Pinkster 01 – Jesus kom weer – Hemelvaart
“Ek kom gou” Tema: Jesus kom weer Pinkster 1 – Somerstrand Youtube 18:30 Hemelvaart 21 Mei 2020
Youtube Videokanaal – Boek: “Ek kom gou!”
Verwelkoming
Ons vier Hemelvaart vandag. Vandaar die pragtige inleiding met die orrel om die grootsheid van God aan te kondig. Dit kom uit ‘n verwerking van Psalm 117, ‘n Psalm wat ons hierdie week op 19 Mei in die Eenjaar Bybelleesprogram gelees het, dié wat die program van die begin van die jaar af volg. Die koor gaan die verwerking ook vir ons aan die begin sing.
Hemelvaart
Hemelvaart is ‘n belangrike herdenking in die kerklike jaar.
Ons dink terug aan die dag toe Jesus sy plek as God op die troon van God gaan inneem het. Dat Hy sy posisie as Koning van die kerk en die koninkryk ingeneem het. Vandaar het Hy sy Gees uitgestort op die kerk en die proses van die verspreiding van die evangelie begin.
En watter kragtige beweging het dit nie van stapel gestuur nie. Die hele bekende wêreld van daardie tyd het die evangelie gehoor, selfs al het dit baie keer geweldige teenstand uitgelok van die politieke en godsdienstige heersers van daardie tyd. Die Goddelike kant van die hemelvaart is ‘n buitengewone inspirasie vir ons om moed te hou in ons volharding as sy dissipels.
Ons dink ook terug aan hemelvaart as die dag wat Jesus as mens sy plek in die hemel ingeneem het. Iemand wat ons verteenwoordig in die hemel voor God die Vader. Dit is daar wat Hy vir ons as sy dissipels intree. Dit is ‘n buitengewone troos vir ons dat Hy weet wat dit is om mens te wees, om versoekings te moet deurstaan, om leed te ervaar. Hy is immers nie net die Seun van God nie, maar ook die seun van ‘n mens, gebore uit die maagd Maria. En daarom kan Hy as ‘n mens vir ons met begrip en deernis pleit en intree, daar aan die regterhand van die Vader.
Die Gees in ons is alreeds ‘n waarborg van ons ewige bestemming in die hemel. Maar, dat Jesus reeds daar in die hemel is, is ‘n dubbele waarborg dat ons ook daar sal kan kom. Die hemel is nie net ’n plek vir God en sy engele nie. Dis ook ’n plek vir God se mense. Dit is wat Jesus se hemelvaart vir ons sê.
Dit is met hierdie boodskap wat Openbaring begin. Jesus op die troon in die hemel. In sy Goddelike-menslike gestalte. Wat vir ons moed gee vir ons stryd vir die geloof. Hy is vanuit die hemel besig om sy koninkryk te vestig. Wat ons troos vir die uitdagings wat ons moet trotseer. Hy weet waardeur ons gaan. Hy het trouens dieselfde dinge gely en getriomfeer.
En waarmee Hy die eerste hoofstuk begin is om nie net sy hemelvaart te beklemtoon nie, maar sy wederkoms. “Kyk, Ek kom gou!” Jesus kom weer!
Dit is die boodskap van hierdie Pinkster. Dit is waarmee die Here Jesus jou wil troos en jou wil moed inpraat vir die stryd vir die evangelie in hierdie wêreld.




