Jeremia 8:18 – 9:2

Jeremia 8:18 – 9:2, Johannes 11:33 – 38

Deon Binneman 

Sondag, 16 Augustus 2009

 

Ons Passievolle God

1. Die Nektarbottel en die Voëls
Ons het ‘n nektarbottel aan ’n boom in die tuin opgehang.  Na ’n paar maande het die voëls dit ontdek:  vinke, muisvoëls, glasogies  en ’n verskeidenheid suikerbekkies het die bottel met die rooi suikerstroop ontdek.  Nou probeer ek om ’n baie goeie foto van hierdie bottel en sy besoekers te neem.  Die enigste probleem is dat die langste lens wat ek het, eintlik nie lank genoeg is nie.  En die bottel hang in die skaduwee.  So, fokus raak ’n baie ernstige probleem.  Soms is die bottel perfek in fokus, maar die voëltjie nie.  Terwyl ek so sukkel om  ‘n mooi foto van die voëltjies te neem en ek besef het dat ’n perfekte fokus eintlik  ’n baie beperkte deeltjie van die groter prent gehels, het ek aan ons verstaan van God gedink.

Ook ons verstaan van God bring telkens net ’n beperkte, ’n baie klein deel van God in fokus.  As ek aan God dink, dink ek aan ’n aspek van God.  Daar is dan soveel meer wat op daardie stadium nie in die aandag, in fokus, is nie.  As ’n mens aan God se vermoë om te oordeel dink, dan is daar so baie ander dinge wat oor God gesê kan word waaraan jy op daardie stadium nie aandag gee nie.  Daarom pas ’n stuk nederigheid by ons as ons oor God praat.  Want ons verstaan van God is altyd onvolledig.

2. Hoe sien jy God?
Toe ek my militêre diensplig gedoen het, was ons vir 3 maande op die Namibië/Angola grens.  Op ’n dag het die bevelvoerder ’n jong man na my toe gebring wat sê dat hy niks van die God waarvan daar by die Kapelaansperiodes en op die paradegrond gelees en vertel word, weet nie.  Die dominee moes die saak regstel.  Die man vertel toe dat hy in ’n Duitse huis in Windhoek grootgeword het.  Sy ouers het nooit kerk toe gegaan nie, by die skool was daar geen godsdiensonderrig nie en hy het geen maats gehad wat veel met die kerk te doen gehad het nie.  Al wat hy van God en Godsdiens weet is dat daar kerkgeboue bestaan en daar is mense wat soontoe gaan.

’n Jong en baie entoesiastiese dominee dink toe hy kan op hierdie skoon doek die eerste kwashaal van die geloof trek.  Ek begin toe by wat vir my die belangrikste eienskap van God is.  God is liefde en Hy sê Hy is soos ’n aardse pa …  Waarop die jong man terstond opstaan en uit die tent loop en verseg om om te draai en terug  te kom al roep ek hoe hard.

Weke daarna het ek hom weer raakgeloop en gevra wat hom die laaste keer so ontstel het dat hy net geloop het.  Hy sê toe dat as God soos ’n pa is, dan wil hy niks met God uit te waai hê nie.  Wat hy van sy pa kan onthou, probeer hy om liewer te vergeet.  Hoe kon ek dit voorsien?  My eie pa onthou ek soveel anders …

Ek het al gelees dat ’n mens so Godsbeeld met ’n honderas vergelyk kan word.  Hoe is God vir jou?  Miskien soos ’n Rotweiler wat kwaai blaf en gereed is om jou te byt?  Is God dus vir jou soos ’n kwaai God wat kyk waar jy oortree sodat Hy jou kan straf?  Of is God soos ’n stertswaaiende Labrador met ’n uithang-tong, soekend na jou aandag – die Man Daarbo wie maar te gretig wag op jou erkenning?

My vriend, wat predikant in Parys was, vertel van die bejaarde man en vrou wat in die woonstel oorkant syne ingetrek het.  Hulle het vir ’n jaar lank vir mekaar geknik as hulle mekaar voor die hysbak of in die portaal raakloop.  Toe vra die man hom op ’n dag watter soort werk hy doen.  Toe André antwoord dat hy ’n predikant is, sê die man dat hulle Jode is maar nie meer godsdienstig is nie.  Hulle was beide in die Tweede Wêreldoorlog in konsentrasiekampe en het daar hulle geloof in God verloor.

Ons dink nie almal dieselfde oor God nie.  Ons geskiedenis bepaal dikwels hoe ons oor God dink.  Maar hoe ons oor God dink, is heel moontlik maar net hoe God deur ons lens lyk, hoe ons op Hom fokus.

3. Godsbegrip van die Griekse filosofie teenoor dié van die Bybel
Vir die Griekse filosowe was God die Onbeweeglike Beweger, die Ewige, die Onveranderlike, die Onafhanklike wat niks van niemand nodig het nie, wat heeltemal emosieloos is en apart van die skepping staan.  Hy het nie lief nie en hy haat nie.  Hy is vry van alle emosies.

Maar nou lees ons juis in ons teks dat God kan huil en dat Jesus Christus deur sy emosies oorweldig word.  Jeremia beeld God uit as ’n God wat huil netsoos hy as profeet huil oor die tragedie wat besig is om onder die Israeliete af te speel.

God se diepste innerlike emosies word verwoord wanneer God uitroep dat Hy dag en nag wil huil totdat daar nie meer trane oor is nie.  God wens om ver weg te vlug, iewers die woestyn in, net om te kan wegkom van die mense en hulle pyn.  Hy is verslae oor Israel se onvermoë om die gevolge van hulle sonde te besef.  Hy sien hulle seer en kry saam met hulle seer.  Ook God sien hulle seer.  Soos Jeremia oor sy volk se lot huil, so huil God oor sy mense se seer, oor die gebrek aan genesing van hulle wonde.  Die versmelting van God en die profeet se trane wys hoe God Homself volledig met die mens se situasie van pyn en lyding vereenselwig, in so ’n mate dat God se trane asof uit ’n bodemlose put opwel.

4. ’n God wat huil verruim ons verstaan van God
Staan ’n God wat huil in skerp kontras met jou verstaan van God?

Dit is opvallend hier in die Jeremia dat God se trane ’n verandering in die trant van die boek bring – ’n verandering in God self, maar ook in die mense.  Dit is wanneer God huil dat Hy beweeg van ’n veraf, onbetrokke God wat net afkom aarde toe om straf uit te deel, na ’n God wat betrokke is, wat nie net mense se seer raaksien nie, maar saam met hulle ly.  God se trane wys dat Hy steeds die mens liefhet, ten spyte van …  En dit is juis God se trane as teken dat Hy Hom by mense en hulle pyn skaar, wat genesing, heling moontlik maak.  Want ons sien telkens in die Ou Testament dit is wanneer God mense se pyn raaksien, dat Hy verandering bewerkstellig.

Om God te sien huil verander ook mense.  Dit is wanneer jy God weet dat God ook huil oor wat met mense gebeur, dat jy ook in ’n ander verhouding met God kom.  Want waar daar trane is, word mag en geweld prysgegee.  Daar word mense oopgestel vir mekaar en dit is daar waar egte heling ’n moontlikheid word.

5. God en ons lyding …
Om die mens se lyding op aarde te verstaan, en om God se plek en rol in die gelowige se lewe regtig te verstaan, bly ’n onmoontlike taak.  Maar na die lyding wat die Tweede Wêreldoorlog gebring het, het teoloë begin sê dat God nie afwesig was in hierdie verskiklike nagmerrie nie, maar saam m et mense was in hulle donkerste tye.  Jurgen Moltman het God so sterk met die lyding in die wêreld geassosieer dat ’n mens kan se dat God self ly.

Die lydende God los nie alle vrae op nie.  Ons weet nie hoekom God nie soms vroeër ingryp nie.  Ons weet nie hoekom God nie soms keer dat die swaar oor ons kom nie.  Wil dit nie soms lyk of God se ’n bietjie magteloos staan teenoor dit wat op aarde gebeur nie?

Ons weet nie alles nie, ons ken nie al die antwoorde nie.  Maar vanoggend kom daar ’n aspek van God in fokus wat ons moontlik mag help.  Ons God kan saam met ons huil …

     

Trackback from your site.

Leave a comment