Matteus 28:16-20 – 9-15 Junie
Gee geleentheid dat elkeen iets deel wat gebeur het sedert julle laas by mekaar was.
RUS
Vertel vir mekaar hoe julle tot bekering gekom het. Was daar ’n spesifieke oomblik, of het jy geleidelik besef of het jy net nog altyd geweet? Wie was die mense wat in hierdie besef/bekering ’n belangrike rol gespeel het?
HOOR
Lees Matteus 28:16-20. Gesels oor wat julle in dié gedeelte tref.
1. In dié gedeelte, wat net in Matteus voorkom, bereik hierdie Evangelie ’n klimaks met die beklemtoning van Jesus se mag, die taak van die dissipels (kerk) en die universele en eskatologiese betekenis hiervan. Jesus ontmoet die elf oorblywende dissipels op die berg waarheen Hy hulle ontbied het. Almal van hulle word nou, soos die vroue, getuies van die feit dat Jesus uit die dood opgestaan het.
Jesus verklaar dan dat Hy alle mag in die hemel en op aarde ontvang het en gee hulle die Groot Opdrag wat drie komponente het:
• Gaan maak dissipels van al die nasies;
• Doop hulle in die Naam van die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees;
• Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
En Jesus voeg daaraan by dat Hy met sy dissipels sal wees tot aan die voleinding van die wêreld.
2. Opvallend min besonderhede van Jesus se verskyning word verstrek; dit lei wel dadelik tot aanbidding (vgl. 9; 2:2,8,11), hoewel party getwyfel het. In die verskyningsberigte is meermale sprake van twyfel en ongeloof (Luk. 24:22,23, 36,37; Joh. 20:24–25). Vergelyk vir die kombinasie van twyfel en aanbidding 14:31–33 waar Jesus ook as Seun van God bely word. Hoekom dink julle reageer mense so verskillend? Wat sou die rede vir die kombinasie van twyfel en aanbidding wees? Vertel vir mekaar hoe jou eie pad van twyfel en aanbidding loop.
3. Ons het voorheen baie van gemeentes as “sturend” gepraat. Daarmee het ons bedoel dat ’n gemeente ’n aantal sendelinge het wat hulle finansieel en andersins ondersteun, om sodoende die “groot opdrag” na te kom. Vandag praat ons van gemeentes as gestuur, waarmee ons bedoel dat die groot opdrag die kern is van alles wat ’n gemeente doen en die taak van elke lidmaat. Hoe kan jy jou gestuurdheid (die groot opdrag) uitleef?
LEEF
• Waartoe roep God jou nou? Hoe gaan jy daarop reageer?
• Hoewel ons gestuurd is, is ons steeds ook sturend. Kry vooraf nuus oor ons gemeente se sendelinge. Bid spesiaal vir hulle. Oorweeg om vir hulle ’n brief en/of pakkie te stuur.