Oorvloed brood en vissies – Matteus 14 preek
Wanneer Jesus hoor van hierdie groteske partytjie en die brutale uiteinde daarvan, het hy “weggegaan na ‘n stil plek om alleen te wees.” Maar wanneer hy by die stil plek aankom, is daar reeds derduisende mense. Hierdie is die mense wat nié na Herodes se partytjies genooi word nie. Diegene wat nie seker is dat hulle elke dag gaan kos hê nie. Wat siek is, omdat hulle ondervoed leef. Uitgebuit deur die magtiges. En dan skielik verander hierdie in nog ‘n banket. Maar een in skrille kontras met die een aan die begin. Die een aan die begin was vir die belangrike mense, die maghebbers, die onderdrukkers. Nou is daar een vir diegene wat swaarkry, wat siek is, want honger is. Wat uitgelewer is aan die magte van die dag. Dis ‘n ander soort partytjie met radikaal ander uitkomste.