Skip to main content

26 Aug – 1 Sept – Nie ‘n gewone mens nie

OMGEE GESPREKKE

In vandag se storie gaan ons lees van ’n probleem wat onmoontlik gelyk het, wat Jesus reggemaak het.  Vertel vir mekaar van probleme wat jy het of al gehad het wat vir jou onmoontlik lyk.

BYBEL LEES

Lees Hoofstuk 24 van Die Storie of Johannes 6:5-13 (Die verhaal van die vermeerdering van die brood en vissies)

  • Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal.  As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
  • Wat leer hierdie storie vir jou oor Jesus?
  • Verbeel jou jy was die klein seuntjie.  Vertel die storie asof jy die seuntjie was en sê hoe jy gevoel het.

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Kyk gou weer in vers 11 wat Jesus doen voordat hy die kos uitdeel.  Ons volg Jesus se voorbeeld en bid ook voordat ons eet.  Wie bid gewoonlik by julle?  Maak julle beurte?  Hou julle hande vas?  As julle nie gewoonlik bid voor ete nie, gesels oor hoe julle dit graag sal wil doen.

GESEËN OM TE SEËN

  • God kan enige iets en enige iemand gebruik!  Niemand is te klein en niks is te min nie.  Dink saam oor hoe God julle elkeen dalk hierdie week wil gebruik.  Hoe gaan julle hierdie week ’n seën wees?
  • Gaan deur jul gebedslys- is van jul gebede beantwoord?  Sê dankie!  Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

5000, huisgeloof, Huisgodsdiens, Johannes 6, vermeerdering brood

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.