Skip to main content

Hand 8:26-40 So 10 Mei 2009

Verstaan jy dat die Heilige Gees jou jou  grense wil laat oorsteek?

Teks:  Hand 8:26-40

Deon Binneman

So 10 Mei 2009

 

Kyk wat kan gebeur as ’n natuurlike grens oorgesteek word!

kat_en_hond_1b

Hierdie beeld word deurlopend as agtergrond beeld op die skerm gebruik. 

1.        Steek jy jou grense oor?

As jy die Here ontmoet, beweeg jy die Here, of beweeg Hy jou, pas die Here by jou skema aan, of pas jy by sy skema aan?  Laat ons nie te vinnig antwoord nie.  Dit is nie so maklik om te weet in watter mate jy die Here toelaat nie …

In die teks vandag sien ons duidelik hoe die H G mense in beweging bring, en hulle hulle eie grense laat oorsteek  …  God se werk in ons word juis sigbaar in die gemeente wanneer ons grense oorsteek en vooroordele laat vaar.

Handelinge vertel die verhaal van hoe dat die kerk onder leiding van die Gees van God die evangelie vanaf Jerusalem reg oor die wêreld verkondig het.  In hierdie proses moes landsgrense, maar dikwels ook eie grense oorgesteek word.  Eie vooroordele moes raakgesien en laat vaar word.  In hierdie deel van Handelinge word vertel van drie individuele bekerings – die bekering van die naamlose man uit Afrika;  Paulus, die vervolger en Cornelius die heiden.  Saam maak hulle dit duidelik dat die evangelie aan almal reg oor die wêreld verkondig sou word.

 

2.       Die evangelie vereis dat grense oorgesteek word

Die Here het Filippus deur ’n engel gestuur om ’n vreemde man op ’n stil pad, op ’n ongewone plek en tyd, te ontmoet.   Hierdie persoon met wie Filippus moes gaan praat, was ’n heel interessante figuur:

•          Hy was uit Afrika afkomstig.  Ons het waarskynlik hier met ’n Nubiër te make, iemand wat in die gebied suid van Egipte woonagtig was. 

•          Hy was ’n hooggeplaaste amptenaar aan die hof van die koningin-moeder wat die titel “kandake” gedra het.  Aangesien die koning van Ethiopië as ’n godheid beskou is, is hy as te heilig beskou om hom met gewone regeringsfunksies op te hou.  Vandaar dat die moeder van die koning hierdie taak op haar skouers geneem het.  In vandag se terme was hy dus hulle minister van finansies. 

•          Hy was ’n eunug, ’n ontmande.  Dit was nie ’n vreemde gebruik in die Ooste dat soldate wat die koning se vroue opgepas het, asook hooggeplaaste paleis amptenare wat saam met die koningin-moeder moes werk, ontman is nie. 

•          Hierdie amptenaar was duidelik ’n godvresende, dit wil sê ’n nie-Jood wat hom tot die Joodse geloof bekeer het.  Hy was op pad terug van Jerusalem af waar hy God gaan aanbid het.  Die reis van meer as 3200 km kon so lank soos tien maande geduur het!  Hy was dus ’n  vasberade man.

 

3.        Hierdie man het iemand nodig

Lukas vertel dat hierdie Etiopiese amptenaar op sy wa uit die profete boek Jesaja sit en lees het.  Filippus het hom egter gevra of hy verstaan wat hy lees (vers 30), waarop die amptenaar antwoord dat hy niemand het wat die teks vir hom kan uitlê nie.  Die woord wat hy gebruik vir uitlê beteken om te lei of begelei (soos ’n gids). 

Filippus het die gedeelte oor die lydende dienaar van die Here uit Jesaja 53:7–8, waaruit die amptenaar sit en lees het (8:31–33), vir hom verklaar.  Filippus het hierdie gedeelte, wat oorspronklik vertel het van ’n verlossingsfiguur in Israel, op Christus toegepas (8:34-35).  Hy is immers die Een wat soos ’n lam na die slagplek toe gelei is ter wille van ons sondes en wat tot in die dood toe verneder is.

 

4.       Watter grense verhinder dat hierdie man uit Afrika gedoop word?

Nadat die amptenaar die goeie nuus aangaande Jesus gehoor het, vra hy vir Filippus toe hulle by water verbyry of iets hom verhinder om hom te doop (8:37–38).  Die vraag van die amptenaar of iets hom verhinder om gedoop te word, is ’n belangrike een.  Hy het naamlik geweet van grense tussen hom en God en tussen hom en die geloofsgemeenskap.

•          Die Etiopiër was ’n heiden.  Maar  as God dan die middelmuur van skeiding tussen Jood en heiden afgebreek het (Ef. 2:14), wie is hy, Filippus, dan om weer mure op te rig?  Die feit dat hierdie man uit die heidendom is, vind Filippus geen verhindering nie.

•          Hierdie man was ’n hooggeplaaste staatsamptenaar van die koningin van die Etiopiërs, letterlik ’n “magtige.”  Binne die samelewing mag die verskil tussen magtiges en onmagtiges groot wees, maar binne daardie vreemde gemeenskap wat ons die kerk noem, dit wil sê daardie gemeenskap wat leef uit die vreemde geregtigheid van God in Christus Jesus, is die muur van skeiding tussen ‘high society’ en ‘hoipolloi’ afgebreek.

•          Die man is ook ryk.  Maar hoe dit ook al sy, die verskil tussen ryk en arm mag in die samelewing baie belangrik wees maar binne die kerk, as daardie gemeenskap wat leef uit die rykdomme van God in Christus Jesus, is die verskil tussen ryk en arm, tussen elite en skorrie-morrie, irrelevant.

•          Die Etiopiër was ’n ontmande.  Dit het beteken dat hy nie in die Ou-Testamentiese volk van God opgeneem sou kon word nie (sien Deut. 23:1).  Sou hierdie man sonder geslag of nageslag so by die deurblaai van Jesaja se profesie dalk afgekom het op Jes. 56:3-5 wat sê: 

3  ’n Nie-Israeliet wat by die volk van die Here aangesluit het, moenie dink: die Here sal my van sy volk afsny nie. ’n Ontmande moenie van homself dink: ek is maar ’n droë boom nie. 4 So sê die Here: Aan die ontmandes wat my sabbatte onderhou, wat kies vir wat Ek wil, en wat lewe volgens my verbond, 5 aan hulle sal Ek in my tempel en aan sy mure ’n teken gee, ’n erenaam wat beter is as seuns en dogters. Ek sal aan sulke mense ’n naam gee wat nie uitgewis sal word nie.

•         ’n Laaste grens was dat hierdie man van ’n ander “ras” was, ’n Kusiet uit Afrika.  Maar dit kan Filippus nie skeel nie.  Binne die kerk as die gemeenskap van mense wat net maar leef uit God se genade, het rasseverskille nie opgehou om te bestaan nie, maar dit het opgehou om belangrik te wees.  Wat wel afgebreek is, is mure; mure van vooroordeel, mure van minagting.”

 

5.       Wat hoor jy vanoggend by die Here?

Hoe die Heilige Gees vir Filippus gelei het, word baie duidelik in ons Skrifgedeelte vir ons uitgewys.  Dit mag sommige mene dalk laat wonder waarom hulle nie self die Gees so duidelik met hulle hoor praat nie.  Die Heilige Gees lei mense vandag nog deur die Woord; en deur omstandighede (soos waar daar vir ons ’n deur oop- of toegaan); en deur ander mense (soos waar ons binne die gemeenskap van die gelowiges deur die Here van iets oortuig word); en selfs deur die gebruik van ons gesonde verstand wanneer ons dit in diens van die Here stel.  Stel ons ons beskikbaar om gelei te word?

Hoe bruikbaar is ons vir die Here?  Watter mense is daar wat God wil insluit in sy koninkryk wat dalk nog deur onsself of ons gemeente buite gehou word?  Watter grense is daar wat ons nie vandag wil oorsteek na ander nie?  En ook: Is ons werklik sensitief vir die leiding van die Gees sodat ons nie ’n hindernis vir God se plan met die wêreld is nie?

Daar is ’n wonderlike in dié verband van Franciscus van Assisi. Hy het eenmaal ’n leerling van hom genooi om saam met hom in ’n nabygeleë dorpie te gaan preek.  Die jong priester het dadelik ingestem.  Wat ’n kosbare leerervaring!  Om die groot leermeester self te hoor …  Toe hulle in die dorpie kom, het Franciscus dadelik ’n geselsie gaan aanknoop met die slagter, toe ’n draai gemaak by die skoenmaker, en later gaan inloer by ’n vrou wat haar man onlangs verloor het.  Daarna is hulle na die dorpie se skool waar hy met die kinders gespeel en na die onderwysers se probleme geluister het.  So het dit die hele oggend aangegaan.  Teen die middag sê Franciscus:  “Nou ja, ons is klaar hier, my vriend.  Ons kan maar huis toe gaan.”  Die student was stomgeslaan en het kwaai geprotesteer:  “Met alle respek, Meneer, maar ons het tog gekom om te preek?  En ons het nog glad nie dáárby uitgekom nie.”  “Het ons nie?”  vra Franciscus.  “Mense het tog die hele oggend na ons gekyk en geluister.  Elke woord wat ons gepraat het, elke daad wat ons gedoen het, was ’n boodskap.  Ons het die hele môre gepreek!”

Geen wonder nie Franciscus van Assisi het gesê: “Preek sonder ophou.  En as jy regtig moet, kan jy woorde gebruik!”

Ps 107 – So 22 Mrt 09

Sondag, 22 Maart 2009

Ps 107:1 – 3, 17 – 22

Deon Binneman

Inleiding tot die
erediens

Tradisioneel is die
Vierde Sondag in Lydenstyd se naam Laetare, of Wees bly! Op hierdie Sondag wil ons bly wees oor God se
redding, want sy redding is redding uit
die grootste nood
. Wanneer jy
bedreiging in die ergste aard beleef, kan jy op God vertrou om jou te red. Hieroor kan ons ons verheug. Daarom is vreugde en blydskap die kenmerk
hierdie Sondag se liturgie, al is dit ’n gedempte vreugde, omdat ons weet dat
dit Jesus se kruisiging gekos het om ons te verlos.

Skriflesing

Voordat ons begin lees, is dit miskien goed om eers ’n
geheelbeeld van hierdie baie mooi psalm te kry.
Die herstel waaroor daar in die
eerste drie verse van die psalm gepraat word, word in die volgende verse (4-32)
aan die hand van vier voorbeelde uit
die lewe verduidelik
. Die
ballingskap was baie om soos ’n karavaan in die
woestyn
verdwaal te wees (4-9). Dit was ook soos om in ’n gevangenis (10-16) te wees. Die verlossing was baie soos die herstel van ’n
terminale siekte
(17-22). Die
bevryding het ook baie ooreenkomste met die redding van ’n skip uit
die gevaar van ’n groot storm
wat die lewe van almal aan boord bedreig het
(23-32). Die tweede helfte van die psalm (33-43) is ’n veralgemening en samevatting
van die voorafgaande gedagtes. Die
oorspronklike doel van die psalm was lof vir die verslossing uit die
ballingskap. Maar reeds van so vroeg as
van Martin Luther af egter, is hierdie psalm gesien as ’n psalm van danksegging
vir alle vorme van hulp wat God aan mense in hulle uiterste nood bied.

Psalm 107

“Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar
geen einde nie!” 2 So moet die mense sê wat deur die Here bevry is,
dié wat Hy uit hulle nood bevry het 3 en uit baie lande versamel
het, uit die ooste en die weste, die noorde en die suide.

17 Party het dwaas opgetree, en deur hulle rebelse
optrede, hulle sonde, het hulle in die ellende beland. 18 Alle kos
het hulle laat walg, en hulle het by die dood omgedraai, 19 maar in
hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle bevry van
hulle ellende. 20 Hy het hulle met ’n enkele woord gesond gemaak,
hulle aan die dood laat ontkom. 21 Hulle moet die Here loof vir sy
troue liefde, vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen. 22 Hulle moet
dankoffers bring en met blydskap van sy dade getuig.

Woordverkondiging

Ons het gisteraand
weer ʼn keer na die rolprent Chocolat gekyk. Die meeste van u het dit sekerlik al
gesien. Dit speel in die sestigerjare in
ʼn klein dorpie in Frankryk af. Vianne en
haar opgeskote dogter open ʼn sjokoladewinkel, maar ongelukkig tydens die vas
gedurende die lydenstyd. Die burgemeester
is die bewaker van die dorp se sedes en probeer hierdie verderflike invloed uit
sy dorp kry. Maar haar warm
betrokkenheid by mense maak haar geliefd.
So ontwikkel die verhaal as ʼn kontrasterende tekening van die burgemeester
se vreugdelose vermyding van aangename dinge teenoor Vianne se liefdevolle,
helpende betrokkenheid by ander.

Nadat die burgemeester
tot ʼn val gekom het, kry die bloedjong priester vir die eerste keer die
geleentheid om self sy preek voor te berei.
En sy aangrypende boodskap is: Ons goedheid word gemeet nie aan wat ons nié
doen nie, maar aan dit wat ons wél doen!
Lydenstyd kan juis ’n tyd van blydskap vir
die verlossing wees waartydens ons op ons nuwe lewe en die nuwe moontlikhede
fokus.

Daarom: Al is
dit Lydenstyd, is dit tegelyk ook vreugdetyd.
Want dit is verlossingstyd!

Terwyl Lydenstyd in
die vroeë kerk met vas en dus boetedoening
gepaard gegaan het, was die element van
vreugde nie afwesig
nie. Daarom het die vierde Lydensondag as Laetare (“wees bly”) bekend gestaan. Te midde van die meelewing van
gelowiges met die onpeilbare lyding en smart van die Here Jesus, was daar ’n
diep vreugde oor die weldaad van verlossing wat dit teweeggebring het. Ook by die kerke van die Reformasie, waar die
klem op lydensprediking val, kan dit nooit losgemaak word van die blye wete dat
Jesus se lyding die onontwykbare aanloop tot die opstandingsvreugde was nie
.
Op die vierde Lydensondag word
die hele verlossingsplan in oënskou
geneem en die gemeente opgeroep om die Here daarvoor te loof.

Die voorbeeld van die genesing van
’n terminale siekte help ons om te verstaan hoe ingrypend ons verlossing uit
die sonde is en hoe dankbaar bly ons daarvoor behoort te wees!
Daar is algemene eenstemmigheid dat dit in
hierdie gedeelte oor die verlossing uit ’n siekte wat deur ’n sondige lewenswyse veroorsaak is, gaan. Die persoon is dus skuldig en siek. Verlossing beteken dus liggaamlike genesing
en bevryding van die verwyt oor die sondeskuld!
’n Dodelike siek mens wat skielik nie meer die simptome van die siekte
ervaar nie, en ook kan ervaar dat hy/sy vergewe is, kan nie anders as om baie,
baie bly te wees nie!

Ons kan die driedeling
wat ook in die Heidelbergse Kategismus voorkom,
naamlik Sonde, Verlossing en Dankbaarheid, ook hier van toepassing maak
aangesien dit ook so
in Ps 107 na vore kom.

1. Sonde

Ons vind dit moeilik
om ’n diepgaande besef van die sonde te hê.
Ons gebruik dikwels ander woorde daarvoor. Mense se sondige lewenswyse word dikwels dit
wat hulle bekend en gewild maak!

Om oor sonde te praat,
het in ons dag ongewild geraak. Daar is
mense wat sê dat dit nie meer in ’n Nuwe Testamentiese erediens tuishoort
nie. Dit ontmoedig mense. Daar moet veel eerder op die nuwe lewe of
ander positiewe dinge gefokus word. Ek
het al by geleentheid die bekende skildery van Fernand Cormon, Die Vlug van Kaïn, wat in
die Orsay-museum in Parys hang, tydens
die skuldbelydenis in die erediens gebruik.
Dit het soms kommentaar ontlok wat daarop neerkom dat dit darem ’n baie
harde, Ou Testamentiese, uitbeelding van die stukkendheid van die sonde is. Dink jy hierdie skildery pas in die
erediens?

Kain

Onthou: Dit is slegs as jy die diepte van die sonde
verstaan, dat jy diep dankbaar kan wees oor die Here se liefde wat die verlossing bewerkstellig.
Is ’n vreugdelose geloofslewe nie
toe te skryf aan ’n oppervlakkige begrip van die sonde nie?

2. Verlossing

God verlos omdat
Hy volgens Johannes 3:16 uit die drang van sy liefde, wat inderdaad
volgens 1 Johannes 4:16 sy wesenseienskap is
, sy Seun tot redding van
die wêreld gegee. In die konteks van die
lydensprediking kan dit toegepas word op die sondaars wat uit alle nasies en
tale oor die hele wêreld heen verlos is van hulle straf en vir wie nuwe
lewensmoontlikhede gegee is. Vergelyk
die vader in die gelykenis van die Verlore Seun. Toe die seun nog ver aangekom het, het die
vader hom al gesien en na hom toe gehardloop … So is God, die Vader. Hy wil vergewe, Hy wag vir ons.

Vers 19 en 20 gee ’n
bondige beskrywing van die bevryding van die sondaars uit die nood, sowel as
hulle genesing van die siekte tot die dood toe. In hulle ellende roep hulle na
die Here om hulp. Dit kan hulle slegs doen omdat hulle aan die een kant van
hulle dwaasheid en aan die ander kant van die Here se reddingsvermoë bewus oortuig
kon word. Hierdie insig kan nie uit hulle self kom nie. Die Here het sy woord
uitgestuur (v 20 OAV) om die hele verlossingsproses te bemiddel. In Job 33:23
en 24 tree ’n engel, vir die mens in nood, as bemiddelaar op wat (a) hom
aansê wat sy plig is, (b) wat vir hom pleit en (c) wat ’n losprys vir hom
aanbied. Sy reaksie daarop en die Here se antwoord bewerk sy volkome genesing. Uiteindelik
weet ons dat God se Woord in Jesus
Christus mens geword het (Joh 1). Hy
bewerk as M
iddelaar die vergiffenis, die verlossing en die genesing vir die
sterwende sondaar wanneer Hy aan die kruis sterf. Hierdie losprys wat Hy betaal, het nie alleen
die sondaar se skuld vereffen nie, maar hom losgekoop van die dood sodat hy die
ewige lewe kan verkry en dit sonder enige verdienste aan sy kant. So word ons verhouding met die Vader herstel,
so word ons weer ’n kind vir wie die skoene en die nuwe klere en die ring
gebring word, en vir wie daar ’n feesmaal voorberei word. Want
hierdie kind van my was verlore, maar is gevind …

3. Dankbaarheid

As die geneesde mens,
die verlosde mens, regtig besef wat die implikasies daarvan vir sy/haar lewe
is, kan hy/sy nie anders as om die Here
met dankoffers te loof en met blydskap van sy dade te getuig nie
.

Hebreërs 13:12-16 som
die handelinge van danksegging op deur klem te lê op ’n lewe wat in hierdie wêreld geleef word met die oog op ’n vaste
toekomstige verblyfplek, ’n voortdurende lofoffer deur Jesus aan God en ’n
diens van goed doen en mededeelsaamheid aan ander
.

Die lydensweg van die
Middelaar vind sy hoogtepunt in die bewerking van die opstanding uit die dood.
Daarvoor ken die dankbaarheid van die verlostes geen perke nie en moet dit
volgens die voorskrif van 1 Korintiërs 15:58 uitgedruk word: “Daarom, liewe
broers (en susters), wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die
werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here
nie tevergeefs is nie.”

Om so ’n Here te dien,
kan nie ’n vreugdelose plig wees nie. Om
getrou aan jou lewensmaat vir wie jy liefhet, te leef, is nie ’n langgesig
onderneming nie. Dit is ’n spontane vreugde!
So behoort dit ook te wees in ons
verhouding met God!

Luk 15:11-24 – Son 15 Feb 09

Praat die waarheid –
BELYDENIS EN SELFONDERSOEK – een van die gewoontes om die valse self te laat
staan

1.    
Valse Self

Dra ons maskers?  Is ek na buite soos wat ek na binne is?  Natuurlik nie!  Dankie tog vir goeie maniere wat die filter
is waardeur my gedrag gestuur word sodat ek doen wat sosiaal reg is en nie soos
ek voel om te doen nie.  Hoe ek gaap en
kou is ook nou die belangrikste voorbeelde nie. 
Daar is ingrypender dinge wat ek na buite doen, wat miskien nie so eg ek
is nie.  Dink aan jou verhoudings met
ander mense.  Jou empatie met mense, voel
jy regtig so, of doen jy dit maar net omdat dit die regte ding is om te doen?

My selfversekerde
optrede:  voel ek na binne ook so, of
woel dit soms hier binne-in my van onsekerheid? 
My geneigdheid om geredelik my mening uit te spreek sonder om ruimte vir
’n ander se mening ruimte te laat, voel ek na binne ook so, of is ek net juis so
onseker, daarom het ek dit nodig om hierdie absolute sekerhede vir myself te
skep.

My vroom
geloofsverhouding met die Here:  hoe eg
is dit?  My dikwels belyde liefde vir
God, is dit leë woorde of deurleefde ervaring?

Die baie eise wat aan
ons gestel word, die baie komplekse situasies waarin ons geplaas word waarin
ons ’n optrede moet vind wat werk, wat doen dit aan ons?  Ek wonder soms oor die storie dat ’n mens
soveel verskillende lae kan hê soos ’n ui. 
Jy kan laag na laag afskil, en aan die einde bly daar niks oor nie.  Ek is ’n eggenoot, ’n dominee, ’n
verhoudingsterapeut, ’n kind, ’n oom,  ’n
….  Wat is ek in my kern regtig?

Dan vind ons dikwels
ons identiteit in verkeerde goed van verbygaande aard. 
Hierdie valse self
probeer om deur middel van minder belangrike goed soos sukses, status, familie,
beroep, voorkoms en reputasie, ’n begrip van wie jy is te skep.  Dan is ek ’n dominee of terapeut ook in my
optrede teenoor my vrou of my familie. 
Of ek is ook in persoonlike verhoudings die uitvoerende amptenaar, of
die hoogleraar.

2.    
Wie jy is
in God se oë?

Die Bybel gee ons ’n ander perspektief op onsself as
die wêreld.   In die Bybel kry ons God se
perspektief op ons.  Daar sou veel meer
wees wat ons kan aanhaal, maar hier is ’n paar gedeeltes wat tog help:

Ons uitgekies:   16 Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies
en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. (Joh 15:16)

Ons is geliefd:  Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy
noem ons kinders van God, en ons is dit ook.  (1 Joh 3:1)

Ons is vriende van Jesus:  15 Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ’n
ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat
Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.  (Joh 15:15)

Ons is ’n tempel van God:   16 Weet
julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon
nie? 
 (1 Kor 3:16)

Ons is geskep om die goeie te doen:   10 Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep
om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.
(Efe 2:10)

Ons op ’n wonderbaarlike wyse geskep:   14 Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen
het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker:
15 geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon
sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. 
 (Ps 139:14 & 15).

3.    
Verlore
Seun

Is hierdie verhaal nie
aangrypend nie?  Na al die jare se
bekendheid daarmee, tref dit steeds. 
Moontlik omdat ons onsself daarin kan erken.  Die swaar wat hierdie jongman gekry het,
dwing hom om op ’n realistiese manier na homself te kyk.  Hy is tussen die varke, nie meer joviaal,
gewild, ryk, nie.  Slegter kan dit seker
nie met hom gaan nie.  Maar dit verskaf
die impetus vir hom om te besluit:  Ek sal na my pa toe teruggaan …

En dan die ontroerende
oomblik.  Hy kom met al sy verskonings
wat hy seker oor en oor  soos hy gestap
het, ingeoefen het.  Pa, ek het teen God en teen pa gesondig …  Maar dit lyk my hy kry nooit die
geleentheid om hierdie hele toespraak te lewer nie.  Sy pa soen sy woorde van sy lippe af.  Wat ’n mooi voorbeeld van ver-soen-ning, skryf ’n teoloog!  En ook aangrypend:  Sy pa sien hom toe hy nog ver was …  Hy moet dag vir dag vir hom staan en wag het!

So is die God wat ek
en jy aanbid!

4.    
Ken
jouself

En daarom, voor
hierdie God, kan ek dit waag om myself te probeer vind.  Voor so ’n God kan ek myself eerlik
verootmoedig, kan ek my swakhede en valshede erken en bely.  Want Hy veroordeel nie, Hy het lief, Hy wag
vir my, Hy dink baie van my, ek wil my juis op ’n egte wyse voor Hom laat leef.

Daarom kan ek die
Heilige Gees vra om my hart oop te maak oor dit wat waar is van my.  Ek kan myself voor God oopstel omdat ek
veilig by Hom is.  Daarom kan ek bely en
sy vergifnis vir myself toeëien, wat die begin van ’n pad van vernuwing en
verandering is.

5.    
Hê jouself
lief

Aanhaling uit Shirley Valentine.

Ek mag myself maar
liefhê.  Ek mag myself maar aanvaar.  Want hoe sal ek julle kan liefhê as ek nie myself
liefhet nie.  Ons moet dan mekaar liefhê
soos ons onself liefhet.  Maar dit beteken
dan nie dit is ’n onrealistiese selfliefde wat nie ruimte benodig vir bekering,
vergifnis en groei nie!  Dit is juis ’n
sober oordeeloor jouself met jou sterkpunte maar ook jou swakpunte.

6.    
Vrug
hiervan

Jy behoort in jou
verhouding met die Here te kan groei.  Hy
behoort jou op hierdie pad te kan oortuig van verkeerde dinge in jou lewe.  Want jy het ’n nuwe blik op jouself.

Jy behoort ook nuwe
verhoudings met ander mense te kan kom. 
Jy behoort groter deernis met hulle swakpunte te kan hê ….

 

 

Hebr 4:12-15 en 6:11 en 12 – So 9 Nov 08

Ons leef oop en bloot voor God se oë

Ons ken almal die fotograwe se jag op die blink en bekende mense van
ons dag.  Dit is die paparazzi wat lang
telefoto lense wag om ’n foto te neem wat die wêreld graag sal wil sien.  Gewoonlik is dit ’n foto wat geneem is toe die
bekende onbewus daarvan was en glad nie verwag het dat daar ’n fotograaf in die
nabyheid is nie.

Maar nou lees ons in ons teks dat ons oop en bloot voor God se oë leef!  Die Here sien dus alles wat ek doen.  Die Here weet van alles wat ek dink, Hy weet
hoe ek voel!

Nou dit kan vir ’n mens ’n wonderlike ding wees om te hoor as  jy voel dat God ver van jou af is, of as jy
voel jy het sy hulp nodig.  Dis wonderlik
om te hoor dat die Here alles van jou weet as jy bruis van entoesiasme oor jou
verhouding met die Here, as jy groei in jou geloof beleef, as jy die kerk as wonderlik
en warm ervaar,  ens.

Maar as jy nie meer so entoesiasties voel nie?  As jy begin wonder oor baie dinge waaroor jy
nog nooit gewonder het nie?  As jy  begin voel die kerk help jou nie meer
nie?  Nog erger, as jy begin dink die
kerk en die gemeenskap van die gelowiges is nie vir jou nie?  Is dit dan nog so wonderlik om te hoor dat
die Here alles van jou weet?  Dat jy oop
en bloot voor sy oë leef?

Continue reading

Psalm 119:31-40 Son 7 Sep 08

Kindertyd

Wie van julle hou nie daarvan as iemand vir julle voorsê wat om te doen nie?  Baie mense hou nie daarvan nie.  Ons hond hou ook nie daarvan nie.  Mense hou soms ook nie daarvan dat die Here vir hulle sê wat hulle moet doen nie.  Dink maar aan Adam en Eva.

Ek weet ek moet op sommige plekke stadig ry, wat ek nie altyd doen nie.  Dan word ek beboet.  Is die padtekens daar om ons te beskerm of sommer net om die lewe moeilik te maak?  Natuurlik is dit daar om ons te beskerm.
Net so is God se reëls ook nie daar om die lewe moeilik te maak nie, maar om ons te beskerm.  God se reëls is daar om vir ons ’n beter lewe te verseker. 

Woordverkondiging

In ons huis is daar baie resepteboeke.  Min van die resepte word (ongelukkig) geregte wat op die tafel verskyn!  ’n Resep moet getrou gevolg word as jy ’n suksesvolle gereg wil voorberei.   Net so is ons vanoggend in Ps 119 by ’n resep vir ’n goeie lewe.  God se voorskrifte is soos die strepe op ’n teerpad wat vir ons ’n goeie en veilige reis verseker.
 
In die dag waarin ons leef is wette en reëls nie meer gewild nie.  Ons wil ons nie laat voorskryf nie.  Sandra vertel gereeld stories van kinders se optrede by die skool as daar vir hulle gesê word wat hulle mag doen en wat hulle nie mag doen nie.
 
Psalm 119 handel oor God se wil vir ons lewe, sy voorskrifte, sy wet, as iets lewends en iets aktiefs . Dit is ’n uitdrukking van God se lewegewende teenwoordigheid.  Daarom gebruik ons die foto van iemand wat van vreugde spring.  Breuggemann sê dat die wet ons vrymaak.  Omdat ons weet aan wie ons behoort, beskou ons God se wil vir ons lewe in ’n positiewe lig.  Ons weet watter rigting ons met ons lewe ingeslaan het.  Ons hoef nie telkens weer te wonder hoe ons moreel moet optree nie.  Ons weet wat ons moet doen, ons is gewoond daaraan, dit het ’n lewenswyse geword.  Ons neem nie ander mense se besittings vir onsself nie, ons verkul  nie ander in saketransaksies nie, ons vertel nie leuens nie.   Ons kan dus rustig lewe.  So ’n ingesteldheid lei ook nie noodwendig tot  ’n eentonige lewe nie.  Nee, dit maak vry!  Dit skep juis die ruimte waarbinne ons mens kan wees. 
 
Ons sou ook hier kon dink aan die voorbeeld van padverkeersreëls wat daar gestel is om ons lewe op die pad veilig te maak sodat ons heel en behoue by ons bestemming kan aankom.  Daar is ’n boekie oor die Tien Gebooie geskryf met die naam Tien stippellyne vir die pad.   As ons almal die padverkeersreëls volg – soos om ons sitplekgordels vas te maak, die regte volgafstand te handhaaf en nie onder die invloed van dwelms of alkohol te bestuur of die pad sonder om te kyk oorsteek nie – sou minder mense sterf en vermink raak. Reëls skep vryheid en geborgenheid.
 
Hier word klem gelê op die belangrike gedagte van die nou verband tussen wet en evangelie.  As  ons die wet sien as deel van God se genade, dan word die wet deel van die goeie nuus van die evangelie.  Baie belangrik is ook die gedagte van Bonhoeffer dat die Tien Gebooie waak oor kosbare genade en die kerk beskerm teen goedkoop genade.
 

Continue reading

Matt 13:31-33, 44-52 – Son 27 Jul 08

Die
Koninkryk bring ’n ingrypende verandering in ons lewe

Deon
Binneman

Skriflesing:  Mat 13:31-33; 44-52

Kindertyd: 

Met die
lenteblomme van Namakwaland is daar vir die kinders van die verandering wat die
lente bring, vertel.  Netso kan Jesus
Christus ook ’n verandering in ’n mens se lewe bring.  Die kinders is gevra om te dink aan iemand
wat hulle ken in wie ’n mens hierdie verandering baie duidelik kan sien.

Inleiding:

Die meeste mense sal voorbeelde kan noem van
mense wat hulle beskou as goeie voorbeelde van gelowiges wat geheel en al  verander is deur die geloof.  Vir my is Moeder Theresa ’n verstommende
voorbeeld van iemand wat haar hele lewe gewy het aan dit wat vir haar belangrik
was, dit wat haar hele lewe opge
ëis  het, naamlik die liefdevolle
uitreik in die naam van Jesus Christus na die ellendigste van mense.

Nader aan ons het die lewe van Beyers Naudé my
nog altyd ontroer.  Hy en sy vrou het
hulle lewe opgeoffer vir dit waarin hulle geglo het.

Die vyf kort gelykenisse:

Ons het vanoggend vyf kort gelykenisse gelees,
nl die gelykenisse van die mosterdsaadjie,
die suurdeeg, die skat in die saailand en die kosbare pêrel en van die treknet met die baie visse.  Ons weet die bedoeling is om vir ons iets van
die koninkryk van die hemel daarmee te verduidelik.  Al hierdie gelykenisse beeld op een of ander
manier die koninkryk van God
uit.  Daarom begin elkeen van die
gelykenisse met “Die koninkryk van die hemele is soos…”
.  Jesus het sy hele aardse bediening
gesien as die koms van die Koninkryk, die koms van God se heerskappy op aarde
en in mense se lewe. 

In Matteus 4:17 begin Jesus sy bediening met
die oproep:  Bekeer julle, want die
koninkryk van die hemel het naby gekom. 
Deur
sy woorde en dade het die koninkryk van God aangebreek, het die heerskappy van
God in mense se lewe naby gekom:  siekes
is genees, blindes het gesien, en mense se lewe is ingrypend verander.  Jesus verduidelik met wonderwerke,
gelykenisse en preke dat die koninkryk van die hemel reeds aangebreek het en
wat die aard en vereistes daarvan is.  In
Matteus word dit ook duidelik dat die koninkryk mense is, gelowiges wat die
Koningskap van Jesus Christus aanvaar. Hy het gekom om ons na sy koninkryk te
roep. Hy roep ons op tot ’n radikale keuse vir die koninkryk. Persone wat
hierdie keuse maak, betree nie die koninkryk nie, maar is die koninkryk.

 Die vyf
kort gelykenisse wil vir ons leer dat die koninkryk van God op ’n manier iets
is wat klein begin en baie groot word en ’n baie groot invloed het.  Verder wil die gelykenisse ook leer dat die
koninkryk kosbaar is en dat die besef van die waarde daarvan mense totaal
opeis.  Ons wil dus vanoggend op die
volgende drie aspekte van die koninkryk fokus: 
Die koninkryk van die hemel het ’n bepaalde aantrekkingskrag; die
koninkryk van die hemel het ’n veranderde effek; en die koninkryk van die hemel
is kosbaar/waardevol.

 

Continue reading