Skip to main content

Tag: Kolossense.

Kolossense 3:12-17 – Die Bybel is ‘n huis om in te woon – Son 7 Feb 2010

Verwelkoming

  • Vraelys – PowerPoint twee slides: Waar die skakel is en waarheen die skakel jou neem.
  • Simpatie – Ons innige simpatie aan Gerrit Venter, kinders en familie met die heengaan van Rita. Ons innige meegevoel ook aan Louis Marx, kinders en familie met die heengaan van Elizabeth. Ons bid vir julle die sterkte van die Here toe.

Toetrede

Lied 154 “Kom nou tesaam, laat ons vergader, één as sy kerk, één in sy Naam.” (gemeente vers 1 en 3, koor vers 2) sit

Votum

Seëngroet

Lofliedere

Lied 365 “Hoor die blye eng’lelied aan die Koningseun gebied: Vrede op aarde – God die eer – Hy daal tot die sondaar neer.” staan

Lied 373 “U, Jesus, eersgebore Kind, u lig sou bewe in die wind, dit flikker in die donker.” sit

Kindertyd

Hoe leer julle lees?
In Dolfyntjie skryf hulle mos julle name op ‘n bord en dan leer julle om dit te herken.
Kyk gou hierna: kan julle die naam herken? Rethie
En met die foto by?
Kom ons probeer nog een. Chris
En in graad 1 leer julle mos om prentjies en woorde met mekaar te verbind.
Ken julle die woord al? boek
En met die prentjie?
Kom ons probeer weer.  lyf
As ‘n mens dit genoeg doen, uiteindelik dan kan jy lees en verstaan wat jy lees!
En dan kan ‘n mens die koerant oopmaak en verstaan wat mense sê.
En jy kan ‘n boek lees en verstaan wat die skrywer sê.
En jy kan leer oor diere en dan kan jy ‘n dieredokter word.
Of jy kan leer oor mielies en dan kan jy ‘n mielieboer word.
En jy kan leer oor pype en water en krane en dan kan jy ‘n loodgieter word.
Dit is hoe die lewe werk – en alles is afhanklik daarvan dat ons kan lees.
Dit is net soos die Bybel ook werk.
Ons leer om die Bybel te lees.
Dan begin ons om te doen wat die Bybel sê, en
kort voor lank dan kan jy doen wat die Here wil hê jy moet doen.
En dan raak die Here vir jou alles in die lewe.
Hy raak soos ‘n huis waarin jy woon.
Hy bly by jou, Hy is lief vir jou, en julle kan met mekaar praat en
ons raak familie.

Gebed

Skriflesing

Dit is ‘n wonderlike gedeelte.

Hy gebruik eintlik die woordjie beklee in vers 12 om die gedagte van iets waarin ‘n mens woon of leef oor te dra: “Beklee julle dan … en dan volg die vyf goed wat hy sê waarmee hulle hulleself moet beklee:

1.      die 5 deugdes (meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig, verdraagsaam),

2.      die liefde vir mekaar (wat met sy geduld en vergifnis die hoofbestanddele is van die gemeenskapslewe wat onder ons moet heers),

3.      die Woord van God in al sy vorme (prediking, lering en onderrig),

4.      die liedere vir God in al sy vorme (psalms, lofsange en geestelike liedere), en

5.      hulle lewenswandel in die wêreld (wat ons sê of doen).

En die middelste mededeling – om die Woord in ons te laat woon – is die hart van die gedeelte, want dit is die bron waaruit die ander 4 opdragte hulle krag kry.  Alles word gekoppel word aan hierdie oproep dat die boodskap van Christus in sy volle rykdom in hulle moet bly, as’t ware in hulle moet woning maak, of anders gestel ‘n huis moet word waarin hulle woon.

Ons kan volgens God se riglyne leef as ons dit alles doen, waarvan ek vandag spesifiek gaan konsentreer op die 3de opdrag, om in die Woord te bly, dat dit ons huis word.

Kolossense 3:12-17

Woordverkondiging

Die Bybel is God se verhaal

Die Bybel is die verhaal van God.  Dit strek van die begin van die skepping af regdeur die geskiedenis tot by die verhaal van Jesus Christus.  En na Jesus se lyding, dood, opstanding en hemelvaart vertel die Bybel ons van die Gees wat deur die kerk die koninkryk van God laat kom.  En Johannes skryf ten laaste oor die nuwe skepping wat God belowe het vir almal wat in Hom glo.  Van begin tot einde is dit God se verhaal.

Dit is ook die evangelie.  Dit is die fondament van wat ons glo.  En dit waarom ons die Bybel die Woord van God noem.  Dit is Sy verhaal.

Dit leer ons op God vertrou

Hierdie Bybel nooi ons telkens uit om met hierdie verhaal, die verhaal van God, rekening te hou.  Dit nooi ons uit om te vertrou op God se nabyheid, sy beloftes, sy krag.  Dit nooi ons uit om sy wil te soek en te doen, en eerder met Sy onsigbare werklikheid rekening te hou as met dit wat ons rondom ons sien.  En dit nooi ons uit om te leef soos Hy van ons vra eerder as soos almal rondom ons leef.

Dit leer ons om anders as die wêreld te leef

In die Bergrede noem Jesus, byvoorbeeld, diegene gelukkig, geseënd wat agter in die tou staan, as ‘n mens volgens gewone wêreldse standaarde sou meet: die armes, die sagmoediges, die barmhartiges – want, sê Jesus, aan hulle behoort die koninkryk van die hemel, hulle sal die nuwe aarde ontvang, en aan hulle sal barmhartigheid bewys word.

Die ongelooflike belofte word aan reinhartiges gemaak, hulle sal God sien.  Die vredemakers sal kinders van God genoem word.  En dié wat vervolg word omdat hulle Jesus navolg, hulle sal hulle loon ontvang in die hemel (Matt 5:1-9).

Die Bybel leer ons om nie so besorg oor allerhande dinge te wees nie, ons nie so moeg te maak oor aardse goed nie, maar eerder ‘n skat na te jaag wat groter is as kos en klere en sukses en status (Matt 6:25-34).

Dit leer ons om anders as die wêreld nie te dink oor wie ons kan uitsluit nie, maar eerder oor wie ons kan insluit, soos die verhaal van die barmhartige Samaritaan ons leer.  Daar is niemand wat ooit in beginsel, van die begin af, uitgesluit word net omdat hulle is wie hulle ook al is nie.  Ons mag ‘n naaste word vir dié wat ons kan help op ons pad deur die lewe (Matt 22:34-40).

Want dié Bybel wat hierdie verhale vertel, is ‘n boek wat aan ons eie adres gerig is.  Dit sê vir ons: “Gaan en doen jy net so.”

Dit leer ons om ander met mekaar te leef

Net so fokus Paulus ons gedagtes hier in Kolossense op die manier waarop ons met mekaar moet leef in die gemeenskap van gelowiges.

Daar is 1) 5 deugdes wat God van sy uitverkore volk verwag:  meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig, verdraagsaam.

Hy wil hê dat ons 2) mekaar moet liefhê deur geduld met mekaar te hê en mekaar te vergewe as iets verkeerd gaan.  Dit is die hoofbestanddele van die gemeenskapslewe wat onder ons moet heers.

En die hart van hierdie gemeenskapslewe is om 3) op die Bybel te fokus, wat uitmond in 4) ons spreke met God in ons liedere en 5) ‘n lewe wat God se eer voorop stel.

Maar die belangrikste hiervan is die fokus op die Bybel, die middelste van die 5 bestanddele, want al die ander dinge hang daarvan af.

Hoe word die Bybel ‘n werklikheid?

Regdeur die eeue word hierdie Bybel op dieselfde manier vir ons die Woord van God as ons in drie eenvoudige stappe daarna luister: ons lees dit, ons dink daaroor na en ons leef dit. (Vgl Dirkie Smit se uitstekende weergawe hiervan in Neem, lees)

Ons lees die Bybel

Die lees van die Bybel kan eenvoudig wees (in jou stiltetyd), én baie kompleks (akademies: tradisie-histories of retories); dit kan alleen gedoen word én in groepe; dit kan inzoom op een vers of selfs een woord in ‘n ‘n vers, én dit kan die breë lyne probeer vasvat.  Dit kan in die kerk wees én in ‘n huis of saam met ‘n groep vriende.

Hierdie eerste stap bly die eerste liefde, die ding wat die vonk verskaf, waarvan alles afhang.

  • Soos Augustinus onder die vyeboom gedoen het in 439 toe hy die kinderstemme hoor sing het, Tolle lege, Tolle lege, Neem, lees, Neem lees, en ingehardloop het en in Romeine begin lees het – en sy hele lewe verander het.
  • Of soos Karl Barth in 1918 onder ‘n appelboom gesit en lees het en die Bybel vir hom, asof vir die eerste keer, oopgegaan het. En sy ontdekking het ‘n impak gehad in die Christelike wêreld wat enorm was, bv. met sy kommentaar op die (toevallig ook) Romeine brief, waarin hy weer sterk beklemtoon het dat God na ons kom, zenkrecht von oben, en nie maar net langs die weg van humanistiese ontwikkeling nie.
  • En laat ons nie vergeet van Luther wat ook in die Romeine brief die eerste ervaring gehad het dat die Bybel vir hom oopgaan, en hy God se genade in Jesus vir die eerste keer ervaar het.

As ‘n mens die Bybel só lees, dat die betekenis daarvan vir jou vasvang en dit die rigsnoer vir jou lewe word, dan word die Bybel vir jou soos ‘n huis om in te woon, ‘n wêreld waarin jy tuis kan wees en jou kan verheug, elke dag, ook vandag in die 3de millennium na Christus.

Ons dink na oor die Bybel

Die tweede stap van Bybellees is net so belangrik.  Dit is om die Bybel herhalend, en met groeiende nadenke te lees; om nie tevrede te wees totdat die betekenis daarvan vir jou oopgaan en jy die praktiese betekenis vir jou lewe daaruit kon haal nie.

En die nadink van die Bybel kan baie dinge insluit: dit kan meditatief wees met baie stilte en verwondering; dit kan akademies wees met baie vrae en met baie instrumente; dit kan in groepsverband wees of juis in ‘n oor-grense-luister, waarin nuwe perspektiewe vir jou oopgaan.

  • Ek sal nooit vergeet hoe ek in ‘n luister sessie met VGK dominees oor ‘n baie bekende teks gesels het, die verhaal van Jesus se verheerliking op die berg (dit is toevallig ook die tyd in die kerkjaar wat ons vandag vier!), en een van hulle my gevra het wat ek maak met die verskyning van Moses en Elia saam met Jesus op die berg; wat ek dink daar gebeur het. En toe ek sê, maar hulle het seker uit God se wêreld, die hemel, verskyn, het hy begin praat oor die wyse waarop hy oor die voorvaders dink vanuit ‘n Christelike perspektief, en hulle die “living dead” genoem. Geen sprake van aanbidding nie, maar net erkenning dat hulle nie opgehou bestaan het nie, en steeds ‘n rol kon speel.

Nou, dit bly steeds vir my ‘n vreemde konsep, maar ten minste iets waaroor ek begin dink omdat ek blootgestel is aan ‘n ander manier van dink oor die Bybel.  En dit beteken dat daar groter begrip vir mekaar kom, al bly die konsepte steeds vreemd.  En die toenadering in ons begrip het met die nadenke vanuit ander hoeke te make.

Ons leef die Bybel

Maar, dit moet altyd ook die derde stap insluit, om die Bybel te gaan leef, om te doen wat God in sy Woord van ons vra.

Soos Paulus hier leer in Kolossense, moet die boodskap van Christus, sy logos, in sy volle rykdom in ons bly. Dit beteken dat ons mekaar moet leer en onderrig met alle wysheid in die betekenis van die Bybel. En let op dat Paulus hier van drie verskillende vorme van verkondiging praat: prediking, lering en onderrig.  Nou, die punt is nie om dit noodwendig presies te gaan identifiseer en onderskei van mekaar nie, maar om te sê dit moet omvattend wees, en op verskillende maniere gedoen word.

Hierdie leef van en uit God se werklikheid sluit in dat ons met dankbaarheid in ons harte psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God moet sing. Weereens word drie vorme van sang genoem, om te sê dat daar ‘n verskeidenheid moet wees en dat dit regtig ‘n belangrike rol moet speek in die samekoms van God se mense.  Die Psalms sê nie verniet dat God woon waar die lofsange van sy mense weerklink nie.

Om die waarheid te sê, hierdie Woord se aanspraak op ons lewens is so omvattend, dat Paulus sê, “wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.”

En dit moet in die praktyk van die lewe geleef word.

Die leef van die Bybel is nie vanselfsprekend nie

Maar laat ons eerlik met mekaar wees.  Die leef van die Bybel is nie vanselfsprekend nie.  Dit bly steeds die moeilikste deel van die besig wees met die Bybel.  Ons sien dit alreeds in die verhale van die skares wat Jesus gevolg het, wat aanvanklik verwonderd was oor Hom en die wonders wat Hy doen, maar toenemend sy woorde moeilik gevind het om te doen, en uiteindelik gerebelleer het teen Hom en Hom verwerp en gekruisig het.

Die kruis het nie gebeur omdat die skares slegte mense was nie, maar omdat die navolging van Jesus toenemend moeiliker geword het, en hulle die prys daarvoor nie wou betaal nie. Sy woorde was in konflik met die huise waarin hulle gewoon het, hulle verstaan van wat belangrik is en wat nie.  En dan moet die een wat konflik vir jou veroorsaak uit die weg geruim word, nie waar nie, want hoe anders kry jy sy stem stil?

Vandag maak ons Sy stem stil deur in die eerste plek ons lees te beperk – ‘n vinnige blaai deur die Bybel vir ‘n teks wat ons opval, of nog erger net in ‘n dagboek te lees en glad nie meer die Bybel te hanteer nie.  In die tweede plek lees ons oppervlakkig, sonder om diep daaroor na te dink en die betekenis te laat insak in ons harte.  Gevolglik word ons nie uitgedaag om ons lewens te verander nie, want daar is nie diepte in ons nadenke nie.  En in die derde plek – en dit is die grootste gevaar – lees ons sonder om te doen.  Gevolglik verdwyn nie net die uitdaging van die Woord nie, maar die Woord self uit ons lewe, soos die Satan die Woord oppik uit ons harte.  Dit kry nie eers kans om wortel te skiet nie, laat staan nog om kans te kry om sy werk te doen nie.

Sommige teoloë het hieroor so sterk gevoel dat hulle half raadop voorgestel het dat die Bybel eerder verbrand moet word, want mense maak ‘n bespotting daarvan deur nie te doen wat dit vra nie.

Schleiermacher skryf op ‘n keer in sy dagboek dat hy dink die Bybelgenootskappe moet toemaak, en alle Bybels moet gekonfiskeer word en vernietig word, terwyl hulle sê: Here, ons doen liewer dit, en erken daarmee openlik dat ons tog nie van plan was of is om van die Bybel of uit die Bybel te lewe nie.  Ons wil nie in hierdie huis van die Woord woon nie.

Ook Thielicke, wat ons die beste ken uit sy boekie Die gebed wat die wêreld omspan, het soortgelyke gedagtes geopper omdat hy besorg was oor die kerk se geloofwaardigheid.  Die kerk vertel vir ander van die Bybel, maar doen nie self wat die Woord vra nie.

Ons leef die Bybel deur die Gees van God

Dit is waarom die werk van die Gees so belangrik is.  Dit is wanneer Hy ons vrymaak, ons harte sagmaak, laat reageer op die fluistering van die Woord in ons lewe, dat ons dit regkry om in die anderster wêreld van die Woord te woon, om daarvan ons huis te maak.

En dit gebeur wanneer ons toelaat dat die Woord ons begin lees.

Wat ek daarmee bedoel, is dat ‘n mens die Bybel moet lees totdat dit iets binne in jou begin roer, dat jy ervaar die sluier word van jou oë gelig en jy begin met God se oë kyk na jouself, na die wêreld, en na Hom en sy teenwoordigheid in die lewe, en jy daardie roering begin koester.

O, die wonder van só ‘n lees, waar jou lewe opgeneem word in die lewe van God, en Hy jou só vol maak van Homself dat jy eintlik deursigtig raak en God oral uit jou begin skyn.

Dan raak die Bybel regtig vir jou ‘n HUIS om in te woon.

Amen.

Gebed

Dankoffers

Koor: Ons vind ons krag in die Here – Vonkk 58.

Ouderlinge voorstelling

Slotlied

Lied 494 “Gelukkig is die mens wat op die Here bou, God self sal in sy nood sy hande om ons hou.” ( vers 1 en 3 almal, vers 2 koor) staan

Seën

Gemeenterespons

Lied 228 “Halleluja!” (koor 1x, en gemeente 1x)

Kol 1:9-14 – Son 8 Feb 09

Sondag 8 Februarie:  Tema:  Uiters waardevolle gisters (daaglikse ondersoek).

Votum:  Elke môre laat Hy my opnuut weer luister, Hy laat my luister soos n leerling moet luister. Die Here my God het my geleer om te luister. (Jes 50:4b-5a).

Wet: Lees Ef 3:14-19.

Ons ken die wet, dat ons God en ons naaste bo alles moet liefhê. In die gedeelte bid Paulus vir sy lesers dat hulle die vermoë sal ontvang om te begryp hoe groot die liefde van God is. Dit is alleen wanneer ons God toelaat om ons lief te hê en wanneer ons gereeld op Hom wag om sy liefde vir ons aan ons te openbaar, dat ons ook self gevul word met sy liefde. Dan kan ons ook vir Hom en vir mekaar opreg liefhê.

Respons:  Sing – Waar daar liefde is en deernis, daar is God die Heer.

Prediking:

Om in die kerk groot te word, het baie voordele, maar daar is ook nadele aan verbonde. Een van die groot nadele is dat mens so gewoond raak aan alles, so gewoond aan die manier waarop daar oor God gepraat word, so gewoond aan ons manier van dink oor God, praat met God en luister na God, dat ons nie regtig oop is daarvoor dat God werklik deel word van ons totale lewe nie.

Want sien, my ervaring daarvan is dat meeste van ons aan God `n sekere plek toeken, `n plek en tyd waar Hy met ons kan praat en waar ons na Hom wil luister. Maar dan is daar ook baie plekke en tye, miskien meer as eersgenoemde, waar God glad nie `n rol speel nie. Daarom is dit maklik om van God iemand te maak aan wie ons net aandag gee wanneer dit ons pas, inroep wanneer dit ons pas. Dit kan maklik gebeur met mense wat in die kerk opgroei, dat hulle nie werklik besef wie God is en wat dit beteken dat Hy Here van ons totale lewe word wat altyd en oral by ons betrokke is nie.

Ek glo dit is wat Paulus ook in gedagte gehad het met sy gebed vir die Kolosense. Lees Kol 1:9-14.

Luister mooi waarvoor bid hy: dat julle deur al die wysheid en die insig wat die Gees gee…
Dit is verskriklik belangrike woorde – want sien die Gees van God kom maak woning in ons as sy kinders, Hy word deel van ons totale lewe. En as sodanig, is Hy voortdurend besig, van jaar tot jaar, van maand tot maand, van week tot week, van dag tot dag, van oomblik tot oomblik om met ons te praat; om vir ons wysheid en insig te gee. Dit is sy werk, dit is hoekom Hy in ons kom woon het. Hy is nooit passief nie, nooit ledig nie, los ons nooit alleeen nie, hou nooit op om met ons te praat nie. Daar is nooit `n oomblik waarin Hy nie probeer om ons aandag te kry om ons te vul met Goddelike wysheid en insig nie.

Jy sê: “maar dis nie waar nie – ek ervaar dan niks daarvan nie.” Dan is dit juis omdat jy té gewoond geraak het aan God, en daarom aan Hom `n sekere plek en rol toegeken het, soos wat jy Hom verstaan. En met die plek en rol wat jy aan Hom toegeken het, is daar by jouself geen openheid om na Hom te luister nie, word daar nie aktief opgelet waarmee Hy besig is nie, word daar nie werklik aandag gegee aan dit wat Hy sê of doen hier binne jou van oomblik tot oomblik nie. Moontlik nie omdat jy nie wil luister nie, maar net omdat jy nie verwag dat Hy met jou praat nie, omdat dit nie inpas in jou verwysingsraamwerk nie.

Kom ek deel `n voorbeeld.
`n Paar jaar terug was ek met `n groepie studente in Zambië vir `n uitreik. Net nadat ons daar aangekom het, deel die Zambiërs ons mee dat hulle die naweek een of ander feesgeleentheid in `n groot sokker stadion het. Almal van hulle moet daar wees en ons word ook genooi om te deel in die feesgeleentheid.
Ons het dus die volgende oggend vroeg van die Jeugsentrum af (waar ons tuisgegaan het) begin stap na die stadion toe, wat so ongeveer 6 km van die Jeugsentrum af is. Dit was `n winderige dag, grondstrate (of eerder stofstrate). Almal het windverwaai en vol stof by die stadion aangekom. Al die verrigtinge was in die Zambiërs se moedertaal, so die studente het niks verstaan van wat gesê word nie. Die middag laat het ons weer teruggestap na die Jeugsentrum. Teen daardie tyd het ek agtergekom die meeste van die studente is maar redelik geïrriteerd. Hulle kon nie enige sin in die bywoning van die geleentheid sien nie en die stap deur die “township” met die wind wat die stof aanmekaar in ons oë waai was dit nie `n aangename ervaring nie.

Daardie aand het ons as span saam stilgeraak (soos ons gewoonte is tydens sulke uitreike). Ek vra toe vir hulle om terug te dink aan die dag, aan alles wat gebeur het en dan vir hulleself die vraag af te vra: “Wat wou God vandag vir my leer of wys deur dit wat ek ervaar het?”. Na `n paar minute se nadenke, het ons met mekaar gedeel. Dit was regtig verassend om te hoor wat toé alles uitgekom het. Skielik het hulle bewus geword van sake wat hulle vroeër glad nie aan gedink het nie. `n Dag wat aanvanklik as baie negatief beleef is, het skielik `n dag van baie dieper betekenis en lering geword. Almal se gemoedstemming oor die dag het ook verander. Wat was die verskil? “Aandag.” Die feit dat hulle tyd geneem het om aandag te gee aan dit waarmee God in hulle lewens besig is. Die feit dat hulle `n paar oomblikke geneem het om na die wysheid en die insig te luister wat die Gees gee.

Weet jy wat? Jy kan dit elke dag ervaar. Jy kan elke dag op die wyse leer van God die Heilige Gees. Al wat nodig is, is om te leer om te luister, om aandag te gee, om te weet dat Hy in jou woon en met jou praat. Die enigste ding wat dit verhinder is waarskynlik dat jou aandag vasgevang word deur ander goed; goeters wat in jou verstaan van die werklikheid waarin jy leef waarskynlik belangriker is. Dinge wat in jou gemoed dringend is. Dinge wat nie kan wag tot later nie. Hierdie dinge put jou gewoonlik uit en veroorsaak allerhande worstelinge, moegheid, vrae, bekommernis, vrese, ens. Intussen is die Gees in jou wagtend om vir jou lig te gee, leiding te gee, wysheid en insig te gee; wagtend dat jy net na Hom sal draai en sal luister, sal aandag gee. Maar ongelukkig is jy té besig of té moeg. Kan jy sien hoé dom dit is?

Hoekom is dit só belangrik? Paulus sê:  “sodat julle tot volle kennis kan kom van wat sy wil is.” Kan daar enigiets wees in die lewe van God se kinders wat belangriker is as dit? Ek bedoel as jou gestoei om `n bestaan te maak, om geld te maak, om jou geld goed te belê, om planne te maak vir jou toekoms, of wat ook al gedoen word, gedoen word sonder die sekerheid dat dit wat jy doen in God se wil is – watter betekenis het dit dan? Dit gaan tog vir ons as kinders van die Here daaroor dat ons die kuns wil aanleer om vir Jesus Christus in alles na te volg, dat ons in sy wil wil lewe. Dat ons graag sal wil sê:  “Alles wat ek doen, doen ek omdat ek oortuig is dat dit die wil van God vir my lewe is. Dit is die rigting wat die Gees nou vir my aandui; dit is soos ek dit verstaan volgens die wysheid en die insig wat die Gees gee.”

Indien ons so `n manier van lewe kan aanleer, dan glo ek dat dit sal lei tot die lewe waarvan Paulus in vers 10 praat: “dat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang; dat ons vrugte sal dra deur goeie werke en dat ons sal toeneem in ons kennis van God.” Dit is eintlik logies dat so `n manier van lewe sal meebring dat ons kennis en ervaring van God dramaties sal toeneem. Ons sal soveel meer bewus word van God in ons alledaagse lewe, soveel meer leer van wat Hy doen, van wat op sy hart is, van wat Hy vir ons wil leer, van hoe Hy oor ons voel. Wanneer dit gebeur, het dit weer tot gevolg dat mens se liefde vir God toeneem.

Dan sal ons ook begin ervaar wat in vers 11 staan, dat God ons sal versterk om in alle omstandighede met geduld te volhard. Dan is omstandighede nie meer `n vyand wat buite ons beheer is en wat ons so maklik onderkry nie. Dan word omstandighede iets waarin God altyd teenwoordig is met sy wysheid en insig, met sy vertroosting en bemoediging, met sy krag en liefde wat ons dra.

Die geestelike dissipline wat ons help om so `n lewe aan te leer, word genoem die daaglikse ondersoek (daily examen).
WAARVANDAAN KOM DIT?
St Ignatius, stigter van die Jesuit Society (of Society of Jesus).Gebore 1491 in noorde van Spanje. As jong man, hou van wyn, vroue, verslaaf aan dobbel. Op 30 gewond in `n geveg. Terwyl herstel lees stories van Christus se lewe. Was aangetrek na Jesus deur die effek wat Jesus op sy volgelinge gehad het. Terselftertyd ook aangetrokke gevoel tot `n vrou, roem en glorie. Kom agter dat sy dagdrome oor die vrou, tot rusteloosheid lei, terwyl sy nadenke oor Jesus vrede gebring het. Was begin van sy bekering, ook van sy lering oor geestelike onderskeiding deur middel van `n ondersoek van emosies, gevoelens en denke.

Hy het geleer dat die werk van die HG nie net aan die intellek openbaar word nie. God word in alles gevind, ook in ons gevoelens en emosies. Kom agter deur aandag aan dit alles te gee, word meer en meer bewus van wat God hom roep om te wees. Later het daarop aangedring dat almal wat aan die Jesuiete orde behoort, elke dag hierdie ondersoek moet doen. Ook aanbeveel vir enigeen wat ernstig is daaroor om `n geestelike lewe te lei. Dit is `n baie sekere manier waarop ons bewus kan word van God se leiding in ons lewe.

Watter voordele hou dit vir ons in?
Dit leer jou om jou aandag te fokus op waarmee God besig is.
Dit werk – mense pas dit al eeue toe en die wat dit doen se lewens word daardeur verander.
Dit leer jou hoe God ook deur jou emosies, gevoelens en gedagtes werk.
Dit sal jou baie meer bewus maak van dit wat God besig is om in jou lewe te doen.
Dit help jou om te ontdek wat dit is waarvoor God jou geroep het, wat sy wil vir jou lewe is.
y sal die krag van God sien werk in en rondom jou as jy dit getrou doen.

HOE WORD GEDOEN?
Geskikte tyd – Deel van daaglikse roetine, soos tandeborsel. Elke dag dieselfde tyd.

Word rustig, raak bewus van God se teenwoordigheid in jou. Vra God om jou te wys wat Hy besig is/was om jou te leer deur die gebeure van die dag.
Dink terug aan die dag, vandat jy opgestaan het. Laat dit voor jou afspeel soos `n video wat jy kyk.
Ø Dink aan alles wat gebeur het en hoe dit jou laat voel het.
Ø Let op die oomblikke in die dag wat jou nader aan God getrek het. Jy kan dit ontdek deur te let op die ervarings wat jou meer vrygewig, meer hoopvol, meer lewendig en kreatief, tye wat jy vrede ervaar het, opgewonde of tevrede. Soms kan pynlike ervarings jou ook nader aan God laat voel. Ignatius noem dit: “moments of consolation.”  Wat wil God vir my daaruit leer?
Ø Gebruik `n paar minute om vir God dankie te sê hiervoor, bêre die ervarings in jou hart sodat jy bewus kan bly van God se betrokkenheid in jou lewe.
Ø Dink nou aan tye deur die dag waar jy vervreemd van God, ander of jouself gevoel het. Tye wanneer jy gefrustreerd, ongemaklik, angstig of vasgevang gevoel het. Tye waar jy minder openhartig en minder oop vir God gevoel het. Ignatius noem dit: “moments of desolation.” Wat wil God vir my daaruit leer?
Ø Gebruik `n paar minute om daardie tye na God te bring. Vra dan vir die genesing, krag en vergifnis wat jy nodig het.
Ø Dink dan aan die dag wat voorlê en die genade wat jy daarvoor nodig het. Bring dit na God toe en vra vir sy leiding in dit.

Deur dit te doen, erken ons eenvoudig dat God die Here van ons lewe is, dat Hy lewend en aktief betrokke by ons is, dat Hy in ons woon en besig is om deur sy Gees vir ons wysheid en insig te gee. Sodoende word alles wat in en rondom my gebeur deel van God se gesprek met my. Dit kan ook nie anders nie, want God is totaal en al deel daarvan – dit is nou as jy werklik glo wat die Bybel van Hom sê en nie net `n godsdienstige lewe leef volgens tradisie nie. As jy dit wat jy op die manier leer, elke dag dan ook in `n joernaal aanteken, en dan weer op `n maandelikse basis gaan kyk wat God die afgelope maand vir jou geleer het, sal jy oor `n paar maande verbaas staan om te sien hoé aktief God besig is om in en rondom jou te werk.

Dit beteken dat ek erken dat God ook met my praat deur dit wat in my liggaam gebeur. Ek word al meer bewus van liggaamlike reaksies soos hoofpyne, migraine, maagpyn, gespanne skouer- en nekspiere, neerslagtigheid en skuldgevoelens. Die maklikste manier om daarvan “ontslae te raak”, en wat deur die samelewing rondom ons voorgeskryf word, is natuurlik medikasie. Drink `n pilletjie en voel beter, of eet `n sjokolade, of koop `n tydskrif, of gaan fliek. Alles maklike ontsnaproetes wat ons aanleer wanneer ons die dinge ervaar.

Dit sou baie meer van waarde wees as ons kan leer om ook hieroor by God stil te raak en vir Hom te vra: “Here waar kom hierdie kopseer vandaan?, Wat is die oorsaak daarvan?” Moenie dink dat dit net `n belaglike oefening is nie. Hy is `n lewende God en kan aan ons insig gee – dit is wat die werk van die Gees is, om vir ons wysheid en insig te gee. Ek het dit al so baie voor my oë sien gebeur, dat iemand na my toe kom met een of ander probleem en sê: ek weet glad nie waarvandaan dit kom nie. Dan sê ek, kom ons vra dat die Here dit vir jou sal wys. Dan bid ons en vra daarvoor, bly stil en wag op Hom. Na `n paar oomblikke dan sê die persoon: “Ek dink ek weet nou waarvandaan dit kom.” Dan het die Gees insig gegee deur iets na vore te bring, `n gedagte, `n herinnering.

Die manier waarop ons leer om so in afhanklikheid van die Gees te lewe, is deur dit in te oefen. Deur dit te doen, kan jy moontlik agterkom waarom jou liggaam op sekere maniere reageer in sekere omstandighede. Die Gees bring sekere ervarings terug in jou geheue, soms is dit nodig dat daar genesing moet plaasvind, dat jy verlos moet word van sekere vrese of angstigheid. Wanneer dit gebeur, dan reageer jou liggaam nie meer soos altyd nie.

Ek bid regtig dat jy sal hoor en verstaan watter tipe lewe vir ons as kinders van God moontlik is; sal insien watter moontlikhede van groei dit inhou; watter moontlikhede dit inhou om God beter te leer ken, om nader aan Hom te kom, om te groei in die verstaan en doen van sy wil. Dit is die lewe wat God vir sy kinders bedoel het, dat Hy werklik `n verskil in ons lewens sal maak, `n rol sal speel ons Herder sal word, ons Raadsman, ons Geneesheer en Verlosser, ons Vader, ons God!  Verlang u daarna?  Begin dan om op die manier te leef.