Skip to main content

Tag: Spreuke

Spreuke 9:1-18 – Wyse Stemme

Kleingroep materiaal – SPREUKE 9:1-18 – Week van 13-18 Augustus 2012

Ons het die afgelope Sondag ons reeks oor Spreuke afgesluit.  Volgende Sondag begin ons met ‘n reeks getiteld “Radikale Vernuwing:  Geloof begin by die huis”.  Vir hierdie komende reeks, gaan die Kleingroepmateriaal volg op die Sondag se preek.  Kleingroepe werk dus nie vooruit nie, maar bespreek die tema en teks die volgende week.

Hierdie week se kleingroepmateriaal is gevolglik ‘n brug tussen die twee reekse.  Die teks wat ons lees, is nie in die eredienste behandel nie (maar wel by die Bybelskool).

RUS EN ONTVANG  [Spandeer hierdie week lekker baie tyd aan die  eerste beweging.] 

  • Spreuke 1:8-9:18 (die eerste deel van die boek Spreuke, wat ons tot dusvêr hierdie kwartaal behandel is) is ‘n gesprek waarin ‘n pa sy seun onderrig in “lewenslesse”.  Vertel vir mekaar wie die mense was by wie jy as kind jou belangrikste lewenslesse geleer het.  Wat was hierdie lesse? 
  • Vertel vir mekaar watter rol jul ouers gespeel het in die ontwikkeling van jul geloof.  En grootouers?  Watter ander gelowige volwassenes het ‘n invloed op jou geloofsontwikkeling gehad?
  • Hebreërs 12:1 praat van die “skare geloofsgetuies” wat ons om ons het.  Gee kans dat elkeen stil word.  Visualiseer in jou gedagtes jou “paviljoen”.  Wie is die mense (lewend of reeds oorlede, familie, vriende, skrywers, ens.) wat ‘n invloed het en gehad het op jou geloof?  (Groeplede kan hul paviljoen teken, met die name van hul “geloofsgetuies”.)  Gee tyd dat elkeen in stilte vir die Here dankie sê vir die geloofsgetuies wat hulle vandag in staat stel om die wedloop met volharding te hardloop.

HOOR EN ONTGIN

Lees Spreuke 9:1-18.

  • Wat tref jou in die gedeelte?  Deel dit met mekaar.

Ons kom in hoofstuk 9 aan die einde van die lang inleiding van Spreuke, die slotsom van die 10 lewenslesse van die pa aan sy seun.  Hierna gaan in hoofstuk 10-31 die lewenswyshede wat pas by die twee paaie wat ‘n mens kan volg in die lewe, in kort spreuke weergegee word.

Dit slotsom van Spreuke is dat ‘n mens kan luister na óf vrou Wysheid (9:1-6) óf na vrou Dwaasheid (9:13-18) om hulle leiding te volg in jou lewe.  Dié kontrasterende keuse word afgewissel met ‘n gedeelte oor die ligsinnige mens (9:7-12) wat die gevolge van die verkeerde keuse vir vrou Dwaasheid uitspel.  Dit gee ook ‘n dwarsklap na dié wie se opvoeding ligsinnigheid tot gevolg het (9:7).  Pa’s en ma’s luister!

Let op dat beide vrou Wysheid as vrou Dwaasheid fokus op dié wat nog onervare is en kennis kortkom. Dit beteken dat die rol van opvoeders is om kinders te inspireer dat hulle die regte lewenshouding aankweek om uit die verskillende stemme wat met hulle in die lewe praat – vrou Wysheid en vrou Dwaasheid – dié stemme te kies waarvan die inhoud wys is.

  1. Vrou Wysheid nooi uit na ‘n lewe wat afskeid neem van onkunde en die pad van insig omhels.
  2. Vrou Dwaasheid nooi uit na ‘n lewe van gesteelde genot sonder verantwoordelikheid wat eindig in die dood.

Die spreuke wat hierna gaan volg, help dus primêr om hierdie regte lewenshouding in die praktyk uit te spel – aan die hand van ongeveer 562 voorbeelde – sodat ‘n mens wysheid kan aanleer en uitvoer.

9:1-6 – Luister na Vrou Wysheid

Wysheid word in ‘n uitgebreide gelykenis as ‘n verstandige vrou voorgestel wat vir haar ‘n huis gebou het met sewe klippilare – ‘n simbool van standvastigheid en duursaamheid.  Die groot getal van sewe pilare laat ‘n mens eintlik dink aan ‘n tempel eerder as ‘n huis (hulle het minder pilare gehad, indien enigsins), wat die gesag en goddelike invloed van haar wysheid beklemtoon.

Haar wyshede word in dié gelykenis voorgestel as ‘n feesmaal waarheen onkundiges uitgenooi word om in ‘n feestelike atmosfeer te kom leer.  Só sal hulle die pad van insig vind om regtig te kan lewe.

Let op hoe leerbaarheid as een van die kernwaardes van hierdie tipe lewe voorgestel word: “neem afskeid van die onkunde … en kom op die pad van die insig” (9:6).

9:7-12 – Versigtig vir ligsinnigheid

Hierdie gedeelte beskryf die opstand van ligsinnige mense teen die wysheid en die gevolge wat dit vir hulle het.  Maar, die opvoeders van sulke mense word ook aangespreek, omdat ligsinnigheid altyd ook ‘n vingerwysing is na dié wat verantwoordelik was vir kinders wat ligsinnigheid as lewenstyl kies (9:7).  Ligsinnigheid lei onvermydelik tot goddeloosheid, omdat ‘n mens nie wysheid kan ignoreer sonder om dan ook die Bron van wysheid daarmee saam te ignoreer nie.

Interessant genoeg wil dié gedeelte ‘n mens ook waarsku daarteen om jou wysheid met ligsinnige mense te deel, omdat die kanse vir sukses so gering is (9:8).  Mense wat die waarde van wysheid ervaar het, is meer ontvanklik, en meer leerbaar.  Daarom moet jy jou wysheid met sulke mense deel.  Met hulle kan jy moeite doen om verder en dieper te gaan.

Ligsinniges moet egter eers weer na die begin toe teruggevat word, die ontsag vir God (9:10 – vgl 1:1-7), voor die lewenshouding van leerbaarheid weer sal inskop en die voete op die pad van insig geplaas kan word.

9:13-18 – Moenie luister na Vrou Dwaasheid nie

Let op hoe vrou Dwaasheid vir vrou Wysheid naboots in die banket wat vir die onervare onkundiges gehou word, maar op ‘n wyse wat herinner aan die verleidelike gedrag van die slegte vrou van vroeër.  Let op hoe die verleiding van haar aanbod lê in die gesteelde karakter daarvan – jy hoef jou nie in te span om dit te verkry nie – sowel as in die verborge aard daarvan – dit is iets wat jy stilletjies doen, waar niemand kan sien of beperkings kan plaas nie.

Die einde van dié pad is egter die dood, omdat daar geen verantwoordelikheid of verantwoordbaarheid ingebou is in die verkryging van hierdie kennis nie.  Dit onderstreep op ‘n waarskuwende manier die noodsaak daarvan om versigtig te wees met die uitdeel van kennis bv in ‘n leerervaring, sonder om ‘n worsteling daarmee, en ‘n toetsing daarvan, in te bou.  ‘n Mens moet self werk aan dít wat jy leer, en jy moet op een of ander manier iets daarvan weergee.  Dán het dit deel van jou menswees en lewenswyse geword.  Anders is dit plagiaat en oppervlakkig by wyse van spreke.

  • Bespreek bogenoemde notas
  • Vrou Wysheid se huis lyk amper meer na ‘n tempel.  Wat dink julle sê dit vir ons huise vandag?
  • Kyk weer na Spreuke 9:7.  Hoe laat dit julle voel?  Het opvoeders regtig so ‘n groot invloed?
  • Hoe kan ouer gelowiges jonger gelowiges uitnooi na die feesmaal van wysheid?  Hoe kan jý deel vorm van ander gelowiges se paviljoen? 

LEEF EN ONTPLOOI

  • Wie is die jonger gelowiges in wie se lewe jy ‘n impak het?  Dink na oor hoe daardie impak lyk (dink weer aan jul gesprek en gedagtes by “Rus en Ontvang”.)  Wat vra die Here nou van jou?

  • Bid vir die reeks wat volgende week begin.  Bid dat volwasse gelowiges hul rol as geloofsgetuies ernstig sal neem en waardig sal uitleef.

Spreuke 4:26 Week van 6-12 Augustus 2012

RUS

  • Julle het verlede week gesels oor hoe ‘n mens waak oor jou gedagtes.  Vertel vir mekaar hoe dit daarmee gaan.  Watter tipe goed het in die laaste week jou gedagtes bepaal?
  • Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

HOOR

Lees Spreuke 4:26

“Die Bybel vir Almal” vertaal dit so:  Jy moet op die regte pad loop, dan sal jy seker wees waarnatoe jy loop.

Gesels oor die teksgedeelte.  Maak eers seker almal verstaan al die woorde.  Ouers kyk na die inligting in die Kleingroepmateriaal

  • Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die teks.  As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels. 
  • Dit help nie as ons net hoor wat God sê en die regte goed dink nie – ons moet ook die regte goed doen.
  • Watter versoekings is daar vir julle, wat kan maak dat jy nie doen wat God wil hê nie?
  • Onthou dat ons deur Jesus vergewe word wanneer ons nie op die regte pad bly nie!  Hoe help God ons om op sy pad te bly?  Watter goed gee hy wat ons daarmee help? (Dink aan die Bybel, mede-gelowiges,ens.)

LEEF

  • “Jy moet op die regte pad loop.” Wat is dit wat God wil hê jy moet doen?  Deel dit met mekaar en gesels oor hoe jy dit gaan regkry.  Bid dat die Here julle sal help daarmee.
  • Gaan deur jul gebedslys- is van jul gebede beantwoord?  Sê dankie!  Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

Spreuke 4:23 Waak oor jou hart

Waak oor jou hart – Spreuke 4:23

Somerstrand 5 Aug 2012

 

Verwelkoming & Afk

Toetrede

Flam 318 Nader tot die Here (sit)

Votum

Psalm 19:8-15

Seëngroet

Lofsang

Ps 119: 7, 8, 26 (staan)

Lied 209 x2 Heer, met my hele hart (sit)

Lied 550 x2 Twee ogies om Gods werk te sien (sit)

Kindertyd

Storie Max Lucado: “Omdat ek jou liefhet”  (Deel III)

Wet

Spreuke 3:1-10

Skuldbelydenis en Genadeverkondiging

Toewyding

Flam 353 Here, Heilige Here (sit)

Gebed

Skriflesing

Spreuke 4:20-27

 

Preek

Tilla stuur in week video,

gedink nav Musiektrivia aand Vrydag

gepas:

 Video: Commercial

As so stetoskoop kon kry

wat nie hartklop hoor,

maar hoor wat in hart aangaan –

wat sal hoor?

Teks sê

hart belangrikste van alles –

moet bitter versigtig wees met wat in hart aangaan.

Spreuke praat omtrent 80 keer van hart –

in NAV vertaal met gedagtes of wil.

OT meer as 800 keer.

Interessante navorsing gelees week,

ons dink brein setel van bewussyn, denke,

navorsing wys hart info verwerk,

saam met brein werk.

Interessant, onseker hoe waar.

Maar tog iets oordra van wat teks sê:

Wanneer Bybel praat van hart,

praat van denke,

wil –

van regte jy,

wie jy is.

Want jy is wat jy dink.

Ons ken uitdrukking: You are what you eat.

Bybel ons leer:

Jy is wat jy dink.

Teks: dis die oorsprong van die lewe.

Wat in jou hart aangaan, maak saak.

Week interessante boek gelees,

titel: You are what you think (David Stoop) –

sê ons geneig dink

oorsaak gevolg –

iets gebeur, lei tot reaksie, emosie.

Praat van ABC –

A = Activating Event

C = Consequences.

maar sê ons vergeet van B –

Belief Systems.

Is nie gebeure wat bepaal hoe jy voel of optree –

is wat jy glo oor gebeure wat bepaal.

Gebruik vb ou nie meisie terugbel –

hy hou nie van my

hy besig, sal later bel.

Ons by selgroep lekker gesels hoe mate jy kan beheer hoe voel,

hoe reageer.

Maar feite is,

twee van ons kan na presies selfde situasie kyk,

heeltemal verskillend interpreteer

en reageer –

want glo verskillende goed oor situasie.

Jy is wat jy dink.

Jy doen soos jy dink.

En ons dink baie!

Selfs die van ons nie noodwendig intellektuele reuse.

Gemiddelde mens praat 150 na 200 woorde per minuut.

Dink ong 1300 woorde per minuut.

Byvoeg dat gedagtes dikwels beelde is,

soveel meer betekenis dra as net woord,

beeld kan breukdeel van sekonde deur gedagtes flits,

gelaai wees met betekenis en emosie.

Wat is ons harte aangaan,

is lotsbepalend.

Ons is wat ons dink.

Dit is hoekom so ontsettend belangrik dat hart sal bewaar –

versigtig wees met wat in hart aangaan.

Want jy is wat jy dink.

So hoe bewaar jou hart?

Eerstens deur hart vol te hou van regte goed.

Iemand sê probleem met oop kop

is dat almal heel tyd goed daar wil in druk.

Is natuur –

wil vakuum volmaak!

So as wil hê hart moet veilig wees,

sorg dat hart vol is –

vol van regte goed!

Fil 4:8:

alles wat waar is,

alles wat edel is,

alles wat reg is,

alles wat rein is,

alles wat mooi is,

alles wat prysenswaardig is –

watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees –

daarop moet julle julle gedagtes rig.

En hoe dit doen,

heel eenvoudig:

Rom 12:2a:

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie,

maar laat God julle verander

deur julle denke te vernuwe

Ek het groot invloed op eie denke –

meer wat ons bereid is te erken.

Maar kan nie altyd bepaal hoe dink,

hoe voel.

Kan waak oor my hart

deur seker te maak vol van Woord van God.

Want wanneer hart vol van Woord van God,

dan nie plek vir ander goed.

Gees werk deur Woord,

verander ons van binne af

vernuwe ons denke.

Eerste manier waak oor hart

is deur besig te wees met Woord –

dit te verslind,

soos jong leeu te kou

soos Chris tydens Pinkster gesê.

Dis stap een,

heel belangrikste.

Maar wanneer dit gedoen,

dan waak ook oor wat toelaat in hart.

Miskien dit tipe ding te min oor praat in kerk –

dalk juis omdat vroeër jare te veel gepraat.

Maar ons nie net verantwoordelik eie hart,

ook – as geloofsgemeenskap –

verantwoordelik vir mekaar,

verantwoordelik mekaar harte aangaan,

VERAL verantwoordelik in kinders harte aangaan.

En ding is,

wanneer ander goed in hart inkom,

nie oornag:

wham, nou hart vol ander goed.

Soos die cholesterol wat in jou are aanpak:

stadig,

stukkie vir stukkie,

kom nie agter.

Tot eendag hart laat toets,

agter kom heeltemal verstop

deur gemors jy ingeprop.

So ons moet waak.

Bewus wees waaraan ore uitleen…

Liedjie:

pasop kleine voetjies waar jy gaan

pasop kleine oortjies wat jy hoor

pasop kleine ogies wat jy kyk.

Dalk moet ons dit juis nog méér vir mekaar sê as vroeër jare,

omdat pornografie beskikbaar op elke rekenaar en selfoon,

gemorskos elke TV stasie,

elke koerant,

elke tydskrif.

Ons mekaar waarsku,

nie om te oordeel,

maar om mekaar te ondersteun,

mekaar te versterk.

Moet bewus wees waarna kyk –

op TV

op internet

op selfoon

Bewus wees van wat lees –

in koerante

in tydskrifte

in storieboeke

Bewus wees van geselskap waarin bevind,

tipe vriende

Spr 27:17

Yster slyp yster,

vriende vorm mekaar.

Soms loop in bos rond,

dink:

ag nee wat,

dis nie so erg!

Waaroor al bohaai gegaan!

En as weer kom kry,

kan nie pad terug vind.

God het vir ons muur gebou,

nie omdat spoil-sport,

maar omdat liefhet.

Bewaak jou hart

meer as alles wat bewaar moet word,

want daaruit is die oorspronge van die lewe.

Gebed

Dankoffer

Gebed

Slotlied

Lied 489:1 en 3 Waak, Christen, staan in die geloof (staan)

Seën

Respons

Lied 314

Spreuke 4:26 Week van 6-12 Augustus 2012

RUS

  • Julle het verlede week gesels oor hoe ‘n mens waak oor jou gedagtes.  Vertel vir mekaar hoe dit daarmee gaan.  Watter tipe goed het in die laaste week jou gedagtes bepaal?
  • Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

HOOR

Lees Spreuke 4:26

“Die Bybel vir Almal” vertaal dit so:  Jy moet op die regte pad loop, dan sal jy seker wees waarnatoe jy loop.

Gesels oor die teksgedeelte.  Maak eers seker almal verstaan al die woorde.  Ouers kyk na die inligting in die Kleingroepmateriaal

  • Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die teks.  As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels. 
  • Dit help nie as ons net hoor wat God sê en die regte goed dink nie – ons moet ook die regte goed doen.
  • Watter versoekings is daar vir julle, wat kan maak dat jy nie doen wat God wil hê nie?
  • Onthou dat ons deur Jesus vergewe word wanneer ons nie op die regte pad bly nie!  Hoe help God ons om op sy pad te bly?  Watter goed gee hy wat ons daarmee help? (Dink aan die Bybel, mede-gelowiges,ens.)

LEEF

  • “Jy moet op die regte pad loop.” Wat is dit wat God wil hê jy moet doen?  Deel dit met mekaar en gesels oor hoe jy dit gaan regkry.  Bid dat die Here julle sal help daarmee.
  • Gaan deur jul gebedslys- is van jul gebede beantwoord?  Sê dankie!  Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

Spreuke 2:1-22 – Hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan.

Verwelkoming

Toetrede

Liedboek 577:1,5 – Die Heer, my herder, sorg vir my – sit

Votum

Seëngroet

Lofsang

Liedboek 510 – Genade, onbeskryflik groot – staan

Liedboek 512 – Nader, my God, by U, nog naderby – sit

Kindertyd

Episode 2 van Omdat ek jou liefhet van Max Lucado

Terugflits

Lank, lank gelede in ‘n ver land het ‘n wyse man met die naam Shaddai gewoon.  Shaddai was ‘n groot man wat lief was vir kinders.  Hy het ’n pragtige dorpie vir die kinders gebou.  En die beste van alles was dat Shaddai  vir al die kinders ewe lief was. 

Dit is hoekom hy die muur gebou het reg rondom die kinders se dorpie.  Want, buite hierdie dorpie was daar ‘n gevaarlike bos. Hy het vir die kinders gesê: “Daar is gevaar buitekant die muur.  Julle is gemaak vir hierdie dorpie binne die muur.  Bly by my.  Dit is veilig hier.”

Shaddai by sy werksbank

Die dag toe hy die laaste klip op die muur pak, gaan hy terug na sy werksplek, sit voor sy werkbank en sny ‘n kierie uit ‘n lang boomtak.  Shaddai sit die kierie toe in ‘n hoek neer en sê vir homself:  “Ek sal gereed wees.”

‘n Rukkie later hardloop ‘n seuntjie met rooierige hare Shaddai se werksplek binne.  Die kind met die soekende oë en rustelose energie maak die skepper bly én bekommerd.

“Shaddai.”

In ‘n oogwink het die skepper sy hamer laat val en omgedraai.  “Wat is dit, Palladin?”

Palladin ontdek die gat in die muur

Die seun het met rukke en stote gepraat terwyl hy na asem  hyg:  “Die muur … ek het … ‘n gat ontdek.  Dit is ‘n groot gat!” Die seun het sy hande gerek om te wys hoe groot die gat is.  “Iemand kan dalk daar deurkruip.”

Shaddai het ‘n stoel nader getrek en daarop gaan sit.  “Ek het geweet dit sal jy wees, Palladin, my kind.  Sê vir my, hoe het jy dit gekry?”

“Ek het al langs die muur geloop op soek na – “

“Gate?”

Palladin aarsel, verras dat Shaddai geweet het.

“Ja, ek het na gate gesoek. “

“Sodat jy die bos kan sien?”

“Ek was nuuskierig, Shaddai.  Ek wou weet hoekom jy nie wil hê ons moet soontoe gaan nie.  Hoekom is dit so gevaarlik?”

Shaddai praat ernstig met Palladin

Shaddai beduie toe vir die seun om na hom toe te kom.  Toe Palladin nader kom, vat die skepper die klein gesiggie in al twee sy hande en lig dit op sodat die seun reguit in sy oë kon. kyk.  Shaddai se ernstige gesig het Palladin se maak sommer so hol laat voel.

 “Palladin, luister na my.  Die wêreld daar buite is nie die plek vir jou nie;  ook nie vir my nie.  As jy na die bos toe gaan, sal jy seerkry.  Jy is nie gemaak vir daardie plek nie.  Laat jou voete jou dra na al die plekke waarnatoe jy mag gaan, nie na die een plek waarheen jy nie mag gaan nie.  As jy hier weggaan, sal jy nie die pad terug kry nie.”

Palladin wonder hoekom die gat nie toegemaak word nie

Palladin het saggies gevra:   “Sal jy dan die gat toemaak?”

“Nee, Palladin, ek het juis die gat gemaak omdat ek julle so liefhet.”

“Maar jy het dan gesê jy wil nie hê ons moet weggaan nie.”

“Ek wil nie hê julle moet weggaan nie.  Ek wil hê julle moet hier by my bly, maar ek het die opening gemaak toe ek die muur gebou het.”

“Maar as jy dit nie toemaak nie,” sê Palladin, “sal die kinders dalk weggaan, Shaddai.”

“Ek weet, Palladin.  Maar ek wil hê die kinders moet hier bly omdat hulle wíl, nie omdat hulle móét nie.”

Palladin verstaan nie mooi nie

Palladin kon dit nie verstaan nie.  Hy het ongemaklik gevoel en omgedraai om te loop.  Hy moes gaan dink oor wat Shaddai gesê het.  Toe hy uitstap in die sonlig, kyk hy om na die werkswinkel.  Shaddai het nog steeds op sy stoel gesit en  na Palladin gekyk.

Kom luister volgende week verder …

Gebed

Skriflesing

Spreuke het drie belangrike boodskappe:

  1. Begin met God,
  2. Soek na wysheid
  3. Loop die regte pad – wat natuurlik insluit om die drie hoof afdraaipaaie te vermy – “easy sex, easy money, easy power”.[1]

In tien lewenslesse leer ‘n pa sy seun hoe dit werk. 

  1. Verlede week het ons gekyk na watter rol God in die seun se lewe moet
  2. Vandag kyk ons na die rol wat die soeke na wysheid in die seun, en natuurlik in elkeen van ons, se lewe moetDie kern-boodskap is in Spreuke 2:2: “Hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan.”

Woordverkondiging

Luister in die diereryk

Dit is verstommend hoe goed sommige diere kan hoor.

  • Olifante het nie net baie groot ore nie.  Hulle kan geluid hoor wat 20 keer dieper is as wat ons ore kan optel.  En hulle gerommel kan 6 kilometer ver opgetel word deur ander olifante.  Dit is een van die maniere waarop hulle aangepas is om te kan oorleef en met mekaar te kan kommunikeer oor lang afstande.
  • Uile het van die skerpste ore wat bestaan. Interessant is dat hulle ore nie op dieselfde vlak sit nie – een is net bo die ooglyn, en die ander net daaronder – sodat hulle met absolute presisie die rigting van ’n geluid kan bepaal.  Maar uile kan nie net goed hoor nie.  Hulle reaksietyd is ook verstommend.  Binne ’n 100ste van ’n sekonde kan hulle reageer op die geritsel van ’n muis in die bos.  Dit is waarom uile in die donkerste donker – hulle het natuurlik goeie oë ook – hulle prooi kan vang en só kan oorleef.
  • Vlermuise se gehoor is miskien nog beter ontwikkel, hoewel hulle ’n tipe sonar gebruik om te kan hoor.  As jy ’n muskiet is, en só 15-20 voet van ’n vlermuis af, al is dit stikdonker, en jy piepklein, is jy geskiedenis.  Interessant, vlermuise beskerm hulle ore deur dit toe te maak met elke vlerkklap, sodat hulle gehoor nie verminder met die geraas van hulle eie vlerke nie.  Hulle is eintlik totaal afhanklik van hulle gehoor om te kan oorleef.
  • Dolfyne, wat ook sonar gebruik, kan tot op 70 meter ’n voorwerp opspoor al is dit net so groot soos ’n vyfrand muntstuk.  En soos walvisse kan hulle geluide oor groot afstande onder water optel.

Hoekom?  Want al hierdie diere is afhanklik van hulle ore om te kan oorleef.  Hetsy of dit is om te kan kommunikeer, of om hulle kos op te spoor of om gevaar te kan ontwyk – ore is lewensbelangrik.

Die tweede lewensles

Dié voorbeelde gee ons ’n bietjie dieper begrip vir die tweede lewensles wat die pa in Spreuke 2 aan sy seun gee. 

Die pa weet dat die belangrikste ding in die lewe is om met God te begin.  Sonder om God te ken en te erken in alles wat jy doen, loop jy die gevaar om sy sorg en voorsiening te mis.

Maar, hy weet ook die seun kan dink dat hy dan maar agteroor kan sit, en bid, en wag vir God, en dan verder niks doen nie.  En die lewe werk nou eenmaal ook nou weer nie só nie.

Maar, let op, hy probeer hom nie in die tweede plek net ’n klomp reëls of kennis inprop nie.  Hy gee nie net vir hom ’n handboek wat hy moet lees nie.  Hy raai hom selfs nie aan om sekere goed sommer net te begin doen omdat dit goed vir hom sal wees nie.  “Doen soos ek sê en daarmee basta.” 

Nie dat hy niks gaan sê vir die seun oor wat hy moet weet nie.  Nie dat boeke nie belangrik is in die pa se oë nie.  En nie dat die pa nie tog vir hom gaan aanraai om op sekere paaie te loop en te waarsku om op ’n paar ander nie te loop nie.  Kennis is belangrik, en die regte pad is belangrik.  En die pa gaan vir sy seun ’n hele klompie dinge daaroor in die res van die boek sê. 

Maar, hy begin by ’n ander plek.  Hy raai sy seun in die tweede plek aan om sy ore te gebruik, om sy ore te spits, en te luister. 

Gebruik jou ore

En waarvoor moet hy sy ore gebruik? 

Hy moet as’t ware met gespitste ore soek en luister vir wysheid (2:1-4), nie net vir kennis nie, nie net vir dinge om te weet nie, maar vir wysheid, vir toegepaste kennis, vir kennis wat vir jou werk, vir kennis wat iets beteken.  Want sonder dié tipe wysheid, vir kennis in aksie, kan jy moeilik die uitdagings van hierdie lewe hanteer, sal jy moeilik oorleef.

Kyk, jy kan al die kennis hê wat bestaan, jy kan weet hoe alles werk in die lewe, en dit met baie kundigheid kan beskryf, maar as jy nie weet wat jy daarmee moet maak nie, wat die beste manier is om jou kennis toe te pas nie, hoe jy dit kan inspan ter wille van oorlewing of ter wille van sukses nie, dan baat dit jou nog maar min. 

Jy het wysheid nodig, jy het toepassings nodig, jy moet weet wat dinge beteken, jy moet dit verstaan, jy moet dit begryp, sodat jy dit tot jou eie en ander se voordeel kan inspan.  Eers dan sal kennis vir jou die moeite werd wees.  Dit is benewens die feit dat ’n mens eintlik eers regtig die wysheid het, as jy begin het om daarvolgens op te tree, maar dit is vir die res van die Preekreeks …

Ek wonder baie keer of dit nie die probleem is vandag met die kennis-ontploffing nie.  Ons weet só baie, sommige van ons dínk natuurlik ons weet so baie (glimlag), maar ons is eintlik in ons kinderskoene in die toepassing van dié kennis, in die wysheid wat nodig is om dit vir mense en die omgewing te laat werk.

Daarom, sê die pa vir sy seun, moet jy luister vir die wysheid, nie net vir die kennis nie, maar vir die wysheid, vir die maniere hoe om kennis toe te pas, sodat jy kan weet wat kennis vir jou en vir ander kan beteken.

Soek wysheid met gespitste ore

Nou, daar is twee maniere waarop die Bybel oor die verkryging van hierdie tipe kennis, hierdie wysheid, praat. 

  • In die eerste plek: God gee wysheid vir dié wat Hom vertrou.  God werk vir hulle selfs wanneer hulle slaap (Ps 127:2 – ’n Psalm van Salomo!).   Uiteraard is dit ’n belangrike klem, en is dit iets waarop ’n mens ook kan staatmaak.
  • Maar, belangrik, in die tweede plek: God gee wysheid in die doelgerigte soeke na wysheid, ‘n verantwoordelikheid wat ons nie kan ontwyk nie.   Om die waarheid te sê, dit is meermale hoe dit werk.

Dit is van hierdie doelgerigte soektog na wysheid, na toegepaste kennis, wat Spreuke praat.  Daarom sê die pa vir sy seun: hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in, roep en vra, soek … en jy sal dit opspoor. 

God gee wysheid vir dié wat daarna soek

Want sien, wysheid ís ’n gawe van God.  Hý is wysheid.  En Hy wil gráág wysheid vir ons gee.  Maar, God weet ook dat wysheid wat sommer net so uitgedeel word, te maklik op dowe ore kan val, onwerksaam in ons lewe kan lê, en dan tot niks kom nie.

Daarom het Hy ingebou dat vir die wysheid gesoek moet word.  Dit is in die soektog self wat ’n mens agterkom dat wysheid ’n gawe is van God, dat jy waardering kry vir hoe ragfyn God goed beplan, jy begrip kry vir hoe goed werk, en hoekom dit so is, te same met die sukses en beskerming wat met die wysheid saamgaan. Wanneer die seun só soek, dit is dan wanneer hy ook op die regte pad sal bly en kán bly. 

Dit is iets wat Jesus ook later sterk sou beklemtoon in sy bediening en onderrig, soos pragtig geïllustreer in die bekende uitspraak in die Bergrede: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”  (Matt 7:7-8). 

God wíl gee, maar Hy wil ook hê dat die gawe iets vir ons beteken, dat dit ons help om te kan lewe, en daarom dat Hy gee vir dié wat daarna vra, vir dié wat daarna soek, vir dié wat klop aan die deur.

Interessant is dat Jesus hierdie gawe van wysheid ook met die gawe van die Heilige Gees verbind,  die goeie gawe van God (Luk 11:13).  En Jakobus sê dat ’n mens wysheid van God kan afbid (Jak 1:5).  Watter belofte!

Jy sal met vreugde en oordeel kan lewe

Liewe gemeente, dit is ook hoe God se beskerming werk. Dit is nie net iets wat God gee sonder jou medewerking nie.  Beskerming kom ook deur die manier waarop jy lewe. Dit is nie net ’n gevolg van God se wonder ingrype nie – hoewel Hy Goddank dit ook soms doen.

God gee beskerming deur toegepaste kennis, deur wysheid waar met insig op die verloop en beloop van die lewe gereageer word.  Wanneer kennis op só ’n manier, met wysheid, in die toepassing daarvan, begin om jou lewe te vorm en te verryk, dit is dan wanneer oordeelkundigheid en verstandigheid begin om jou lewe te beskerm en begelei.  Dit is dan wat God jou in staat stel om die verkeerde dinge en mense te vermy en Hy jou lei na die goeie, regverdige, opregte en onberispelike paaie wat volhoubare en vreugdevolle lewe moontlik maak.  Dít is hoe God beskerming en begeleiding gee – deur die wysheid waarvoor jý jou ore spits en waarop jý jou luister fokus.

En maak geen fout nie.  Dit is iets wat jou eie verantwoordelikheid is. Dit is nie iets wat iemand anders vir jou kan doen nie. Dit is selfs nie iets wat God sommer sonder jou medewerking kan doen nie, hoewel daar natuurlik ook ’n genade-kant van Sy betrokkenheid by ons is.  Die Bybel sê mos in Psalm 25:8 dat hy selfs vir sondaars die pad aanwys.  Dit is waar, maar ook net een kant van die saak.  God gee vir dié wat soek, vir dié wat nood het, vir dié wat heel wil word.

Wysheid is dus aan die een kant ‘n gawe van God wat jy uit Sy hand ontvang en ontgin in al sy fasette, maar ook iets aan die ander kant wat jy persoonlik moet toepas en ontplooi in jou praktiese lewe. Dit is in die ontvangs en in die ontplooiing, die vertroue op God en die persoonlike verantwoordelikheid neem, wat die beskerming en begeleiding gebeur.

Jy sal die pad van slegte mense kan vermy

Dit het aan die een kant te make met die tipe mense na wie jy moet luister, veral na gesagsfigure en rolmodelle in jou lewe wat goeie mense is, regverdig, opreg en onberispelik (2:1,9,20,21). Sulke mense moet jy uitkies, na hulle luister, en hulle navolg. 

Natuurlik sluit dit ook mense in na wie jy nie moet luister nie: mense wat verkeerde dinge verkondig (2:12), mense wat die regte paaie verlaat (2:13), mense wat slegte dinge doen, en wie se paaie krom is (2:14-15), sowel as die “slegte vrou” wat ’n simbool van enige buite-egtelike verhouding is, en natuurlik ook op ’n “slegte man” van toepassing is (2:16-20).

Aan die ander kant sluit dit ook dinge in waarna jy moet luister, die inhoud wat Spreuke aanbeveel. 

En let op, hoewel tyd my ontbreek om meer hieroor te sê, hoe Spreuke nie net ’n eenmalige luister na die wysheid aanbeveel nie, maar ’n onderskeidende proses, om jou in te span om te verstaan (2:2), om insig en gesonde begrip (common sense) te soek (2:2).  En dit saam met mense wat saam met jou na die wysheid soek.

Maar Spreuke wil ook hê dat die lewenstyl van mense wat hierdie inhoud uitleef, nagevolg moet word (eerlikheid – 2:7; onberispelikheid – 2:7,21, getrouheid – 2:8; regverdigheid en billikheid – 2:9,20; oordeelkundigheid en verstandigheid – 2:11; goedheid – 2:20; opregtheid – 2:21).  Dit is die inhoud van die tipe wysheid wat nagevolg moet word.  Só word jyself natuurlik ’n voorbeeld wat ander kan navolg.

Ons sal leer om met mekaar saam te kan lewe

Ek sluit af.  Ons kan leer by die uile van die diereryk, ook van die olifante, vlermuise en dolfyne, veral in hoe hulle staatmaak op hulle ore om te oorleef in die lewe.

Maar ons moet vir meer luister as die diere.  Ons moet luister vir die wysheid, vir dié toepassings van kennis wat nie net nodig is om te oorleef nie, nie net vir ons kos in ons mae sit nie, maar vir dít wat ons gaan help om mekaar te kan verdra, om mekaar te kan akkommodeer, om met mekaar te kan saamleef, om mekaar te help om by selfverwesenliking uit te kom.

Dit is miskien die grootste wysheid wat ons nodig het, hoe om dit te kan regkry om met mekaar te kan saamlewe, hoe om te sorg dat mense die ervaring het om te behoort, om tuis te kom, om tot hulle reg te kom, om iemand te voel, en iemand te wees, vir ander, vir jou, vir my, vir God.

Hou jou ore dus oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan, en begin om dit met ander te deel, begin om dit uit te leef.  Ons almal het dit nodig.  Ons almal moet daarop fokus.  Dit is hoe ons dit gaan regkry om mekaar nie uit te wis nie, maar die beste in mekaar na vore te bring.

Gebed

Verootmoediging

Liedboek 299:1 – Laat ons, Heer, u dood verkondig – sit

Nagmaal

Dankoffers

Slotsang

Liedboek 529 – Dank, dank die Heer.  Ons dank die Heer – staan

Seën

Amen

Respons

Liedboek 228 – Halleluja!  Halleluja! – staan


[1] Interessant: die luister-siklus van die Seisoen van Luister werk met ‘n soortgelyke skema: RUS, HOOR, LEEF.  Die luister-siklus is eintlik ‘n manier van luister-leef wat in die wysheidstradisie van die OT inpas!