Wat God vir jou wil hê
Jesus sê ons sal die Vader “in gees en in waarheid” aanbid. Ons oorweeg wat Jesus hiermee bedoel het.
Gebed
Psalm 103
Seëngroet
Toetrede / toewyding
Build Your kingdom here – Rend Collective
Afkondiging en dankoffer
Helder lig – Duis:Lig
Oproep tot Lof
Psalm 149
Loflied
No other like You – Jesus Culture
Gebed
Reeks oorsig
Ons is besig met ‘n reeks getiteld “The Air I Breathe – ‘n Lewe van aanbidding”. Chris het begin en gesê almal aanbid iets. Daarna het Rethie gesê ons is gemaak om God te aanbid – sy het gepraat van die “God shaped vacuum”. Verlede week het Annelet gesê dit gaan nie oor HOE ons God aanbid nie, maar HOEKOM – want ons word wat ons aanbid. Vanaand gaan ons weer meer fokus op die HOE, eerder as die HOEKOM.
Skriflesing
Johannes 4
vers 4:
Oor Samaria / Samaritane: die Jode het baie probleme met die Samaritane gehad. Waar God aanbid word, is een. Maar daar was nog ‘n probleem: toe die Noordryk van Israel geval het, is die meeste Israeliete weggevoer in ballingskap, maar ‘n paar het agtergebly. Die Assiriërs, wat die Noordryk ingeval het, mense van 5 ander nasies in Israel gevestig:
2 Konings 17:24
Die koning van Assirië het inwoners van Babel, Kuta, Awwa, Hamat en Sefarwajim af gebring,
en hulle in die stede van Samaria gevestig in die plek van die Israeliete. Hierdie mense het Samaria oorgeneem en in die stede daar gaan woon.
Elkeen van hierdie nasies het afgode gemaak en in die tempels gaan sit– met die onderliggende aanklag dat die Samaritane dit toegelaat. Hulle word beskuldig van afgodery, dat hul godsdiens ‘n mengsel is van die godsdiens van die Jode en ander nasies.
Hulle het nie net godsdiens vermeng nie, maar OOK ras. Asof dit nie erg genoeg was dat hulle afgode aanbid het nie, het die Israeliete wat agtergebly het met die ballingskap, begin ondertrou. Die Samaritane, as nasie, was die produk van ondertrouery tussen Jode en die ander nasies wat Israel beset het. Volgens die wet mag sulke mense nie in tempel kom nie, nie eers in tiende geslag nie.
vers 17
Dis baie interessant hoe mense aanneem Jesus praat oor die vrou se “sonde”. Dan spesifiek ook dat sy sogenaamd “losbandig” sou wees! Dit sê natuurlik baie van die mense wat oor die jare die skrif vir ons uitgelê het – eerder as van die vrou.
1. Dalk was sy ‘n weduwee?
2. Dalk was sy deel van Leviraat huwelike (sien Tamar se verhaal in Gen. 38)? Dalk is haar man dood en moes sy met sy broer trou, sodat daar ‘n erfgenaam kan wees vir die oudste broer. Dalk het die huidige broer geweier om met haar te trou.
3. Onthou, vrouens nie kon van hul mans skei nie. ‘n Man, aan die ander kant, kon – om enige rede ook al – drie keer sê dat hy van sy vroue skei, dan is hulle geskei. Dit was ‘n vernedering vir die vrou se familie. Sy het geen ander opsies gehad as om weer te trou, terug te gaan na haar familie (as hulle haar sal terugneem), ‘n prostituut of bedelaar te word.
Enige van bg. verklarings sou beteken dat Jesus nie wys op haar sonde nie. Hy sê eerder hy sien seer, die onreg, hy weet wat haar aangedoen is.
Daar is nog ‘n ander interessante opsie wat die slim mense sê: dat die 5 mans ‘n simbool is van die 5 nasies wat in Israel agtergebly het met die ballingskap. Die sesde man is dan ‘n simbool van God, wat nie regtig die Samaritane se God is nie, omdat hulle steeds ‘n vermengde godsdiens het. Die Hebreeuse woord vir “man / husband” is ba’al – wat ook god beteken. Dan is die vrou ‘n simbool van al die Samaritane. As daar dan wel sprake is van sonde, is die sonde afgodsdiens.
Aangesien Jesus die goed van haar weet, erken die vrou dat Jesus ‘n profeet is. Sy begin ‘n diep teologiese gesprek met Jesus. Nou moet jy mooi luister: die Evangelie van Johannes gebruik die woord vir “aanbidding” 11 keer. NEGE daarvan is in verse 20-24!
vers 26
“Dit is ek” – “I am he”.
Eintlik : Ego eimi – Ek is. Die Hebr. vertaling van Jesus se woorde is presies dieselfde wat God vir Moses gesê: “Ek is”
Worship Wars
Annelet het verlede week gefokus nie op “hoe” ons aanbid nie, maar “hoekom”. Vandag kyk ons na die “hoe”. Laat ek net gou eers sê: jy sal deur die hele reeks hoor dat wanneer ons praat van aanbidding, ons NIE net praat oor sing in die kerk nie. Aanbidding is sing. Dis ook Bybelstudie. Dis jou HELE LEWE. Ons fokus nou net gou so bietjie op sing.
Een van die goed waaroor daar die meeste geveg word in die kerk, is musiek. Daar is selfs ‘n woord daarvoor: worship wars. Toe ek ‘n tiener was, het ons baklei oor of kitare in die kerk mag gebruik mag word. Dan het ons graag Ps. 150 aangehaal, wat sê prys Here met “snaarinstrumente”. Mense veg oor orrel en band. Watter liedere. Te hard en te sag. Oud vs onbekend. Iemand sê: “8.27 sekondes. Dis hoe lank dit na Jesus se hemelvaart gevat het voordat mense oor musiek begin baklei het.” Het jy al gehoor van sulke gevegte in die kerk? Dalk al self deelgeneem aan sulke gevegte?
Die Samaritaanse vrou probeer Jesus betrek by worship wars. Nie oor musiek en styl nie, maar plek.
Spirit
En Jesus reageer:
23Maar daar kom ’n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid
[Die Afr. vertaling sê: “die Gees”, maar dis nie in die teks nie, daar staan bloot “gees”]
Geen twee kommentare stem saam oor wat Jesus hier bedoel nie. Ek gaan vanaand ’n verklaring gee wat ek dink ons nodig het om te hoor, maar natuurlik is daar ook nog meer:
As Jesus sê aanbid in die gees, dan is die teenoorgestelde seker vlees. En dan gaan die worship wars oor flees. Want dit fokus op wat ons doen, hoe ons voel, wat vir ons lekker is. ‘n Mens hoor baie keer mense sê: die Gees was regtig teenwoordig / het beweeg, veral as mense hoendervleis gekry of gehuil het. Waarop ek graag sê: God is nie hoendervleis nie. Aanbidding gaan nie oor jou, oor hoe dit vir jou voel en wat jy ervaar nie.
Aanbidding gaan oor God. En God is konstant. Ons aanbid God wanneer ons fokus op wat God gedoen het, wat God besig is om te doen en wat God gaan doen. Hoe dit vir ons voel, het eintlik niks daarmee te doen nie. Want God is hier. God is besig om te doen.
Natuurlik gaan sommige goed vir ons lekkerder voel as ander, “heiliger”. Ons het die vakansie gepraat oor spiritualiteitstipes: hard, hand, kop, mistiek. Ons het daardie hoendervleis ervarings van God
op verskillende maniere en plekke: natuur, gevoel, tradisie / rituele, afsondering, eenvoud, aktivisme, versorg, vierings, oordenking, studies. En dis goed dat jy die manier vind waarop God jou geskape het, jou natuurlike manier waarop jy hom aanbid. En dat jy dan onthou dat God altyd optree, altyd teenwoordig is – of dit vir jou so voel of nie.
Soms sukkel die band. Soms kom jy befoeterd hier aan, of so gestres oor volgende week se toets, dat jy nie kan fokus nie. Of die dominee siek, moeg, of dis net ‘n boring preek. Aanbidding hang nie af van hoe jy voel nie. Dit hang af van God. Elke keer wat jy saam met ander gelowiges gesing, erediens bygewoon, Bybel gelees, in gehoorsaamheid aan God optree het – elke keer was aanbidding.
Sien, die probleem, as jy net dink dis aanbidding wanneer jy hoendervleis kry, dan raak dit soos ‘n dwelm. Dan soek jy die hele tyd die volgende hit. Die dosis moet meer, groter raak: harder musiek, meer mense, beter vibe, smoke machines, ligte – want dit gaan oor jou belewenis, nie oor God nie.
Vergeet van die ander stuff. Fokus op God. Of dit great voel of nie – dis aanbidding. En dis wat God van ons vra.
Truth
So een verduideliking van God in gees aanbid, is om op God te fokus, nie op jouself nie. Maar Jesus sê ook God is Gees. So ek wil nog ‘n verduideliking bysit, oor hoe ons God aanbid in Gees en in waarheid.
Jesus sê God is Gees. En wat die Gees doen, is om ons oë oop te maak, sodat ons Jesus as verlosser erken, in geloof ons lewe aan God oorgee en God ons “Vader” kan noem.
Jesus sê vir Samaritaanse vrou: “Ek is”. Dieselfde woorde waarmee God homself beskryf.
Om God in hierdie Gees te aanbid, is om God deur Jesus te aanbid. Om God in waarheid te aanbid, is om God deur Jesus te aanbid.
Johannes 14:6
Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.
Om die Vader in Gees en in Waarheid te aanbid, is om God deur Jesus te aanbid. En dit beteken om eerlik te wees. Eerlik oor jouself.
Deel van vleeslike aanbidding, is dat ons dink ons moet op ‘n spesifieke manier lyk en optree – sodat ander dit kan sien. Sodat God dit kan sien.
Maar ware aanbidding kom na God toe nes jy is. Dit sê vir God:
ek het drooggemaak
ek het nie my naaste lief nie
ek is nie getrou aan u nie.
ek is ’n sondaar.
ek sukkel.
Jy hoef nie vir God te beïndruk met jou super-aanbidding nie. Jy moet net opdaag, eerlik oor jouself, gefokus op Jesus. En soms voel dit wonderlik. Ander kere voel dit na niks. Maar dis aanbidding. In gees en in waarheid.
Amen
Gebed
Slotsang
Simple pursuit – Passion
Seën
aanbidding, Air I Breathe, in gees en in waarheid, Johannes 4, Samaritaanse vroue, worship wars