Ons kom by die tiende element van gebed: “om na te dink”of “te bepeins”: Dink na (Youtube).
Regdeur die Skrif word ons opgeroep om na te dink oor wat God sê, om die betekenis daarvan vir ons te bepeins, sodat ons alles wat God daarin vir ons neergepen het, kan nakom. Dit is die primêre manier waarmee God met ons praat.
Ons kom by die elfde element van gebed: Luister (Youtube).
‘n Hele paar van die vorige elemente van gebed het al te make gehad met luister. Om te wag op die Here. Om oor die beloftes in sy Woord na te dink, en met Hom in gesprek te tree daaroor. Trouens, gebed is ‘n dialoog, ‘n gesprek. Dit impliseer dat God na ons luister, en dat ons na Hom luister.
Ons kom by die laaste en twaalfde element van gebed: Loof (Youtube).
Bid en bely
Die Here Jesus het ons geleer in die Ons Vader om te bid dat sy Naam geheilig sal word, dat sy koninkryk sal kom, dat sy wil sal geskied. Ons sluit die Ons Vader af deur die bestaan van die koninkryk, die krag van God om dit voluit te laat aanbreek, en sy heerlikheid oor alles en vir altyd te bely.
13 Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. (Matt 6:13)
Dit is hoe die uur van gebed dan ook omraam word. Ons het begin met aanbidding. Ons sluit af met lofprysing.
Met aanbidding buig ons voor die Here uit respek en eerbied.
Met lofprysing staan ons op met opgehefde hande uit respek en eerbied vir God (Ps 134:2).
Sommige probeer aanbidding en lofprysing onderskei deur aanbidding met God se wese te verbind en lofprysing met God se werke. Maar, baie keer word God geprys vir sy wese, en baie keer word God aanbid vir sy werke.
Die verskil tussen aanbidding en lofprysing
Die verskil tussen aanbidding en lofprysing het baie meer met houding te make as met substansie.
Aanbidding is om op jou aangesig te val of te kniel voor God:
6 Laat ons in aanbidding buig en kniel, laat ons op ons knieë staan voor die Here, ons Maker (Ps 95:6)
So gebeur dit op aarde, so ook in die hemel:
9 En telkens wanneer die lewende wesens heerlikheid en eer en dank bring aan Hom wat op die troon sit, aan Hom wat vir ewig en ewig leef, 10val die vier-en-twintig ouderlinge in aanbidding neer voor Hom wat op die troon sit. Hulle aanbid Hom wat vir ewig en ewig leef, en sit dan hulle krone voor die troon neer, terwyl hulle sê: 11 “U is waardig, ons Here en God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, omdat U alle dinge geskep het; deur u wil het alles ontstaan, is dit geskep.” (Openb 4:9-11; vgl Ps 22:30; 1 Kor 14:25; Openb 4:10; 5:14; 7:11; 11:16; 19:4).
Lofprysing daarenteen is om op te staan, die dagbreek wakker te maak en vir almal te vertel wie God is en wat Hy doen:
8 My hart is standvastig, o God, my hart is standvastig. Ek wil sing, ek wil lofsing. 9 Word wakker, my gemoed! Word wakker, harp en lier! Ek wil die dagbreek wakker maak. (Ps 57:8-9)
Soos Dawid dit in ‘n ander Psalm sê:
12 My voet staan op gelyk grond; in die byeenkomste sal ek die Here prys. (Ps 26:12)
Om God te loof in gebed beteken om sy allesoortreffende waarde te erken. Dit is om God se krag en heerlikheid voor alle mense, voor die hele skepping, te erken. Waar jy in aanbidding hierdie dinge net vir die Here sê, juig jy in lofprysing dit uit dat almal dit kan hoor.
Soos Maria in die NT in haar lofsang gesê het:
46 “My siel loof die Here, 47 my gees jubel oor God my Verlosser, 48 want Hy het die nederigheid van sy diensmeisie raakgesien. Kyk, van nou af sal alle geslagte my gelukkig noem, 49 want die Magtige het groot dinge vir my gedoen – ja, heilig is sy Naam. (Luk 1:46-49)
Ek sal U vir altyd prys, omdat U opgetree het
Lofprysing is ook nie net vir dit wat in die verlede lê nie. Dit gaan ook oor dit wat in die toekoms gaan gebeur. Dit is om God te prys vir wat Hy nog gaan doen.
Dit leer Psalm 52 vir ons.
Dawid het die Psalm geskryf in ‘n tragiese en traumatiese tyd in sy lewe toe een van sy vyande, die Edomiet Doëg, ‘n familie van 85 priesters uitgewis het, omdat hulle vir Dawid gehelp het in sy vlug voor Saul uit (1 Sam 21-22).
In die Psalm bring Dawid die bose dade van Doëg voor die Here en bid dat die Here sal optree. Hy bid dat die Here Doëg vir goed sal afbreek, hom sal wegruk uit die land van die lewendes. Nie net as straf vir sy boosheid nie, maar ook sodat regverdiges sal moed skep dat God nie sonde ongestraf laat nie.
En dan sê Dawid:
10 Ek stel my vertroue in God se troue liefde, vir altyd en altyd. 11Ek sal U vir altyd prys omdat U opgetree het. (Ps 52:10-11)
Let op die toekomstige verlede tyd: “omdat U opgetree het”!
Dit is iets wat Jesus ons ook geleer het. Waar ons seker is dat wat ons vra binne God se wil is, kan ons die gebed van geloof bid, en die Here loof dat Hy opgetree het:
24 Daarom sê Ek vir julle, alles waarvoor julle bid en vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so gebeur. (Mark 11:24)
Dit is ‘n gebed waaroor ‘n mens baie kan sê, en daar is uiteraard ‘n paar kwalifikasies. Een daarvan is in Johannes 15, vers 7-8:
7As julle in My bly, en my woorde in julle bly, vra dan wat julle wil, en dit sal met julle gebeur. 8 Hierdeur word my Vader verheerlik, dat julle baie vrug dra en my dissipels kan wees.” (Joh 15:7-8)
Jesus in ons en ons in Jesus. Dan raak sy wil ons wil. En God word verheerlik – sy Naam word groot gemaak – dat ons baie vrug dra as sy dissipels.
Prakties
Ons sluit ons gebed dus af met lofprysing waarin ons die Here loof vir wat Hy gedoen het, en vir wat Hy nog sal doen.
Maar, voor ek jou begelei in lofprysing met sagte musiek op die agtergrond (Awake and See), net ‘n paar praktiese opmerkings vir die toekoms:
Jy moet goed nadink oor jou dagprogram en die beste tyd vir jou persoonlike gebedstyd vind. Onthou om dit met jou Bybellees te kombineer.
Commit jouself elke dag daaraan – dit is ongelooflik belangrik. As ‘n uur te lank is – en vir die meeste sal ‘n uur ‘n “tall order” wees – kies ‘n tydsduur wat vir jou kan werk. En hou daarby.
Staan onderbrekings teë. Veral wanneer jou roetine onderbreek word met verlof of oor die naweek.
Wees prakties en ontwikkel ‘n plan wat vir jou werk.
Onthou dat jy die video wat al die elemente van hierdie twaalf elemente van gebed kan aflaai om in een sitting van ‘n uur te gebruik.
Ek sluit af. Jy is in die leerskool van Jesus. Dit is Hy wat vir jou intree (Hebr 7:25). Vertrou Hom om jou te leer hoe om te bid en daarin te volhard.
Om te waak en bid.
Gebed
Dink terug aan alles wat jy die afgelope tyd in gebed ervaar en geleer het. Loof die Here in jou eie woorde.
Stilte
Dink vooruit aan dinge wat jy vir die Here gevra het, en loof Hom dat Hy sal antwoord.
Stilte
13 Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. (Matt 6:13)
Jy weet reeds dat ons op twaalf maniere gaan bid. Min of meer 5 minute vir elke element.
Ek hoop jy is op ‘n plek waar jy stil kan wees sonder onderbrekings. Dat jy ‘n gemaklike stoel het en ‘n gebedsjoernaal waarin jy gebedsversoeke en verhorings sowel as insigte, beloftes en opdragte kan neerskryf.
Ek gaan telkens die element van gebed aankondig met musiek in die agtergrond. Wanneer ek jou egter kans gee om te bid, sal daar telkens ‘n minuut of twee stilte wees. Tot met die volgende opdrag.
Ek het al baie oor gebed gepreek. Ook verskillende Pinksterreekse oor gebed gehou. Maar, hierdie reeks is anders. Hierdie reeks is vir gelowiges wat dieper in die praktyk van gebed wil ingaan. Wat wil leer hoe om beter te bid. Ek het die raamwerk van Dick Eastman in sy boek The Hour That Changes the World aangepas om dit my eie te maak. Ek gebruik ‘n horlosie metafoor wat jy kan gebruik om ‘n uur aan gebed te spandeer. Daar is 12 temas of onderwerpe vir gebed. Dit is bedoel vir ‘n uur se gebed, maar jy kan elkeen van die temas ook een op ‘n slag beoefen, of afwissel, of korter of langer bid, of selfs in ‘n ander volgorde gebruik. Dit is net ‘n riglyn. Jy moet deur die Here Jesus self geleer word hoe om te bid.
Hier is die hele reeks as jy dit wil lees en gebruik: