Skip to main content

Afrika Kersdiens

Afrika-Kersdiens deur Lynette van Wyk

NG Kerk Somerstrand November 2008

 Deon Binneman verwelkom almal en verduidelik die reëlings rondom die kollekte, aankondigings en so meer.

‘n Enkel Afrika-trom speel aan die kant van die verhoog.  Dit word al hoe opruiender. ‘n Videobeeld van ‘n vrou uit Afrika wat weeklaag, word vir ‘n oomblik vertoon. ‘n Vrou in ‘n wit Afrika-kerkgewaad stap van die preekstoel af en sing onbegeleid.

Sura: met klavierbegeleiding deur Sandra Binneman

God seën Afrika …

Hierdie gedeelte in groen sal afhang van die praktiese uitvoerbaarheid daarvan of anders met die koor se Pleidooi vir Afrika vervang word.

Verskillende stemme roep uit tot God om verlossing. Hierdie stemme word vooraf opgeneem en word begelei met gepaste flitse van noodlydendes uit Afrika – Deon B verskaf die flitse. Die tromspeler begelei die proses saggies op sy trom:

Sura: God, my God, waarom het U ons verlaat?  Kyk ons kinders sterf van honger.  Waar is die brood uit U graanskure? Gee ons vandag net ‘n stukkie brood.    (‘n fotobeeld van verhongerde families)

Deon Binneman:  Kinders weeklaag in die hart van Afrika, wees gelaat deur oorloë.  O God, die kinders roep tot U.  Ewige Vader, hoor tog ons gebed. (‘n fotobeeld van weeskindertjies)

Lynette van Wyk:  ‘n Gevreesde virus trek sy donker sluier oor Afrika – ‘n mantel van rou oor haar oë, dof van weeklaag.  Daar is geen grond meer oor om haar kinders te begrawe nie.  Verlos ons, o God.  Het U doof geword vir ons weeklaag, blind vir ons pyn? Kom tog nou, Immanuel, wees by ons in ons nood. (‘n fotobeeld van ontelbare rye grafte)

Chris van Wyk: Die rooi grond van Afrika spoeg stof in haar oë.  Die skepping smag na reën, na genadige verlossing.  Die riviere het opgedroog, die mielielande verskroei tot stoppels niks.  Rig ons op uit die stof, Stroom van Lewende Water.  Laat die fonteine weer  jubel in die dorsland.  Laat Afrika lag en jubel oor U voorsiening. (‘n fotobeeld van droogte)

Rethie van Niekerk: Despote verjaag die kinders van Afrika.  Soos sprinkane trek hulle suid en noord, oos en wes, verswelg deur vrees en dondervuur.  Waar hulle land, word hulle verkneg, vervolg, verjaag.  Waarheen, o God?  Waarheen sal ons vlug? Waar is U, Sterke God? (miskien ‘n fotobeeld van ‘n vlugtelingkamp, miskien mense wat deur drade heen kyk)

Sura: En in die stede van Arika rinkink dit sonder God, verdrink eensame siele hulle smarte, hang jong kinders hulle aan hulle eie ellende op.  O God, o God, hoor die jeug van Afrika, hoor hul uitroep in hul nood.  Verlos hul van hul eiewaan, hul trots. Vredevors, ons roep U, kom. (‘n fotobeeld van ‘n klub orgie?)

Die trom word stil. Die vrou in wit sing weer die begin van die lied en sluit dit dan af.

Sy neurie saggies en raak dan stil. Sy verdwyn stil.

Gemeente: Lied 286 (staande)

(Tydens die sing van die lied neem Deon B en Rethie stelling in aan die orrelkant van die liturgiese ruimte, dalk maar sittend by ‘n tafeltjie met ‘n wit lap oor, dalk ‘n kers en/of Afrika kersversiering daarop?)

 Liturg: God droom oor Afrika:

Rethie: ‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai,

‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra.

 

Die Gees van die Here sal op hom rus:

Die Gees wat wysheid en insig gee,

Die Gees wat raad en sterkte gee,

Die Gees wat kennis verleen

En eerbied vir die Here.

Koor:              Lied 323

Rethie: (Terwyl hierdie gedeelte voorgelees word, teken ‘n kunstenaar dit op ‘n elektroniese bord – Alida Bothma)

God het die engel Gabriël gestuur na ‘n maagd in Nasaret, ‘n dorp in Galilea.  Sy was verloof aan Josef, ‘n man uit die geslag van Dawid.  Die naam van die maagd was Maria.  Toe die engel by haar kom, sê hy:

 Deon B: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.”

 Rethie: Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog                                    kon beteken.  Die engel sê toe vir haar:

 Deon B:          “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou.  Jy sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee.  Hy sal groot wees en die seun van die Allerhoogste genoem word.  Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid.  Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”

Rethie:            Maar Maria sê vir die engel:  “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ‘n man gehad het nie?”

 Deon B: Die engel antwoord haar:  “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag  van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat   gebore word, heilig genoem word, die Seun van God.  Niks is vir God onmoontlik nie.

 Rethie: Maria sê toe:  “Ek is tot beskikking van die Here.  Laat met my gebeur wat  u gesê het.” Toe het die engel van haar af weggegaan.

 Koor:              Lofsang van Maria

Deon B: (Terwyl hierdie gedeelte voorgelees word, gaan  die kunstenaar voort met die grafiese uitbeelding van die toneel.)

Josef het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea toe gegaan, na  Betlehem, die stad van Dawid, omdat hy tot die huis en geslag van Dawid behoort het.

 Rethie: Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om  ingeskryf te word.  Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word.  Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en  Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen  plek in die herberg was nie.

 Koor:              Vol vreugde sing die eng’leskaar

Vol vreugde sing die eng’leskaar:  Ere! Ere!

Aan Hom, die God van die hemele!

Die Seun word mens, Gods Woord is waar!

Halleluja!  Halleluja!

Hy’t ons kom red, ons skuld gedra.

Ons loof die Raadsman, wonderbaar:  Ere! Ere!

Aan Hom die Heer van die hemele!

Gods liefde is geopenbaar.  Halleluja! Halleluja!

Hy’t ons kom red, ons skuld gedra.

Sura (Sura is nie op die verhoog sigbaar nie, maar sit in die eerste ry voor met haar eie mikrofoon.)

Geen Madiba met ‘n selnommer om op te roem

Geen Moeder Teresa wat die voetes van armes soen

Geen Seally Posturepedic, Cloud Nine, sponsmatras of bulsak

Maar net die nederige krip van strooi

Sy lewenskreet verdoof deur die bulk van ‘n doodmoeg donkie

‘n grootoog kalf wat dié tafereel voltooi.

Vroue en kinders: (sittend)

Lied 355

Al was ek nie daar nie – ek weet dit is waar:

Die krip en Maria met die kindjie by haar.

Dis of ek die engel die boodskap hoor bring

Van Jesus se vrede, wat harte laat sing.

Gemeente en kinders:

Al was ek nie daar nie – ek weet dit is só:

Die herders en wyses het dit eerste geglo.

En deur al die jare bou Jesus sy kerk –

Die Gees en die Woord kom geloof in ons werk.

Koor: Met middernag

Met middernag word feest’lik weer verkondig

dat God as mens neergedaal het op aard’

Om te bevry die mensdom van die sonde,

en sy volk te red van die dood en die smart.

En nuwe hoop vervul die hele aarde

toe daardie nag gebore is die Heer

Kniel voor Hom neer, kom lowe Hom na waarde.

Dis Kersfees, dis Kersfees die Heer daal tot ons neer. 2x

 

Met bly gemoed laat ons tesame nader

na daardie krip van die heilige Kind.

So het die wyse voor sy wieg vergader

en, voortgelei deur die ster, Hom gevind.

Ons kan Hom nooit na waarde prys en lowe:

Vir ons gebore en vir ons gely.

Kom almal saam, verhef jul stem na bowe.

Dis Kersfees, dis Kersfees, wat ons aan Hom wy. 2x

(Sura vanuit die bank.  Kan iemand dalk die ster van die plakkaat hier laat flikker?.)

Sura:                           Die môrester

Die môrester laat val

Kort voor dagbreek drie

Druppels nektar

Op die rooi duin

En drie wyse manne

Het op drie wit

Môreblomme afgekom

En die geur van ‘n

Babatjie geruik –

En hom gevind

Wat sou praat

Oor die een ster

Bo verlate duine

Gemeente:                  Lied 372

Deon nooi die kinders om vorentoe te kom en hulle geskenke voor die skerm neer te sit.

Die kinders word hier na vore geroep om na ‘n storie te luister (Ursula?).  Daar is ’n baie mooi storie genaamd “Die Heilige Nag”  deur Heidi en Jörg Zink.  Hul kan vooraf gevra word om soos engeltjies of herders of wyse manne aan te trek en kan moontlik gevra word om elkeen ‘n geskenk saam te bring vir Thand’usana – ‘n nuwe huis vir babas wat weggegooi of weggeneem word.

Koor:              Dankie, vir hierdie goeie môre, dankie, vir hierdie nuwe dag.

Dankie, dat ek met al my sorge op u hulp kan wag.

Dankie, dat ek U hier mag dien en dankie, dat ek tot U mag sing,

Dankie, dat ek hier elke dag aan U die lof mag bring.

Dankie vir al my goeie vriende, dankie, vir elke plant en dier.

Dankie, dat ek met vreugde hierdie kersfeestyd kan vier.

Dankie vir al U liefde, Vader, dankie, vir hierdie feesgety.

Dankie dat U u Seun gestuur het.  Ja, dit maak ons bly.

 

Koor:              Christmas is’nt Christmas till it happens in your heart;

Somewhere deep inside you is where Christmas really starts.

So give your heart to Jesus; you’ll discover when you do,

that it’s Christmas, really Christmas for you.

 

Jesus brings warmth like a winter fire,

A light like a candle’s glow.

He’s waiting now to come inside,

As He did so long ago.

 

Jesus brings gifts of truth and life,

And makes them bloom and grow.

So welcome Him with a song of joy,

And when He comes, you’ll know that:

 

Christmas is’nt Christmas till it happens in your heart;

Somewhere deep inside you is where Christmas really starts.

So give your heart to Jesus; you’ll discover when you do,

that it’s Christmas, really Christmas for you.

 

Boet Bouwer: Koor:    Pleidooi vir Afrika

1. Laat ons bid vir Afrika, land van helder son.

Daar is soveel wat nog wag om verlos te word.

Vele lewens reeds verby

en nog soveel meer roep om redding tot U, Heer,

U is lewend God.

 

Laat dit wyd bekend word, elke tong en taal pleit saam:

God seën Afrika, en sy kinders een vir een.

 

2. Kom ons bid vir Afrika: Here wil U gee

dat God se liefde heers oor ons wye land.

En wanneer ons saam aanbid voor die troon van God,

Bid vir vrede in ons land en dat God regeer.

 

Laat dit wyd bekend word, elke tong en taal pleit saam:

God seën Afrika, en sy kinders een vir een.

 

God se wil vir ons lewe (Nav Mat 25:35-40):

Rethie: Here, Afrika is honger.

Deon: Gee julle vir hulle iets om te eet.

Rethie: Here, Afrika se waterbronne droog op.

Deon: Sorg julle vir hulle water.  Bied vir hulle die Water van die Lewe.

Rethie: Here, die vreemdelinge neem ons stede oor.

Deon: Het Ek julle nie gesê om hulle te huisves nie?

Rethie: Mense loop in vodde, Heer.

Deon: Gee vir hulle uit julle oorvloed klere om aan te trek.

Rethie: Die siekes sterf sonder versorging.

Deon: Versorg dan die siekes.

Rethie: Die tronke is oorvol.

Deon: Besoek die gevangenes, asof dit Ek is.

 

Gemeente:                  Lied 283 (sittend)

Ons kom, o Vader, vir ons land

Om vrede by U pleit.

Solank die vlam van haat bly brand,

Is vrede self ‘n stryd.

Wil deur u Gees ons lei, genees

In u geregtigheid.

 

Lei, Vors van Vrede, op u weg

Húl wat oor ons regeer,

Dat hul met insig en met reg

U opdrag hier hanteer –

Gelei deur U, bewaar deur U,

Getroue Opperheer.

Gemeente:                  Lied 348 (staande)

Stille nag, heilige nag!

Jesuskind, lank verwag,

Lig uit Lig uit die Vader se ryk,

Word uit liefde aan mense gelyk.

Loof die hemelse Kind!

Loof die hemelse Kind!

 

Stille nag, heilige nag!

Hemelvors, ons gee ag

Op die lied van die engelekoor.

Herders het dit die eerste gehoor:

Juig die Redder is daar!

Juig die Redder is daar!

 

Stille nag, heilige nag!

Jesus, Heer, voor u mag,

Voor u ryk moet die duisternis swig;

Tot in ewigheid bly U die lig –

Heer, gebore vir ons!

Heer, gebore vir ons!

Deon: 

Here, ons God, U is die Lig.  Maar die aarde is donker, die nood is groot onder die mense.  Baie wag op U en ons wag saam met hulle.

U het weerloos in hierdie wêreld gekom om naby aan die weerloses te wees.  As ’n kind, aangewese op die sorg van mense, om aan te toon dat U naby aan ons is in ons kwesbaarheid.

Ons wil graag tot u diens wees, ons en ons kinders.  Bly naby aan ons as ons lig en troos soek.  Lei ons en trek ons en ons kinders na U toe.

Heer, gee ons vrede op aarde – aan almal wat vrede soek.  U is vrede.

Maak ons werktuie van u goedheid en u barmhartigheid en maak ons huis ’n plek van vrede.

Here, U is die lig van liefde waarin ons leef; ons prys U daarvoor.

Amen

Koor:                          Lied 358

Welkom, o stille nag van vrede,

Onder die suiderkruis,

Wyl stemme uit die ou verlede

Oor sterrevelde ruis.

 

Gemeente: (sittend) Kersfees kom, Kersfees kom –

Gee aan God die eer.

Skenk ons ‘n helder Somerkersfees

In hierdie land, o Heer.

 

Koor: Hoor jy hoe sag die klokke beier

In eeue-oue taal.

Kyk selfs die nagtelike swye

Vertel die ou verhaal.

 

Gemeente: Kersfees kom, Kersfees kom –

Gee aan God die eer.

Skenk ons ‘n helder Somerkersfees

In hierdie land, o Heer.

 

Koor: Voel jy ook nou sy warm liefde

As ons die dag gedenk,

Toe Hy sy seun vir ons gegee het –

Ons grootste Kersgeskenk.

 

Gemeente: Christus kom, Christus kom –

Gee aan God die eer.

Skenk ons ‘n helder Somerkersfees

In hierdie land, o Heer.

 

Deon B: Mag die Raadsman jou lot beslis wanneer jy nie herwaarts of derwaarts weet nie.

Mag die Ewige Vader jou koester en vashou wanneer jy eensaam is.

Mag die Magtige God doen ver bo wat jy bid of dink.

Mag die Vredevors vir jou vrede bring in ‘n  onstuimige gemoed.

Liewe Gemeente, Mag die genade van ons Here Jesus  Christus, die liefde van God,  die gemeenskap van die Heilige Gees by jou wees en bly.

Grafika deur Jaco Potgieter (klik om te vergroot):

 

 

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.