Skip to main content

Author: Chris van Wyk

Psalm 110 – Kom sit aan my regterhand – Hemelvaart 22 Mei 2009


Inleiding

‘n Ouma vertel dat hulle saam met hulle jong kleinseun, Richard, vakansie gehou het in die Drakensberge. Een dag het hulle twee so gestaan en die prag van alles aanskou.  Na ‘n paar minute van stilte, het klein Richard die stilte verbreek:

“Ouma, om te dink dat God dit alles gemaak het met net een Hand!”

Die ouma het gewonder wat bedoel hy daarmee en toe vir hom uitgevra:  “Ag, oumie, jy weet mos die Bybel sê dat Jesus sit op die regterhand van God!”

Vir kinders is die almag van God ‘n werklikheid!

Wat bely ons?

Maar ons bely ook hierdie werklikheid as ons Sondae hardop sê:

“Ek glo in Jesus Christus… wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader.”

Hy is almagtig en in beheer. Hy is die eintlike regeerder van hierdie wêreld. Hemelvaart sê dis ‘n werklikheid!

Die Heidelbergse Kategismus Vraag en Antwoord 49

Vraag: Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons ?

Antwoord: Ten eerste dat Hy in die hemel as Voorspraak by die Vader is. Ten tweede dat ons ons menslike natuur in die hemel as ‘n betroubare waarborg het dat Hy as die Hoof ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem. Ten derde dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur, deur wie se krag ons soek wat daar bo is waar Christus aan die regterhand van God sit, en wat nie op die aarde is nie.

Skriflesing

Een van die OT tekste wat die vroeë Christene met die Hemelvaart verbind het, was Psalm 110, en wat ook deur die Revised Common Lectionary vir vandag voorgeskryf word.

Psalm 110 is een van die tien konings Psalms in die Ou Testament en kan, na aanleiding van die drie orakels of Godsprake (‘n woord van die Here) daarin vervat, in drie dele verdeel word (verse 1-2, 3-4 en 5-7).

Kom ons lees dit so met kommentaar:

Lees Vers 1-2 – HEERSER

Hierdie is die eerste orakel: “Kom sit aan my regterhand …  Ek sal jou vyande aan jou onderwerp”.  Die Psalmis is soos ‘n profeet optree wat namens die Here tot die koning (“my heer”) spreek, met die boodskap dat die koning se ere posisie aan God se regterhand hom verseker dat hy alle teenstand sal kan onderwerp.  En as teken daarvan word die septer, die simbool van gesag aan hom oorhandig.

En let op dat die vers heel moontlik daarop dui dat die inhuldiging van die koning in ‘n tyd van spanning en dreigende oorlog plaasgevind het.  En die opdrag is: “heers dan oor u vyande!”

So die prentjie van die Koning as HEERSER word hiermee op die tafel gesit.

Lees Vers 3-4 – PRIESTER

Met die tweede orakel, in vers 3 en verder, word die tafel gedek vir die “heilige stryd”.  God voorsien die mense vir die stryd. Hy monster sy magte, en dit is die jongmense veral wat die stryd gaan voer.

Dan, interessant, word in vers 4 naas die militêre mag, soos deur die septer gesimboliseer, ook ‘n priesterlike seën oor die koning uitgespreek.  Die koning kry die magte van ‘n priester.  Die seënbede dui op ‘n tradisie wat baie ouer is as dié wat na Aäron, uit die stam van Levi, teruggevoer kan word, naamlik die van Melgisedek, die priester-koning van Salem (die vroeëre naam van Jerusalem).

Volgens Gen. 14 het hy nie net aan Abraham voorrade voorsien in sy veldtog teen sy vyande nie, maar hom ook soos ‘n priester geseën. En Abraham het hom ‘n tiende gegee van sy buit, wat ‘n mens onmiddellik laat dink aan ‘n Goddelike person.

Maar die punt is, die koning wat ingehuldig word, is soos Melgisedek, ‘n koning en priester tegelykertyd.

So die prentjie van die heerser word uitgebrei met die prentjie van die koning as PRIESTER, iemand wat omgee en tussen God en mens funksioneer.

Lees Vers 5-7 – OORWINNAAR

Na die tweede orakel volg ‘n beskrywende gedeelte waarin dit duidelik gemaak word dat Jahwe self in die komende heilige oorlog die leër teen die vyand sou aanvoer.  Vgl. wat Hy alles belowe om te doen in vers 6 – Hy straf die nasies, Hy verdelg hulle leiers, Hy laat die wêreld vol lê van hulle lyke.

Dit word afgesluit met ‘n soort heilige seremonie langs die pad waar die koning water drink uit die stroom langs die pad wat ‘n mens laat dink aan soortgelyke seremonies by kroningsgeleenthede (vgl bv. 1 Konings 1:38-40 waar Salomo se koningskap by die Gihon-fontein bevestig word.  Moontlik verwys vers 7 na die seremonie.)

Die Koning word hier dus as OORWINNAAR geteken.

Nuwe Testament

Nou die interessante van hierdie Psalm is dat dit so baie in die NT aangehaal word.  Trouens dit is die Psalm wat die meeste in die Nuwe Testament aangehaal word.  En Jesus self en die skrywers van die Nuwe Testament gebruik hierdie Psalm dikwels as “bewysplaas” vir sy Messiasskap.  Daarom word dit ook Messiaanse Psalm genoem.

  • In ‘n stryd gesprek met die Fariseërs (Matt. 22:41-46) verwys Jesus bv. na vers 1 van die Psalm, waarvolgens Hy die seun van Dawid en van Jahwe is, om hulle van sy Goddelike afkoms en sodoende van sy Messiasskap te oortuig.
    • Jesus as HEERSER.
  • in Hebreërs 7 word na aanleiding van vers 4 van die Psalm (wat handel oor Melgisedek) na Christus se ware en blywende priesterskap verwys.
    • Jesus as PRIESTER.
  • En in aansluiting by Jesus se getuienis voor die Sanhedrin (Matt. 26:64), het die apostels en die skrywers van die Nuwe Testament die “gaan sit aan my regterhand” (vers 1) veral op Jesus hemelvaart, maar ook die opstanding en finale oorwinning oor die vyand van toepassing gemaak (vgl. veral Hand. 2:34ev in Petrus se toespraak, maar ook 5:31; Rom. 8:34; 1 Kor. 15:23-28; Efes. 1:20; Hebr. 1:3, 13; 8:1; 10:12ev; 12:2; 1 Pet. 3:21 ev.; Openb. 3:21).
    • Jesus as OORWINNAAR.

Drie sake word dus op die tafel gesit.  Jesus:

1.                  Heers  oor die aarde

2.                  Gee om en staan tussen ons en God

3.                  Oorwin die vyande

Wat is die betekenis daarvan vir ons?

Hemelvaart sê Jesus is in beheer en sal sy vyande oorwin!

Dis wat die belydenis “opgevaar na die hemel en sit aan die regterhand van die Vader”, beteken. Ons vergeet dit te maklik. Ons vergeet maklik van al die magtiges en koninkryke wat al tot ‘n val gekom het.  En ons vergeet maklik dat Hy wat in die hemel woon, lag vir hulle (Psalm 2:4). Ons vergeet heeltemal te maklik dat daar ‘n dag kom wanneer Hy in heerlikheid gaan verskyn op die wolke!  Dit is hoekom ons so maklik en so onnodig swartgallig kan raak.

Soms word ons mislei deur mense wat sinies en skepties is oor God se beheer, wat soort van sê, die mense wat glo is in die minderheid, so die mening van die meerderheid, dat God nie in beheer is nie, tel.

Soos Isaac Asimov vertel van ‘n Rabbi, ene Feldman, wat moeilikheid met sy gemeente gehad het. Hulle kon oor niks saamstem nie. Die president van die Joodse gemeente het ‘n vergadering belê om die saak uit te sorteer.  12 van hulle sit toe om ‘n pragtige mahonie hout tafel.  Soos die vergadering aangaan, het dit al hoe duideliker geword dat die rabbi ‘n alleen stem in die wildernis was!

Die president van die sinagoge het toe gesê:  “Komaan, Rabbi, genoeg van hierdie gepraat. Kom ons stem, laat die meerderheid heers.” Hy het die papiertjies uitgedeel en elkeen het sy stem uitgebring. Die president het dit getel en gesê:  “Rabbi, jy kan self tel as jy wil. Maar dit is 11 teen 1. Ons is die meerderheid.”

Die Rabbi het opgestaan en gesê: “So, julle dink as gevolg van dié stemmery is julle reg en ek is verkeerd. Wel, dit is nie so nie! Ek staan hier en roep tot die Heilige Een om vir ons ‘n teken te gee dat ek reg is en julle verkeerd is!”

Skaars was hierdie woord uit sy mond of daar was ‘n oorverdowende klap van donderweer en ‘n weerligstraal het die mahonie tafel in twee gebreek!

Die kamer was gevul met rook en vlamme en die president en oudste was op die vloer neergegooi. Die rabbi het onaangeraak gestaan en met ‘n glimlag op sy gesig alles aanskou.

Stadig het die president opgestaan, sy hare was geskroei, sy bril het aan een oor gehang en sy klere was deurmekaar.

Uiteindelik het hy gesê:  “Nou goed, 11 teen 2! Maar ons het steeds die meerderheid!”

NB –  Maak nie saak wat die wêreld sê of dink nie, of hulle dink hulle het die meerderheid nie!  Hemelvaart sê Jesus is in beheer en die oorwinning is syne.  En ons sal dié oorwinning sien.

Die uitdaging aan ons: Ons kan ons koppe optel en met trots die naam Christen dra.  En ons kan begin om waar daar onreg is, die saak van die magteloses op ons te neem, namens Christus.

Jesus is naby ons en gee om

Ek lees onlangs ‘n bydrae van Flip Theron in die Kerkbode oor die Hemelvaart.  Hy het die baie belangrike opmerking gemaak:

  • Die Hemelvaart is nie ‘n reis binne ons ruimte nie.
  • Dit is ‘n reis na buite ons ruimte.

Daarvan is die wolk wat met God geassossieer word in beide Testamente ‘n teken.

As Jesus dus “met ‘n wolk weggeneem word” (Hand. 1:9) terwyl die dissipels kyk, dan word Hy in God se ruimte opgeneem, dit wat ons die hemel noem.

En daarom is Jesus, weens sy Hemelvaart, net so naby aan ons as wat God is.

Jesus sê immers in Matteus (28:20), “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

En Hy verskyn ná sy Hemelvaart steeds aan:

  • Saulus op pad na Damaskus (Hand 9:3 vv) waar Jesus vir Saulus verklaar: “Ek is Jesus … Dit is vir My wat jy vervolg.”
  • En aan Annanias, die “volgeling van Jesus” in Damaskus om hom te gebruik om vir Saulus te gaan bid (Hand 9:10 vv). Ananias sê “Hier is ek Here … maar Here, ek het al baie van hierdie man gehoor en van al die kwaad wat hy die mense wat in U glo … aangedoen het.”
  • En regdeur by genesings en toesprake word die voortgaande aktiwiteit van Jesus veronderstel. Bv. Petrus sê aan Eneas in Lidda: “Jesus Christus maak jou gesond.” (9:34)
  • En aan Petrus op die dak met die visioen (Hand 10:13), waar Petrus God aanspreek met “Here”, die naam wat Petrus in sy eerste toespraak aan Jesus toedig (“God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!” – Hand 2:36).
  • En later as die Gees Paulus verhinder om verder in Asië te werk en Hom stuur om die evangelie na Europa te neem, dan word die Gees spesifiek die “Gees van Jesus” genoem. (16:7)

Soos Flip Theron sê: “Hy is binne roepafstand.” Om die waarheid te sê, sê Flip: “Nee nog nader … Hy is só naby deur sy Gees dat Hy ons hoor sug” (Waar was Christus die 40 dae voor sy hemelvaart? – Kerkbode 1 Mei 2009)

Wat sê dit vir ons?

Dit stel ons gerus – Hy is in beheer en Hy is naby.

Maar dit sê ook vir ons dat ons daardie waarheid kan gaan leef teenoor en saam met ander mense

En ons doen dit beide as heersers saam met Christus, en as priesters.

Dit beteken ook dat ons nie ons HEERSER funksie kan uitoefen los van ons PRIESTER funksie, ons omgee vir mense, nie.

Ek luister dié week in Stellenbosch na Scott McKnight wat ‘n prentjie van die eerste gemeentes teken wat my geboul het.  Hy sê:

  • Jesus het nie die onreg in die wêreld aangevat en ‘n “heilige oorlog” gevoer teen die owerhede of samelewingstrukture nie.
  • Nee, Jesus het ‘n gemeenskap gevorm, wat mense wat onreg belewe, insluit deur self vir hulle te sorg! Hy het die nederiges, die hongeriges, die siekes, die blindes, die lammes, die mense wat onreg belewe ingesluit en op dié manier deur onderlinge omgee ‘n sosiale verandering gemaak.

Om die waarheid te sê, die sosiale verandering het baie keer eerste gekom voordat mense persoonlik getransformeer is.

Dit is die uitdaging vir ons as gemeente – om dinge te verander deur om te gee.  Om die grense oor te steek, soos die Gees ons dit wys.  Die grense na mense wat onreg belewe,

  • sommige as gevolg van gender diskriminasie,
  • sommige omdat hulle jonk is of omdat hulle oud is,
  • sommige omdat hulle ‘n ander taal praat,
  • sommige omdat hulle vel te veel of te min pigment het,
  • sommige omdat hulle van ‘n ander kultuur as die heersende is,
  • of sommige selfs wat net anders is as die heersende kultuur al deel hulle dit histories.

Kom ons stap die pad met mekaar dié Pinksterweek, kyk uit vir die mense wat die Here oor ons pad stuur, en steek die grense oor!

Handelinge 10:44-48 – Son 17 Mei 09

Ek wil vandag ‘n eeue-oue manier van prediking gebruik om die boodskap van dié gedeelte te ontsluit.  Dit is om eers die teks uit te lê en dan die betekenis daarvan vir vandag uit te spel.  Sommige het die een explicatio en die ander applicatio genoem.  Calvyn het dit die eenvoudige betekenis van die teks (sensus simplex) en die praktiese betekenis van die teks (usus) genoem.

Ek begin met die teks en die uitleg, die eenvoudige betekenis.

1.  Die perikoop vorm deel van ‘n baie belangrike storie van die eerste gemeente in Handelinge, hulle insluiting van nie-Jode, d.w.s. heidene in die gemeente van die Here. En ons moet vir geen oomblik dink dat dit plein-sailing was nie.  Dit was een ding om te sien hoe God-vresende Jode van ander nasies  op Pinksterdag tot bekering kom en hulle in die gemeente in te sluit.  Maar dit was ‘n heel ander ding om selfs net die idee van mense wat van ‘n ander godsdiens kom, mense wat hulle sommer almal saam as heidene beskryf het, in hulle gemeenskap in te sluit.

Die feit dat die Heilige Gees op nie-Jode uitgestort word in Handelinge 10 het hulle asem weggeslaan van verbasing.  Dit was nou regtig iets wat hulle nie verwag het nie.  Geen wonder dat Petrus hierna tot in die fynste detail in Jerusalem vir die leiers moet gaan verduidelik wat gebeur het.  Tot hulle krediet het hulle die hand van die Here hierin herken en was die kerk net nooit hierna weer dieselfde nie.

2.  Die perikoop bevestig ook dat die ervaring van die Heilige Gees ‘n onontbeerlike faset van elke gelowige en elke gemeente se lewe was.

Lukas gebruik hier 3 woorde om die ervaring van die Heilige Gees te beskryf.

  • Hy sê dat die Heilige Gees gekom (letterlik geval) het op almal wat na die woord wat Petrus verkondig het, geluister het. Nou die interessante hiervan is dat dit presies is soos Jesus die ervaring van die Heilige Gees in hoofstuk 1 belowe het: Julle sal krag ontvang as die Heilige Gees op julle kom of val. Dieselfde God is aan die werk in die ervaring wat die heidene hier het. Dit is sy gawe aan alle mense.
  • Hy sê ook vir ons dat die Joodse gelowiges wat saam met Petrus daar is, die ervaring beskryf as ‘n uitstorting van die Heilige Gees. Nou die interessante hiervan is dat, al is hulle verbaas dat dit met nie-Jode gebeur , hulle onmiddellik weet, maar dit is dieselfde tipe gebeure as op Pinksterdag. Die tale is onder andere ‘n bewys daarvan, hoewel dit lyk asof dit hier die eerste voorkoms van glossolalie is, terwyl die eerste uitstorting van die Heilige Gees bekende tale was. Wat dit vir die Jode beteken, is dat hulle nou iets deel met die heidene wat vir hulle baie kosbaar is, en dit beteken dat hulle die heidene nooit weer as tweedeklas mense sal kan hanteer nie.
  • En Lukas sê vir ons dat Petrus die gebeure interpreteer as ‘n ontvangs van die Heilige Gees. Die interessante is dat dit presies is soos hy dit aan die eerste gelowiges verduidelik het in hoofstuk 2, bekeer julle, laat julle doop en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Dit is ook dan die rede waarom hy onmiddellik besef daar is niks wat verhinder dat hulle ook met water gedoop word nie, en daarom deel van die liggaam van Christus word.

Daar is eintlik nie ‘n manier om die betekenis hiervan te oorskat nie.  Die interpretasie van die uitstorting van die Heilige Gees op hierdie heidene beteken:

  • dat die belofte wat Jesus aan die begin van Handelinge gemaak het ook vir die heidene bedoel was;
  • dat dit nie saak maak dat jy nie by die eerste geleentheid by Pinksterdag was nie. Jy kan die Heilige Gees ervaar te enige tyd wanneer die woord verkondig word;
  • en dit beteken dat jy nie nog iets hoef te doen nadat jy jouself aan die Here toegewy het en gedoop is, om die Gees in ‘n aparte ervaring te ontvang nie. Deur te luister na die woord en jou aan die Here toe te wy is die manier om die Heilige Gees te ontvang. En terloops die orde waarin die doop en die ontvangs van die Heilige Gees gebeur word dikwels omgeruil in Handelinge, sodat ‘n mens kan aflei, albei is belangrik, maar die orde waarin dit gebeur is van geen belang nie.

Die gevolg van die ervaring van die Heilige Gees is

  • dat die mense God prys met ongewone tale of klanke – die belangrike is natuurlik dat hulle God prys, en nie soseer met tale nie, soos Paulus later sal aantoon, nie almal kry tale nie, daar is ‘n reeks van gawes wat almal belangrik is;
  • dat hulle gedoop word wat beteken dat hulle deel van die liggaam van Christus van die kerk word op grond van die doop en die ontvangs van die Heilige Gees en
  • Petrus en die Joodse gelowiges gaan bly by hulle wat beteken dat hulle in ‘n gemeenskap met mekaar begin lewe, hoewel die Joodse wet dit verbied het. Die middelmuur van skeiding tussen Jood en heiden is weggeneem.

Dit is die eenvoudige betekenis van die teks:

  • Nie-Jode is ingesluit in die kerk van Christus, maak nie saak waar nie.
  • Die ervaring van die Heilige Gees is ‘n onontbeerlike faset van gelowiges se lewe.

En daarby resoneer dit

  • met beloftes in die Ou Testament – Genesis 12 en Joël 2-3 om maar net twee te noem – dat die nasies ingesluit is in God se plan vir die kerk en resoneer dit ook
  • met die beskrywing van die Heilige Gees regdeur die Bybel as ‘n dinamiese persoon wat werklik en ervaarbaar is, so werklik dat ander dit kan waarneem.

Ek wil nou graag die praktiese betekenis hiervan vir ons gemeente uitspel, soos ek dit van die Here ontvang het.

1.  Die eerste praktiese betekenis het te make met ons eie ervaring van die Heilige Gees. Die kerk is ‘n plek waar God Homself openbaar en waar Hy ervaar word as die een wat lig bring, wat insig gee, wat ons met vreugde volmaak, wat ons diep aan mekaar verbind, wat ons laat omgee en bereid maak om ander te dien met ons besittings en gawes.

Ons taak is om onsself oop te stel vir Hom, ons toe te wy aan Hom en te doen wat ons hand vind om te doen, soos Hy ons begelei.

Ek was in ‘n gesprek met ‘n groot sakeman dié week wat vertel het hoe hy begin het om vir sy opposisie te bid, en hoe moeilik dit vir hom was, want soos hy sê, ons predikante weet nie lekker van opposisie nie.  En was sy verrassing groot, toe hy na ‘n tyd wat hy dit getrou gedoen het, ervaar het dat die Here ‘n jarelange probleem waarmee hy gesukkel het net een dag laat verdwyn het.  Sy lewe het vol van die krag van die Gees geraak, deurdat hy begin het om in sy toewyding die Here na te volg deur sy vyande lief te hê.

Dit is hoe dit werk met die vervulling met die Heilige Gees.  Daar is verruklike vreugdevolle ontmoeting en ervarings, maar die diepste veranderinge gebeur wanneer ons die pad begin stap met God in die praktyk van ons lewe.

Dit is waarom die Geestelike Gewoontes van Adele Calhoun en die Bly in Voeling kursus van Johan Ackerman so belangrik vir my persoonlik is.  Want dit help my met my toewyding.

  • Ek het daar geleer hoe om te kyk na stories uit my verlede sodat ek of die stem van die Here daarin kan hoor sodat ek dit beter vandag kan herken, of van die impak van negatiewe stories genees kan word.
  • Ek het daar geleer hoe belangrik selfondersoek is, en dat dit die begin is van ware vrede en tot rus kom – beide die gebeure van die afgelope 24 uur as my innerlike wêreld.

Dit is in hierdie gewone goed waar ek luister na die woord van God vir my lewe, dat ek met die Gees vervul word en my lewe al hoe meer die gestalte van Christus begin aanneem.

Ek wil jou uitdaag om jou toe te wy aan die Here – nou, vandag.  Hebreërs sê mos, vandag as jy sy stem hoor, besluit om Hom te volg.

Dit is immers die doel van prediking, dat jy en ek by ‘n besluit kom en onsself toewy aan die Here.

2.  Die tweede praktiese betekenis vir ons is die vraag wat ons moet antwoord – is ons bereid om saam met die Gees te gaan as Hy oor ons mensgemaakte grense heen beweeg na mense en groepe wat Hy liefhet ten spyte van ons vooroordele?

Die vraag wat aan ons gevra word, is of ons saamkom.  In die gedeelte hoor ons hoe die Gees met Petrus werk om sy oë oop te maak vir God se werk en hom te oortuig om saam te kom – teen al sy vooroordele in!

Andrew Walls, die bekende Skotse sendinghistorikus, het heelwat geskryf oor die bekering van die heidene tot die Christendom en oor die wyse waarop hulle ingebind is in die een kerk van Christus saam met die Joodse Christene. Walls is van mening dat ons gans te min aandag gegee het aan die verskynsel.

Die Christendom – anders as Islam en die Judaïsme – het van die begin af uitgebreek uit die spesifieke kulturele en taalkonteks waarin dit oorspronklik gekom het. In beide die Judaïsme en Islam kom die godsdienskant altyd saam met `n bepaalde taal en kultuurvorm – wat beteken dat bekering tot hierdie gelowe eintlik ook die aanvaarding van `n bepaalde kultuur en taal behels.

In die Christendom was dit van die begin af anders. En dit sien ons nêrens so duidelik as in Handelinge 10 nie!

Die Joodse Christene het waarskynlik van die begin af gedink (en selfs ook gehoop!) dat daar ook heidene tot geloof in Christus sou kom, maar, sê Walls, dat hulle nie gedink het dat dit so baie sou wees nie.  As daar bekerings uit die heidene was, sou dit waarskynlik min genoeg wees dat hulle die mense in die Joodse Kerk kon assimileer. Dit sou beteken dat die heidene deel van die gemeente kon word, maar dat hulle (soos die geval was in die Jodedom voor die koms van Christus) eintlik eers Jode sou moes word.

Nou kan ons die belang van Hand 10 begin verstaan. Dit is duidelik dat hier `n nuwe episode vir die kerk begin: mense wat nie Jode is nie word ingesluit in die kerk en klaarblyklik gaan daar nie van hulle verwag word om in te val by Joodse godsdiensgebruike nie!

En ons hele Pinkster gaan aan hierdie beweging oor grense gewy word.

Wat beteken dit vir ons in ons gemeente?

Wel – die Gees is besig om die evangelie te neem na mense wat nie is soos ons nie.  En soos hier met Petrus, laat Hy Hom nie dwarsboom deur ons vooroordele nie.  Om die waarheid te sê, hy is selfs bereid om ons, soos vir Petrus, al skoppende en teëstribbelend mee te neem en te gebruik in hierdie proses.

Maar dit beteken ons moet weer tot bekering kom, veral van ons vooroordele.  Soms het hierdie vooroordele te make met kultuur- en taal-verskille, soms met ekonomiese verskille of godsdienstige of morele verskille of soms net met generasie verskille.

In ons eie gemeente het dit onder ander te make met jonger mense as ons.

Ek praat van die Kindertyd wat ons gevestig het as deel van ons erediens – maar wat soos julle weet, ‘n hele klomp lidmate laat besluit het, hulle gaan liewers na ander gemeentes.  En aan die een kant gun ek sulke mense die reg om te gaan na ‘n plek wat hulle behoeftes in hulle eie perspektief beter ondervang.  Maar van ‘n ander kant is die evangelie ook op die spel – kinders is of ingesluit in die evangelie en ons maak moeite om die boodskap van die evangelie saam met hulle te ontgin en geniet of ons redeneer dat hulle eerder op hulle eie moet wees en gefokusde aandag moet kry.  En ek wil vir geen oomblik die waarde van gefokusde aandag ontken nie, ons doen dit immers ook met die toepassing vir voorskools tot graad 7, maar die gedagte rigting daaragter het ons al by aparte kerke in ons eie familie en by aparte denominasies in die wêreld uitgebring.

Ek praat ook van Klema, wat ‘n eie unieke manier van aanbidding en kerkwees binne ons grense gestig het.

Aan die een kant sal ons as gemeente steeds moet voortgaan om die nuwe kultuurvorm waarin dit gestalte kry, te eer en respekteer en te ondersteun.  Dit is ‘n gawe van God aan ons en aan die kerk in die breë.

Maar aan die ander kant is die uitdaging vir ons en meer spesifiek vir Klema om erns te maak met die boodskap van Handelinge dat die uitbreiding van die kerk en die akkommodering van ander kulture nooit gelei het tot die stigting van ‘n ander of nuwe of tweede kerk nie, maar dat hierdie variasie, hierdie diversiteit in een liggaam ontplooi is.

Petrus se woorde hier dui duidelik op `n erkenning dat die verskeidenheid wat besig is om te ontplooi binne die kerk en die geloof, alles van Een God en Een Gees kom en dus binne Een Liggaam gekoester moet word.

En ek praat ook van ons breër gemeenskap, waar dit te make het met mense van ander kerke met wie ons ‘n pad moet stap op die mees eensgesinde manier moontlik, en ek praat van ander gemeentes in Somerstrand en in die stad en die gemeentes van die VGK.

Maar dit het ook te make met mense van ander tale en gewoontes en in die laaste paar jaar ook baie spesifiek studente wat van oor die hele Afrika hier ingetrek het.  In ons vorige gesprek by die kerkraad het die Here die studente spesifiek op ons hart gelê.  En die Bybel projek het vir ons ‘n manier gewys hoe ons die uitreik op ‘n baie eenvoudige manier kan begin.

Ons het ‘n geleentheid hierdie Pinkster om mense te nooi in ons gemeenskap en saam te kom gesels oor grense en hoe die Gees ons oor grense stuur.  Reik dus uit in gasvryheid en nooi mense saam om te luister en te deel en met ons in gesprek te gaan.

Ek sluit af met Fred Cradock se storie wie se een boek Overhearing the Gospel ek geweldig geniet het op Universiteit.

Toe  Fred Craddock ‘n teologiese student was, was hy die aflos predikant van ‘n pragtige, klein, witgeverfde kerkie in Oos-Tennessee, in ‘n prentjie mooi omgewing.

Fred het gou ontdek dat nie een van die nuwe mense in die dorp, hulle wat werk vir die groot regerings projek, die kerk bywoon nie. Hulle was arm buitestaanders wat geleef het in woonwaens en tente saam met hulle kinders.

By ‘n kerkraadsvergadering het Craddock gesmeek:  “Ons moet uitreik na die nuwe mense wat hier in die dorp is.”  Maar die voorsitter het geantwoord:  “O, ek dink nie so nie.  Hulle sou nie hier inpas nie.”

Craddock het beswaar gemaak:  “Maar hulle het die evangelie nodig! Hulle het die kerk nodig”  “Nee, ek dink nie so nie!” het die voorsitter weer geantwoord.

En net om seker te maak dat dit nie gebeur nie, het die voorsitter die volgende week ‘n besluit laat goedkeur dat net mense met eiendom op die dorp aan hierdie gemeente mag behoort.

Toe hy later professor by Candler Teologiese Kweekskool in Atlanta was, het Craddock die ou dorpie weer gaan besoek. Die kerkgebou was nog steeds daar, maar op die bord voor die gebou het daar nou groot gestaan: “Barbecued Chicken, Ribs & Pork.”

Dit was nou ‘n restaurant vol van alle soorte mense. En Craddock het aan sy vrou gesê: “Dis ‘n goeie ding dat dit nie meer ‘n kerk is nie, want baie van hierdie mense sou nie welkom gewees het nie.”

 

Handelinge 4:5-12 – Son 3 Mei 09

Die getuienis van ‘n 5-jarige

‘n Predikant vertel van ‘n 5 jarige dogtertjie, Lauren wat sy elke Sondag na Sondagskool raakloop en vir wie sy dan vra: “Lauren, wat het jy vandag by die Sondagskool geleer?” en dan antwoord sy:  “Ek het geleer dat Jesus my liefhet”.

So was dit elke week … die predikant vra dieselfde vraag en Lauren gee dieselfde antwoord.

Na etlike weke van hierdie selfde gesprekke, het Lauren se ma haar onderbreek:  “Maar jy sê dit elke week.”

Die predikant het vir die ma gesê:  “Wel, sy is reg!  Dis wat dit op neerkom – vir 52 Sondae probeer ons hierdie boodskap deurgee: ‘Jesus het jou lief!’ Ek wens meer mense snap dit.”

Terwyl sy dit sê, stap klein Lauren na die ingang van die kerk en sê vir ‘n besoeker:  “Jesus het jou lief.” Haar eerste preek … die besoeker glimlag.

Sy was nie ‘n predikant se kind nie, ook nie die ster van haar klas nie, net ‘n gewone 5 jarige ….

Die getuienis van Petrus en Johannes

Jesus gebruik gewone mense om Sy boodskap van liefde aan die wêreld te bring.

Dit is die boodskap van hierdie gedeelte in Handelinge, soos vers 4:13 dit stel: “die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense.”

Petrus en Johannes, twee baie gewone eenvoudige mense, vissermanne nie geleerdes nie, bring die boodskap van Jesus se liefde aan ‘n wêreld wat dit nodig het.

Want onthou, hierdie verhoor vind plaas in reaksie op die genesing van die verlamde man deur Petrus een middag kort na Pinksterdag (3:1-10).  Hy en Johannes het gaan bid by die tempel, so 3-uur die middag, die tweede gebed van die dag (godvresende  Jode het 3 keer ‘n dag gebid by die tempel, 9-uur, 3-uur en 6-uur) en op pad die verlamde man genees, omdat Jesus hom liefhet.

As kinders het ons Petrus se woorde gesing: “Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop.” Ons het nog van goud en silwer gesing, soos dit in die oorspronklike teks staan: “Argurion kai chrusion ouch hupargei moi.” – “silwer en goud besit ek nie.”

En Petrus (en Johannes – sy stille vennoot) het sommer die geleentheid gebruik om hulle Pinksterdag preek voort te sit by die Pilaargang van Salomo.  “Hoekom is julle hieroor (die genesing) verbaas?  … Deur die geloof in sy Naam het Hy (Jesus) die bene van hierdie man … sterk gemaak.  God … (het) Hom heel eerste na julle toe gestuur om vir julle tot ‘n seën te wees deur elkeen van julle van sy verkeerde paaie af terug te bring.”

Die genesing lok reaksie uit van die Joodse Raad

Die Joodse Raad kon darem nie dié optrede toelaat nie en laat vang hulle laat middag, net voor die laaste bidtyd, en sit hulle oornag in die tronk.  Uit Josefus se geskrifte weet ons dat die Joodse Raad ‘n raadsaal direk aan die westekant van die tempelterrein gehad het, vanwaar hulle die preek seker kon hoor en waar die verhoor die volgende dag waarskynlik ook plaasvind het.

Die volgende môre het die Joodse Raad (waarskynlik sinoniem met die Sanhedrin) vergader.  Die Joodse Raad was die hoogste regsprekende en godsdienstige liggaam van die Jode.  Hulle het bestaan uit 71 lede, afkomstig uit invloedryke families, en saamgestel uit die geledere van die priesters en die Sadduseërs (wat die liggaam gedomineer het), met die hoëpriester aan die hoof.  Dit was die politieke en religieuse elite van die Jode.  Hulle het oor alle sake wat op die godsdienstige en algemene lewe van die Jode betrekking gehad het, die beslissende sê gehad.

Ons lees hier van die familiehoofde (letterlik “die oudstes”), die senior priesters, en die skrifgeleerdes.  In vers 6 word enkele leidende priesters by die naam genoem.  In hierdie stadium het Annas al afgetree as hoëpriester (hy het van 6-14 n.C. as sulks gedien) en het Kajafas die amp beklee (18-36 n.C.).  Annas het steeds groot aansien geniet as patriarg van die familie waaruit die meeste hoëpriesters gekom het.

Terloops, Kajafas se been-kis is onlangs opgegrawe.  Die Johannes wat hier vermeld word, het hoëpriester geword in 37 n.C.

Die apostels het voor die raad verskyn wat in ‘n halfsirkel gesit het.  Die vraag wat die raad wou ondersoek, was deur watter krag en in wie se naam die apostels die wonders verrig het wat hulle gedoen het.

Petrus tree op vol van die Heilige Gees

Lukas vertel dan dat Petrus onder die leiding van die Heilige Gees geantwoord het (vers 8): “vol van die Heilige Gees”.  Só word Jesus se woorde in Matteus 10:17-20 waar, dat die dissipels nie sou hoef bang te wees wat hulle moes sê as hulle voor hooggeplaastes oor Hom moet getuig nie.

Let op hoe beleefd Petrus begin (vers 8).  Hy maak dit egter duidelik dat die apostels verhoor word oor ‘n goeie daad wat hulle verrig het (vers 9).  Hy bely vervolgens dat hy die verlamde man in die Naam van Jesus gesond gemaak het (vers 10).  Hy het dit reeds in 3:16 aan die skare verklaar, so dit was nie ‘n geheim nie.

Hy maak dit nou ook duidelik dat dit dié Jesus is wat die raad laat doodmaak het, in wie se naam die apostels optree.  Die uitspraak moes die spanningsvlakke in die vertrek opgejaag het!  Dis nie meer die Petrus wat vir ‘n slavin skrik nie.

Dan haal hy uit Psalm 118:22 aan (vers 11).  Dié Psalm is telkens deur die vroeë Christene op Jesus se optrede van toepassing gemaak (vgl. Ef. 2:20; 1 Pet 2:4-6).  Die Psalm getuig dat God vir Jesus, wat deur die Jode verwerp is, verhoog en verheerlik het.

Petrus insinueer dus dat hulle oordeel oor wie in die naam van God optree, in die verlede verkeerd was.  Dit is daarom ook eerder die Joodse Raad wie hier verhoor word en nie hy nie.

Jesus bring die verlossing en niemand anders nie

Petrus gaan voort en sê dat net Jesus nou mense in die regte verhouding met God kan bring (vers 12).  Daar is letterlik geen ander een na wie toe mense kan draai nie.  “Hy bring die verlossing en niemand anders nie.”

Dit moes die Sadduseërs en die priesters wat die tempel beheer het, ernstig ontstel het.  Jesus maak dus nie net siekes gesond, soos die verlamde man by die Mooipoort nie (in vers 10 sê Petrus letterlik dat die man nou “heel” is).  Jesus se dood en opstanding bied nou ook hoop en verlossing vir almal (nie net die Jode nie) wat ver van God af leef.  Jesus se Naam bring dus universele redding.

Na Petrus se skerp woorde aan die Joodse Raad, was hulle almal verbaas oor sy vrymoedigheid omdat hy en Johannes geen formele opleiding in die wet van Moses by een van die amptelike rabbynse skole ondergaan het nie.  Hulle kon ook nie veel aan die apostels doen nie, want die verlamde man van vroeër het immers nou gesond langs hulle gestaan as die lewende bewys van Petrus se woorde (vers 14)!

Uiteindelik kon hulle net die apostels dreig en hulle loslaat.

Wat is hier op die spel?

Twee goed:

1.      die gesag van Jesus as Verlosser vir die wêreld en

2.      die getuies wat dit met gesag kan verkondig.

Die gesag van Jesus as Verlosser van die wêreld

Watter gesag lê daar in Jesus as Verlosser van die wêreld, soos Petrus hier sê, die enigste een wat die verlossing bring en niemand anders nie?

1) Ek dink ons begryp nie altyd hoe sentraal Jesus in die wêreldgeskiedenis is nie.

‘n Mens word soms verlei deur die agnostici en ateïste in die media se uitsprake oor geloof  in die algemeen en Jesus se boodskap in die besonder om te dink dat geloof as sodanig en meer spesifiek geloof in Jesus eintlik iets is wat net in jou huis gehoor moet word, en darem ook in die kerk.

Maar die media en die regering en die ekonomiese – en vermaaklikheidswêreld is van meer belang op die publieke terrein en eintlik van groter historiese belang.

Nou dit is bog.

H.G. Wells, die beroemde skrywer en geskiedkundige, was een van die grootste kritici van die Christendom, maar hy het wel gesê: “I am an historian, I am not a believer, but I must confess as an historian that this penniless preacher from Nazareth is irrevocably the very centre of history. Jesus Christ is easily the most dominant figure in all history.“

2) Nog dieper as dit, Petrus maak dit duidelik dat Jesus nie net nóg ‘n weg na God en vergifnis is nie.  Hy is volgens sy getuienis die enigste weg.

Dit is nie ‘n populêre standpunt vandag nie.  Dit klink vir baie net te kompromieloos, te kontroversieel, te eksklusief.  Kan dit regtig so wees dat verlossing net in een Naam beskikbaar is: “Hy bring die verlossing en niemand anders nie.”?

Daar is immers 10 000 onderskeibare godsdienste, waarvan ‘n 150 meer as ‘n miljoen volgelinge het (Barrett).

Kan dit wees dat net 1 godsdiens reg is en 9 999 verkeerd?

Daarom dat baie mense, ook Christene, een of ander vorm van pluralisme aanvaar – die geloof dat nie een enkele godsdiens daarop kan of mag aanspraak maak dat dit normatief vir alle mense is en meerderwaardig is as al die ander godsdienste nie.

As jy só ‘n pluralistiese standpunt konsekwent wil handhaaf, moet jy ook aanvaar dat alle godsdienste gelyk is.  Soos ‘n Japanese idioom sê: “Alhoewel alle paaie na die kruin verskil, van die bergtop sien ‘n mens dieselfde maan.” Of die Hindoes se godsdiens-figuur Krishna wat in die Ghagava-Gita sê: “Watter pad mense ook neem, dit is my pad; maak nie saak waar hulle loop nie, dit lei na my toe.”

Maar, al klink dit ook hoe goed, kan ‘n mens pluralisme nie konsekwent handhaaf nie:

  • Sommige godsdienste se idees en praktyke stuit ‘n mens teen die bors. Die menslike offers van sommige Amasone stamme of die Hindoes se verbranding van weduwees, hoewel daar hervormings hier rondom gekom het in die vorige eeu, kan tog nie op dieselfde vlak as ander godsdienste gestel word wat ‘n etiek van liefde en verantwoordelikheid verkondig nie?
  • En dit is onsinnig om te sê dat alle godsdienste uiteindelik min of meer dieselfde dinge sê, want dit is doodgewoon nie waar nie, en die meeste godsdienste sal self sê dat hulle verskillend is.

Natuurlik hoef ons nie alles te verwerp van ander godsdienste nie.  In Pinkster sal ek bv. aandui hoe Paulus in Athene aansluit by die idees van twee Griekse groepe, die Epikureërs en Stoïsyne, en die evangelie aan hulle verkondig.

Daar is immers ooreenkomste sowel as verskille.

Maar ons kan verseker onderskei en ‘n ingeligte keuse maak, terwyl jy oopbly vir nuwe insigte – anders as bv. ateïste wat glad nie verdraagsaam is teenoor mense wat in God glo nie, maak nie saak in watter een nie.

Waarom is Jesus die enigste weg?

Wat sit Petrus op die tafel vir sy standpunt wat geloof in Jesus die enigste verlossende geloof maak?

Drie goed:

  1. Die opstanding van Jesus uit die dood en
  2. die goeie dade, wat in Jesus se Naam gedoen word, soos met die wonder-genesing van die verlamde man geïllustreer is.  En
  3. die inspirasie en oortuiging van die charisma wat kom van die Heilige Gees (4:8), en wat duidelik sigbaar was in die welsprekende en oortuigende getuienis wat hy voor die Joodse Raad kon lewer.

Nou oor die laaste twee sou jy nog argumente kon voer, ander godsdienste doen ook goed aan ander, en daar is baie charismatiese leiers, maar jy kan beswaarlik kies om te glo in die opstanding van Jesus uit die dode, en dan ook nog dink dat Jesus en Mohammed op dieselfde vlak is.  Die opstanding is dié onderskeidende faktor.

Die verlossing is in Jesus en nie in ons nie

Terwyl ‘n mens dus, soos Petrus, kies vir die standpunt dat Jesus die enigste verlossende geloof is, kan ‘n mens Kurt Marti se styl in gedagte hou.  Hy maak 2 opmerkings :

  1. Die verlossing is in Jesus Christus – nie in ons wat Christene is nie.
  2. Die verlossing is in ‘n Persoon – nie in dogmas of ideologiese standpunte nie.

Dit beteken dat ons nie kan dink en praat oor die verlossing asof dit ons geestelike besitting is nie. En hierdie verlossing word slegs ‘n werklikheid in gesprekke met en getuienis oor grense heen wat met gasvryheid en liefde  gedoen word … wat meer is as die konfrontasie van opponente, waar elkeen net harder praat sonder om ook te luister.

Jesus is dus die enigste weg na God, die enigste verlosser.  Hy bring die verlossing en niemand anders nie.

Maar daar is nog baie meer op die spel.

Wie kan die boodskap van Jesus met gesag verkondig?

Wie se boodskap is dit?  Wie kan dit met gesag verkondig?

In ‘n merkwaardige studie van Elliot het hy aangetoon dat daar twee dominante sosiologiese ruimtes in Lukas en Handelinge is, naamlik die “tempel” en die “huishouding“.

Lukas evangelie begin en eindig by die tempel (Luk 1:5-23 / 24:50-53), maar Handelinge begin en eindig by huishoudingstonele in die bovertrek (Hand 1 – weliswaar nog by die tempel, maar as mense wat aan ‘n nuwe huishouding behoort) en Paulus in die gevangenis-huis waar hy die evangelie “vrymoedig en onverhinderd” verkondig (28:30).

Wat het gebeur dat Lukas se twee verhale in twee sulke verskillende sosiologiese ruimtes afspeel?

In Handelinge 3 met die genesing van die verlamde man vind ons die antwoord. Hier vind die sosiologiese verskuiwing plaas!

  • In Handelinge 1-8 kry ons talle huis-tonele … dit is waar die gelowiges vergader, eendragtig saambid, brood breek, in eenvoud saameet, die Gees ontvang, mededeelsaamheid beoefen, versterk word en groei.
  • In dieselfde hoofstukke word die tempel (die sentrum vir politieke en godsdienstige beheer van die volk) geteken as die plek waar mense jare verlam lê, aalmoese soek, oproer beleef en skaregeweld, gearresteer word, in tronke gestop word, gedreig word, ‘n swygverbod opgelê word, geslaan word en selfs ‘n moord gepleeg word (Stefanus).

Dié twee instellings dra dus elkeen ‘n afsonderlike karakter en gesag.

  • Die tempel is (volgens Elliot) “an alienating form of collective institutional life”
    • terwyl die huishouding “a creative form of integrative group life” weerspieël.
  • By die een word regeer en oorheers (= om lewe te neem) en
    • by die ander word getuig van die opstanding deur na elkeen se behoefte om te sien (= om lewe te gee).

Die dissipels het nog aanvanklik die tempel besoek (hfst. 3), maar na al die moeilikheid by die tempel en ook Stefanus se steniging omdat hy “dinge teen die heilige tempel sê” (6:13) word die huishouding die draende ruimte van die evangelie.

En Paulus se bediening onder die heidene loop eweneens deur huishoudings en “huisgemeentes”.   Hy begin weliswaar by die sinagoges, maar dit is telkens in die huishoudings wat geloof groei.

Die tempel word in die res van Handelinge plekke van sameswerings, beplande moorde, politieke gekonkel en strydgesprekke oor reinheid.

Die huishouding vervang dus die tempel as sfeer van die reddende teenwoordigheid van God.

Wat het dit alles met die Naam van Jesus te doen?

Wel, Jesus se lewe en naam kon duidelik nie meer aan die tempel gekoppel word nie, so maak Handelinge 4 duidelik, maar wel aan ‘n nuwe sosiale groepering waar sy waardes gelewe word, die gemeenskap van gelowiges in hulle huisgemeenskappe.

Iets wat Jesus self natuurlik al voorspel het in die gesprek met die Samaritaanse vrou by die put van Sigar: “daar kom ‘n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg (Gerisim) en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie … (maar) deur die Gees en in waarheid sal aanbid.” (Joh. 4:21-24)

Slot

Wat ons terugbring by die verhaal van Lauren.

Die eenvoudige boodskap van Handelinge 4 is dat Jesus jou liefhet, en dat elkeen wat dit vir ‘n ander persoon sê, ‘n getuie word van die mees ongelooflike boodskap wat dié wêreld ooit gekry het.

En daarvoor gebruik God eenvoudige en doodgewone mense, mense soos jy en mense soos ek.  En hy gebruik ons in ons huise en ons buurtes.  Die kerk kan net effektief bestaan en funksioneer as ons as ‘n huishouding funksioneer, en nie as ‘n tempel nie.

“The essence of hospitality is a heart open to God, with room prepared for the Guestness of the Holy Spirit, that welcomes the presence of Christ.  This is what we share with those to whom we open our doors.  We give them Him.” Karen Burton Mains