die nasies) /  Ek gaan bid.

Dit laat ‘n mens dink aan byvoorbeeld Jesaja 6:8, waar die Here vra: “Wie kan Ek stuur?” en dan antwoord Jesaja: “Hier is ek! Stuur my!”

Vir ons as gelowiges, is “stuur my!” ’n antwoord op Jesus se woorde:  “Volg my”.  In Johannes 12, kort voordat hy sy dissipels se voete was, sê Jesus:

John 12:26

As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees…

Dan wys Jesus baie konkreet wat hy bedoel, waarheen en hoe hy gevolg moet word, wanneer hy sy dissipels – en sy verraaier – se voete was.

Wat Pres. Cyril Ramaphosa ook al bedoel het, wat Jesus ons leer, is:  as jy wil oorleef onder moeilik omstandighede – dan moet jy dien.

Om Jesus te volg, is om ’n dienaar te wees.  Dienaar van Jesus –  én van mense.  Om ’n leier te wees, in die model van Jesus, is om te dien.

Toetrede

Lied 162 U self het ons geroep, Heer

Votum n.a.v. Ps. 41:1-2, 14

2Dit gaan goed met die mens

wat omsien na die swakke.

Die Here sal hulle red

op die dag van nood,

3die Here sal hulle beskerm

en in die lewe hou;

14Aan die Here, die God van Israel,

kom die lof toe

tot in die allerverste toekoms.

Amen, ja, amen.

Koor

Psalm 41: 1 en 6

Seëngroet

Lofsang

Vonkk 158 Ons wy onsself aan Christus toe

Wet

In vanoggend se teks lees ons van die helderste uitdrukkings van die Wet van God waarvolgens ons ons lewens moet rig.  Jesus sê:

34Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. 35As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Dis so eenvoudig.  En tog so moeilik.  Kom ons verootmoedig ons in ons onvermoë voor die Here.

Verootmoediging

Voorganger: Here, daar is so baie mense rondom ons, maar ons sien die meeste van hulle nie eens raak nie.

Gemeente: Here, wees ons genadig!

V: Here, by U is die laastes eerste, maar by ons bly hulle laaste.

G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons hou meer van belangrike mense as van onbelangrike mense.

G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons is volslae uitverkoop aan ’n samelewing waarin groter altyd beter is.

G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons is te besig om stil te staan en te luister na die sagter stemme rondom ons.

G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons hou van dinge en van mense en selfs van kerke wat blink.

G: Here, wees ons genadig!

V: Here, help ons om méér mense raak te sien, veral die byna onsigbares.

G: Here, wees ons genadig!

Toewyding

Vonkk 146 My Gees, My Siel, My Liggaam

Gebed

Skriflesing

Johannes 13:1-17

Hierna wys Jesus Judas as sy verraaier aan, gee vir hulle die opdrag om mekaar lief te hê (wat ons netnou tydens die wet gelees het) en sê vir Petrus dat hy vir Jesus gaan verloën.

Inleiding

 

Preek

Stuur my

Suid-Afrikaners benodig hoop.  Baie van ons voel papgeslaan deur al die gesukkel en teleurstellings van die afgelope jare.  Daarom, dink ek, het baie mense amper soos verliefde tieners gereageer toe ons ’n paar weke gelede ’n nuwe staatspresident gekry het.

Ek vermoed dat ons harte, soos verliefde tieners, ook maar redelik gou gebreek sal word.

Maar die kontras tussen “Umshini Wami” en “Tuma Mina” is net té groot, ’n mens kan nie anders as om vir ’n paar oomblikke stil te staan en die droom te koester nie.

Kom ons vergeet vir ’n paar oomblikke van ’n president wat Hugh Masekela aanhaal en dink aan Hugh Masekela wat, wetend of onwetend, die Bybel aanhaal, wat ’n gebed sing.  Wat ’n kernverhaal wat regdeur die Bybel loop, vir ons uitlig.

Masekela sing, behalwe die Engelse verse wat die president aangehaal het:

Thuma mina (thuma m’na)

Thuma mina (ezizweni)

Ndizoya ndithandaze

Stuur my, Stuur my (na die nasies), Ek gaan bid.

Dink byvoorbeeld aan Jesaja 6:8, waar die Here vra: “Wie kan Ek stuur?” en dan antwoord Jesaja: “Hier is ek! Stuur my!”

Vir ons as gelowiges, is “stuur my!” ’n antwoord op Jesus se woorde:  “Volg my”.  In Johannes 12, kort voordat hy sy dissipels se voete was, sê Jesus:

John 12:26

As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees…

Dan wys Jesus baie konkreet wat hy bedoel, waarheen en hoe hy gevolg moet word, wanneer hy sy dissipels – en sy verraaier – se voete was.

Wat Pres. Cyril Ramaphosa ook al bedoel het, wat Jesus ons leer, is:  as jy wil oorleef onder moeilik omstandighede – dan moet jy dien.  As ons in hierdie land wil oorleef, as ons as land wil vorentoe gaan, dan moet ons Jesus volg en mekaar dien.

Om Jesus te volg, is om ’n dienaar te wees.  Dienaar van Jesus –  én van mense.  Om ’n leier te wees, in die model van Jesus, is om te dien.  Dis die een groot verskil Christelike en wêreldse leierskap:  diensbaarheid.

Ons wêreld dink mense is suksesvol as hulle ander het wat hulle dien:  personeel; ’n Koningin met mense wat voor haar kniel; wanneer almal jou vereer;  as jy arriveer, rol hulle die rooi tapyt uit, maak iemand jou kar se deur oop, hou vir jou ’n sambreel;  almal wil selfies saam jou neem.

Dit is die teenoorgestelde van Christelike sukses.  Vir Christene is sukses om jou lewe af te lê.  Jy kan nie ’n goeie leier wees as jy nie bereid is om  skottelgoed te was nie (om die voorbeeld te gebruik wat ek al vantevore gebruik het).  As jy nie bereid is om die een te wees wat die kar se deur oopmaak, die sambreel hou nie – dan is jy nie ’n leier nie.  Dan verstaan jy nog nie wat dit beteken om Jesus te volg nie.

Martin Luther King het gesê:

Everybody can be great, because anybody can serve.  You don’t have to have a college degree to serve.  You don’t have to make you subject and verb agree to serve. You only need a heart full of grace, a soul generated by love.

Om toe te laat dat Jesus jou voete was

Maar kom ons sê eers vir mekaar dat ons vir Petrus so goed verstaan.  Ek is seker die meeste van ons sal veel eerder ander help, ander dien, as om toe te laat dat ander ons dien.

Dis ook waar van ons verhouding met Jesus.  Ons sukkel gewoon om Jesus se liefde te ontvang en te aanvaar.  Ons voel altyd ons moet iets DOEN.

Stap een vir diensbaarheid is om te leer om Jesus se liefde te ontvang.

Die vernedering van die voetwassing was ’n vooruitskouing na die  vernedering van die kruis.  Probeer jou vir ’n oomblik indink hierin:  Dat Jesus jou voete gewas het.  Méér nog:  hy het sy lewe vir jou afgelê.  Hy is verneder vir jou.

Ek hoop dit maak jou ongemaklik!  Anders verstaan jy nie!

Juis daardie ongemak, daardie byna onhoudbare intimiteit, is die ding wat ons help besef hoe massief dit is, hoe kosbaar Jesus liefde vir ons.

Ons moet dit eers besef, voordat ons dit met ander kan deel.

En dan, natuurlik:  as dit goed genoeg is vir Jesus, is dit goed genoeg vir ons.

Jesus sê:

en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.

Doen soos Jesus

Julle ken die ou storie van die verskil tussen die See van Galilea en die Dooie See.  Die See van Galilea krioel van lewe.  Die Dooie See, soos julle weet, is so sout, dat hoegenaamd niks daar kan lewe.

Die verskil is:  Die See van Galilea lewe, want water vloei in en ook uit.  In die Dooie See vloei die water nie uit nie.  Daarom stagneer dit en is daar geen lewe nie.

Ons leef, groei, floreer, wanneer water uitvloei, wanneer ons dien.

Maar die ding wat ons miskyk in hierdie diensbaarheid waarvan Jesus die voorbeeld stel: Natuurlik is dit moeilik, niks glansryk nie, om skottelgoed te was… Maar die eerste uitdaging, nog voordat ons ons hande vuil kry, is die intimiteit daarvan.

Die diensbaarheid waartoe Jesus ons roep, is om grense tussen mense te deurbreek en mekaar te aanvaar net soos ons is.

Dan is voete ’n goeie metafoor, want dis ’n deel van ons wat ons ons gewoonlik, meestal, wegsteek.  Ons kan dit probeer verfraai, verf ons toonnaels oranje met wit blommetjies, maar dis steeds nie ons beste deel nie.

Om mense se voete te was, is om hulle te aanvaar soos hulle is – skewe tone en eelte en al.  (Julle hoor die metafoor, nè?)

So dis eerste aspek van diensbaarheid:   Intimiteit.  Aanvaar mense soos is.

Die tweede aspek van diensbaarheid gaan oor mag.

Dis nog ’n ding wat Christelike diens uniek maak – en Christelike leierskap!

Mens kry drie vlakke van diensbaarheid:

Die eerste vlak is wat een mens (die dienaar) MOET doen vir die ander (wat gedien word).  Want die een wat gedien word, het een of ander mag wat die dienaar nie het.  Bv. slawe en eienaars, vroue in patriargale samelewing dien mans, onderdane dien heersers, armes dien rykes.

Die tweede vlak is wanneer die dienaar iemand uit vrye wil dien, omdat die dienaar die mag het en dink dat die een wat gedien word, ’n bepaalde behoefte het wat die dienaar kan vervul.  Dis ouers wat kinders dien, professionele mense wat kliënte dien, rykes wat armes dien.

Die basis vir die diens is steeds ongelykheid.  Die een wat dien het steeds die mag en die diens hou net aan vir solank as wat die dienaar die mag het.

Die derde vlak diens is vriendskap gebaseer op ’n gelyke verhouding.  Selfs wanneer dit tussen mense met ongelyke mag begin, dan breek dit die ongelykheid af of maak dit irrelevant.

Dit is hierdie werklike intieme diensbaarheid wat Jesus modelleer.  Diensbaarheid wat verhoudings vestig en gelykwaardigheid bring.

Nou kan mens natuurlik sê, dis nie moontlik nie – Jesus is tog duidelik nie gelyk aan mense nie!  Natuurlik is Jesus belangriker as sy dissipels,  maar die daad wat hy doen (wat sy dood simboliseer) is ’n daad wat die ongelykheid afbreek deur doelbewus die sosiale posisies en rolle om te keer.

Deur sy liefde oorkom Jesus die ongelykheid.  Hy vestig ’n liefdevolle intimiteit.

Kort hierna (John 15:15) sê Jesus dan ook vir hulle:

15Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, … Nee, Ek noem julle vriende,

Dis natuurlik deel van die rede waarom Petrus hom so erg teësit.  Hy weet intuïtief dat Jesus die strukture van oorheersing, die strukture wat vir hom ’n posisie van mag en gesag gee – afbreek.

So Christelike diensbaarheid is:

  • Intiem: aanvaar mense soos hulle is
  • Intiem: skep gelykheid, bou verhouding.

Ek wil weereens net hier noem (want mens benodig eintlik ’n hele preek wat net hierop fokus): Jesus was ook Judas se voete, terwyl hy weet dat Judas reeds besluit het om hom te verraai.

Ek noem nie vandag praktiese voorbeelde van wat jy kan doen wat diensbaar is nie – daar is baie:  skottelgoed was, uitreike, ons gemeente se barmhartigheidsbedieninge.

Dalk is dit iets wat jou vuil en ongemaklik gaan laat.  Dalk is dit vergifnis.  Dit is waarskynlik iets waarvoor jy geen erkenning gaan kry  nie, waarvan niemand eers gaan weet nie.  Glad nie glansryk nie.  Geleenthede tot diensbaarheid is oral.

Ons het al dikwels vertel van die sosioloog Rodney Stark, wat vra in die boek “The Rise of Christianity” hoe en hoekom die Christelike kerk so vinnig gegroei het?

Vir die Christendom om die grootte te bereik wat dit bereik het, beteken dit die kerk moes vir drie eeue lank elke dekade met 40 % groei.

Stark vra:  waaraan word hierdie ongekende, byna ongelooflike groei toegeskryf?

Sy antwoord:  die vroeë dissipels was meer simpatiek as díe rondom hulle.  Hulle het liewer gehad as ander.  Hulle het meer gedien as ander.

Hy noem ’n paar voorbeelde:

In 165 n.C. het ’n epidemie (dalk waterpokkies) soos ‘n brand deur die Romeinse Ryk getrek.  Binne 15 jaar was ‘n kwart na ’n derde van die totale bevolking van die Romeinse Ryk dood.  Dieselfde in 251 n.C., die keer dalk masels, wat hele dorpies leeg gelaat het.

Maar anders as hul heidense bure, het Christene na ander mense omgesien tydens hierdie vreeslike plae.  Terwyl nie-Christene gevlug het, dikwels siekes (selfs hul eie geliefdes) in strate gelos het om te sterf.

In die woorde van Stark:

To cities filled with the homeless and the impoverished, Christianity offered charity as well as hope.

To cities filled with newcomers and strangers, Christianity offered an immediate basis for attachments.

To cities filled with orphans and widows, Christianity provided a new and expanded sense of family.

To cities torn by violent ethnic strife, Christianity offered a new basis for social solidarity.

And to cities faced with epidemics, fires, and earthquakes, Christianity offered effective nursing services.

Dis hoekom ons geloof gegroei het.  Dis hoekom dit kan aanhou groei.  Dis hoekom dit ’n reusagtige impak kan maak.

Al is dit ongemaklik.  Al is dit nie glansryk nie. Al gaan ons geen menslike eer of erkenning kry nie.

Ons is tans in Lydenstyd:  ’n Tyd van verootmoediging. Dalk kan jy hierdie tyd neem om te vra:  Here Jesus, waar moet ek u volg?  Waar moet ek diensbaar wees?  Waar is ek selfsugtig?  Waar doen ek iets vir my eie eer en menslike erkenning?  Waar dink ek ek is beter as ander?  Waar is ek besig eie belange te dink, eerder as die van ander?

Here Jesus, waar moet ek u volg?  Wat moet ek doen?  En dan, reageer:  Stuur my.

Gebed

Dankoffer

Koor: Lied 521 Erkentlik deur die dae

Slotsang

Lied 284  Laat, Heer, u vrede deur my vloei

Seën

Respons

Lied 533 Stuur ons, Here

diens, diensbaarheid, Jesus was sy dissipels se voete, Johannes 13, preek, Rethie van Niekerk, stuur my, voete was, voetewas

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.