17-22 Junie Elia en Baälprofete
RUS
- Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.
- Laat elkeen vertel hoe die Here hulle die afgelope kwartaal geseën het. Gesels dan hoe julle as gesin/groep saam geseën is. Hoe het die Here hierdie seën in jul lewens gebruik om ook ander deur julle te seën? (Moenie te vinnig oor die laaste vraag gaan nie – as julle nie dadelik aan antwoorde kan dink nie, staan bietjie stil en probeer onderskei wat gebeur het.)
HOOR
Lees 1 Kon 18:21-39 – die storie van Elia en die Baäl profete. Gesinne/groepe met kleiner kinders kan gerus ’n eenvoudiger vertaling gebruik.
- Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
- [Kleingroepe:] Dink julle die mense is wisselvallig – dat hulle net die een volg wat die mees indrukwekkende wonderwerk doen? Of is hulle opreg en wil graag weer vir God aanbid? Hoekom sê julle so?
- [Kleingroepe:] Is dit oor-reageer om al die Baäl-profete dood te maak? Hoekom of hoekom nie?
- Wat leer ons in hierdie gedeelte oor geloof?
- Vertel vir mekaar hoe die Here homself in die verlede al aan jou openbaar het. Waar het jy al God se krag gesien? (Dink ook aan die res van Elia se storie, soos sy depressie, God wat vir hom kos voorsien, God se openbaring in die fluistering in windstilte…)
- Is God dalk op die oomblik besig om homself nou in jou lewe te openbaar op ’n manier wat nuut en anders is? Hoe?
VIR DIEPER DELWERS
Wat het Elia se dramatiese vertoning op Karmel op die ou end nou regtig bereik? Agab volhard in sy sonde. Isebel is sterker as ooit. Agab se seun Ahasia gaan voort op dieselfde pad as sy pa en die boosheid en voortgegaan lank nadat Elia weg is. In watter sin was hy dan ’n groot profeet? Bespreek.
Kan dit wees dat Elia se grootheid gemeet word, nie aan die mense se reaksie nie, maar aan Elia se getrouheid aan God se opdrag?
LEEF
- Waar het jy tans nodig om God se krag te ervaar? Vertel vir mekaar daarvan en bid daarvoor.
- Hoe gaan jy hierdie week ’n seën wees?
- Gaan deur jul gebedslys- is van jul gebede beantwoord? Sê dankie! Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.