Herbou die mure – die verhaal van Esra en Nehemia – Nehemia 8 (4-10 Augustus)
Die Kronistiese Geskiedwerk (1&2 Kronieke, Esra en Nehemia) wys ons hoe jy te werk gaan om ‘n geloofsgemeenskap weer op te bou.
- 1 en 2 Kronieke werp ’n waarderende blik op die verlede om hulle identiteit te vorm – hulle is deel van die wêreldgemeenskap (Adam), deel van die volk van Israel (Abraham), deel van die koninkryk van Juda (Dawid) en deel van die volk van God (Jahwe).
- Esra en Nehemia lig die werk van drie leiers ná die ballingskap uit:
- Serubbabel wat die verhouding met God herstel deur die bou van die tempel en die herstel van die liturgiese omgang met God;
- Esra wat fokus op die regte en reflekterende lees van die Bybel sodat dit die hele lewe kan deursuur;
- Nehemia wat op die herstel van die muur van Jerusalem fokus sodat die geloofsgemeenskap kan gedy in ‘n veilige ruimte waarin lewe kan floreer.
Dit gee vir ons prentjies van hoe ons met God kan saamwerk in ons eie tyd wat uiters inspirerend is. Dié boodskap word verder ondersteun deur die 3 profete, Haggai, Sagaria en Maleagi, wie se profesieë direk met hierdie opbou tydvak te make het.
Ons fokus is nou op die reflekterende lees van die Bybel. Een van die min plekke in die Bybel waar ons kan agterkom hoe die Bybel gelees is deur die geloofsgemeenskap, is in Nehemia 8. Met die voltooiing van die muur na die terugkeer uit ballingskap, het die volk van Esra geëis dat hy vir hulle help verstaan wat die wil van die Here (daar staan eintlik wet van die Here) is, sodat hulle dit kon doen (Neh. 8:2). As Esra aan hulle versoek voldoen en uit die wetboek begin lees, staan daar letterlik dat die “ore van die volk op die wet gerig was” (8:4), so graag wou hulle verstaan!
Nadat die volk, al staande, na die eerste lang(!) voorlesing geluister het en in lofprysing gereageer het, het die leiers, priesters en Leviete as ‘n span verder gegaan en in die proses van verstaansbegeleiding van die volgende stappe gebruik gemaak. Hulle het gefokus op:
- die verdere hardop lees van die teks,
- die verklaring daarvan,
- die verduideliking van die betekenis daarvan,
- totdat die volk dit verstaan het (8:9).
En uit die verloop van die verhaal in die res van die hoofstuk word die gevolg van dié proses uitgespel in die nougesette navolging van wat hulle gehoor het. Verstaan is eers regtig verstaan as dit wys in die praktyk van jou lewe!
Kleingroep byeenkoms
RUS
Deel met mekaar hoe God julle tans seën en hoe julle tot ’n seën gebruik word. Dank die Here daarvoor in gebed.
LUISTER
Lees Nehemia 7:73-8:13
- Calvyn het gesê daar is twee maniere waarop ’n mens die teks moet benader – die simplex sensus (grammaties-historiese betekenis) en die usus (praktiese betekenis). Hoe lees julle die Bybel?
- Wat tref julle in die wyse waarop die leiers te werk gegaan het en die volk daarop gereageer het?
- Hoe kan Esra se manier van lees jou eie besig wees met die Bybel verryk?
LEEF
Hoe wil jy te werk gaan in jou lees van die Bybel – persoonlik, familie, gemeente?
Deel dit met mekaar en bid vir mekaar.