Jes 66 – Son 9 Aug 09

Jesaja 66: 5-14: God se barmhartigheid en genade in die tyd van die ballingskap en vir vandag

1. Beelde van God

 Ons kan nie anders as om oor God te dink en te praat deur middel van beelde nie. Ons neem konsepte soos “Vader”, “Verlosser”, en “Vriend” uit ons ervaringswêreld en gebruik dit om iets van die misterie en werklikheid van God te verstaan en te probeer uitdruk . Natuurlik kan ons beelde nooit die volheid van God vasvat en tot uitdrukking bring nie. Juis daarom bestaan die gevaar dat ons beelde van God later stagnant en geyk kan word – dat hulle losgemaak word van die misterie en werklikheid van God. 

Dan word ons beelde stereotipes wat God vasvat in ons geykte begrippe en sienings en wat ons verhinder om in ‘n egte verhouding met die lewende God te leef. So word God dan bloot deel van ons ideologie, en is Hy nie meer vry om ‘n God te wees wat op verrassende maniere in ons lewens kan ingryp nie.

Hoekom is dit ‘n probleem? Omdat ons beelde van God ons kan faal wanneer ons in situasies en kontekste kom waarin ons met nuwe werklikhede gekonfronteer word waarin ou idees en tradisies net nie meer werk nie. Ons ken almal tye waarin ons vra – hoe kan ‘n God van liefde dit toelaat? Hoe kan God “liefde” wees en dan soveel pyn en lyding toelaat? Hoe kan God “magtig” wees as ander skynbaar meer magtig is om ons te oorheers en die wêreld waarin ons woon te bedreig? Hoe kan God “vrede” wees as ons omring word deur oorloë waaring onskuldiges sterf en uitgebuit word? En so deur die vrae en die twyfel heen, maak God nie meer vir ons sin nie, en hoewel ons steeds kerk toe mag kom, leef ons nie meer vanuit ‘n egte verhouding met God nie. So word die kerk al hoe meer irrelevant in ‘n moderne of post-moderne wêreld waarin ons beelde van God nie meer werk nie.

Die vraag is egter of die probleem by God of by ons lê? Pleks van om God al hoe meer na die kante van ons bestaan te skuif, moet ons vir onsself afvra of ons nie nuut oor ons beelde van Hom moet dink nie. Anders gestel, moet ons nie vir God toelaat om op nuwe maniere en deur middel van nuwe en verrassend beelde, of dalk ou en vergete beelde, met ons te praat nie? Is dit nie wat dit beteken om in geloof te leef nie – dat ons God nooit ten volle kan definieer en omgrens nie, omdat Hy meer is en groter is as ons denke en stereotipes? Omdat Hy die lewende en misterieuse God is wat in elke nuwe situasie van ons lewens vir ons wil leer om anders oor Hom, en daarom ook oor mekaar te dink. Omdat Hy ons wil leer om in-verhouding met Hom te leef. Die teks van Jesaja 66 wil ons iets hieroor leer. In die besonder wil dit vir ons iets leer oor wat dit in daardie konteks beteken het om God te ontdek en te beleef as die barmhartige en genadige God. En aan die hand van wat ons die Jesaja 66 lees, mag God ons ook as Sy gemeente lei om ‘n nuwe begrip van Sy barmhartigheid en genade te ontwikkel.

2. Jesaja 66 in die konteks van ballingskap

Jesaja 66 vorm deel van die tweede deel van Jesaja wat met Jesaja 40 begin en waarin ons op ‘n besondere wyse met die wanhoop van Juda –die volk van God – in die tyd van die ballingskap in die sesde eeu VC gekonfronteer word. God se volk is weggevoer van hulle eie land, maar nie net dit nie – die tempel is verwoes, die stad Jerusalem en die res van die land lê in puin, en vir die mense voel dit asof God hulle totaal verlaat het. Want hulle hele verstaan van God, hulle beeld van God, het gedraai om ‘n God wat vir altyd in die tempel sou woon, ‘n God wat vir altyd ‘n koning op die troon van Dawid sou plaas. Hulle God was ‘n God van die Tradisie, ‘n Volksgod – ‘n God wat Sy volk gesëen het – ongeag wat hulle gedoen het. Duidelik en treffend kom hulle ontnugtering na vore in Jesaja 64:10-12.

 Here, gaan u aanhou om ons te laat ly? Dit is juis binne hierdie geloofstryd, waarin God se kinders worstel met die werklikheid van lyding, dat Jesaja 66 – maar eintlik die hele tweede gedeelte van Jesaja – ons wil leer om sin te maak van God as ‘n barmhartige en genadige God. In hierdie geloofstryd is God net so aktief betrokke as Sy kinders om nuwe sin en lewensmoontlikhede te skep. Ek wil dan vanoggend hierdie geloofstryd in vier fases indeel, en dit as raamwerk gebruik om oor God se barmhartigheid en genade na te dink. Natuurlik is hierdie fases nie noodwendig in netjiese kronologiese volgorde nie – hulle is eerder bewegings wat inmekaar vloei in ‘n heen-en—weer beweging.

Die geloofstryd begin met ‘n hunkering na dit wat altyd was. Na die tradisie van die bekende, en die ou manier van dinge doen. In Jesaja 63:16-17 pleit God se Kinders by Hom – om weer te wees soos vroeër, want Hy is tog hulle Vader, wie se naam van ouds af “Ons Verlosser” is. Natuurlik het hierdie reaksie iets beet van die waarheid. Dat die geskiedenis van God se verbintenis met Sy kinders die bevestiging is van Sy trou, en van die gemeenskap waarin Hy met hulle – en ook ons – wil leef. Maar juis deur vas te hou aan die tradisie kom die gevaar dat ons dit probeer verstar, dat ons God probeer vasvang in die bekendheid van die tradisie en daarom nie meer oop is vir die moontlikheid dat Hy op nuwe en verrassende maniere kan optree nie. En in die omstandighede van die ballingskap was die werklikheid dat dinge nooit weer na die bekende sou terugkeer nie. En daarom dat ou beelde van God met nuwe betekenis gevul moes word, of dat nuwe beelde van God moes ontwikkel.

 En as God dan oënskynlik stilbly, as Hy dan nie weer “soos van ouds” word nie, dan tree daar in die tweede fase ontnugtering in.  Hoor weer die verlae kreet van die volk in Jesaja 64:12 – “Raak hierdie dinge U dan nie Here? Gaan u nie ingryp nie? Gaan u aanhou om ons te laat ly?” Vir sommige mense eindig die geloofstryd dan ook daar – met ‘n afwesige God wat nie meer sin maak nie. Omdat God hulle of ons dan in die steek sou gelaat het, omdat Hy nie meer omgee nie, draai hulle hulle rug om Hom en leef in ‘n wêreld sonder God.

Maar God is nie afwesig nie. En daarom breek daar in ‘n derde fase geleidelik die besef deur dat die oorsaak van die verwydering nie by God lê wat nie meer aan Sy beloftes getrou is of Sy verhouding met Sy kinders vergeet het nie. Die probleem is eerder dat Sy kinders, Sy gemeente, hulle verhouding met Hom verdraai en misvorm het sodat dit ‘n soort gemaklike godsdienstige ritueel geword het, wat van alle egtheid beroof is. ‘n Vormgodsdiens waarin daar geen reg en geregtigheid leef, en waarin daar van ‘n egte verhouding met God geen sprake is nie.

Jesaja 59 illustreer dit treffend. In vers 2, lees ons: “Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het….”. En dan in Jesaja 59:9-15 vind ons die treffende kontras tussen dit waarop die gemeente wag – lig, reg, redding – en die teenoorgestelde – uitsiglose donker, onreg en ontreddering. Hoekom? Omdat hulle eie optrede hulle van die liefde, geregtigheid en verlossing van God afgesny het.

Om  sin te maak van die werklikheid van God in hierdie krisis van die ballingskap, lei die Here dus Sy gemeente om na te dink oor die basis van hulle verhouding met Hom. Sy groot verlossingsdade van die verlede bevestig Sy diep verbintenis met hulle – Sy liefde en trou. Maar Sy gemeente se verhouding met Hom kan nie bloot op die tradisie, op dit wat was, berus nie. Want God is ‘n dinamiese God wat verwag dat Sy kinders vandag, in die hier en nou, sal leef met dade van geregtigheid. Dat hulle in die waarheid sal leef, met liefde en trou. Op grond van hierdie besef dat hulle tot inkeer moet kom, sou ons kon verwag dat die Here nou dienooreenkomstig sal optree. Dat hy in ooreenkoms met hulle berou, hulle nou sal seën en sal red. Maar die merkwaardige van Jesaja 66 is dan juis dat God nie in-ooreenkoms-met optree nie, maar bo alle verwagting ingryp om Sy kinders te herstel.

In die vierde beweging van die geloofstryd, beeld Jesaja 66 dan vir ons ‘n God uit wat in barmhartigheid en genade in Sy kinders se wanhoop en hunkering na Sy liefde en trou ingryp, om hulle te verseker dat Hy vir hulle onmeetbaar lief is, en dat Hy hierdie liefde gaan bewys in die wyse waarop Hy hulle konkrete omstandighede verander. Hoewel die spesifieke woorde van God se barmhartigheid en genade nie in Jesaja 66:5-14 voorkom nie, word die hele gedeelte deur hierdie beeld van God gedra. Die Hebreeuse woord vir baarmoeder – (raham) – is etimologies verbind aan die woord vir barmhartigheid (rehem). En daarom roep die beeld van God se barmhartigheid die beeld op van ‘n vrou wat geboorte gee, van ‘n moeder wat in haar baarmoeder aan haar baba beskerming en sekuriteit bied. In reaksie op Sy volk se sondebelydenis en terugkeer na Hom, reageer God dus deur middel van die intieme en tere beeld van die geboorteproses, om aan hulle die verskering te gee dat Hy wat – soos ons in Jes 66:9 lees – die moederskoot laat oopgaan, ‘n geboorte gaan laat plaasvind. Sion –die stad van Jerusalem waar God in Sy tempel woon – sal weer lewe skenk aan ‘n nuwe volk, ‘n volk wat ‘n nuwe skepping is – ‘n volk wat weer gebore is. God, die barmhartige God, gryp in en maak Sy volk nuut. En dit is Hy wat alles doen want Hy is genadig – Hy bring hierdie nuwe, herstelde volk voort uit die baarmoeder. Vanuit Sion, die stad waar Hy woon, die plek waar hemel en aarde bymekaarkom, sit God ‘n proses aan die gang om Sy volk te herstel en nuut te laat leef.

Maar terwyl God se barmhartigheid vergelyk kan word met die geboorteproses, is dit ook anders. Want die gewone geboorteproses gaan gepaard met geboortepyne, maar in hierdie geval, het die geboortepyne skaars begin of die kind – Israel – word gebore. Op hierdie wyse sien ons hoe God se barmhartigheid in hierdie konteks van wanhoop en twyfel dan ook anders is as die van die gewone menslike geboorteproses. Want wanneer Israel dan na God terugkeer, is Sy reaksie om hulle onmiddellik en volledig te herstel. Iets van die wonder hiervan lees ons dan ook in vers 8: “Wie het al so iets gehoor? Wie het dit al gesien? Word ‘n land op een dag gebore, of word ‘n nasie in een oomblik in die wêreld gebring?”. God se barmhartigheid en genade verskil van die logika van ons gewoonlike menseverhoudings. Dit neem soms baie lank voordat ons bereid is om mense wat ons verwerp het en hulle rug op ons gedraai het, en later met ons versoening soek, so te vergewe en te vertrou dat ons weer in ‘n oop verhouding met hulle kan leef. Dikwels wil ons eers hulle erns op die proef stel, wil ons tasbare bewyse van hulle nuwe gesindheid sien. Maar God werk in Sy barmhartigheid en genade nie so nie. Hy soek nie eers die bewys van ons nuwe gesindheid nie, Hy stel ons nie op die proef nie. Nee, Hy vergewe volledig en onmiddellik, en Hy maak ons totaal nuut soos wat Hy Sy stukkende volk nuutgemaak het in die tyd van die ballingskap.

En, dan is God se barmhartigheid en genade ook die grondslag van ‘n standhoudende nuwe verhouding waarin Sy kinders Sy liefde en sorg op ‘n omvattende wyse beleef. Weereens gebruik Jesaja 66 die beeld van ‘n moeder se liefde om hierdie treffende waarheid uit te druk. Pragtig skets Jesaja 66:11-13 vir ons die beeld van ‘n moeder wat haar baba voed en versorg, wat haar kind aan haar bors en op haar skoot vertroetel en laat veilig voel. Wat die Bybel vir ons wil vertel is dat God in Sy barmhartigheid en genade in al ons behoeftes sal voorsien – dat ons niks hoef te vrees nie, omdat ons sekuriteit in Hom geleë is . Dink net aan die impak van hierdie boodskap in die tyd van die ballingskap. Hier is ‘n groep mense wat ervaar het hoe die mag van die Babiloniërs hulle land verwoes het – ‘n volk wat in terme van ekonomiese en militêre mag maar ‘n klein speler was. Maar God sal hulle herstel – hulle sal weer veilig woon in die land en in Jerusalem. Hulle sal weer voorspoed beleef, en die rykdom van die nasies sal na hulle stroom. Omdat God, die barmhartige en genadige God, die bron van hulle vrede en sekuriteit sal wees. Soos wat ‘n moeder haar kind vertroos en beskerm, so sal God met hulle wees. En daarom sal hulle blom! “Julle sal nuwe lewe kry, soos groen gras wat uitspruit”, sê Jesaja 66:14. Julle sal leef in voorspoed en vrede, julle sal nuwe hoop hê. Hoe onlogies en onmoontlik so ‘n boodskap ook al in die tyd van die ballingskap mag geklink het, skep God se barmhartigheid en genade dan juis die nuwe geloof waarmee Sy kinders kan besef dat Hy in beheer is, dat Hy magtig is, en dat Hy vir hulle sal sorg.

3. Vir Vandag:

Wat wil God, ten slotte, vir ons uit Jesaja 66 leer? Hy wil ons uitdaag om in ons tye van krisisse, op indiwiduele vlak, maar ook as Sy gemeente, as Sy kerk, toe te laat dat Hy ons kan verras deur op onverwagte nuwe maniere op te tree. Hy wil ons uitdaag om nie aan die ou bekende beelde en tradisies vas te hou nie, omdat hulle nie noodwendig in nuwe tye werk nie. Hy wil ons uitdaag om ons ou beelde met nuwe inhoud te vul, of dalk om deur middel van nuwe beelde na te dink oor Sy betrokkenheid by ons.

Hy wil ons ook roep om te besef dat ons in-verhouding met Hom met leef. Dat ons Hom nie moet probeer inpas in ‘n soort godsdienstig raamwerk wat gebou is rondom ons verwagtings en behoeftes, maar waarin ons maar eintlik net doen wat ons wil en waarin daar weinig van die liefde en genade van God tot sy reg kom nie. Deur in-verhouding met Hom te leef, moet ook ons lewens dan deur Sy barmhartigheid en genade gedra word. Ons moet regverdig teenoor ander optree – die waarheid praat, in trou optree, en ander behandel met respek. Maar eintlik moet ons nie bloot regverdig optree nie – ons moet met barmhartigheid en genade optree. Ons oë en harte moet oop wees vir mense, gemeenskappe wat stukkend is, waar wanhoop en uitsigloosheid die oorhand gekry het. En juis in daardie omstandighede moet ons ‘n verskil maak – want as ons dit nie doen nie, dan verstaan ons nog nie dat God barmhartig en genadig is nie. En slegs as ons, as God se gemeente, dit gaan doen sal ander op grond van wie ons is, en dat wat ons doen, verstaan dat God ‘n barmhartige en genadige God is.

 En laastens, wil Hy ons oë en harte oopmaak vir die wonder van Sy barmhartigheid en genade wat alle menslike verwagtings oortref, en wat daarom juis in Sy Seun Jesus Christus sy gestalte gevind het. God wat in Jesus opgetree om as mens Sy barmhartigheid en genade onder as uit te leef en vir ons ‘n nuwe toekoms as Sy kinders te skep – is met ons op pad na die voleinding, na die tyd wanneer alles met Sy heerlikheid gevul sal word, en Hy Sy kinders by Hom sal versamel in die nuwe stad Jerusalem. Dit is ons hoop, dit is ons anker, dit is die vaste wete wat ons midde-in al ons tye van twyfel en wanhoop dra om aan Hom – die barmhartige en genadige God – vas te hou.

Amen.

     

Trackback from your site.

Leave a comment