Skip to main content

Die GEE van Kersfees

Kerssangdiens –2007 – Lynette van Wyk

eNGee!

in die GEEs van die Christusfees…

 Orrelvoorspel – Albert

Aankondigings. 
Vra mense om tot in die middel van die bank te skuif sodat meer mense kan inskuif.

Die kollekte word opgeneem terwyl die orrel voortspeel.

Eerste moment:

God gee sy enigste Seun

 Die leë krip staan deurentyd voor die preekstoel.  So ook twee kateders links en regs voor, uit die pad van die dataprojektor.

 Eerste persoon (Chris van Wyk): (stap van die preekstoel af tot by die laaste trappie, kyk dan op, en praat)  Jes 9:1

 “Die volk wat in donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien, oor die wat in die donker land was, het ‘n lig geskyn.”  Beeld op skerm?

 Tweede persoon (Deon Binneman):   (kom van die orrelkant af op tot op die hoogste trappie.  Tweede persoon stap solank nader, maar bly aan sy kant van die straal van die projektor)  Jes 9:5

“Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee;

Hy sal heers, en Hy sal genoem word: (ononderbroke afwisseling van stemme)

Eerste persoon: Wonderbare Raadsman,

Tweede persoon:       Magtige God,

Eerste persoon:          Ewige Vader,

Tweede persoon:       Vredevors.”

Persone een en twee bly voor. Sit miskien net.

 Koor:              Lied 362

Liturg: (stap vanaf die middelste ry voor, af op) God gee lig.

Eerste persoon: God gee sy Seun.

Tweede persoon:   God gee lewe, die ewige lewe.

Liturg:            Kersfeeskind

Gerhard Olivier

Kersfees,

‘n skilder-sentiment.

Die Godsgreep,

Van ‘n vader

Se liefde,

Wat onthou.

Kersfees,

‘n liedjie-luister.

In ‘n stille-heilige nag,

Na ‘n engele lied,

‘n hemelse

Verlossingsmimiek.

Koor:  “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan, maar die ewige lewe sal hê.”

‘n Kunstenaar verbeeld die volgende gedeeltes terwyl dit vanaf ‘n kateder voorgelees word.

 Eerste persoon: Luk 1: 68-79

 “Loof die Here, die God van Israel!

Hy het na sy volk toe gekom.

Hy het hulle kom verlos.

God het ‘n sterk Verlosser na ons toe gestuur.

Hierdie Redder kom uit die nageslag van Dawid, die kneg van die Here.

Die Here het al lankal belowe dat Hy dit sal doen.

Al die profete wat Hy gestuur het om sy wil bekend te maak, het daaroor gepraat.  God het belowe dat Hy ons sal red uit die hand van almal wat ons haat en dat Hy ons sal oorlaai met sy goedheid.

Dit alles het Hy in sy ooreenkoms met ons voorvaders belowe.

God het sy beloftes onthou; ook daardie groot belofte aan Abraham:

God het onthou dat Hy ons van ons vyande sou red sodat ons Hom voluit kan dien, sonder enige vrees of kommer – elke dag van ons lewe.”

 Liturg: Waarlik, God se lig skyn ook oor my, skyn ook oor jou.  Mag hierdie Lig jou donkerte verlig vandag en elke dag wanneer jy in donkerte rondtas.

 Gemeente: Lied 336:1,2,5 – staande

Tweede persoon: Jesaja 35 –dramaties voorgelees terwyl ‘n kunstenaar dit op ‘n grootskerm uitbeeld.

“Die woestyn, die dor land, sal jubel, die droë wêreld sal juig, oortrek met affodille; hy sal  in volle bloei staan, hy sal juig en sing, hy sal die prag van die Libanon hê, die skoonheid van Karmel en Saron. Israel sal die mag van die Here sien, die koninklike mag van ons God.

Bemoedig dié wie se hande slap hang, help dié wie se knieë knik, sê vir dié wat moed verloor het:  ‘Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier, Hy kom om wraak te neem, om julle vyande te straf;  God kom julle red!’  Blindes sal kan sien, dowes sal kan hoor, lammes sal kan rondspring soos takbokke, stommes sal kan sing.  Strome water sal uit die woestyn uit bars; daar sal riviere loop in die droë wêreld.  Die verskroeide aarde sal ‘n moeras word, dorsland  waterryke wêreld.  Waar daar nou net vir jakkalse lêplekke is, sal gras en riet en biesies groei.  Daar sal ‘n grootpad deur die woestyn loop en dit sal bekend staan as die gewyde pad.  Onrein mense sal nie daarop loop nie, hulle sal glad nie daar kom nie.  Net die mense wat deur die Here gered is, sal die pad gebruik.  Dié wat deur die Here verlos is, sal terugkeer, hulle sal juigend in Sion aankom, hulle sal altyd straal van blydskap, hulle sal vol vreugde en blydskap wees; ellende en smart sal verdwyn.

Gemeente: Lofgesang 203sittend terwyl die kunstenaar ongestoord voortgaan (tydens die sing van die lied stap persone een en twee af en gaan sit)

Alida Stewart: Kom van regs af op tot voor die preekstoel

Vervulling

Elisabeth Eybers

Toe keer haar voete traag en langsaam na

Die einde van die lange reis; sy was

Soos een wat tot die laaste ‘n kosb’re las

Beskermend in gekelkte hande dra.

 

Die helder krag vir hierdie avontuur

Het deur haar liggaam soos ‘n vlam gestraal

Toe sy na die verlate dieptes daal

Om daar te worstel tot die skeidingsuur.

 

En met haar kind se eerste, roue kreet

Het sy die ou, meedoënlose pad

Wat hulle saam moes aflê reeds vergeet

Want in haar hart het alles weggesterf

Behalwe net die enkele vreugde dat

‘n nuwe mens die lewe kon beërf.

 

Koor: Halleluja, o loof en prys die Heer!

Halleluja, o loof en prys die Heer!

Kom, mensdom roem en bring aan Hom die eer!

Juig nou! Die Woord het mens geword;

Só is Gods liefd’vir elkeen uitgestort.

 

Sing saam en juig in diepe dankbaarheid,

Prys en loof die hoogste Majesteit –

Die Vors en Heer wat in die hemeltroon,

Het lank gelee’ hier onder ons kom woon!

 

Loof dan u God! Deur Christus is ons vry,

Vir al ons skuld moes Hy kom om te ly –

Volg Hom getrou en bring Hom lof en dank

Met vreugdekoor – verhef die blye klank!

Tweede moment:

 

Wyse manne gee geskenke:

 

Gemeente: Lied 344: sittend terwyl drie groter seuns: Jan, Fordie(?) en  John Williams, goud , wierook en mire indra en by ‘n krippie kniel. (Vra iemand om die geskenke te maak.  Vra die drie seuns. Lynette het ‘n houtkrippie)

Lynette:                      Eén nag…

W E G Louw

Eén nag… Wie het die eerste daardie lig gewaar?

‘n Herderseun wat vaakrig by sy skape waak?

‘n Laat wandelaar?  Verliefdes met die vreug

Van nuwe lewe hoog en heerlik in hul harte?

Die wyses wat die ure deur waak om die geheim

Van aardse lotgevalle in die nag te sien?

Wie sal dit sê? … Een nag het aan die hemelboog

‘n nuwe, groot en onbekende ster verskyn,

so skielik en so skitterend soos geen ster nog ooit

oor lande van die sterflikheid kon staan en straal:

‘n blou vlam, ‘n vuur wat oor die aarde klim

En elke uur al verder na die Ooste neig…

Met vrees en skrik is dit gewaar, want wankel leef

In menseharte steeds die rus en sekerheid.

Wat sou dit wees, dié onbegrepe teken dáár?

‘n Tyding van ‘n nuwe, onbekende nood

Wat oor die aarde kom?  ‘n Pes, met sy verderf,

Wat met sy swarte dood nóg kneg nóg koning spaar?

‘n Oorlog wat verwoesting oor die wêreld saai,die volkere gebreek en hulpeloos sal laat?

En elke more, as die ster in vreugde styg,

Steeds hoër in die hemel klim, is daar met vrees

Gefluister oor die heuwels van die Joodse land…

 

Maar God het geeste afgesonder vir sy werk,

Aan wie Hy sy geheimenisse openbaar.

Hul het verstaan; hul het geweet die uur was daar

Dat die hemel soos ‘n blom se kelk sou oopbreek

En al sy heerlikheid sou uitstort oor die aarde…

 

Die ster het stil gestaan.  Die Woord het Vlees geword.

 

Die koor volg sonder enige onderbreking.

Koor:                          Hierdie heilige nag!

Hierdie heilige nag, sing die engele sag,

Christuskind lank reeds verwag, is hier gebore vandag.

 

Wyse manne van ver, volg die Betlehemster –

Vind daar die Kindjie so teer kniel in aanbidding daar neer.

 

Heiland, U is Heer, ons bring U al die eer.

Liefde en vreugde en vree’ bring U, o Heiland, ons mee.

 

Koor en kindersanggroep:  Stil, stil, stil

Stil, stil, stil, die Jesuskind slaap sag.

Dit word nou nag, die dag verdwyn,

slaap gerus, Heer Jesus klein.

Stil, stil, stil, die Jesuskind slaap sag.

 

Stil, stil, stil, die Vader hou hier wag.

Heer Jesus klein, so teer en rein,

Slaap gerus, net sterre skyn.

Stil, stil, stil die Vader hou hier wag.

 

(Persone 1 en 2 lees nou vanuit die banke waar hulle sit.)

Eerste persoon: Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom en gevra:

Tweede persoon:       Waar is hy wat as koning van die Jode gebore is?  Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.

Eerste persoon: Die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei tot dit gaan staan het bo die plek waar die kindjie was.  Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys.  Daarna het hulle hul reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal:  goud, wierook en mirre.

Die seuns gebruik een mikrofoon wat voor by die krippie lê.

John Williams: Goud,‘n geskenk gepas vir ons Koning!

Fordie: Wierook, waarmee ons U as Koning aanbid!

Jan: Mirre, waarmee ons U tot Priester salf!

Gemeente: Lied 345sittend terwyl die klein kindertjies met krone op en geskenke vir Jesus opstap tot by die krip, buig en hulle geskenkies daar neersit.  Hierna bly hulle sommer sit vir kindertyd.

Kindertyd: Rethie behandel die verhaal van die lekkergoedman se nuwe uitvindsel.  Elke kind kry een stokkie om huis toe te neem.

 

Kindersanggroep:      Lied 355, onder leiding van Jennie.

 

Gemeente:      Lied 340 staande terwyl die kinders weer gaan sit.

Koor:              Loof heel die skepping

Weer dink ons saam aan daardie nag;

Die herders en die sterreprag,

Die eng’le woord wat blydskap bring,

Die blye koor wat juigend sing.

 

Laat ons nog eens die lied herhaal,

Die eng’lelied in mensetaal:

Op aarde vrede, God die eer!

Die mensdom heil, Gods Seun daal neer!

Derde moment:

Wat gee ek ?

 

Liturg:                        Kersgedagte

Angelus Silesius

En al word Christus

‘n duisend maal

In Betlehem gebore

En nie in jou nie

Dan bly jy verlore

 

Kindersanggroep en koor:   Christmas isn’t Christmas

Chorus:

Christmas is’nt Christmas till it happens in your heart

Somewhere deep inside you is where Christmas really starts.

So give your heart to Jesus; you’ll discover when you do,

That it’s Christmas, really Christmas for you.

 

Jesus brings warmth like a winter fire,

A light like a candle’s glow.

He’s waiting now to come inside,

As He did so long ago.

 

Jesus brings gifts of truth and life,

And makes them bloom and grow.

So welcome Him with a song of joy,

And when He comes, you’ll know that:

Repeat chorus

Liturg: Nie uit wit paleise nie

Wou Hy (uit soewereine Wil)

Tot ons soort staat gebore word;

Maar, waar die Kuise en die Arme stil

En buite die hotel se poort

Verniet loseer het in die stal,

Het Hy, Visarendjie van God,

In ons benoude vlees geval…

 

Gemeente:                  Lied 348sittend

Tweede persoon:       Onopsigtelik vanaf die galery. Bly sit sonder om op die verhoog op te gaan of sigbaar te wees.  Swaar, sugtend, gedrae, vertwyfelend.  Albert speel die lied saggies voort op die orrel totdat die gemeente weer inval.

Stille nag, heilige nag?

 

Helaas nie.

 

In die donkerte van ons ondermaanse

Skreeu inkopiesentrums met basuingeskal

Van ‘n slee met vrolike klokkies,

‘n takbok met ‘n rooi neus,

Santa wat vir mamma onder die mistletoe soen!

 

Terwyl bloed vloei in Jerusalem

‘n vrou of kind elke paar sekondes verkrag word

Die osoonlaag deur sy gate hygend asemhaal

En Afrika hom aan Vigs doodsweet?

 

Wit Kersfees?

Stille nag,

heilige nag?

 

Inderdaad nie.

 

Waar is ons Vors van Vrede?

Waar die Raadsman?

Aan watter boom is Hy opgehang?

In watter graf is Hy verskans?

 

Stille nag,

heilige nag.

God praat met ons

Ons slaan ag

 

of:

 

Gebed vir ‘n Somerkersfees

Bernard Odendaal

 

Hier staan talle plaaskrippe leeg,

Of verlate opstalle, of agterin sjebiens sommer drankkratte

Om in neergelê te word.

 

Ons somer-Jesus, as U kan kom.  Onnosel kinders sonder toesig

Is hier báie wat kan hól agter ‘n trekstêr se vuurwerk aan

En vir engelekore hemel om te galm

 

Oorgenoeg, en oral vigs en moord te vinde

Om ‘n kort, beroerde lewe te verseker,

Dertig jaar of so.

 

Ja, ontsetting spoel oor die land:

Huisbrake, kinderverkragtings, mens- en diereslagtings, weeklagte

Wat daagliks talle uit laat wyk, verder as Egipte nog van hier.

 

Ook tafels sal hier wees, oorlaai

Met spys en drank sonder spyt of dank

(wyl elders brood godvrugtig te vermeerder is) –

 

As U wil omsmyt

Ook nog blinkende, kersliedklingelingende handels-tempels

Waar dit goedkoop-goedkoop lonk.

 

Vir U wat graag met stories onvergeetlik leer,

Word hier oorvallings, verloreganings, heilsverlangens afgespeel

Na hartelus se seer.

 

Miskien is iéwers hier nog mens,

Te onverwronge om die wanhoop te bevat

Wat U kan roep en stuur?

 

Of kom dan maar net tot ons sinne

Met ‘n klompie klinkklaar woorde in ons tale

(kgotso, erbarming, for the love of God),

Broodnodige Jesus –

Hierdie Somerkersfees nog,

Hierdie Somerkersfees nog!

 

Gemeente: Sag terwyl hulle bly sit

Stille nag, heilige nag!

Jesus, Heer, voor u mag,

Voor u ryk moet die duisternis swig;

tot in ewigheid bly U die lig –

Heer, gebore vir ons!  Heer, gebore vir ons!

 

Alida Stewart:            Protes teen Kersfees

Lina spies

Ek gaan my koes hou

Hierdie Kersfees:

Horende doof vir “Stille nag”

In supermarkte,

Siende blind vir wattesneeu

Teen vensterrame.

Die sluipende ou heer met sy rooi mantel

En wit baard gaan ek vermy.

 

Ek gaan na ons nagtelike somerhemel kyk

En my voorstel hoe het die ster

Bokant die stal gelyk.

Ek gaan my ore toestop

Vir die geklingel van sleeklokkies

Om te kan luister hoe die engele sing.

 

Ek wil my vasklem aan die krip

Omdat ek so kan vasgryp aan die kruis:

Koningshulde – wierook, mirre, goud –

Uiteindelike geselslae, doringkroon, vloekhout.

 

Gemeente:                  Lied 358

Liturg: ‘n Klein seuntjie het niks gehad wat hy vir Jesus as geskenk kon gee nie, net maar sy trom waarop hy vir die Koningskind gespeel het.  Elkeen van ons het iets waarmee ons die Koningskind hierdie Kersfees kan eer.  Waarmee wil jy Hom eer?  Jou lewe, jou stem, jou gawes, jouself?  God vra nie van jou klatergoud nie, net maar dat jy jouself vir Hom sal gee.  Miskien dan sal die gedruis van Krismis in jou stil raak en jy sy stem hoor as Hy vir jou fluister:  Immanuel, Ek by jou.

Gebruik die geleentheid om ‘n woordgeskenk te skryf wat ons Kersdag aan almal as geskenk kan gee:  ‘n wens, ‘n gebed, ‘n vers, ‘n lied, ‘n toewyding.  In die banke is genoeg kartonne en penne.  Neem u tyd en skryf dit wat op u hart is.  Laat dit in die bank wanneer u huis toe gaan.  Ons gaan dit toedraai en as versiering ophang tot op Kersadag wanneer almal teenwoordig so ‘n geskenk sal ontvang.

Gemeente:                              Lied 271:2 staande

Sura Swanepoel: terwyl sy opstap op die verhoog

Klein ballade

Sheila Cussons

Ek soek die huis van ‘n timmerman,

Ek soek die tafel, die eenvoudig gedekte,

En die bêreplek van die botterspaan

Van Maria, die Onbevlekte.

 

Ek soek die dinge van hulle elke-dag,

Ek soek die praat en die maklike lag

in daardie gebenedyde huis:

 

Neem hierdie pad, klop aan die deur.

Na buite dwaal ‘n varsbroodgeur,

En sê nou hulle is tuis?

 

My moed begeef my en ek vlug,

Maar iets sê in my gaan trug, gaan trug:

 

Sy staan reeds in die deurkosyn…

Toe draai ek omen vind verstom

Ek het voor my eie deur gekom:

My huis is Hare, my huis is Syne!

 

Nou ken ek die huis van die timmerman,

Ek ken die tafel, die eenvoudig gedekte,

En die bêreplek van die botterspaan

Van Maria die Onbevlekte.

Koor:                          Prys Hom

Prys Hom!  Alle volke buig jul neer en erken die Here,

Gee Hom lof en ere!

Buig jul voor die Here.

Hy is in sy woning,

Groot, gevreesde Koning.

Laat ons voor Hom neerval,

Volke, gerubs, almal.

Prys Hom, hoog verhewe;

Prys Hom – al wat lewe.

Hoe ook al verhewe,

Tog rig Hy gans ons lewe.

Heilig is die Here.

Kom buig voor Hom neer.

Amen.

 

Liturg:                        Advent

Sheila Cussons

Dit wil Hom baar en aanbid tegelyk,

Die hele natuur: gewortel

In die aarde of op vleuels gedra,

Wat waai of spoel, elke kreatuur.

 

Deur alles wat lewe vaar ‘n graagtheid

En elke skepsel is bewus van sigself,

Wil vir Hom aanneemlik wees,

Vir Hom deur wie alles gekom het:

Soos dit was in die begin, nou is

En altyd sal wees tot in alle ewigheid:

Christus sonder einde, die ronding

Onder haar voorskoot.  Buig boom,

Buig elke hoof:  buig:  Aanbid die Heer

 

Liturg: En die gemeente antwoord hardop saam:

 

Gemeente: Amen! Ja, Kom, Here Jesus, kom tog gou.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Deelnemers:

 

Liturg:                                     Rethie van Niekerk

Dataprojektor:                         Arno van Wyk

Koor en orrelbegeleiding:       Albert Troskie

Kindersanggroep:                    Jennie Troskie

Eerste leser:                             Chris van Wyk

Tweede leser:                          Deon Binneman

Dames voordragte:                  Sura Swanepoel

Alida Stewart

Lynette van Wyk

Wyse manne:                           John Williams

Jan Coetzee

Fordie van Gend?

Tee en portal:                          Marlene Theron

Ronelda van Eyk

Elmarie Venter

Klank:                                     Klema?

Geskenke “mobile”:                Alida en Thomas Stewart?

Props:                                      Lynette (2 kateders, krip, stalraam, ‘n staande spiel?)

Kinderstafies:                          Marlene en Kie.

 

 

 

 

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.