Skip to main content

Tag: Johannes 18

Liefde maak ons anders – Johannes 18:28-40 Preek

Dwarsdeur die 1990’s het mense week na week vasgenael gesit voor hulle TV’s terwyl FBI agente Mulder en Scully die waarheid soek in die reeks “The X Files”.  Mulder en Scully het “bonatuurlike” verskynsels ondersoek.  Scully was skepties.  Sy het gesukkel om te glo dat alles in die wêreld nie ’n logiese, wetenskaplike verklaring het nie.

Mulder, aan die ander kant, was die teenoorgestelde.  Agter sy lessenaar het ’n plakkaat van ’n vlieënde piering gehang met die woorde:  “I want to believe”.  Hy wou elke moontlikheid ondersoek, wou hê dat daar ’n bonatuurlike realiteit is.

Die X-Files het dit wat ons weet en dit wat ons wíl weet voorgehou met die twee sinne:  “The truth is out there” en “I want to believe”.

Vandag het ons baie van ons naïwiteit van die 90’s verloor.  Maar die vraag na waarheid en geloof – en kleingeloof en goedgelowigheid – bly net so relevant.  Ons leef in die era van “fake news” en google en wiki’s, waar enige iemand enige inligting op die internet kan laai en die “waarheid” kan noem.  Ons almal het al iewers geval vir ’n slenter, “share” gedruk op ’n storie wat nie die waarheid was nie (al weet jy dit nie).

Ons is oorlaai met inligting.  En die vraag raak al hoe dringender:  wat is waar?

Soos ’n mens sou verwag, het Mulder en Scully nooit “die waarheid” gevind nie.  Die antwoorde was altyd vaag, altyd oop vir interpretasie.  Die waarheid bly “out there”.

Dan wieg ons vandag heen en weer tussen goedgelowig en kleingeloof.  Baie van ons voel soos Mulder:  “I want to believe”.  Maar die waarheid bly ons ontwyk, bly onbevredigend.  En ons bly op ’n ewige soeke na waarheid.

Continue reading

Huisgeloof 9-15 Maart

Laat Jesus Deur Jou Praat

OMGEE-GESPREKKE

Partykeer moet ons vir mense goed sê wat moeilik is – soos wanneer ons ouers met ons raas. Vertel vir mekaar hoe dit vir jou voel wanneer iemand so iets vir jou sê.

BYBELLEES

Lees Johannes 18:1-11

• Terwyl iemand die verhaal lees, probeer dit in jou gedagtes sien gebeur. Laat elkeen hulleself in die verskillende karakters probeer inleef: Judas, die wagte, Jesus, Petrus, die slaaf. Nadat julle gelees het, laat elkeen vertel hoe hulle dink hulle karakter gevoel het soos die verhaal afspeel.
• Jesus weet presies wat aangaan en hy probeer nie maak asof dinge anders is as wat dit is nie. Hy praat die waarheid sonder om lelik te wees. Oor watter goed moet ons die waarheid praat, al is dit moeilik? Is daar goed waaroor ’n mens maar eerder (dalk t.w.v. ander se gevoelens) nie die waarheid moet praat nie?
• Hoe kan ons moeilike goed vir mense sê op ’n manier wat hulle nie seermaak nie? Probeer aan spesifieke voorbeelde dink.

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Ons is ’n Gereformeerde Kerk. Herinner mekaar wat dit beteken deur te vertel wat julle glo. Sê saam die Geloofsbelydenis op.

GESEËN OM TE SEËN

• Dink na oor die manier waarop jy moeilike goed vir mense sê. Hoe kan jy dit doen sodat ander mense daardeur beleef dat jy hulle lief het?
• Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam daarvoor. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge en vir die sendeling wat julle gesin ondersteun.