NG Kerk Somerstrand Kerssangdiens
Lynette van Wyk
Tema: Sterre/lig
Vooraf: Gemeente-samesang van bekende Kersliedere met die woorde op die dataprojektor.
Sluit samesang af met die koor wat om 19:00 “Want so lief het God die wêreld gehad” sing. Terwyl die koor gaan sit, bly Albert aanhou speel op die orrel. Soos die orrelspel taan, doof die ligte stadigaan totdat dit heeltemal donker is.
Verteller: (Proloog vir ‘n Kersspel – WEG Louw) ( – die woorde van die verteller veskyn deurgaans op die skerm vir die gemeente om te volg.)
In duisternis en angs bevange, slaap die aarde,
Só maatloos ver verwyder van die hoë lig
Van God se liefde en genade, dat geen sterreglans,
Geen sagte flonk’ring selfs, die winternag verlig;
En lank reeds wag die mens, in die verderf gestort
En uitgeban van die verlore paradys
Deur eie trots en opstand teen die wil van God,
Op die verlossing, aan Adam en sy vrou beloof,
dat Éen uit hul geslag die slang se mag sou breek,
sy kop vermorsel in die sand…
Die orrelis begin die melodie van “As Hy weer kom” speel. Die voorskoolse kindertjies, in wit geklee (aan hulle mammas en pappas se hande) stap een vir een in, steek ‘n “Starlight” voor aan die doopvont se kant aan en vorm ‘n groepie voor die preekstoel. Wanner almal voor staan, sing hulle die Halleluja-weergawe van
“As Hy weer kom, as Hy weer kom
kom haal Hy sy pêrels,
al sy pêrels, fraaie pêrels vir Jesus se kroon.
O die kindergesiggies
soos die sterre se liggies,
is die hemel se pêrels vir Jesus se kroon”
Die mammas en pappas help sing.
Jannie: Ek wonder wat al die sterre beteken? Dit is anders as ander nagte.
Die kindertjies stap saggies af. Hulle sit by hulle families in die voorste rye banke wat vooraf gereserveer is. Hulle bly hulle verwonder aan die sterre. Die orrel begelei hulle afgaan met die laaste note van “As Hy weer kom”.
Verteller: (Proloog vervolg)
Aan Jesaja, die profeet, die geroepene van God,
Hy wie se mond die seraf met ‘n kool moes brand
Sodat sy lippe rein sou word, is dit gegee
Om woorde uit te spreek waarin die gees van God
Bestendig deur die eeue soos ‘n vuur sou brand:
“O almal wat dors het, kom na die waters, kom drink en eet…”
Konings en profete het van Sy koms getuig,
Die harte voorberei sodat, wanneer die Woord,
In al sy volheid van die tyd, vervul sou word,
Die Seun van God nie soos ‘n vreemdeling deur Sy land,
Nie onbegrepe met Sy eie volk sou praat…
En deur die eeue wag die aarde op dié Woord.
Ligte kom tydens die lees van die verteller, een vir een aan.
Gemeente: sing Lied 372 – staande
Sterrekykers stap vanaf regs agter in. Hulle volg die ster. Hulle begin beweeg terwyl die verteller begin lees.
Verteller: Eén nag… Wie het die eerste daardie lig gewaar?
‘n Herderseun wat vaakrig by sy skape waak?
‘n Laat wandelaar? Verliefdes met die vreug
van nuwe lewe hoog en heerlik in hul harte?
Die wyses wat die ure deur waak om die geheim
Van aardse lotgevalle in die nag te sien?
Wie sal dit sê?… Eén nag het aan die hemelboog
‘n nuwe, groot en onbekende ster veskyn,
so skielik en so skitterrend soos geen ster nog ooit
oor lande van die sterflikheid kon staan en straal:
‘n blou vlam, ‘n vuur wat oor die aarde klim
en elke uur al verder na die Ooste neig…
Wyse man 1: Belthasar, kom kyk, hier is ‘n vreemde verskynsel in die lig. Wat kan dit tog beteken? Melgior, wat sê die voorspellings van hierdie konstellasie?
Wyse man 2: (Hy hou ‘n boekrol voor hom waaruit hy voorlees.)
“Maar in die land waar daar duisternis is, sal daar nie langer donkerte wees nie. Die volk wat in donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien, oor die wat in die donker land was, het ‘n lig geskyn.” (Jes 8: 23 en 9:1)
Wyse man 3: Laat ek sien: “’n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra.” (Jes 11:1)
Wyse man 1: “Daar kom ‘n ster uit Jakob, daar staan ‘n heerser uit Israel op.”
(Num. 24:17) Miskien moet ons die ster volg en gaan kyk wat gebeur. Dit wil voorkom of ‘n koning gebore gaan word – ‘n verlosser wat lig bring in die duisternis…
Hulle stap agter aan die doopvontkant af terwyl die gemeente sing.
Gemeente: sing Lied 323: (terwyl Christine met die stomp van Isai wat deur Hettie gemaak is, vorentoe stap en dit op die doopvont neersit.)
Verteller: Maria (WEG Louw)
Deur daardie tuintjie het sy stil gegaan,
Haar hande need’rig oor haar bors gevou,( ‘n engel verskyn)
toe hy, verblindend – soos die son, daar staan:
Drie wit lelies het hy in sy hand gehou.
Half-skaam, verleë, het sy opgekyk
En is opeens met groot vrees bevang:
Sy oë het van haar nie afgewyk,
Sy vleuels het oor heel die tuin gehang.
“Geseën is jy onder die vroue” – sy woorde –
of was dit winde? – verruis nog in haar oor,
toe hy teen die son in goue vlug verdwyn…(engel verdwyn agter die preekstoel)
Sy het haar neergebuig en half-versmoorde
Klein snikkies in haar hart gehoor,
Van verlossing reeds die vreugde en die pyn.
(Die engel verskyn, nou sonder die lelies, vanagter die preekstoel aan die teenoorgestelde kant van waar hy opgegaan het.)
Maria: “Maar dit is heeltemal onmoontlik. Ek meen, e.. ek het nog nooit eens by ‘n man geslaap nie. Kyk, ek is maar nog net verloof. Nee, wat sal die mense sê? My ouers? Josef. Die gemeenskap sal my stenig. Ek sal nooit met ‘n man mag trou nie.
Engel: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. Kyk ‘n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook ‘n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand. Niks is vir God onmoontlik nie.” (Luk 1: 35 – 37)
Maria: (Donkergenade – Rosa Smit)
Uit my binnekamer
Onder die digtheid van struik en donkergroengewas
Teen die muur van olifantsklip en oorgroeide grondrank
Het ek iets sien flits ‘n ster het ek vir
Elizabeth en die ander oorvertel
Asof dit wou sê dat donker
Nie heeltemal donker is en in my hart
Het ek ‘n vae voorspel van iets kranks
En kermends, van Elizabeth wou weet
Of donkerdompeling ‘n mens nie soos ‘n sel
Sou hou en bitter, mens vir altyd sou veskil
Donkernag sê sy is liefliker as dagbreek
En maande daarna toe ek die soet
Somer weer uit my kamer sien
Onthou ek die ster en met dank
Elizabeth se woorde
Want uit die donker
Wat kort na ons gesprek toe ook vir my begin
Het ek met soveel geweld gegryp
Na die lig díe lig (wys die lig op die skerm)
Soos ‘n bruid haar man vasgryp
Dat ek nou in teer vereniging
Transformerend meer soos Hy al lyk.
Maria: Nadenkend: Niks is vir God onmoontlik nie. Sara het in die geheim gelag, Manoag, Simson se pa was ontsteld, Sagaria het getwyfel. En ek, wat staan my te doen?
Lang pouse. Vertwyfeling en dan, helderheid.
Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het. Die engel verdwyn – gaan voor regs uit (orrelkant).
Koor: Lofsang van Maria – Maria bly knielend sit.
Verteller: Die boodskap aan Maria N P van Wyk Louw – Maria staan op.
Sy’t deur die skaduwee gegaan
In die soet lentenag,
Skraal-wit en skemerig en nog sku
Van naamlose verwag;
Soos ‘n groot nagblom oop
Waaroor die motte bewend hang,
So was sy onder die sterre, in haar
Onwetende verlang.
Maar toe Hy kom, het sy geweet.
Geen stem was daar,
Net enkele sterre donkerder
En blydskap soos ‘n tent óm haar;
En alle verlange buitekant
Het trug- en tuisgekeer
Tot innigheid, en rus gekry
Soos waters in ‘n donker meer,
En huiswaarts oor die paaie het sy
Gepeins dat vreugde só kon wees:
Vervuld en woordeloos, en stil
Geglimlag oor haar verre vrees.
Maria stap stil-rustig en peinsend voor aan die doopvant se kant af terwyl die gedig gelees word.
Boodskap– die liturg kondig aan die einde aan dat die kinders na vore moet kom tydens die sing van die lied.
Gemeente: sing Lied 349 en die kinders kom na vore vir die storie. Susan neem verantwoordelikheid vir die kindertjies saam met die mammas wat die kinderkerk doen.
Daniel: Vertoon die prente op die skerm.
Dit was ‘n buitengewone dag. Almal het rondgehardloop soos mal goed, op mekaar se trone getrap en mekaar verskree. Ek wou so graag help, maar is deur almal verjaag as te klein en onder hulle voete. Toe het ek koers gekies plein toe. Daar was dit nie juis rustiger nie. Ek dag die speseryhandelaar kry ‘n oorval toe ek net iets vir hom wou vra.
Hulle het eenkant gestaan, die drie deftig geklede mans – heeltemal anders as ons. ‘n Mens kon sien hulle kom van die Ooste af. En by hulle was die mooiste, mooi kamele. Ek het nog nooit sulke diere gesien nie. Gretig het ek aangebied om vir hulle water te gee, maar die een man het my stip en vriendelik aangekyk, my geprys vir my bedagsaamheid en toe gewaarsku dat die kameel baie maklik op my voet sou kon trap, maar dat ek ‘n baie oulike seun was en nie moes moed opgee nie. Iewers het daar ‘n belangrike werkie op my gewag.
Haastig het ek huis toe gehardloop, uitasem daar aangekom net om weer die onvriendelike spul aan die skree te kry. My pa het skielik onthou dat hy vergeet het om die stal skoon te maak. Gretig het ek aangebied, maar my ma was baie vinnig om te vertel dat ek nog te klein was. My susters het allerhande verskonings gehad. In die herberg was my broer besig om vir dorstige reisigers drankies aan te bied.
Ek het stil weggeglip. Ek het die hark geneem en vinnig voor iemand my betrap, die vuil strooi weggewerk. ‘n Koei het lui gebulk. Die vurk waarmee die skoon strooi gestrooi moes word, was twee keer groter as ek, maar ek het moedig aangehou werk totdat ek later wou omval.
Dit was reeds donker toe ek terug kom by die huis. Op my plekkie voor die vuurherd het ‘n vreemdeling gelê. Te moeg om verder rond te soek, het ek vas aan die slaap geraak, gestut teenaan ‘n sak meel.
Later in die nag het ek skielik bewus geword van ‘n skerp lig wat by die huis inskyn. Ek was oortuig dat ek droom totdat ek besef ek hoor stemme in die stal. Suutjies het ek uitgesluip en by die staldeur ingeloer. Hy was daar. Daardie vriendelike man wat vroeër die dag met my gepraat het. Die een met die pragtige kameel. Ek wou nog koes, maar hy het my raakgesien en my saggies binnegenooi. Daar in die stal, by die koei wat vroeër die aand vir my geloei het, was ‘n babatjie in spierwit doeke toegedraai aan’t huile in die diere se krip. Die koei het vir my geknipoog.
Ek het baie jare daaroor gewonder, maar nou verstaan ek sy boodskap. Dit was ‘n baie belangrike koning wat daardie nag in die stal gebore is: Jesus van Nasaret het die mense hom genoem. En dink net wat sou gebeur het as hy daar in die stink strooi moes lê. Nee, die koei met haar kalfie liefderyk onder haar, het verstaan en op haar manier vir my probeer dankie sê. Die man was toe reg. Ek het ‘n baie belangrike werk verrig. Ek kon die Koning se bedjie vir hom opmaak!
Moenie dat iemand ooit vir jou sê dat jy te klein is om vir Jesus iets te doen nie. Kyk net waar daar ‘n geleentheid is en gryp dit aan. En sonder dat jy dit weet, kan jy dalk self vir engele ‘n gunsie doen. Wees altyd goed en lief vir ander mense. Jesus sien dit raak.
Die storieverteller lig die kindertjies in dat hulle weer by hulle ouers kan gaan sit.
Gemeente: en kinders sing Lied 355 terwyl die kinders weer gaan sit.
Verteller: Luk2: 1 – 7
“In daardie tyd het keiser Augustus ‘n bevel uitgevaardig dat ‘n volkstelling in die hele ryk gehou moet word. … Almal het gegaan om hulle te laat inskryf, elkeen na sy eie stad toe. Ook Josef het gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea toe gegaan, na Betlehem, die stad van Dawid, omdat hy tot die huis en geslag van Dawid behoort het. Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om ingeskryf te word. Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word. Sy het haar eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.”
(terwyl die verteller voorlees, neem Maria, Josef en mettertyd ook herders voor die kansel stelling in. Josef kry die krippie agter die preekstoel en bring dit vir die “baba”. Maria het ‘n pop as baba.)
Gemeente: sing lied 340 sittend (Terwyl die gemeente sing, stap ‘n volgende groep kinders, laerskoolkinders in herdermonderings, in en buig, staan en kniel by die krippie in verwondering. Hulle stap aan die ander kant af en uit.) Eleanor en Theo – self aangetrek – neem verantwoordelikheid.
Die orrel hou aan speel totdat almal voor is.
Koor: Lied 335
Die wyse manne kom in en buig in aanbidding voor die krippie terwyl hulle hulle geskenk daar neersit.
Verteller: lofsang (Antjie Krog)
Kom herwaarts geliefdes
Met voete vlugtig oor bolandse berge
Oor koel valleie varkoor
Versamel in die vlaktes
Trek op uit die Hantamgebergtes
Uit die Koue Bokkeveld
En die Witteberge naby Betlehem
Vertoef nie vir klere nie
Ook nie vir brood of wyn nie
Snel geluidloos deur die donker
Net die hoewe van die aarde wat sterre vonk
En die silwer mane wit salpeter teen sy flanke
Want ‘n kind is vannag gebore
‘n seun is gegee in vreugde ontvang en gebore
‘n seun wat die aarde langs sal huppel
oseane sal opvang in sy strandemmer
sy speelgoed oor vastelande strooi
oor kape met windrigtings sy helder top laat tol
en die son soos ‘n ghoenie-ghoen in sy agtersakkie dra
o kom herwaarts geliefdes
vrolik en seëvierend
psalmsing
met goud en wierook en mirre
en kniel op die berge waar daar son is
gevange
en heerlik en bloesend gekruisig
teen die aardse ritme van die ewigheid.
Koor: Juig nou almal
Die gemeente sê staande die Geloofsbelydenis van Nicea op terwyl die verteller voorgaan:
Ons glo in een Here, Jesus Christus,
die eniggebore Seun van God,
voor al die eeue uit die Vader gebore:
Hy is God uit God,
lig uit lig,
ware God uit ware God,
gebore, nie gemaak nie,
van dieselfde wese met die Vader, deur wie alle dinge gemaak is.
Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid
uit die hemel neergedaal
en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria mens geword;
Hy het mens geword.
Nou sit Hy aan die regterhand van die Vader;
Omring deur lig en sal weer kom in heerlikheid
Om ons ook te verlig.
Koorsang: Halleluja, loof God
Verteller: Kersnag – Louis Leipoldt
Die swoele skemer trek sy dun, versagte,
Vergroende sluier oor weiland, veld en werf.
Al wat die wêreld van die daglig erf:
Die heerlik pers van purper bergepragte;
Die diep-steil kliprotskranse, lig-geverf;
Graskolle met die skyn van groot smaragde;
Die luisterryke oostelug met onverwagte,
Gestreepte kleure as die songloed sterf –
Versink in skaduryke groen, en vrede
Rus as voorloper van die somernag
Oor alles – huis en plaas en bos-beklede
Bergkloof en dal – wat op die dagster wag.
En tot die sterre styg ons Kersnagbede:
“Verleen ons, Heer, vir lewe nuwe krag.”
Gemeente: sing lied 358: Welkom o stille nag van vrede – staande
Liturg: ”Ek is die Afstammeling, die Nakomeling van Dawid. Ek is die helder Môrester.” (Openbaring 22:16) “Ek sal vir elkeen wat die oorwinning behaal, die môrester gee” (Openbaring 2:28)“Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte.” (2 Pet 1:19)
Mag die liefde van God die Vader, die lig van sy Seun, Jesus Christus, en die gemeenskap van die Heilige Gees, ook jou pad verlig, vandag en elke dag tot met Kersfees en die dag uiteindelik aanbreek waarop die lig vir ons almal sal opkom.
BEPLANNING – KERSSANGDIENS
- Charlene: kry sterre by my. Dit moet asb reeds teen Sondag 21 November hang.
- Program: Lynette en Rethie finaliseer, Liesl fotostateer.
- Ligte:
- Beheer van ster:
- Reserveer voorste banke vir gesinne met jong kinders.
- Briefie vir voorskoolse kinders: Lynette
Verduidelik: drag, sitplek, starlights, repetisies, liedjie.
7. Rolverdeling: Maria Sanett Prins
Josef
Vertellers Stephan Bothma
en Sura Swanepoel
3 wyse manne Johann McFarlane
Japie Havemann
Willem Oelofsen
Kinderstorie Deon Loots
Dataprojektor Chris van Wyk
Power Point Rethie van Niekerk
Engel Ralph Killian
Liturg Rethie van Niekerk
Orrelis Albert Troskie
Kind Jannie Coetzer
Stomp Hettie Oelofsen
Christine Veldsman
Dekor Charlene Brewis
Klank Ian van Niekerk
Beligting
Voorskoolse kinders Susan Coetzer
Laerskoolkinders Theo en Eleanor van Niekerk
Kostuums Anke kritzinger en Irma Loots
8. Verversings:
9. Geskenke:
10. Beplanning: Teks gefinaliseer
Power point gereed
Teks uitgedeel
Rolle toegeken
Deurlees met alle deelnemers
Briewe aan ouers gereed
Tegniese repetisie
Kleedrepeitisie