Skip to main content

Reisgenote in geloofsvorming – derde kwartaal 2016

ReisgenoteOns vertrek hierdie kwartaal op ‘n verdere deel van ons geloofsvormende reis as gemeente. Ek noem die reis die Reisgenote in geloofsvorming.

Alle gelowiges is reeds besig om in hulle geloof gevorm te word.  Deur die kerk, deur ander gelowiges, deur die Bybel, deur die Here self.  As gelowiges het ons ook al baie geleer in ons eie prosesse.

Dié geestelike reis van geloofsvorming hou egter nooit op nie.  Ons is altyd op pad om nog meer van die Here en sy pad met ons te leer. Dit is ook belangrik dat ons nie net op ons eie geloofsvorming konsentreer nie.  Ons moet ook nuwe reisgenote op ons pad uitnooi en hulle help om só die wonder van God as Reisgenoot te ontdek.

Waarmee ek jou nou dié kwartaal wil help, is om jouself te verdiep in een van drie basiese geloofsgewoontes.  Dit is dinge waarmee jy nie noodwendig onbekend is nie, maar waarvan ‘n mens altyd meer kan leer.

Ek wil dit doen deur jou te help om ‘n geloofsgewoonte te kies wat oor ‘n tydperk van drie maande ingeoefen kan word.  Ek sal as mentor en afrigter optree.  En ons sal dit saam in ‘n geloofsgroep doen waarin ons mekaar kan ondersteun.  Die doel hiermee is om die geloofsgewoonte te bemeester en te integreer met jou lewe.

Aan die einde van die reis kan jy dan die proses verder neem deur óf ‘n volgende geloofsgewoonte te begin beoefen óf self ‘n mentor te word en nuwe reisgenote op dié pad uit te nooi en hulle te help om die wonder van God as Reisgenoot te ontdek.

Ons kom eers vir drie weke almal saam waarin ons blootgestel sal word aan die drie geloofsgewoontes en met ‘n joernaal sal begin.  Daarna sal ek groepe saamstel wat dié reis vir drie maande met mekaar sal onderneem.  Aan die einde sal ons bymekaar kom vir ‘n getuienis geleentheid waarin elkeen geleentheid sal hê om sy of haar eie verdere reis te beplan.

Ons begin die 26ste Julie om 19:00 in die konsistorie.

Skryf in by die kerkkantoor.  Dit is gratis.  Daar is ook ‘n webtuiste Reisgenote waar ek begeleiding sal verskaf.  Vul jou e-pos by die widget regs op daardie blad in om die bydraes te ontvang.

Chris van Wyk

Geloofsvorming, Reisgenote

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.