Die GEE van Kersfees
Kerssangdiens –2007 – Lynette van Wyk
eNGee!
in die GEEs van die Christusfees…
Orrelvoorspel – Albert
Aankondigings.
Vra mense om tot in die middel van die bank te skuif sodat meer mense kan inskuif.
Die kollekte word opgeneem terwyl die orrel voortspeel.
Eerste moment:
God gee sy enigste Seun
Die leë krip staan deurentyd voor die preekstoel. So ook twee kateders links en regs voor, uit die pad van die dataprojektor.
Eerste persoon (Chris van Wyk): (stap van die preekstoel af tot by die laaste trappie, kyk dan op, en praat) Jes 9:1
“Die volk wat in donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien, oor die wat in die donker land was, het ‘n lig geskyn.” Beeld op skerm?
Tweede persoon (Deon Binneman): (kom van die orrelkant af op tot op die hoogste trappie. Tweede persoon stap solank nader, maar bly aan sy kant van die straal van die projektor) Jes 9:5
“Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee;
Hy sal heers, en Hy sal genoem word: (ononderbroke afwisseling van stemme)
Eerste persoon: Wonderbare Raadsman,
Tweede persoon: Magtige God,
Eerste persoon: Ewige Vader,
Tweede persoon: Vredevors.”
Persone een en twee bly voor. Sit miskien net.
Koor: Lied 362
Liturg: (stap vanaf die middelste ry voor, af op) God gee lig.
Eerste persoon: God gee sy Seun.
Tweede persoon: God gee lewe, die ewige lewe.
Liturg: Kersfeeskind
Gerhard Olivier
Kersfees,
‘n skilder-sentiment.
Die Godsgreep,
Van ‘n vader
Se liefde,
Wat onthou.
Kersfees,
‘n liedjie-luister.
In ‘n stille-heilige nag,
Na ‘n engele lied,
‘n hemelse
Verlossingsmimiek.
Koor: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan, maar die ewige lewe sal hê.”
‘n Kunstenaar verbeeld die volgende gedeeltes terwyl dit vanaf ‘n kateder voorgelees word.
Eerste persoon: Luk 1: 68-79
“Loof die Here, die God van Israel!
Hy het na sy volk toe gekom.
Hy het hulle kom verlos.
God het ‘n sterk Verlosser na ons toe gestuur.
Hierdie Redder kom uit die nageslag van Dawid, die kneg van die Here.
Die Here het al lankal belowe dat Hy dit sal doen.
Al die profete wat Hy gestuur het om sy wil bekend te maak, het daaroor gepraat. God het belowe dat Hy ons sal red uit die hand van almal wat ons haat en dat Hy ons sal oorlaai met sy goedheid.
Dit alles het Hy in sy ooreenkoms met ons voorvaders belowe.
God het sy beloftes onthou; ook daardie groot belofte aan Abraham:
God het onthou dat Hy ons van ons vyande sou red sodat ons Hom voluit kan dien, sonder enige vrees of kommer – elke dag van ons lewe.”
Liturg: Waarlik, God se lig skyn ook oor my, skyn ook oor jou. Mag hierdie Lig jou donkerte verlig vandag en elke dag wanneer jy in donkerte rondtas.
Gemeente: Lied 336:1,2,5 – staande
Tweede persoon: Jesaja 35 –dramaties voorgelees terwyl ‘n kunstenaar dit op ‘n grootskerm uitbeeld.
“Die woestyn, die dor land, sal jubel, die droë wêreld sal juig, oortrek met affodille; hy sal in volle bloei staan, hy sal juig en sing, hy sal die prag van die Libanon hê, die skoonheid van Karmel en Saron. Israel sal die mag van die Here sien, die koninklike mag van ons God.
Bemoedig dié wie se hande slap hang, help dié wie se knieë knik, sê vir dié wat moed verloor het: ‘Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier, Hy kom om wraak te neem, om julle vyande te straf; God kom julle red!’ Blindes sal kan sien, dowes sal kan hoor, lammes sal kan rondspring soos takbokke, stommes sal kan sing. Strome water sal uit die woestyn uit bars; daar sal riviere loop in die droë wêreld. Die verskroeide aarde sal ‘n moeras word, dorsland waterryke wêreld. Waar daar nou net vir jakkalse lêplekke is, sal gras en riet en biesies groei. Daar sal ‘n grootpad deur die woestyn loop en dit sal bekend staan as die gewyde pad. Onrein mense sal nie daarop loop nie, hulle sal glad nie daar kom nie. Net die mense wat deur die Here gered is, sal die pad gebruik. Dié wat deur die Here verlos is, sal terugkeer, hulle sal juigend in Sion aankom, hulle sal altyd straal van blydskap, hulle sal vol vreugde en blydskap wees; ellende en smart sal verdwyn.
Gemeente: Lofgesang 203 – sittend terwyl die kunstenaar ongestoord voortgaan (tydens die sing van die lied stap persone een en twee af en gaan sit)
Alida Stewart: Kom van regs af op tot voor die preekstoel
Vervulling
Elisabeth Eybers
Toe keer haar voete traag en langsaam na
Die einde van die lange reis; sy was
Soos een wat tot die laaste ‘n kosb’re las
Beskermend in gekelkte hande dra.
Die helder krag vir hierdie avontuur
Het deur haar liggaam soos ‘n vlam gestraal
Toe sy na die verlate dieptes daal
Om daar te worstel tot die skeidingsuur.
En met haar kind se eerste, roue kreet
Het sy die ou, meedoënlose pad
Wat hulle saam moes aflê reeds vergeet
Want in haar hart het alles weggesterf
Behalwe net die enkele vreugde dat
‘n nuwe mens die lewe kon beërf.
Koor: Halleluja, o loof en prys die Heer!
Halleluja, o loof en prys die Heer!
Kom, mensdom roem en bring aan Hom die eer!
Juig nou! Die Woord het mens geword;
Só is Gods liefd’vir elkeen uitgestort.
Sing saam en juig in diepe dankbaarheid,
Prys en loof die hoogste Majesteit –
Die Vors en Heer wat in die hemeltroon,
Het lank gelee’ hier onder ons kom woon!
Loof dan u God! Deur Christus is ons vry,
Vir al ons skuld moes Hy kom om te ly –
Volg Hom getrou en bring Hom lof en dank
Met vreugdekoor – verhef die blye klank!
Tweede moment:
Wyse manne gee geskenke:
Gemeente: Lied 344: sittend terwyl drie groter seuns: Jan, Fordie(?) en John Williams, goud , wierook en mire indra en by ‘n krippie kniel. (Vra iemand om die geskenke te maak. Vra die drie seuns. Lynette het ‘n houtkrippie)
Lynette: Eén nag…
W E G Louw
Eén nag… Wie het die eerste daardie lig gewaar?
‘n Herderseun wat vaakrig by sy skape waak?
‘n Laat wandelaar? Verliefdes met die vreug
Van nuwe lewe hoog en heerlik in hul harte?
Die wyses wat die ure deur waak om die geheim
Van aardse lotgevalle in die nag te sien?
Wie sal dit sê? … Een nag het aan die hemelboog
‘n nuwe, groot en onbekende ster verskyn,
so skielik en so skitterend soos geen ster nog ooit
oor lande van die sterflikheid kon staan en straal:
‘n blou vlam, ‘n vuur wat oor die aarde klim
En elke uur al verder na die Ooste neig…
Met vrees en skrik is dit gewaar, want wankel leef
In menseharte steeds die rus en sekerheid.
Wat sou dit wees, dié onbegrepe teken dáár?
‘n Tyding van ‘n nuwe, onbekende nood
Wat oor die aarde kom? ‘n Pes, met sy verderf,
Wat met sy swarte dood nóg kneg nóg koning spaar?
‘n Oorlog wat verwoesting oor die wêreld saai,die volkere gebreek en hulpeloos sal laat?
En elke more, as die ster in vreugde styg,
Steeds hoër in die hemel klim, is daar met vrees
Gefluister oor die heuwels van die Joodse land…
Maar God het geeste afgesonder vir sy werk,
Aan wie Hy sy geheimenisse openbaar.
Hul het verstaan; hul het geweet die uur was daar
Dat die hemel soos ‘n blom se kelk sou oopbreek
En al sy heerlikheid sou uitstort oor die aarde…
Die ster het stil gestaan. Die Woord het Vlees geword.
Die koor volg sonder enige onderbreking.
Koor: Hierdie heilige nag!
Hierdie heilige nag, sing die engele sag,
Christuskind lank reeds verwag, is hier gebore vandag.
Wyse manne van ver, volg die Betlehemster –
Vind daar die Kindjie so teer kniel in aanbidding daar neer.
Heiland, U is Heer, ons bring U al die eer.
Liefde en vreugde en vree’ bring U, o Heiland, ons mee.
Koor en kindersanggroep: Stil, stil, stil
Stil, stil, stil, die Jesuskind slaap sag.
Dit word nou nag, die dag verdwyn,
slaap gerus, Heer Jesus klein.
Stil, stil, stil, die Jesuskind slaap sag.
Stil, stil, stil, die Vader hou hier wag.
Heer Jesus klein, so teer en rein,
Slaap gerus, net sterre skyn.
Stil, stil, stil die Vader hou hier wag.
(Persone 1 en 2 lees nou vanuit die banke waar hulle sit.)
Eerste persoon: Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom en gevra:
Tweede persoon: Waar is hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.
Eerste persoon: Die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei tot dit gaan staan het bo die plek waar die kindjie was. Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hul reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre.
Die seuns gebruik een mikrofoon wat voor by die krippie lê.
John Williams: Goud,‘n geskenk gepas vir ons Koning!
Fordie: Wierook, waarmee ons U as Koning aanbid!
Jan: Mirre, waarmee ons U tot Priester salf!
Gemeente: Lied 345 – sittend terwyl die klein kindertjies met krone op en geskenke vir Jesus opstap tot by die krip, buig en hulle geskenkies daar neersit. Hierna bly hulle sommer sit vir kindertyd.
Kindertyd: Rethie behandel die verhaal van die lekkergoedman se nuwe uitvindsel. Elke kind kry een stokkie om huis toe te neem.
Kindersanggroep: Lied 355, onder leiding van Jennie.
Gemeente: Lied 340 staande terwyl die kinders weer gaan sit.
Koor: Loof heel die skepping
Weer dink ons saam aan daardie nag;
Die herders en die sterreprag,
Die eng’le woord wat blydskap bring,
Die blye koor wat juigend sing.
Laat ons nog eens die lied herhaal,
Die eng’lelied in mensetaal:
Op aarde vrede, God die eer!
Die mensdom heil, Gods Seun daal neer!
Derde moment:
Wat gee ek ?
Liturg: Kersgedagte
Angelus Silesius
En al word Christus
‘n duisend maal
In Betlehem gebore
En nie in jou nie
Dan bly jy verlore
Kindersanggroep en koor: Christmas isn’t Christmas
Chorus:
Christmas is’nt Christmas till it happens in your heart
Somewhere deep inside you is where Christmas really starts.
So give your heart to Jesus; you’ll discover when you do,
That it’s Christmas, really Christmas for you.
Jesus brings warmth like a winter fire,
A light like a candle’s glow.
He’s waiting now to come inside,
As He did so long ago.
Jesus brings gifts of truth and life,
And makes them bloom and grow.
So welcome Him with a song of joy,
And when He comes, you’ll know that:
Repeat chorus
Liturg: Nie uit wit paleise nie
Wou Hy (uit soewereine Wil)
Tot ons soort staat gebore word;
Maar, waar die Kuise en die Arme stil
En buite die hotel se poort
Verniet loseer het in die stal,
Het Hy, Visarendjie van God,
In ons benoude vlees geval…
Gemeente: Lied 348 – sittend
Tweede persoon: Onopsigtelik vanaf die galery. Bly sit sonder om op die verhoog op te gaan of sigbaar te wees. Swaar, sugtend, gedrae, vertwyfelend. Albert speel die lied saggies voort op die orrel totdat die gemeente weer inval.
Stille nag, heilige nag?
Helaas nie.
In die donkerte van ons ondermaanse
Skreeu inkopiesentrums met basuingeskal
Van ‘n slee met vrolike klokkies,
‘n takbok met ‘n rooi neus,
Santa wat vir mamma onder die mistletoe soen!
Terwyl bloed vloei in Jerusalem
‘n vrou of kind elke paar sekondes verkrag word
Die osoonlaag deur sy gate hygend asemhaal
En Afrika hom aan Vigs doodsweet?
Wit Kersfees?
Stille nag,
heilige nag?
Inderdaad nie.
Waar is ons Vors van Vrede?
Waar die Raadsman?
Aan watter boom is Hy opgehang?
In watter graf is Hy verskans?
Stille nag,
heilige nag.
God praat met ons
Ons slaan ag
of:
Gebed vir ‘n Somerkersfees
Bernard Odendaal
Hier staan talle plaaskrippe leeg,
Of verlate opstalle, of agterin sjebiens sommer drankkratte
Om in neergelê te word.
Ons somer-Jesus, as U kan kom. Onnosel kinders sonder toesig
Is hier báie wat kan hól agter ‘n trekstêr se vuurwerk aan
En vir engelekore hemel om te galm
Oorgenoeg, en oral vigs en moord te vinde
Om ‘n kort, beroerde lewe te verseker,
Dertig jaar of so.
Ja, ontsetting spoel oor die land:
Huisbrake, kinderverkragtings, mens- en diereslagtings, weeklagte
Wat daagliks talle uit laat wyk, verder as Egipte nog van hier.
Ook tafels sal hier wees, oorlaai
Met spys en drank sonder spyt of dank
(wyl elders brood godvrugtig te vermeerder is) –
As U wil omsmyt
Ook nog blinkende, kersliedklingelingende handels-tempels
Waar dit goedkoop-goedkoop lonk.
Vir U wat graag met stories onvergeetlik leer,
Word hier oorvallings, verloreganings, heilsverlangens afgespeel
Na hartelus se seer.
Miskien is iéwers hier nog mens,
Te onverwronge om die wanhoop te bevat
Wat U kan roep en stuur?
Of kom dan maar net tot ons sinne
Met ‘n klompie klinkklaar woorde in ons tale
(kgotso, erbarming, for the love of God),
Broodnodige Jesus –
Hierdie Somerkersfees nog,
Hierdie Somerkersfees nog!
Gemeente: Sag terwyl hulle bly sit
Stille nag, heilige nag!
Jesus, Heer, voor u mag,
Voor u ryk moet die duisternis swig;
tot in ewigheid bly U die lig –
Heer, gebore vir ons! Heer, gebore vir ons!
Alida Stewart: Protes teen Kersfees
Lina spies
Ek gaan my koes hou
Hierdie Kersfees:
Horende doof vir “Stille nag”
In supermarkte,
Siende blind vir wattesneeu
Teen vensterrame.
Die sluipende ou heer met sy rooi mantel
En wit baard gaan ek vermy.
Ek gaan na ons nagtelike somerhemel kyk
En my voorstel hoe het die ster
Bokant die stal gelyk.
Ek gaan my ore toestop
Vir die geklingel van sleeklokkies
Om te kan luister hoe die engele sing.
Ek wil my vasklem aan die krip
Omdat ek so kan vasgryp aan die kruis:
Koningshulde – wierook, mirre, goud –
Uiteindelike geselslae, doringkroon, vloekhout.
Gemeente: Lied 358
Liturg: ‘n Klein seuntjie het niks gehad wat hy vir Jesus as geskenk kon gee nie, net maar sy trom waarop hy vir die Koningskind gespeel het. Elkeen van ons het iets waarmee ons die Koningskind hierdie Kersfees kan eer. Waarmee wil jy Hom eer? Jou lewe, jou stem, jou gawes, jouself? God vra nie van jou klatergoud nie, net maar dat jy jouself vir Hom sal gee. Miskien dan sal die gedruis van Krismis in jou stil raak en jy sy stem hoor as Hy vir jou fluister: Immanuel, Ek by jou.
Gebruik die geleentheid om ‘n woordgeskenk te skryf wat ons Kersdag aan almal as geskenk kan gee: ‘n wens, ‘n gebed, ‘n vers, ‘n lied, ‘n toewyding. In die banke is genoeg kartonne en penne. Neem u tyd en skryf dit wat op u hart is. Laat dit in die bank wanneer u huis toe gaan. Ons gaan dit toedraai en as versiering ophang tot op Kersadag wanneer almal teenwoordig so ‘n geskenk sal ontvang.
Gemeente: Lied 271:2 staande
Sura Swanepoel: terwyl sy opstap op die verhoog
Klein ballade
Sheila Cussons
Ek soek die huis van ‘n timmerman,
Ek soek die tafel, die eenvoudig gedekte,
En die bêreplek van die botterspaan
Van Maria, die Onbevlekte.
Ek soek die dinge van hulle elke-dag,
Ek soek die praat en die maklike lag
in daardie gebenedyde huis:
Neem hierdie pad, klop aan die deur.
Na buite dwaal ‘n varsbroodgeur,
En sê nou hulle is tuis?
My moed begeef my en ek vlug,
Maar iets sê in my gaan trug, gaan trug:
Sy staan reeds in die deurkosyn…
Toe draai ek omen vind verstom
Ek het voor my eie deur gekom:
My huis is Hare, my huis is Syne!
Nou ken ek die huis van die timmerman,
Ek ken die tafel, die eenvoudig gedekte,
En die bêreplek van die botterspaan
Van Maria die Onbevlekte.
Koor: Prys Hom
Prys Hom! Alle volke buig jul neer en erken die Here,
Gee Hom lof en ere!
Buig jul voor die Here.
Hy is in sy woning,
Groot, gevreesde Koning.
Laat ons voor Hom neerval,
Volke, gerubs, almal.
Prys Hom, hoog verhewe;
Prys Hom – al wat lewe.
Hoe ook al verhewe,
Tog rig Hy gans ons lewe.
Heilig is die Here.
Kom buig voor Hom neer.
Amen.
Liturg: Advent
Sheila Cussons
Dit wil Hom baar en aanbid tegelyk,
Die hele natuur: gewortel
In die aarde of op vleuels gedra,
Wat waai of spoel, elke kreatuur.
Deur alles wat lewe vaar ‘n graagtheid
En elke skepsel is bewus van sigself,
Wil vir Hom aanneemlik wees,
Vir Hom deur wie alles gekom het:
Soos dit was in die begin, nou is
En altyd sal wees tot in alle ewigheid:
Christus sonder einde, die ronding
Onder haar voorskoot. Buig boom,
Buig elke hoof: buig: Aanbid die Heer
Liturg: En die gemeente antwoord hardop saam:
Gemeente: Amen! Ja, Kom, Here Jesus, kom tog gou.
Deelnemers:
Liturg: Rethie van Niekerk
Dataprojektor: Arno van Wyk
Koor en orrelbegeleiding: Albert Troskie
Kindersanggroep: Jennie Troskie
Eerste leser: Chris van Wyk
Tweede leser: Deon Binneman
Dames voordragte: Sura Swanepoel
Alida Stewart
Lynette van Wyk
Wyse manne: John Williams
Jan Coetzee
Fordie van Gend?
Tee en portal: Marlene Theron
Ronelda van Eyk
Elmarie Venter
Klank: Klema?
Geskenke “mobile”: Alida en Thomas Stewart?
Props: Lynette (2 kateders, krip, stalraam, ‘n staande spiel?)
Kinderstafies: Marlene en Kie.