Om lief te hê en liefgehê te word
Ron Highfield sê om lief te hê en om liefgehê te word, is die mees sentrale aspek van menswaardigheid, dieper as enige funksionaliteit of kwaliteit van menswees. Dit is in die feit dat ons God se geliefdes is, wat ons menswaardigheid ten diepste lê. En wanneer ons God hierin navolg – deur ander lief te hê – bereik menswaardigheid sy hoogtepunt. (God, Freedom, & Human Dignity. Embracing a God-Centered Identity in a Me-Centered Culture. IVP Academic: Downer’s Grove, 2013)
Paulus skryf oor die bedreiging van Joodse kultuurgebruike
Dit is uit dié hoek wat ek wil kyk vandag na die brief wat Paulus aan die Galasiërs skryf, ’n streek in die suide van hedendaagse Turkye, waar Paulus ’n aantal gemeentes op sy eerste sendingreis gestig het: Antiogië in Pisidië, Ikonium, Derbe, en Listra. Hy skryf die brief waarskynlik kort na die brief aan die Tessalonisense in die begin vyftigerjare van die eerste eeu uit die stad Korinte op sy tweede sendingreis.
Hy is baie bewus van die bedreiging wat die Joodse kultuurgebruike vir die evangelie inhou. Baie Joodse Christene het gedink, alle gelowiges uit die heidene moet die wet ook nakom. Hulle moet in Jesus Christus glo, maar hulle moet ook die Sabbat hou, ook die besnydenis toepas en ook allerlei reinheidsgebruike nakom.
Gelowiges se menswaardigheid word aangetas
Daarmee het gelowiges ervaar, ons is nie die moeite werd nie. Ons tel nie. Ons moet eers word soos die ander, voor ons aanvaarbaar gaan wees. En dié veranderinge moes hulle aanbring, sonder om regtig ’n waarborg te hê dat hulle aanvaarbaar sal wees.
In hoofstuk 2 skryf Paulus hoe hy selfs vir Petrus vroeër moes aanspreek in Antiogië (Sirië) omdat dié kulturele gebruike ’n verdeling gebring het tussen Joodse Christene aan die eenkant en gelowiges uit die heidene aan die ander kant.
Die evangelie kom daarmee in gedrang
Hoekom sê Paulus só? Want die evangelie kom daarmee in gedrang, die waarheid wat in Christus mense met mekaar versoen, word daardeur verbreek. Mense verloor só hulle waardigheid binne die gemeenskap van gelowiges. Hulle word só tweede klas burgers, mense wat eintlik soos heidene bly, al is hulle binne die gemeenskap van gelowiges.
Paulus lê klem op die wet van Christus
Paulus lê dus op die regte verstaan van die leer van Christus – hy noem dit letterlik die wet van Christus – klem, wat ’n mens die regte verstaan van die vryspraak van Christus kan gee, van die werk van die Heilige Gees sowel as van die gemeenskap van gelowiges. Hy beklemtoon dus in die brief:
HIER VOLG DIE HELE EREDIENS: