Skip to main content

Oorvloed brood en vissies – Matteus 14 preek

Wanneer Jesus hoor van hierdie groteske partytjie en die brutale uiteinde daarvan, het hy “weggegaan na ‘n stil plek om alleen te wees.”  Maar wanneer hy by die stil plek aankom, is daar reeds derduisende mense. Hierdie is die mense wat nié na Herodes se partytjies genooi word nie.  Diegene wat nie seker is dat hulle elke dag gaan kos hê nie.  Wat siek is, omdat hulle ondervoed leef.  Uitgebuit deur die magtiges. En dan skielik verander hierdie in nog ‘n banket.  Maar een in skrille kontras met die een aan die begin.  Die een aan die begin was vir die belangrike mense, die maghebbers, die onderdrukkers.  Nou is daar een vir diegene wat swaarkry, wat siek is, want honger is.  Wat uitgelewer is aan die magte van die dag. Dis ‘n ander soort partytjie met radikaal ander uitkomste.

Verwelkoming/groet

Toetrede

Lied 302 v 1, 2 en 4 Ons is genooide gaste

Votum

Jesaja 55:1-3

Kom, almal wat dors is,

kom na die water toe,

selfs ook dié wat nie geld het nie, kom,

koop en eet;

ja, kom, koop sonder geld

en sonder om te betaal,

wyn en melk.

2Waarom betaal julle vir iets

wat nie brood is nie,

waarom werk julle vir iets

wat nie kan versadig nie?

Luister aandagtig na My,

sodat julle kan eet wat goed is

en versadig kan word

met die beste wat daar is.

3Gee aandag en kom na My toe,

luister, en julle sal lewe.

Seëngroet

Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here, deur die kragtige werk van die Heilige Gees.

Lofsang

Ps 23 v 1 en 3 gem’e, koor v 2

Lied 458 Aan U ons lof, o God

Gebed

Skriflesing

Matteus 14:13-21 (video)

Inleiding

  • Verjaarsdae

Gaan julle soms by ander mense eet? Familie braai by iemand, verjaarsdagpartytjie.  Wat sê daarmee?  Is vriende.  Deel van mekaar se lewens – betrokke, saam.

Nagmaalsformulier

Die Bybel leer ons dat God ons baie liefhet. Ons weet dit omdat Hy sy Seun – dit is Jesus – vir ons gestuur het. Die Bybel leer ons ook dat Jesus ons baie liefhet. Ons weet dit omdat Hy sy lewe vir ons gegee het toe hy vir ons aan die kruis gesterf het. Die Bybel leer ook dat Jesus self die nagmaal vir die eerste keer aan sy dissipels gegee het en vir hulle gesê het om dit gereeld te gebruik. Hoekom? Sodat ons nooit sal vergeet wat Jesus vir ons gedoen het nie.

Die nagmaal herinner ons wat Jesus vir ons gedoen het.

  1. Hy het aan die kruis vir ons gesterf, maar het ook opgestaan en Hy lewe.
  2. Die brood wat ons eet, laat dink ons aan die swaarkry en die dood van Jesus aan die kruis.
  3. Die wyn wat ons drink, laat dink ons aan die bloed van Jesus wat vir ons aan die kruis gevloei het.
  4. Wanneer ons die brood en wyn gebruik, sê ons almal saam vir die Here dat ons sy kinders is.
  5. Ons sê ook daarmee dat ons glo dat ons almal eendag saam met Jesus in die hemel sal wees.
  6. Ons sê ook deur die nagmaal vir die Here dankie vir alles wat Hy vir ons doen en gedoen het.

Geloofsbelydenis

Tafel gereed

Lied 303 gem’e Afr, koor Eng, Gem’e Afr Eet die brood

Tafelgebed

Nagmaal

Dankgebed

Gebed

Lied 253 U het die brood gebreek

Preek

Inleiding

Wie van julle het gister ‘n lekker vleisie op die kole gehad?  Of gaan vanmiddag?

Want kyk, daar is darem niks so lekker soos om saam te kuier om ‘n heerlike bord kos nie.  Dis hoe ons verhoudings versterk.  Die manier wat ons eet en wat ons eet, sê natuurlik ook wie ons is, waar ons vandaan kom, wat vir ons belangrik is.

Presies net soos die ete in Matteus 14.

Herodes hou Partytjie

Matteus 14 begin met ‘n ete.  ‘n Partytjie, eintlik.  Herodes verjaar.  Ons lees in Markus dat hy sy hoofamptenare en die opperbevelhebbers en die hoëlui van Galilea vir ’n feesmaal genooi het.  Hierdie was die partytjie om by te wees.  Die “who’s who” van Galilea.  Waar die wyn in oorvloed vloei en die gaste in vervoering raak oor ‘n meisie wat vir hulle dans.

Dis nie ‘n verjaarsdagpartytjie nie.  Dit is ‘n viering van mag en rykdom en status.  Dit is ‘n teken van die Romeinse imperialistiese magte.

Nou help dit as jy ‘n paar dinge van die eerste eeuse Galilea verstaan, om hierdie partytjie beter te verstaan.

Dis nie vandag veel anders nie, maar toegang tot kos is ‘n refleksie van die elite se toegang tot mag, dat hulle die bronne beheer.  En, soos vandag, was daar in die eerste eeuse Galilea grootskaalse armoede, wat aanleiding gegee het tot ernstige voedseltekort.  Dit was een van die maniere waarop die ongeregtigheid van die Romeinse Ryk die helderste sigbaar was.  Vir die meeste mense wat toegang tot kos ‘n daaglikse oorlewingstryd.  Amper soos vandag.  So jy het ‘n klein groepie elite wat oorvloed het, en ‘n meerderheid wat nie verseker is daarvan dat hulle elke dag gaan kos hê nie.  Dis een van die redes waarom daar so baie siek mense in die evangelies is.  Die mense was ondervoed.

Die tweede ontstellende ding van hierdie partytjie van Herodes, is hoe hulle oor die gode gedink heet.  Volgens die antieke filosowe het die gode nie veel omgegee oor mense en hul lewens nie.  Maar die gode van die Grieks-Romeinse Ryk, wel, hulle was berug daarvoor dat hulle mense as speelgoed gebruik het.  En die gode, binne hierdie wêreldbeeld, was aan die kant van die rykes en magtiges.

Herodes se partytjie vier hierdie ongeregtigheid.  Dit sê dat die mag – en die rykdom en die kos – by ‘n klein groepie hoort.  Dat die koninkryk van die Romeine in beheer is.

En hierdie ete eindig grusaam, met die kop van Johannes op ‘n skinkbord.  [πίναξ [pinax /pin·ax/] n f. Five occurrences; AV translates as “charger” four times, and “platter” once. 1 a board, a tablet. 2 a dish, plate, platter.]  Want hierdie koninkryk bedien moord, tirannie,’n ryk wat tot die dood lei.

Jesus

Wanneer Jesus hoor van hierdie groteske partytjie en die brutale uiteinde daarvan, het hy “weggegaan na ‘n stil plek om alleen te wees.”

Maar wanneer hy by die stil plek aankom, is daar reeds derduisende mense.  Skares van hulle.  5000 mans.  Hoeveel in totaal?  10 000?  15 000?

Hierdie is die mense wat nié na Herodes se partytjies genooi word nie.  Diegene wat nie seker is dat hulle elke dag gaan kos hê nie.  Wat siek is, omdat hulle ondervoed leef.  Uitgebuit deur die magtiges.

Dis die mense aan wie daar hulle hul lewe lank vertel word dat die gode nie omgee nie.  En as die gode omgee, so is hierdie mense vertel, dan is dit vir daardie mense by Herodes se oordadige banket.  Nie vir hulle nie.

Maar Jesus kom wys vir hulle die ware God.  En hoe hierdie God eintlik is.  By die armes.  Die magteloses.  Die siekes.  Die hongeres.  “Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak.”  Medelye.  God het medelye.  Medelye met die slagoffers van die ongeregtigheid van die maghebbers.

En dan skielik verander hierdie in nog ‘n banket.  Maar een in skrille kontras met die een aan die begin.  Die een aan die begin was vir die belangrike mense, die maghebbers, die onderdrukkers.  Nou is daar een vir diegene wat swaarkry, wat siek is, want honger is.  Wat uitgelewer is aan die magte van die dag. Dis ‘n ander soort partytjie met radikaal ander uitkomste.

Gee julle vir hulle iets om te eet

Al wou Jesus alleen wees, spandeer hy die hele dag om hierdie mense te help, om medelye te toon.  Dan, hier teen aandete-tyd, kom nie dissipels en sê:  “Dit is ’n afgeleë plek en dit het al laat geword. Stuur die mense terug dat hulle vir hulle kan gaan kos koop in die dorpe.”

Die dissipels maak nie ‘n gewoonte daarvan om vir Jesus raad te gee nie.  Maar hulle is ook maar deel van die wêreld waarbinne hulle leef.  Hulle perspektief word bepaal deur selfsug en skaarste.

Want op die ou end is dit die verskil tussen die wêreldse ryk en die goddelike ryk:  ‘n ingesteldheid van skaarste teenoor ‘n ingesteldheid van oorvloed. In ons wêrelde gedagtes is daar altyd te min bronne.  En daarom moet ek beskerm wat ek het.  Moet ek versamel en opgaar, ingeval daar nie genoeg is nie.

Wanneer jy met die perspektief van skaarste leef, dan is Jesus se woorde skokkend:  “Gee julle vir hulle iets om te eet.”

Wat ‘n opdrag!  Gee julle vir hulle iets om te eet!  Hoe op aarde?!  Al wat die dissipels het, tussen die twaalf van hulle – is 5 brode en twee vissies.  In Johannes lees ons dit was nie eers hulle s’n nie, maar ‘n seuntjie s’n.  Dit is mos duidelik, ooglopend, nie genoeg nie.

5 brode.  Twee vissies.  5000 mans.  10-15000 mense.  Dit is nie genoeg nie!

In die skaarste-mentaliteit van die Romeinse Ryk is dit inderdaad nie goed genoeg nie.  Maar in die koninkryk van God is dit oorvloed.

Hier het ons die eintlike wonderwerk in die verhaal.  Nie die brood en vissies wat meer word nie, maar wat met die dissipels gebeur.  Waar hulle eerder na hulleself wou omsien, gebruik Jesus hulle om duisende mense te versorg.  Hulle beweeg van ‘n skaarste-mentaliteit “hier is net 5 brode en twee vissies”,  na ‘n oorvloed-mentaliteit:  “dankie Vader, vir hierdie 5 brode en twee vissies.” Hulle leer dat God voorsien.  En dat God genoeg voorsien.

Jesus die gasheer

Wanneer hulle oorgee, neem Jesus die brood en lees ons ‘n toneel wat ‘n treffende vooruitskouing is na die instelling van die Nagmaal. Jesus neem die brood, bid daarvoor, breek dit en deel dit.

Wat ons herinner dat ons nooit alleen staan met ons 5 broodjies en 2 vissies nie.  As Jesus sê:  “Gee julle vir hulle iets om te eet”, dan staan hy nie terug nie.  Hy is steeds betrokke.  Hy sorg steeds.

Met die vooruitskouing na die Nagmaal word ons herinner hoe volledig Jesus sorg – met sy bloed en sy liggaam.

Die wonderwerk

Hierdie is die enigste wonderwerk van Jesus wat in al 4 die evangelies opgeteken is.  Oor al die ander dinge bestaan daar verskille.  Maar hierdie was vir al 4 evangelieskrywers belangrik genoeg dat al 4 dit neergeskryf het.

Want die kontras is asemrowend:  die uitbuitende, onderdrukkende, skaarsheid regering van die wêreld, teenoor die medelydende, versorgende, oorvloedige regering van God.

Hierdie is nie abstrakte sake nie.  Groot dele van ons land gaan steeds gebuk onder ongekende droogtes.  Ons lees van die een misoes na die ander.  Boere gaan een na die ander onder.

Die skim wat die gesprek oor grondhervorming oorskadu, is die vraag na voedselsekuriteit en die wete dat ‘n klein groepie verbouers in die meeste van ons land se voedselbehoeftes voorsien.

Ek lees heel week hoe die nuwe begroting my sak gaan knyp en ek nog minder gaan hê.  En ek lees die Sowetan se refleksie op die impak van die begroting:

  • Toelaag vir eerste-maal huiseienaars
  • Hernude fokus op onderwys
  • Toename in maatskaplike toelaes
  • Uitbreiding van zero-BTW items

Ons praat oor skaarste en oorvloed, terwyl mense elke week in die vuilgoedsakke op ons sypaadjies kom krap.    Terwyl daar daagliks mans langs die pad staan en wag vir werk, sodat hulle kinders vanaand kan eet.  Ek onthou hoe ‘n lidmaat jare gelede vir my vertel het dat sy haar navorsing oor die impak van gefortifiseerde mieliemeel uit PE moes skuif, omdat die kinders hier te klein is, weens ‘n lewe van ondervoeding.  Sy het haar navorsing eerder in KZN gaan doen, as hier.  Ek dink aan studente wat vertel dat hulle nie kan eet nie, maar hulle studeer, want met ‘n graad in die hand kan hulle vir hul families sorg.

Skaarste en oorvloed is nie abstrakte konsepte nie.

En Jesus sê steeds:  “Gee julle vir hulle iets om te eet.”

En die wonderwerk gaan voort, gebeur nog daagliks.

Elke keer wat ‘n jongmens kies om ‘n onderwyser vir behoeftige kinders te word, eerder as om ‘n hoë-profiel werk te doen wat baie sal betaal.

Elke keer wat iemand opstaan vir iemand anders wat geboelie word.

Elke keer wat korrupsie ontbloot word.

Elke week wanneer daar vanuit hierdie gemeente vir honderde kinders ‘n bord heerlike kos gegee word – as ek reg onthou was dit laas ongeveer 20 000 borde kos per maand.

Of vir mense huisvesting en kos en menswaardigheid gegee word, net soos jy hier in die pad af ry.

Of kos of klere of wat ook al aangedra word, om aan behoeftige mense versprei te word.

Ek kan nou persoonlik daarvan getuig, dat jy in een oomblik absoluut niks het nie, en die volgende oomblik so baie dat daar nie plek in die kaste is nie.

Die wonderwerk gebeur wanneer ons gee wat ons het, omdat ons God se oorvloed beleef het.  Wanneer ons met ons dade getuig dat God steeds diep omgee vir mense in nood:  brose mense, honger mense, armes, siekes.

God het jou vanoggend aan sy tafel herinner aan die maniere waarop hy vir jou sorg.  Ek wil jou nooi om hierdie week jou oë oop te maak vir die mense – of sake – wat God oor jou pad bring.  Plekke waar God jou kan gebruik om sy medelye sigbaar te maak.

En kom ons wees eerlik – en sag – met onsself, en raak ook bewus van die skaarste-mentaliteit wat altyd maar eerste opspring en vir ons allerhande redes gee waarom ons nié kan help nie.  Wie weet, dalk gebeur daar ook ‘n wonderwerk in ons, en kry ons dit reg om ook ons vrese vir God te gee en om hom te vertrou, om ook ons 5 brode en 2 visies in oorvloed te omskep.

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Lied 568 Heer, gee ons vandag ons dag se brood

Seën

Die genade van ons Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees

Respons

Lied 312 Dit wat ons hier ontvang het

brood en vissies, Matteus 14, preek, Rethie van Niekerk, vermeerdering, vermeerdering van die brood

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.