Vreugdevol Vry! Hou op probeer… Net genade
“We have all of us been told that grace is to be found in the universe. But in our human foolishness and shortsightedness we imagine divine grace to be finite… But the moment comes when our eyes are opened, and we see and realize that grace is infinite. Grace, my friends, demands nothing from us but that we shall await it with confidence and acknowledge it in gratitude.”
Sola Gratia. Net genade. Dit was een van die pilare van die reformasie. Hierdie is die waarheid waarby ons staan en val. Dit is dié sola waarop ons verstaan van die ander solas rus. Dit is die sola wat ons lewens bepaal.
Toetrede
Koor Lied 247 Heer, wees ons genadig
Lied 510 Genade, onbeskryflik groot (koor vers 3)
Votum & Seëngroet
Jy is welkom hier, tuis by die Vader.
Ef. 1: 3-6
Lofsang
Lied 521 Erkentlik deur die dae
Psalm 118:1 Kom, loof die Heer
Lied 542 Jesus, ons loof U
Doop
Lied 294 Jesus roep die kindertjies
Gebed
Skriflesing
Ef 2:1-10
Inleiding
Storie: Mama, do you love me? Deur Barbara Joosse
Ons mammas en pappas sal altyd lief vir ons wees. Maar God het selfs nog meer liefde as mammas en pappas. Soos wat daardie Inuit mamma altyd vir haar kind sal lief wees – so sal God altyd en altyd en altyd lief wees vir ons.
Toewyding
Vonkk 341 Sola Gratia
Preek
Babette’s Feast
In die vroeg 1980’s was daar ’n fliek wat die wêreld geroer het. (Ek glo die meeste van julle het dit gesien.) Dit vertel ’n verhaal wat afspeel in ’n armoedige vissersdorpie aan die kus in Denemarke. In hierdie dorpie het ’n klomp stoere, sober Lutherane gewoon. Enige wêreldse plesier wat ’n mens kon mislei, het hulle afgesweer. Almal het swart gedra. Hulle het eenvoudige, oninspirerende kos geëet. Sondae het hulle bymekaargekom en gedroom van die Nuwe Jerusalem, die lewe op aarde iets wat hulle maar moet verdra sodat hulle daar kan uitkom. Alle vreugdes, alle moontlikhede tot sukses of groei, het hulle versaak.
Een reënerige nag hoor twee susters ’n geluid by hul voordeur. Toe hulle dit oopmaak, val daar ’n vrou by die deur in. ’n Vreemdeling, Babette, wat haar man en kind in die oorlog in Frankryk verloor het. Sy moes vlug. Maar sy kan kook, vertel die brief wat sy in haar hand vashou.
Die susters was skepties. Hulle kon nie betaal vir ’n huishulp nie. Plus, wie vertrou nou Franse kos – eet hulle nie perde en paddas nie? Maar uiteindelik het hulle toegegee. Babette sou help in die huis in ruil vir kos en verblyf.
Vir die volgende 12 jaar werk Babette vir die susters. Die eerste keer toe die susters vir haar wys hoe hulle kos maak, het haar neus effens gekreukel, maar sy het sonder om enige iets te bevraagteken, gedoen wat hulle van haar vra.
Dan, op ’n dag, ontvang Babette ’n brief. Sy het geld gewen. Tienduisend frank. En vir die eerste keer het Babette ’n versoek: laat ek vir die gemeenskap ’n ete voorberei. ’n Egte Franse ete.
Natuurlik het die susters hul bedenkinge gehad, maar hoe kon hulle “nee” sê?
So begin Babette voorberei. Daar kom kaste met voëltjies. Kiste champagne – champagne! ’n Hele bees. ’n Seeskilpad.
Die kerkmense was bekommerd. Na lang gesprekke het hulle saamgestem dat dat hulle liefs niks vir Babette moet sê nie. Maar regtig. Tonge is bedoel om die Here te prys, nie om allerhande eksotiese geure te proe nie.
Op die dag van die ete sneeu dit. Die dorpie word versier in ’n glinsterende laag wit. Twee onverwagse gaste daag op, onder andere ’n offisier uit die vloot.
Iewers het Babette die beste breekware en kristal opgespoor. Die tafel was asemrowend. Maar soos die ete begin, sit die mense tjoepstil, sonder om ’n spier te roer. Want sien, hulle moet nou hierdie aardigheid verduur, maar hulle gaan dit beslis nie geniet nie.
Behalwe die offisier. Oor alles roep hy uit hoe wonderlik dit is, watter hoë kwaliteit, hoe dit die beste is wat hy nog ooit geproe het. Hy kon nie uitgepraat raak nie, so tussen die tjoepstil kerkmense in hul swart klere.
Geleidelik het die atmosfeer begin verander. Mense het begin gesels, selfs gelag en stories vertel. Die broer wat ’n ander in besigheid verneuk het, het uiteindelik bely. Die twee vroue wat al jare baklei, het begin gesels.
Dan staan die offisier op om ’n toespraak te maak:
Genade en waarheid, vriende, het ontmoet. Geregtigheid en saligheid sal mekaar omhels. En dan bly hy vir ’n oomblik stil
“for he was in the habit of forming his speeches with care, conscious of his purpose, but here, in the midst of the Dean’s simple congregation, it was as if the whole figure of General Loewnhielm, his breast covered with decorations, were but a mouthpiece for a message which meant to be brought fourth.”
Die offisier se boodskap was genade.
Die fliek eindig met twee tonele:
Die dorpenaars wat buite op die plein hande vat en lofliedere sing. Die ete het genade laat inkom. Hulle het gevoel
“as if they had indeed had their sins washed White as wool, and in this regained innocent attire were gamboling like little lambs.”
Die tweede toneel is die wrak van die kombuis, vol skottelgoed en oorskiet. Babette sit uitgeput tussen die gemors. Hier vind ons uit dat sy ’n sjef was. En dat sy haar volle tienduisend frank op hierdie ete spandeer het.
Die verhaal, Babette’s Feast, is geskryf as ’n gelykenis oor genade: ’n geskenk wat vir die gewer alles kos en vir die ontvanger niks kos nie. Dit is wat die offisier in sy toespraak vir die stugge groepie om die tafel sê:
“We have all of us been told that grace is to be found in the universe. But in our human foolishness and shortsightedness we imagine divine grace to be finite… But the moment comes when our eyes are opened, and we see and realize that grace is infinite. Grace, my friends, demands nothing from us but that we shall await it with confidence and acknowledge it in gratitude.”
Vir 12 jaar was Babette tussen die genadeloses. Hulle was volgelinge van Luther. Byna elke Sondag het hulle preke oor genade gehoor. En vir die res van die week het hulle alles in hul vermoë probeer om God se guns te verdien met vroomheid en opoffering.
En dan arriveer genade in die vorm van ’n fees. Die ete van ’n leeftyd oorvloedig uitgestort oor mense wat dit beslis nie verdien het nie, wat nie eers die vermoë gehad het om dit te ontvang nie. En daar arriveer genade: gratis, sonder voorwaardes, verniet.
Sola Gratia
Sola Gratia. Net genade. Dit was een van die pilare van die reformasie. Hierdie is die waarheid waarby ons staan en val. Dit is dié sola waarop ons verstaan van die ander solas rus. Dit is die sola wat ons lewens bepaal.
Dis ook, vir my, die sola waaroor dit die moeilikste is om te preek. Want daar is soveel om te sê! Wat sê jy, wat los jy? Plus, jy kan soveel sê as wat jy wil, dit gaan niks beteken voordat dit nie in jou hart arriveer nie, voordat dit nie insink en jy dit verstaan en leef nie.
Een sielkundige het sy loopbaan soos volg opgesom:
Many years ago I was driven to the conclusion that the two major causes of most emotional problems among evangelical Christians are these: the failure to understand, receive, and live out God’s unconditional grace and forgiveness; and the failure to give out that unconditional love, forgiveness, and grace to other people… We read, we hear, we believe a good theology of grace. But that’s not the way we live. The good news of the Gospel of grace has not penetrated the level of our emotions.
Psalm 86 (v 15) beskryf God as genadig en barmhartig, geduldig, vol troue liefde en waarheid. God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief, sê vanoggend se teks. Ek gaan vanoggend die genade van hierdie genadige, barmhartige, geduldige, liefdevolle God op vier maniere probeer beskryf.
1. Genade is bevryding
Eerstens beteken genade dat jy vry is. Jy is vry van jou sonde. Jy is vry van alle straf van sonde. Jy is vry van skuldgevoelens. Jy hoef geen bagasie meer met jou saam te dra nie.
Dit laat my dink aan daardie toneel uit “The Mission”, waar die een karakter, ’n eertydse slawehandelaar, letterlik sy bagasie – ’n net vol wapens en wapenrusting – agter hom aansleep. Teen berge en watervalle en koppe uit. Totdat die einste mense wat hy verslaaf het, hom bevry, die net afkap en weggooi en hom laggend omhels.
Genade sê: wanneer ons struikel, wanneer ons in sonde val, wanneer ons aan onsself dink as mislukkings – dan tel God ons op en hou ons vas. Dit is dán wat God vir ons sê: ek is lief vir jou. Jy is myne. Dít is hoe God se genade met sonde werk: nie met straf nie, maar met liefdevolle vergifnis. God se genade sê: “Dis verby. Probeer weer. Jy is vergewe.” Jy het ’n nuwe verlede – ’n vergeefde verlede. Jy kan splinternuut begin.
Iemand het gesê: “A sad Christian is a bad Christian, but a guilty Christian is no Christian at all.” As jy met skuldgevoelens na jou verlede wil omkyk – kyk na God: genadig en barmhartig, geduldig, vol troue liefde en waarheid. Genade laat jou anders na jou verlede kyk.
Dis vir ons só moeilik om te begryp, dat ons altyd ’n “maar”, ’n voorwaarde wil byvoeg. Want, sê ons ou sondige mens, sal hierdie genade dan nie mense onverskillig en roekeloos maak nie? Dan antwoord die Heidelbergse Kategismus mooi:
Nee, want dit is onmoontlik dat ’n mens wie se lewe deur die genade van Christus aangeraak en deur ’n ware geloof in Christus omgekeer is, nie vrugte van dankbaarheid sal dra nie.
Ons is sondaars wat vrygespreek is – wat aangesit het aan die feesmaal. Hoe sal jy dit oor jou hart kry om nié anders te leef nie?
“in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het
Ons praat altyd oor die wisselwerking tussen wet en genade. Voer vreeslik ingewikkelde debatte. Ek het hierdie week ’n storie gelees wat hierdie verhouding tussen genade en werke mooi verduidelik:
In die 1940’s het ene ds. Ironside ’n klein skooltjie vir jong Amerikaanse inboorlinge gehad. Een van hulle was ’n besonder slim Navajo. So neem ds. Ironside hom een aand saam na ’n jeugbyeenkoms, waar hulle lank gepraat het oor wet en genade. Die jongmense kon net nie lekker verstaan nie. Een van hulle draai toe na die Navajo en vra wat hy daarvan dink.
Hy het bietjie gedink, opgestaan en gesê: Wel, oor die wet-en-genade-storie waaroor julle die hele aand sit en praat, wil ek net sê ek dink dit werk só: toe ds. Ironside my by die huis kom haal het, het ons die trein geneem tot by Barlow stasie. Ek het nog nooit so ’n mooi stasie in my lewe gesien nie! Aan die een kant van die stasie het ek ’n bordjie gesien wat sê: “Moenie hier spoeg nie.” Ek het na die bordjie gekyk en toe na die grond. Maar dit was duidelik dat baie mense daar spoeg. En voor ek mooi kon dink wat ek doen, spoeg ek ook daar. Is dit nie vreemd nie, terwyl daar ’n bordjie is met die woorde “Moenie hier spoeg nie?”
Ek is geneem na die huis van die vrou wat my vandag vir ete genooi het. Ek het nog nooit so ’n mooi huis gesien nie. Pragtige meubels en matte! Ek was skoon bang om daarop te trap. Ek het in die gemakstoel weggesink en die vrou het vir my gesê: “John, ontspan jy nou lekker. Ek gaan gou seker maak alles is reg vir ete.” Ek het die pragtige skilderye bewonder… die vleuelklavier… Ek het deur al die vertrekke geloop, op soek na die bordjie wat sê: Moenie hier spoeg nie. Maar ek kon nêrens in die pragtige huis so ’n bordjie vind nie. Ek dink toe: Dis darem ’n groot jammerte, want verbeel jou so ’n mooi huis en mense spoeg daar.
Toe bekyk ek die matte, maar my oë sien geen teken dat iemand daar gespoeg het nie. Wat ’n vreemde ding! Waar die bordjie sê “Moenie hier spoeg nie”, het ’n klomp mense gespoeg. Waar daar geen bordjie in die pragtige huis is nie, het niemand gespoeg nie. Toe verstaan ek! Daardie bordjie by die stasie is wet, maar binne daardie huis is die genade. Hulle is lief vir hulle huis en wil dit mooi en skoon hou. Hulle het nie ’n bordjie nodig om dit vir hulle te vertel nie. Dit, dink ek, verduidelik hierdie wet-en-genade storie.
Genade hoef nie vir jou te sê om nie te spoeg nie. Uit liefde en dankbaarheid gaan jy nie spoeg nie!
2. Genade is aanvaarding
Genade is aanvaarding. Hierdie is ’n belangrike een. Ons sê dikwels (gewoonlik van familie): ek moet lief wees vir so-en-so, maar dit beteken nie ek hoef van hulle te hou nie.
Maar dis nie hoe God se liefde werk nie. God aanvaar jou. Behoort jy dit nie dan ook te doen nie?
Philip Yancey, wat die wonderlike boek “What’s so amazing about grace? geskryf het, vertel dat Johannes homself geïdentifiseer het met die woorde: “Ek is die een vir wie Jesus lief is.” As mense hom sou vra wat sy identiteit in die lewe is, sou hy nie sê hy is ’n dissipel, apostel, evangelis, evangelieskrywer nie. Sy antwoord was: “Ek is die een vir wie Jesus lief is.”
Dit is genade. Jou totale identiteit verander. Ek is nie ’n dominee of ’n student of wat nie. Ek is die een vir wie Jesus lief is. Ook jy: Jy is die een vir wie Jesus lief is.
Sosioloë praat van die teorie van die spieël: jy word wat die belangrikste persoon in jou lewe van jou dink. As jou ouers altyd vir jou gesê het jy is stout, is die kanse goed dat jy stout geword het. Of as hulle vir jou gesê het jy is nie baie slim nie – of jy is baie slim.
Maar in ons spieël, is liefdevolle, genadige oë. Die belangrikste persoon in ons lewe is God. En hy het ons lief.
Ef. 2:10 God het ons gemaak wat ons nou is.
3. Genade is verandering
Genade verander jou. Dis die “moenie spoeg nie” storie waarvan ons nou net gepraat het. En wanneer genade jou verander, verander dit die wêreld rondom jou.
Jaco Strydom het hierdie week by sendingweek gesê:
It’s our goodness that lead our enemies to introspection, not our cruelty. The moment we are cruel we miss the heart of God.
Wanneer ek besef hoe God na my kyk, wie ek in God is, watter oorvloedige geskenk genade is – dan word dit ook die manier waarop ek die mense rondom my sien en behandel.
Galasiërs 2:20 sê:
Nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.
En Christus kyk met liefdevolle, genadige oë na die sondaars van hierdie wêreld.
Weer Yancey:
Grace is Christianity’s best gift to the world, a spiritual nova in our midst exerting a force stronger than vengeance, stronger than racism, stronger than hate. Sadly, to a world desperate for this grace, the church sometimes presents one more form of ungrace. Too often we more resemble the grim folks who gather to eat boiled bread than those how have just partaken in Babette’s feast.
Die liefdevolle genade van God is so wonderlik, dit móét ons verander, dit móét oorspoel in liefdevolle, genadige optrede teenoor die mense rondom ons.
4. Genade is dankbaarheid
En ja, natuurlik, wanneer ons hierdie magtige supernova beleef het, aangesit het by hierdie oorvloedige feesmaal wat alles gee en niks kos nie, dan is ons anders. Dan is ons dankbaar.
Die Griekse woord vir genade, χάρις, beteken letterlik’n positiewe gesindheid teenoor iemand. (Louw, J.P. & Nida, E.A., 1996. Greek-English lexicon of the New Testament: based on semantic domains, 1, p.298.) In die Nuwe Testament word dit vertaal met genade, maar ook soms met dankbaarheid – thankful en grateful.
Begenadigdes is nie knorrige klakouse nie. Wanneer jy besef hoe kosbaar jy vir God is en hoe kosbaar ander mense vir God is, dan word jy ’n genade-deler. Dan word jy soos Babette, wat haar beste deel, sodat ander dit kan geniet.
Slot
Daar is niks wat jy kan doen om te maak dat God jou méér lief het nie. Daar is niks wat jy kan doen wat sal maak dat God jou minder lief het nie. Dít is hoe genade werk.
Daarom kan jy anders leef. Jy kan anders leef, nie sodat God jou kan liefhê nie, maar omdat God jou lief het.
Dis genade. Sola Gratia.
Gebed
Dankoffer
Koor: Vonkk 219 Wat die toekoms ook mag inhou
Slotsang
Lied 245 Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het
Seën
Respons
Lied 245 refrein
Efesiërs 2, Hou op probeer, net genade, Rethie van Niekerk, sola gratia, Vreugdevol vry