Skip to main content

Johannes 9 Preek

Vandag se Skriflesing vertel so storie van sig en blindheid.

Een van die beelde wat Jesus gebruik om te sê wie hy is en wat hy doen in gelowiges se lewens, is die beeld van lig.  Kort voor die gebeure in vanoggend se Skriflesing, in Joh. 8:12, sê Jesus: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Jesus is die openbaarder deur wie God se plan en doel met menslike lewe openbaar word.  En hoe ons reageer op daardie lig, is bepalend:  Lig kan jou pad verlig, of as jy hardkoppig na die lig bly staar sonder om die mag daarvan te erken, kan dit jou verblind.

Refleksie vooraf:

Waar het ek die afgelope week die hand van God gesien?

Verwelkoming en afk.

Toetrede

Vonkk 218 Open my oë koor v1, gemeente v 1-3 (sit)

Vonkk 275 Ons gee ons hande koor v1, gemeente v 1, 2, 5 & 6 (sit)

Votum

elizabeth meen dat elia by krit

dikwels met sy gesig tussen sy bene gesit

en wag gewonder het of dit wat hy manhaftig

geprofeteer het sou gebeur

here moet ek van die voëls wat u onrein verklaar

kos kry die water wat vrot

die laaste holtes ingeplof het, drink

laat my sién wat ek gesê het

die reën ruik

die gras sien spruit

u doen tog niks voor u profete weet

maar die dae kom nie meer in díe vallei

en die water is ‘n skeppie dooie gras en klei;

maar sê sy,

toe hy eers weer aanskuif tot teen God sê sy

het hy gehoor en wéét…

bly dus, gee elizabeth weer raad,

‘n rukkie langer in jou vereenkanting

en wag totdat jy hóór

om dan soos elia sonder groot lawaai

met God se vuur die water van die altaar op te lek,

die weduwee van sidon

of brits of waar ook al

se seun terug uit die dode in die lewe in te lei,

of dít my liewe mens wat jy begeer:

soos ‘n gaselle die hoogtes af

die wind te sny

(“die profeet” deur Rosa Smit)

Seëngroet

Lofsang

Lied 190 v1&3 Grote God, aan U die eer (staan)

Psalm 146 v1, 3 & 4 Prys die Here, loof en prys hom (staan)

Gebed vir reën

Gebed

Koor Lied 465 v1-2 Net God kan help in hierdie droogtetyd

Steek vier kerse vir lydenstyd aan

Epiklese

Gebed

Geneser Christus, u het die heilige geskrifte gelees oor herstel van gesig vir blindes en bevryding vir gevangenes.  Kom ook nou na ons toe en lees hierdie woorde vir ons, tot ons eie oë oopgaan, ons geloof bevry word, totdat ons die wêreld kan sien soos wat dit en soos wat dit kan wees, totdat u koninkryk oral gevier word en totdat u kerk goeie nuus is vir die wêreld.

Flam 87 (2x) Maak my nou stil, Heer (sit)

Skriflesing en Preek

At First Sight

At First Sight is ’n ou fliek met Val Kilmer en Mira Sorvino.  Dis gebaseer op die essay “To see or not to see” in ’n boek van die neuroloog Oliver Sacks, gebaseer op die ware verhaal van Virgil.  Sacks vertel van Virgil, blind van sy kinderdae af, wat op 50 ’n operasie ondergaan en sy sig terugkry.  Behalwe, soos hy en Dr. Sacks uitvind, fisieke vermoë van sig is nie dieselfde as om te sien nie.  Virgil se eerste ervarings met sig is verwarrend – hy kan kleure en bewegings uitmaak, maar kannie ’n verstaanbare prentjie vorm van wat hy sien nie.  Sy brein kan nie vir hom sê wat hy sien nie.  Oor tyd leer hy onderskei tussen verskillende objekte, maar sy gewoontes en gedrag bly dié van ’n blinde.  Sacks sê dan:  ’n Mens moet doodgaan as ’n blinde mens en weer gebore word as ’n siende mens.  Om te kan sien is deels die fisieke vermoë om beelde waar te neem en deels die vermoë, in die brein self, om sin te maak van wat jy sien.

Vandag se Skriflesing vertel so ’n  storie van sig en blindheid.

Een van die beelde wat Jesus gebruik om te sê wie hy is en wat hy doen in gelowiges se lewens, is die beeld van lig.  Kort voor die gebeure in vanoggend se Skriflesing, in Joh. 8:12, sê Jesus: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Jesus is die openbaarder deur wie God se plan en doel met menslike lewe openbaar word.  En hoe ons reageer op daardie lig, is bepalend:  Lig kan jou pad verlig, of as jy hardkoppig na die lig bly staar sonder om die mag daarvan te erken, kan dit jou verblind.

Vroeg in vanoggend skrifgedeelte sê Jesus wéér:  5Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.”

Wie se sonde?

Johannes 9:1 Terwyl Jesus wegstap, sien Hy ’n man wat van sy geboorte af blind was. 2Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?”

Ons hou natuurlik nie van die vraag nie.  Ons is ongemaklik met die aanname van die dissipels dat daar ‘n verband is tussen tragedie en sonde.  Tog is hierdie idee in ons dag steeds teenwoordig.  Dikwels vra vir onsself, wanneer ongeluk ons tref:  “Wat het ek gedoen om dit te verdien?”  Of dink aan die manier waarop ons oor die droogte praat:  God straf ons.  Ons moet ons net voor God verootmoedig, net ons sonde bely, dan sal dit weer reën.  Onderliggend ook die vraag:  wie se sonde?  Want ek het nog nooit gehoor dat mense bedoel hul eie sonde het die droogte veroorsaak nie!

Wie se sonde het hierdie teenspoed veroorsaak?

3En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word. 4So lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het; die nag kom, wanneer niemand kan werk nie. 5Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.”

Die vraag oor wie se sonde die ongeluk veroorsaak, bly onbeantwoord.

Dalk kom die dissipels se vraag uit die baie menslike behoefte om ons eie veilige bestaan te verseker.  As ongeluk ’n oorsaak het wat ons kan vermy (soos sonde), dan kan ons ontspan.

Maar in die proses maak hulle van ’n mens ’n ding, ’n objek van teologiese spekulasie – nie ’n mens met nood en pyn nie, maar ’n morele objek lessie.    Nou spring hulle hul verantwoordelikheid om na hul medemens om te sien, vry.

En Jesus weier om deel te neem aan hul speletjie.  Jesus is nie op aarde om teologiese debatte te voer nie, maar om siekes te genees – vrylating van gevangenes en herstel van gesig vir blindes.

6Nadat Hy dit gesê het, spoeg Hy op die grond en maak met die spoeg ’n bietjie klei aan. Toe smeer Hy die klei aan die man se oë

Jesus se missie is dringend.  Die genesing ontvou vinnig.  Die blinde man was waarskynlik bekend met spoeg in sy gesig, maar daar is ’n interessante dimensie aan wat Jesus hier doen:  dit herinner aan God se skepping van die mensdom uit die stof van die aarde.  Wat aan hierdie hele verhaal ’n gevoel van her-skepping verleen.

7en sê vir hom: “Gaan was jou in die Siloambad.” Siloam beteken die een wat gestuur is.

Hy het gegaan en hom gewas, en toe hy terugkom, kon hy sien.

Siloam beteken “een wat gestuur is”.  Jesus beskryf homself in die Evangelie van Johannes telkens as gestuurde van God (9:4, 7:28-29, 10:36, 12:46).  Dit beteken dat ons die Siloambad met Jesus moet identifiseer.  Deur in die bad te was, word die man gedompel in die lewe van Jesus.  Dis nie die bad en die water wat die man genees nie, maar sy kontak met die Gestuurde.

Let ook op dat ons glad nie die blinde man se stem hoor nie.  Hy vra nie om genesing nie.  Sy genesing is volledig Jesus se inisiatief, onvoorwaardelik – suiwere genade.  Wanneer genesing gebied word, reageer die man met gehoorsaamheid – hy doen wat Jesus sê.

Reis na ware sig

8Sy bure en die ander mense wat hom voorheen as bedelaar geken het, sê toe: “Maar is dit dan nie die man wat gesit en bedel het nie?”

9Party van hulle het gesê: “Dit is hy!”

Maar party het gesê: “Nee, hy lyk maar net soos daardie man.”

’n Mens sou verwag dat die bure sal reageer met verwondering, vreugde en lofsange.  Maar hulle reageer met verwarring, konsternasie en kontroversie.

Hier leer ons vir die eerste keer dat die man se blindheid gelei het tot behoeftigheid – hy was nie net blind nie, hy was ook arm.  En soos wat dikwels met bedelaars gebeur, was hy onsigbaar.  Sy bure het hom sy lewe lank gesien, maar ook nie gesien nie.  Nou kan hulle hom nie eers herken nie – is dit hy?  Of is dit nie hy nie?

Selfs nou is hy eintlik onsigbaar.  Hulle praat nie mét hom nie – hulle praat met mekaar, oor hom.  Hy het dan nooit ’n stem in die samelewing gehad nie, hoekom sal hy dit nou skielik hê?

En dan, vir die eerste keer, hoor ons die voorheen blinde man se stem.

“Dit is ek!” het hy self gesê.

Of, letterlik vertaal:  “Ek is.”

Hierdie is die enigste plek in die Johannes Evangelie waar  woorde “ek is” (Grieks “ego eimi”)  iemand anders as Jesus beskryf.  Jesus gebruik dikwels hierdie woorde om sy eie godheid en die aard van sy roeping te beskryf – daar is baie boeke al geskryf oor Jesus se “ek is” uitsprake in Johannes.  Maar hier sê voorheen blinde man:  “ek is”.  Want na sy genesing, word hy ’n verteenwoordiger van Jesus, omdat sy lewe gedompel – gedoop – is in die lewe van Christus.

Wanneer hy vertel hóé hy genees is, gebruik hy letterlik die woord vir “gesalf” [Afr.:  “gesmeer].  In sy ontmoeting met Jesus is hy gesalf, gekies en gestuur.

10Hulle vra toe vir hom: “Maar hoe het jou oë dan reg gekom?”

11En hy antwoord: “Die man met die naam Jesus het ’n bietjie klei aangemaak en dit aan my oë gesmeer en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam toe en was jou.’ Ek het gegaan en my gewas, en ek kon sien!” 12“Waar is hy nou?” vra hulle hom toe.

“Ek weet nie,” was sy antwoord.

Jesus se afwesigheid is uitsonderlik in die Johannes Evangelie.  Hy bly steeds die fokus van die verhaal, maar vir 27 verse is hy van die verhoog af.

13Daarna het die mense die man wat eers blind was, na die Fariseërs toe gebring. 14Dit was op ’n sabbatdag dat Jesus die klei aangemaak en die man se oë genees het. 15Die Fariseërs het hom ook weer gevra hoe dit gekom het dat hy kan sien. Hy het hulle geantwoord: “Hy het klei op my oë gesit en ek het my gewas, en nou sien ek.”

16Party van die Fariseërs sê toe: “Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die sabbatdag nie.”

Maar van die ander het gesê: “Hoe kan iemand wat ’n sondaar is, sulke wondertekens doen?”

En daar was verdeeldheid onder hulle.

Hier kom nog ‘n brokkie inligting by:  Jesus het die man op die Sabbat genees.  Wat toelaatbaar was in noodgevalle, maar hierdie is beslis nie ’n noodgeval nie.  Plus, deur klei te “knie”,  doen Jesus een van die 39 kategorieë van werk wat verbode was op die Sabbat.

17Hulle sê toe weer vir die man wat blind was: “Wat sê jý van hom? Hy het mos jou oë genees.”

“Hy is ’n profeet,” het hy geantwoord.

18Die Jode het nie geglo dat die man blind was en nou kon sien nie, totdat hulle sy ouers geroep 19en vir hulle gevra het: “Is dit julle seun van wie julle beweer dat hy blind gebore is? Hoe sien hy dan nou?”

Netnou het hulle nog geglo hier het ’n wonderwerk gebeur, maar nou – noudat die man sê Jesus is ’n profeet – nou word die hele besigheid sommer in twyfel getrek.

20“Ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is,” het sy ouers geantwoord. 21“Maar hoe hy nou sien, weet ons nie. En wie sy oë genees het, weet ons ook nie. Vra hom self. Hy is oud genoeg; hy kan vir homself praat.”

22Sy ouers het dit gesê omdat hulle bang was vir die Jode; want die Jode het toe al klaar met mekaar afgespreek dat iemand wat openlik verklaar dat Jesus die Christus is, uit die sinagoge geban sal word. 23Daarom het sy ouers gesê: “Hy is oud genoeg; vra hom self.”

Dis ’n tragiese stukkie van  verhaal wat ons dikwels miskyk.  Sy ouers weet duidelik meer as wat hulle te kenne gee. En niemand het vir hulle gevra oor Jesus se identiteit nie!  Maar vrees (kom ons noem dit “morele lafhartigheid”) maak dat hulle die aandag van hulleself probeer skuif, terug na hul seun.

24Die Jode het toe die tweede keer die man wat blind was, geroep en vir hom gesê: “Praat die waarheid voor God; ons weet mos hierdie man is ’n sondaar.”

25Daarop het hy gesê: “Of hy ’n sondaar is, dit weet ek nie. Een ding weet ek wel: ek was blind, en nou sien ek.”

26Hulle sê toe vir hom: “Wat het hy met jou gemaak? Hoe het hy jou oë genees?”

27“Ek het julle mos al vertel, en julle het nie geluister nie,” antwoord hy. “Hoekom wil julle dit weer hoor? Julle wil tog nie ook dissipels van hom word nie?”

28Toe skel hulle hom uit en sê: “Jý is ’n dissipel van hom. Óns is dissipels van Moses. 29Ons weet dat God met Moses gepraat het; maar hierdie man—ons weet nie waar hy vandaan kom nie.”

Hier het ons ’n meesterlike uitbeelding van toenemende insig en verhardende blindheid.  Die man eien finaal sy eie stem en insig, terwyl die godsdienstige leiers uiteindelik hul ware kleure wys.

“ons weet mos hierdie man is ’n sondaar”

En daar spring ’n rooi vlag op.  Want elke keer wat iemand in Johannes die woorde “ons weet” gebruik, is dit ’n teken van geestelike gevaar.  Onthou, dit was Nikodemus (3:2) wat die eerste keer hierdie woorde gebruik het.  Die godsdienstige leiers dring aanmekaar selfversekerd aan op wat hulle “weet”.  Teenoor die blinde man wat nie weet nie, maar ook nie sy eie ervaring gaan ontken nie.  En in die proses neem sy “teologiese” insig en vaardigheid toe.

30“Dis darem snaaks,” sê hy daarop vir hulle. “Julle weet nie waar hy vandaan kom nie, en tog het hy my oë genees. 31Ons weet dat God nie na sondaars luister nie; maar as iemand vir Hom ontsag het en doen wat Hy wil hê, luister God na hom. 32Van ewigheid af is daar nog nooit gehoor dat iemand die oë van een wat blind gebore is, genees het nie. 33As hierdie man nie van God was nie, sou hy niks kon doen nie.”

34Hulle sê toe vir hom: “Jy is van jou geboorte af die ene sonde, en wil jy ons staan en leer?”

En hulle het hom uitgeban.

En die verhaal maak ’n vol sirkel, eindig waar dit begin het: by blaam, by sonde.  En die man word weer as sondaar gebrandmerk en is weer aan die buitekant van die godsdienstige samelewing.

En hier betree Jesus weer die narratief:

35Jesus het gehoor dat die Jode die man uitgeban het; en toe Hy hom kry, vra Hy vir hom: “Glo jy in die Seun van die mens?”

36Hy het geantwoord: “Wie is dit, Meneer, sodat ek in Hom kan glo?”

37Jesus het vir hom gesê: “Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.”

38Die man sê toe: “Ek glo, Here!”

En hy het Hom aanbid.

So eindig die lang reis van blindheid na sig.  Ironies genoeg doen die man hier presies wat die godsdienstige leiers gesê het hy moet doen:  hy gee aan God die eer [N.A.V.].

39Toe sê Jesus: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom met die oog op ’n beslissing, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, kan blind word.”

40Party Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: “Ons is mos nie blind nie!”

41Jesus antwoord hulle: “As julle blind was, sou julle nie skuldig gewees het nie; maar nou sê julle: ‘Ons sien.’ Daarom bly julle skuldig.”

En hier, uiteindelik, word die vraag van die begin – “wie het gesondig?” – beantwoord.  Sonde, hier, het niks te doen met blindheid of met die oortreding van die wet (9:16, 24, 29) nie.  Sonde is om Jesus te weerstaan, Jesus te ontken.   Lig kan sig én blindheid bring.  Wanneer ons na die lig kyk, maar weier om die krag van die lig te erken, verloor ons die vermoë om te sien.    Sonde, in die Johannes Evangelie,  het alles te doen met geloof.  In Johannes vind ons die mees radikale voorbeeld van die reformasie se “sola gratia” – genade alleen, “sola fide”- geloof alleen.

Om beter te sien

Hierdie verhaal nooi ons elkeen om vir ’n oogtoets te gaan – om na te dink oor ons eie sig.  Ons is almal blind gebore.  As ons kan sien, is dit omdat ons vir Jesus ontmoet het en omdat die Lig vir die wêreld ons oë oopgemaak het.  Omdat hy vir ons die betekenis en doel van die lewe gewys het.  Omdat hy die manier verander het waarop ons na onsself en na die wêreld om ons kyk.

Dan is die rol wat die voorheen blinde man se eie ervaring speel, insiggewend.  Ander probeer dit vir hom interpreteer en dit in die regte boksies plaas – maar sy eie ervaring, sy ontmoeting met Jesus, word die lens waardeur hy vir Jesus verstaan.

Sy insig groei deur stryd en worsteling.  Hy kan uiteindelik sy geloof verwoord, na ’n lang proses van konfrontasie met die Fariseërs. Die teenstand en stryd en pyn het nie sy geloof gebreek nie, maar versterk.

Dis die moeite werd om vir ’n tydjie by hierdie punt stil te staan.  Want die meeste van ons wil pyn en worsteling vermy.  Tog is dit moontlik dat moeilike omstandighede ook ons insig en geloof kan verdiep, dat die worsteling juis ons oë verhelder.

Frances Taylor Gench sê:  Dit is dikwels juis in worsteling, konfrontasie en konflik wat ons geloof en insig groei.  Wanneer ons ons eie ervaring en teologiese refleksie daaroor in gesprek bring – hoe moeilik ook al – met die ervaring en refleksie van ander en dan vind dat ons eie konklusies uitgedaag, gekorrigeer, her-verwoord, verskerp en verfyn word.  Die blinde man se sig het aanhou verbeter soos wat hy sy beproewings getrotseer het.  En so kan dit, deur God se genade, ook vir ons wees.

Gebed

Dankoffer

Koor:  Ave Verum

Slotsang

Lied 280 Here, Redder (staan)

Seën

Die Here verlig jou verstand en jou interpretasie.

Die Here verlig jou oë en die manier waarop jy kyk.

Die Here verlig jou mond en jou woorde.

Die Here verlig jou hart en hoe jy liefhet.

Die Here sal met jou wees waar jy nou hiervandaan vertrek.

Respons

Vonkk 275 v2

blinde man, Johannes 9, Siloam

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.