Skip to main content

Jesus, die Seun van God – kleingroepmateriaal 1-7 September (Joh. 10:22-42)

Omgee gesprekke

Gee terugvoer oor julle betrokkenheid by barmhartigheidswerk, soos julle die vorige keer afgespreek het.  Gesels met mekaar oor ’n ervaring van Jesus wat jou van sy Godheid oortuig het.  Wat het dit vir jou beteken?

Bybel lees

Die Storie gaan voort met die verhale van Jesus se bediening, maar fokus meer op dié verhale wat Hom as die Seun van God voorstel. 

  • Dit gebruik die verhale in Matteus 17 en 21 (o.a. die verheerliking op die berg, die vergelyking van Johannes die Doper met Elia, Jesus was ’n seun gesond maak, die aankondiging van sy dood, die betaling van die tempelbelasting, die intog in Jerusalem, die reiniging van die tempel, die vervloeking van die vyeboom, die vraag oor Jesus se gesag, die gelykenisse van die twee seuns in die wingerd en die gelykenis van die boere, die wingerd en die eienaar se seun),
  • die verhale in Markus 8-12 (o.a. die tweede vermeerdering van die brood, die suurdeeg van die Fariseërs en van Herodes, die genesing van die blinde man, om Jesus te volg, die vraag na wie is die belangrikste, die gesprek oor egskeiding, Jesus wat die kindertjies seën, die ryk jongman, die genesing van die blinde Bartimeus, die vraag oor die opstanding uit die dood),
  • die verhale in Lukas 9 en 22 (o.a. Jesus wat die twaalf uitstuur, die onsekerheid van Herodes, die belydenis van Petrus, ’n Samaritaanse dorp wat Jesus afwys, hoe Jesus gevolg moet word) en veral
  • die verhale in Johannes 7-8 en 11-12 (o.a. die ongeloof van Jesus se broers, Jesus se lering by die huttefees, dat Jesus die Christus is, die vrou wat op owerspel betrap is, die Vader wat van Jesus getuig, die dood en opstanding van Lasarus, die salwing in Betanië) waarin Jesus se goddelikheid duidelik blyk.

Watter verhaal het die meeste tot jou gespreek?  Hoekom?  Wat beteken dit vir jou?

Lees Johannes 10:22-42 (“Ek is die Seun van God”) en deel met mekaar wat julle daarin tref.  Gesels dan verder oor 2 of 3 van die vrae in Die Storie.

Gewoontes en gebruike

Geloof is die kosbaarste ding wat jy besit.  Een van die maniere waarop ons mekaar versterk in ons geloof is deur die deel van ons getuienisse van God se werking.  Onthou om die fokus te plaas op wat God gedoen het en wat dit vir jou beteken het.  Bid vir mekaar om in die geloof te kan volhard.

Geseën om te seën

Die Here seën ons om te seën.  Een van die maniere waarop ons dit kan inoefen is deur die geloofsgewoonte VRYGEWIGHEID.  Om jou goed vrygewig met ander te deel, was nog altyd deel van die lewenstyl wat God geëer het.  Dit is deel van ons rentmeesterskap en diens na buite.  Vrygewigheid is om behoeftes raak te sien en vrywillig met jou gawes en geleenthede daarby betrokke te raak.  Hier is ’n paar opsies om jou gedagtes te stimuleer:

  • Maak ’n lys van goed wat jy nie regtig meer nodig het nie.  Oorweeg biddend met wie jy dié goed kan deel en gaan beoefen vrygewigheid deur hulle daarmee te seën.
  • Maak ’n lys van goed wat mense in jou gemeenskap nodig het.  Vra die Here om een van dié behoeftes op jou hart te lê. Oorweeg watter bronne jy het om daarin te voorsien, en gaan verryk ander se lewens deur jou vrygewigheid.
  • Maak ’n lys van dinge waaraan jy verknog is – besittings, tegnologie, ontspanning.  Oorweeg biddend hoe jy kan terugsny daarop om tevrede te wees met minder.  Kies een van dié dinge en stel jouself vry daarvan deur dit vir iemand anders te gee.
  • Kry ’n paar vriende en begin saam met hulle ’n diens gebaseer op julle bronne en gawes.  Konsentreer op die vrygewige deel van dít waarmee God julle geseën het.  Dit sal blydskap bring nie net vir dié wat daarby baat nie, maar vir julleself ook.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.