Skip to main content

Mark 12 – Son 15 Nov 09

 

Teks:  Markus 12:38 – 44

 

Die arm weduwee:  Om met die regte prioriteite te leef

ʼn Mens se karakter, daardie konstante manier van doen en nie doen nie, word geopenbaar deur die lewensbeginsels waarvolgens jy leef – anders gesê, deur die prioriteite wat jy vir jouself stel.

Ons teks handel oor ’n vrou wie se lewensbeginsels baie duidelik geopenbaar word deur die keuse wat sy maak as sy haar dankoffer in die offergawekis in die tempel gooi.  Ons sien baie duidelik wat vir haar belangriker as ander minder belangrike dinge was.  En daarin lê daar miskien ’n baie belangrike lewensles vir ons opgesluit.

1.      Die Skrifgeleerdes en die weduwee

In verse 38 –  40 waarsku Jesus teen die skrifgeleerdes, leiers op godsdienstige gebied.  Hulle hou van swier en aansien, maar toon terselfdertyd dat hulle ’n gebrek aan genade vir die magteloses het.  ’n Weduwee was juis ’n goeie voorbeeld van magteloosheid omdat, soos met die wese en die vreemdelinge, hulle nie toegang tot die lang gehad het nie, en daarmee nie in die land se opbrengs kon deel nie.  Daarom was hulle weerloos en kon hulle maklik uitgebuit word.

Die tweede deel van die Skriflesing, verse 41 – 44, vertel van die arm weduwee wat twee muntstukkies in die offergawekis kom gooi.  Haar dankoffer staan in skerp kontras met die dankoffers wat baie ryk mense gegee het.  Dat dit hier nie oor geld gaan nie, is duidelik as Jesus sy dissipels naderroepe en sê:  Dit verseker ek julle:  Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het.  Die rede hiervoor lê daarin  dat hierdie vrou alles wat sy gehad het, gegee het.  Al het van die rykes hoeveel gegee, het hulle ook nog baie gehad wat hulle nie gegee het nie.  Hierdie vrou se lewensbeginsel waarvolgens sy leef, word duidelik geopenbaar.  Vir haar is die Heer die Een vir sy alles gee, vir sy haarself sonder enige reserwe, gee.

Dit word soveel meer aangrypend as ’n mens besef dat sy haar offer aan ’n sisteem toevertrou, die georganiseerde tempeldiens, wat juis magtelose mense soos sy uitbuit!  Weet sy dit dan nie?!  Is sy arm én dom?  Ek kan aan ’n klomp mense dink, myself ingesluit, wat doodgewoon sou sê ek gee geen dankoffer aan so ’n instansie nie.  ’n Mens kan maklik verlei word om die voorstelling by jouself te hê van ’n arme, patetiese vroutjie in verslete klere wat skuifelend, onseker, na die offergawekis beweeg om haar skaam-skaam nietige offer te bring.  Maar dan sou jy meer in die teks lees as wat daar staan.  Hierdie vrou was ’n weduwee, sy was dus een van die groep wat nie toegang tot die grond se opbrengs gehad het nie, sy was weerloos.  Maar dit kan wees dat sy met haar vaste oortuiging van die plek wat die Here in haar lewe inneem, met waardigheid na die offergawekis toe stap omdat sy so oortuig is van dit wat sy is en wat sy doen!  Hierdie vrou het dit heel moontlik met haarself uitgemaak dat haar verhouding met die Here hierdie offer van haar vra, ongeag wat die instansie aan wie sy dit gee, is en doen!  Sy gee haar alles, al palm die magtiges die weerlose weduwees se huise in.

2.      ’n Onvolmaakte kerk

Daar is mense wat hulle rug op die kerk draai as gevolg van die optrede van leiers in die kerk – kerkraad, predikante.  Of miskien besluite wat in die kerk geneem is of beleid wat geformuleer is.  Daar is heel  moontlik heelwat geldige redes aan te voer hoekom ’n mens jou dankoffer kan weerhou, of kan ophou om die eredienste by te woon, of om doodgewoon net op te hou deel wees van die gemeente.  Hierdie vrou in die teks het blykbaar genoeg rede gehad.  Maar sy doen dit nie.  Diegene in die kerk wat vir ander ’n struikelblok kan wees, moet ook weet dat hulle daarvoor verantwoordelikheid sal moet aanvaar.

Maar hierdie vrou laat nie toe dat die situasie waarin sy haar bevind, haar lewensbeginsels, haar prioriteite, bepaal of voorskryf nie.  Sy reageer nie op die omstandighede nie.  Ongeag die omstandighede, bly sy getrou aan die beginsels wat sy vir haar lewe gekies het.  En dit is ’n baie belangrike ding om in jou lewe te doen.  Jy behoort ’n baie duidelike verstaan van wie jy is en hoe jy maak te hê.  En hierdie konstante kern van optrede behoort nie bepaal te word deur die situasie nie.  Byvoorbeeld:  As my lewensbeginsels inhou dat ek nie ander mense se goed vat nie, dan sal ek dit nie doen al is ek ’n situasie waarin ek dit kan doen sonder om uitgevang te word.  Omstandighede behoort my nie te verlei om anders op te tree as wat ek wil optree nie, as wat my waardes en my prioriteite inhou nie.

 

3.      Paulus se voorbeeld

Paulus is hier nogal ’n belangrike voorbeeld.  In Filippense 3:13 sê hy ’n belangrike ding.  Hy sê:  Maar een ding doen ek …  Hy het te midde van die situasies waarin hy hom bevind en die keuses wat hy moes maak, ’n duidelike verstaan van wat belangrik was en wat minder belangrik in sy lewe was, gehad.  So helder dat hy kon sê dat daar een, duidelike beginsel was wat sy lewe bepaal het.  Dit is ook in ons eie lewe belangrik.  Ek behoort ook te kan sê:  Een ding doen ek, dit is ek …  En as die oorkoepelende beginsel van my lewe is om die Here te dien, dan lewe ek daarvolgens.  Soos wat die weduwee gedoen het.  Dan doen ek soos my beginsel bepaal, sonder om my te laat weglei deur dit wat ander mense doen.   ’n Helder verstaan van ’n enkele, oorkoepelende prioriteit, is baie belangrik in die lewe.  Die lewe is te kompleks om met lang lyste prioriteite te lewe.  Paulus het geweet van een sentrale ding wat sy lewe bepaal het, en sy prioriteite het uit hierdie sentrale fokus gegroei.

 

4.      ’n Kritiese kyk na myself

Ek moet krities na my eie lewe, na my beginsels, na my prioriteite, na my keuses kyk.  Want die gevaar van selfregverdiging is baie groot.  Dit is maklik om raak te sien dat ander se karakter blootgelê word deur hulle lewe, maar vir myself en my eie lewe is ek dikwels blind.  Daarom is dit genade as die Here ’n onrustigheid oor jouself gee en vir jou ’n helder insig in jou eie manier van wees en doen, gee.  En dit is nie altyd lekker nie.  Dit behoort nie altyd aangenaam te wees nie.  Maar dit is die punt waar ’n nuwe groei in jou lewe kan begin, ’n nuwe groei in jou oorgawe aan die Here kan begin, ’n nuwe groei in die verstaan van sy wil vir jou lewe kan begin.

 

Jesus vertel ’n storie van ’n man wie se belangrikste prioriteite hyself en sy besittings was, die storie van die sogenaamde Ryk Dwaas.  Met hierdie storie waarsku Jesus nie net teen die gevaar van hebsug of geldgierigheid nie.  Hy wys veral op die futiliteit van prioriteite wat nie ooreenstem met God se wil vir jou lewe nie.  Die man in die gelykenis se prioriteite is duidelik – persoonlike rykdom en ’n toekoms waarin hy goed versorg sal wees.  Maar hierdie ryk dwaas begin met die verkeerde motiewe en slaag nie daarin om een van hierdie doelwitte te verwesenlik nie.  Hy is dood voordat hy sy besigheid kon uitbrei of sy aftrede kon geniet.  Jesus maak dan hierdie gelykenis van toepassing op almal wie se prioriteite openbaar dat hulle harte by hulle eie belang in plaas van by God gelê het.  Ons lewe behoort God te verheerlik en nie op onsself gerig te wees nie.  Ons sou dus kon vra of ons belangrikste prioriteite tot die erkenning van God sal lei.  Indien wel, dan sal ons ryk in God se oë wees.

 

Wat doen die Here se Woord vanoggend in ons?  Maak dit jou onrustig en wil jy jou voorneem om in die toekoms harder te probeer om dit of dat te doen?

 

Dink eerder aan nog ’n gawe wat ook meer werd is as enige ander gawe.  Dink aan die offer wat daar reeds vir jou en vir my gebring is.  Die offer van ’n lewe aan die kruis.  Daar lê die moontlikheid van ’n daaglikse nuwe begin in ’n nuwe verhouding met Christus.  Laat dit jou oorkoepelende, bepalende riglyn vir jou lewe wees.  Gee jouself uit dankbaarheid as ’n lewende offer aan Hom …

 

Amen

Ps 8 – So 4 Okt 09

4 Oktober 2009
Teks: Psalm 8

Wat is die mens?

Volgens die Duitse filosoof Immanuel Kant is hierdie vraag een van die basiese vrae van die mens in sy soeke na die sin van haar bestaan.  Wat is die mens dat U aan ons dink?  Dié vraag wat Psalm 8 stel, is gebore uit ontsag vir die grootsheid van God se Naam oor die ganse aarde. As die skrywer van die psalm die hemel aanskou, die maan en sterre waaraan God ’n plek gegee het, dan kan hy nie anders nie as om onder die indruk te kom van die nietigheid van die mens.  Die antwoord op hierdie vraag:  Wat is die mens?, is:  Niks!  Dit vestig die grondtoon van die psalm, naamlik verwondering. Die wonder is dat God bemoeienis maak met ’n nietigheidjie in die groot heelal.

As Dawid vra: Wat is die mens? dink hy aan die mens in verhouding tot God. Hy laat nie die klem op die mens self val nie, maar stel sy fokus op die mens voor en in verhouding tot God. Hy weet van geen selfgenoegsame, onafhanklike, abstrakte en geïsoleerde mens wat sonder God kan bestaan nie. Vir Dawid bestaan die mens alleen maar deur die goedheid en genade van God. Daarom kan hy met verwondering vra:  … wat is die mens dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?

En dan volg die verbasing van die psalmskrywer in die tweede helfte. Die mens is eintlik self ’n soort God.  Dit staan letterlik só in die Hebreeus.  Maar wanneer Dawid die vraag na die mens vra, wil hy nie die vermoë van die mens beklemtoon nie, maar wil hy uitdrukking gee aan sy verwondering dat die Here te midde van sy wonderbare skepping die mens kon aanstel as die kroon van dit alles. Daarom sê hy in vers 4:  As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ’n plek gegee het…  Die mens heers oor die werk van God se hande. Alles op aarde, selfs die wilde diere, die voëls in die lug en die visse in die see is aan die mens gegee om daarvoor te sorg.  Die nietige mens dra die kroon van ’n koning. Ons word met aansien en eer gekroon. 

Die verbasing van Psalm 8 het vandag omgekeer in ’n soort vanselfsprekendheid. Die skrywer van Psalm 8 kan dit amper nie glo dat God tog nog aan die mens dink nie, dat God oor kinders en suigelinge besorg is nie. Vir ons is die plek van die mens in die skepping veel meer vanselfsprekend.  Dit is eerder God wat vir ons onvanselfsprekend geword het. Psalm 8 kyk op na die hemel en wonder: Wat is die mens? Ons kyk op na die hemel en wonder:  Waar is God?

Met die vraag: Wat is die mens? het ons veel minder moeite. Die mens, so argumenteer ons graag, is immers die kroon van die skepping. Ons is na die beeld van God geskape. Ons is geroep om te heers oor die skepping.  Ons het eintlik in ons eie oë verskriklik belangrik geword.

Tog vreemd dat as ons soms die slegste wat in die mens te voorskyn kom, probeer vergoeilik deur die uitspraak:  Ook maar mens …  Dit is juis verkeerd!  Ook maar mens moet gebruik word vir die ons mees verhewe moontlikhede.  Want ons is mos net ’n klein bietjie minder as ’n hemelse wese …

Ons wat net ’n klein bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak is, wat God se verteenwoordiger op aarde moet wees, wat moet heers oor sy tuin, hoe het ons gevaar?  Ons was veronderstel om vir die diere, die plante en die grond te sorg, om die aarde soos ’n goeie tuinier te versorg. Maar wat het ons nie aangevang nie!  Ons moet sorg vir die skape en beeste – en die varke en hoenders. Maar baie van hulle word deesdae in klein kampies ingehok, vetgevoer met ’n chemiese dieet en uiteindelik geslag. Diere word wreed mishandel en gepynig.

Ons heers oor die wilde diere van die veld deur hulle in wildparke te bewaar. Maar al die orige grond het ons vir onsself opgeëis. So asof een enkele spesie, die mens, ’n goeie reg het op 90% van alle benutbare grond. Talle dier-  en insekspesies sterf uit sonder dat iemand ooit van hulle bestaan geweet het.  Ons moet ook vir die voëls in die lug sorg. Maar oor die lug self is ons minder bekommerd. Ons pomp die lug vol petroldampe, want ons wil graag in ons motors, taxi’s en vliegtuie ry. Ons verbrand elke jaar tonne steenkool per persoon omdat ons energie nodig het – sonder om aan die gevolge daarvan vir ons eie longe te dink. Ons is letterlik besig om die samestelling van die atmosfeer self te verander. Daar is al hoe meer koolsuurgas in die lug as gevolg van al die energie wat ons verbrand en die bome wat ons afkap.  Oor die gevolge daarvan vir ’n oorverhitte planeet moet ons ons maar later bekommer.

Hoe vaar ons in ons verhouding met ander wat soos ons die kroon op God se skepping vorm – die ander mense?  Doen mense nie die mees afskuwelike dinge aan en met mekaar nie? 

Ons verdedig al hierdie dinge deur te redeneer dat dit ons Godgegewe roeping is om oor die aarde te heers en dit te onderwerp. Ons is immers die kroon van die skepping. Maar ons vergeet dat ons grootsheid juis in ’n insig in ons eie geringheid lê.  Die geringheid en die grootsheid van die mens.

Die ontdekking van die geringheid en grootsheid van die mens word omraam deur die lof aan God: O Here, ons Heer, hoe magtig is u Naam oor die hele aarde  (Ps 8:1, 10). Dit is pas wanneer die psalmis nadink oor die almag van God dat die insig in die geringheid van die mens gebore word. Dit is pas wanneer die psalmis nadink oor die sorg van God dat die insig in die grootsheid van die mens gebore word. Nóg die nadenke oor die hemelruim nóg die nadenke oor lewe op aarde lei die mens vanself na God.

In die Nuwe Testament word hierdie insig op Christus van toepassing gemaak.  Dit blyk nêrens beter nie as in Pilatus se beroemde uitspraak in Johannes 17:5:  Dit is die mens.   Dit is pas in Jesus Christus dat ons die geringheid en die grootsheid van die mens ten volle begryp.  Dáár, by die kruis, leer ons wat dit beteken om as mens voor God te staan te kom. Daar sien ons die gevolge van ons menslike arrogansie en hoogmoed raak, miskien vir die eerste keer. Miskien kan dit ons vandag ook help om die ekologiese gevolge van ons menslike arrogansie raak te sien. Dan sal ons dalk begin leer om ons verantwoordelikheid teenoor skape, beeste, wilde diere, voëls en visse, en ander mense, raak te sien.

Numeri 11:11-15 So 30 Augustus 2009

God is Voorsiener

 

Skriflesing:  Numeri 11:11 – 15, Joh 6:35, Mat 25:34 – 46

Deon Binneman

1. God se sorg in die Ou Testament

Dat die Ou Testament die beeld gebruik van ’n ma wat haar baba borsvoed om die sorg van God teenoor sy volk Israel uit te beeld, is vir ons besondere troosvol.  Wat ook al met jou gebeur, God sorg vir jou!  Dit was veral die geskiedenis van Israel na hulle verlossing uit die slawerny van Egipte in hulle 40-jarige trek deur die woestyn op pad na die beloofde land, dat hierdie pragtige beeld gebruik word.  God sorg vir hulle met manna en kwartels soos ’n ma haar baba versorg.  Die baba is volkome afhanklik van sy ma en die ma voorsien liefdevol dag vir dag aan al haar baba se behoeftes.

Ons teks in Numeri 11:11-15 sluit by hierdie gedagte aan.  Moses kla in hierdie gedeelte by God dat God hom die verantwoordelikheid vir hierdie volk gegee het.  Waarom het U die verantwoordelikheid vir hierdie hele volk op my gelaai?   Hy sê hy is nie hulle ma nie.  Het ek dan swanger geword en hierdie volk in die wêreld gebring, dat U vir my sê:  Dra hulle aan jou bors soos ’n oppasser met suigelinge doen …  Hy is nie hulle ma nie.  Hy kan hulle nie versorg soos ’n vroedvrou nie.  God is hulle ma, is die implikasie.  Hy weet hulle is op pad na die beloofde land wat oorloop van melk en heuning, maar iemand moet vir hierdie kinders padkos voorsien op die lang reis daarheen.  En volgens Moses is dit God wat die ma se taak moet verrig om hierdie baba te voed!

Dit is ironies dat Israel nie die gelukkige en tevrede baba is wat ons sou verwag nie!  Hulle kla gereeld oor baie dinge!  Die Here moes hulle maar in Egipte laat bly het.  Daar was daar ten minste genoeg water.  Die Here moes hulle maar in Egipte laat bly het.  Daar was daar ten minste genoeg kos.  Hulle het begin om hulle daaglikse versorging en kos as vanselfsprekend te ervaar.  Hulle het dit wat hulle het nie meer as God se sorg gesien nie, maar as iets wat maar vanself daar moet wees.

2. God se sorg in die Nuwe Testament

Maar dit is nie net die Ou Testament wat so oor God se sorg praat nie.  Die Nuwe Testament doen dit ook, en gaan selfs verder.  As Jesus Christus vir ons leer hoe ons moet bid, dan is een van die dinge wat Hy ons leer, is om te vir ons daaglikse versorging te vra:  Gee ons vandag ons daaglikse brood.  Hy is ons Voorsiener, Hy wil hê dat ons dit daagliks vir Hom moet vra.  Hy voed ons getrou sodat ons sterk en gelukkig deur die lewe kan gaan.

Maar Hy sorg nie net vir ons aardse brood nie.  Jesus maak nie die onderskeiding tussen die aardse brood en geestelike brood nie.  In Johannes 6 sê Hy: 
Dít verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee.  Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.”  Hulle sê toe vir Hom: “Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood.”  Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

God sorg dus vir veel meer as net die aardse!  Hy sorg daarvoor ook.  Maar sy sorg is veel meer omvattend!  Hy sorg vir hierdie lewe maar ook vir die geestelike lewe en vir die lewe hierna!  Daarom is die Nagmaal in die kerk so ’n ryke simbool van God se sorg.  God sorg en voed, ook in die erediens tydens die Nagmaal, met die proebare en tasbare tekens van sy sorgende vergifnis – dit alles word opgeroep deur ’n klein stukkie brood en ’n klein slukkie wyn!

Maar die Nuwe Testament het ook baie ander mooi beelde en vertellings oor die sorg van God in Christus.  Dink aan die verhale wat vertel hoe Jesus vir honger mense kos gee – vis en brood.  Hy eet saam met sondaars, Hy vier die paasmaaltyd saam met sy dissipels.  God se voorsiening word voortgesit in Christus – Hy gee nie net brood nie, Hy IS die brood!

3. God se sorg is vir almal

Dit is belangrik dat Israel moes verstaan dat hulle nie God se voorsiening net vir hulleself kon toe-eien nie, maar dat God se sorg die hele skepping insluit.  Ook die diere is deel van God se skepping – Hy is ook hulle voorsienende God.  Dit sien ons duidelik in die skeppingsverhaal waar die aarde die opdrag kry kos vir mens en dier voort te bring.

4. Is dit ons ervaring?

Is die wêreld so ’n paradys waar almal, mens en dier, elke dag alles wat hulle nodig het maar net kry?  Of is dit eerder die beeld van luilekker land waar die gebraaide eend met die mes en vurk in die rug verbyvlieg en die ryp vrugte laag aan die bome hang sodat jy so op jou rug kan lê en ’n hap gee sonder om eers jou hand uit te steek?

Nee, ek glo julle ervaring is ook dat daar baie swaarkry, lyding en ontbering in die wêreld is, vir mens en dier.  Daar is ’n webwerf (http://www.globalrichlist.com/index.php) wat vir ’n mens ’n baie goeie aanduiding gee van die wye omvang van armoede in die wêreld.  ’n Mens sleutel jou jaarlikse inkomste in en daar word dan bereken hoeveel mense in die wêreld armer en ryker is as jy.  Hiervolgens is 99% van die wêreld se bevolking armer as ek en Sandra (’n dominee en ’n onderwyseres)!

’n Mens kan maar net ’n bietjie lees, jou oë so ’n bietjie oophou waar jy kom, dan sal jy sien dat daar baie mense in die wêreld is wat swaar kry.  Afrika, ons kontinent, is ’n goeie voorbeeld van ’n plek waar baie mense en diere honger en ontbering ken.

5. Waar is die voorsienende God dan?

’n Mens wil soms uitroep dat God moet verskyn om te sien wat met sy skepping gebeur!  Mense en diere gaan dood van die honger!  Mense en diere gaan dood van die dors!  Mense en diere gaan dood vanweë ander mense so optrede!  Die rykdom van die wêreld is so ongelyk verdeel.  ’n Klein groepie het so baie terwyl ’n groot groep so min het.

Waar is ons Voorsienende God wat die hele skepping kos gee in die praktyk?

6. ’n Ernstige gevaar!

Dit is riskant om ’n preek oor God se sorg in gemeentes te preek waar mense min of geen gebrek ken nie.  Wie van ons het al honger gaan slaap?  Die fiktiewe storie oor die laaste Franse koningin mag maklik op ons van toepassing wees.  Toe die gewone mense na die paleis opruk tydens die Franse rewolusie, het sy gevra hoekom hulle so kwaad is.  ’n Bediende het geantwoord dat hulle honger is, hulle het nie brood nie.  Waarop sy sou gevra het:  Hoekom eet hulle dan nie koek nie?  Sy kon die gepeupel se honger nie verstaan  nie!

Ook ons kan so maklik vir ’n honger mens sê God sal voorsien, maar jy troos eintlik maar net jouself.  Ek stuur die ander een met die belofte weg dat God sal voorsien sodat ek self nie iets hoef te doen nie.

7. Ons is God se hande!

Mat 25 is aangrypend!  Jesus gee hier die redes hoekom sommige die ewige lewe sal kry en ander  nie.  Hier staan:
 “Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit.  Al die volke sal voor Hom bymekaar gebring word, en Hy sal die mense van mekaar skei soos ’n wagter die skape van die bokke skei.  Die skape sal Hy regs en die bokke links van Hom laat staan.  “Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit,  want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My gehuisves;  Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.’  Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink?  En wanneer het ons U ’n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee?  Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?’  En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’

As ons die ellende sien, is dit God wat afwesig is en nie sy belofte nakom nie, of is dit ons wat Hy sy hande en voete en oë en ore op aarde moet wees (letterlik sy liggaam!) wat afwesig is, of blind, of doof of so gewoond aan ander se nood geraak het, dat ons onbewus daarvan geword het?

Hoe dit in die praktyk gedoen moet word, moet elkeen vir homself in verantwoordelikheid voor God uitmaak.  As die antieke Egiptenare al besef het hoe belangrik geregtigheid, balans, moraliteit en ewewig in die samelewing is, hoeveel te meer moet ons as die liggaam van Christus wat sy sorg vir ons ken, hierdie beginsels nie soek en uitleef in ons wêreld nie?

 

 

 

 

Jeremia 8:18 – 9:2

Jeremia 8:18 – 9:2, Johannes 11:33 – 38

Deon Binneman 

Sondag, 16 Augustus 2009

 

Ons Passievolle God

1. Die Nektarbottel en die Voëls
Ons het ‘n nektarbottel aan ’n boom in die tuin opgehang.  Na ’n paar maande het die voëls dit ontdek:  vinke, muisvoëls, glasogies  en ’n verskeidenheid suikerbekkies het die bottel met die rooi suikerstroop ontdek.  Nou probeer ek om ’n baie goeie foto van hierdie bottel en sy besoekers te neem.  Die enigste probleem is dat die langste lens wat ek het, eintlik nie lank genoeg is nie.  En die bottel hang in die skaduwee.  So, fokus raak ’n baie ernstige probleem.  Soms is die bottel perfek in fokus, maar die voëltjie nie.  Terwyl ek so sukkel om  ‘n mooi foto van die voëltjies te neem en ek besef het dat ’n perfekte fokus eintlik  ’n baie beperkte deeltjie van die groter prent gehels, het ek aan ons verstaan van God gedink.

Ook ons verstaan van God bring telkens net ’n beperkte, ’n baie klein deel van God in fokus.  As ek aan God dink, dink ek aan ’n aspek van God.  Daar is dan soveel meer wat op daardie stadium nie in die aandag, in fokus, is nie.  As ’n mens aan God se vermoë om te oordeel dink, dan is daar so baie ander dinge wat oor God gesê kan word waaraan jy op daardie stadium nie aandag gee nie.  Daarom pas ’n stuk nederigheid by ons as ons oor God praat.  Want ons verstaan van God is altyd onvolledig.

2. Hoe sien jy God?
Toe ek my militêre diensplig gedoen het, was ons vir 3 maande op die Namibië/Angola grens.  Op ’n dag het die bevelvoerder ’n jong man na my toe gebring wat sê dat hy niks van die God waarvan daar by die Kapelaansperiodes en op die paradegrond gelees en vertel word, weet nie.  Die dominee moes die saak regstel.  Die man vertel toe dat hy in ’n Duitse huis in Windhoek grootgeword het.  Sy ouers het nooit kerk toe gegaan nie, by die skool was daar geen godsdiensonderrig nie en hy het geen maats gehad wat veel met die kerk te doen gehad het nie.  Al wat hy van God en Godsdiens weet is dat daar kerkgeboue bestaan en daar is mense wat soontoe gaan.

’n Jong en baie entoesiastiese dominee dink toe hy kan op hierdie skoon doek die eerste kwashaal van die geloof trek.  Ek begin toe by wat vir my die belangrikste eienskap van God is.  God is liefde en Hy sê Hy is soos ’n aardse pa …  Waarop die jong man terstond opstaan en uit die tent loop en verseg om om te draai en terug  te kom al roep ek hoe hard.

Weke daarna het ek hom weer raakgeloop en gevra wat hom die laaste keer so ontstel het dat hy net geloop het.  Hy sê toe dat as God soos ’n pa is, dan wil hy niks met God uit te waai hê nie.  Wat hy van sy pa kan onthou, probeer hy om liewer te vergeet.  Hoe kon ek dit voorsien?  My eie pa onthou ek soveel anders …

Ek het al gelees dat ’n mens so Godsbeeld met ’n honderas vergelyk kan word.  Hoe is God vir jou?  Miskien soos ’n Rotweiler wat kwaai blaf en gereed is om jou te byt?  Is God dus vir jou soos ’n kwaai God wat kyk waar jy oortree sodat Hy jou kan straf?  Of is God soos ’n stertswaaiende Labrador met ’n uithang-tong, soekend na jou aandag – die Man Daarbo wie maar te gretig wag op jou erkenning?

My vriend, wat predikant in Parys was, vertel van die bejaarde man en vrou wat in die woonstel oorkant syne ingetrek het.  Hulle het vir ’n jaar lank vir mekaar geknik as hulle mekaar voor die hysbak of in die portaal raakloop.  Toe vra die man hom op ’n dag watter soort werk hy doen.  Toe André antwoord dat hy ’n predikant is, sê die man dat hulle Jode is maar nie meer godsdienstig is nie.  Hulle was beide in die Tweede Wêreldoorlog in konsentrasiekampe en het daar hulle geloof in God verloor.

Ons dink nie almal dieselfde oor God nie.  Ons geskiedenis bepaal dikwels hoe ons oor God dink.  Maar hoe ons oor God dink, is heel moontlik maar net hoe God deur ons lens lyk, hoe ons op Hom fokus.

3. Godsbegrip van die Griekse filosofie teenoor dié van die Bybel
Vir die Griekse filosowe was God die Onbeweeglike Beweger, die Ewige, die Onveranderlike, die Onafhanklike wat niks van niemand nodig het nie, wat heeltemal emosieloos is en apart van die skepping staan.  Hy het nie lief nie en hy haat nie.  Hy is vry van alle emosies.

Maar nou lees ons juis in ons teks dat God kan huil en dat Jesus Christus deur sy emosies oorweldig word.  Jeremia beeld God uit as ’n God wat huil netsoos hy as profeet huil oor die tragedie wat besig is om onder die Israeliete af te speel.

God se diepste innerlike emosies word verwoord wanneer God uitroep dat Hy dag en nag wil huil totdat daar nie meer trane oor is nie.  God wens om ver weg te vlug, iewers die woestyn in, net om te kan wegkom van die mense en hulle pyn.  Hy is verslae oor Israel se onvermoë om die gevolge van hulle sonde te besef.  Hy sien hulle seer en kry saam met hulle seer.  Ook God sien hulle seer.  Soos Jeremia oor sy volk se lot huil, so huil God oor sy mense se seer, oor die gebrek aan genesing van hulle wonde.  Die versmelting van God en die profeet se trane wys hoe God Homself volledig met die mens se situasie van pyn en lyding vereenselwig, in so ’n mate dat God se trane asof uit ’n bodemlose put opwel.

4. ’n God wat huil verruim ons verstaan van God
Staan ’n God wat huil in skerp kontras met jou verstaan van God?

Dit is opvallend hier in die Jeremia dat God se trane ’n verandering in die trant van die boek bring – ’n verandering in God self, maar ook in die mense.  Dit is wanneer God huil dat Hy beweeg van ’n veraf, onbetrokke God wat net afkom aarde toe om straf uit te deel, na ’n God wat betrokke is, wat nie net mense se seer raaksien nie, maar saam met hulle ly.  God se trane wys dat Hy steeds die mens liefhet, ten spyte van …  En dit is juis God se trane as teken dat Hy Hom by mense en hulle pyn skaar, wat genesing, heling moontlik maak.  Want ons sien telkens in die Ou Testament dit is wanneer God mense se pyn raaksien, dat Hy verandering bewerkstellig.

Om God te sien huil verander ook mense.  Dit is wanneer jy God weet dat God ook huil oor wat met mense gebeur, dat jy ook in ’n ander verhouding met God kom.  Want waar daar trane is, word mag en geweld prysgegee.  Daar word mense oopgestel vir mekaar en dit is daar waar egte heling ’n moontlikheid word.

5. God en ons lyding …
Om die mens se lyding op aarde te verstaan, en om God se plek en rol in die gelowige se lewe regtig te verstaan, bly ’n onmoontlike taak.  Maar na die lyding wat die Tweede Wêreldoorlog gebring het, het teoloë begin sê dat God nie afwesig was in hierdie verskiklike nagmerrie nie, maar saam m et mense was in hulle donkerste tye.  Jurgen Moltman het God so sterk met die lyding in die wêreld geassosieer dat ’n mens kan se dat God self ly.

Die lydende God los nie alle vrae op nie.  Ons weet nie hoekom God nie soms vroeër ingryp nie.  Ons weet nie hoekom God nie soms keer dat die swaar oor ons kom nie.  Wil dit nie soms lyk of God se ’n bietjie magteloos staan teenoor dit wat op aarde gebeur nie?

Ons weet nie alles nie, ons ken nie al die antwoorde nie.  Maar vanoggend kom daar ’n aspek van God in fokus wat ons moontlik mag help.  Ons God kan saam met ons huil …

2 Sam 1:1, 17 – 27

Normal 0 21 false false false AF X-NONE X-NONE

Teks: 2 Samuel 1:1, 17 – 27

Deon Binneman

Hoe het die helde geval!

Dit is die Derde Sondag in Koninkrykstyd. In hierdie tydperk in die kerklike jaar fokus ons op Christus as ons Koning wat oor ons regeer. In hierdie teks waar dit handel oor die oorgang tussen die mislukte regering van Saul en dié van Dawid, gaan dit oor Dawid se rousmart as hy verneem dat Saul en sy goeie vriend, Jonathan, in ’n veldslag teen die Filistyne, dood is.

Ek sou graag wou hê dat ons vandag aan hierdie twee aspekte wat in die teks aan die woord kom, sal vashou, naamlik aan die een kant rousmart en die gepaarde handeling van rou wat daarmee gepaard gaan, en aan die ander kant oorgange in die lewe en die geloof dat ons Koning met die geskiedenis op pad is.

1           1.  Rousmart en die gepaarde handelinge van rou:

Ek werk die afgelope tien maande met ’n jongerige vrou wat haar man skielik in ’n tragies ongeluk by sy werk verloor het. Hulle was kinderloos en het mekaar al ontmoet toe hulle nog baie jonk was. Hy was haar alles. Wat besonders is in my saamstap op hierdie pad van rou wat sy nou loop, is dat sy op ’n besondere manier in kontak met haar emosies is en baie geartikuleer daaroor kan praat en skryf. Die afgelope tien maande het sy haar die ruimte gegun om ten spyte daarvan dat dit vir haar moeilik was en by geleentheid baie hartseer, alle foto’s en video’s van hulle twee saam, te gebruik om hulle lewe en hulle saamwees op DVD vas te lê. Hierby het sy met groot sorg musiek wat vir hulle mooi was of spesiale betekenis gehad het, bygevoeg. Sy het ook baie bladsye vol geskryf oor haar herinneringe en gedagtes en emosies oor die afgelope tien maande. Verlede week het ek en sy weer ’n gesprek gehad. Toe ek haar vra of sy nog skryf, toe sê sy: Ek weet nie meer wat om te skryf nie. Ek is leeg geskryf. Ek kry die gevoel dat sy die pad van rou geloop het, dat sy op die drumpel staan om op te staan en weer die lewe in die oë te kyk.

Die Jode het ’n gebruik/ritueel om Shiva te sit, letterlik om vir sewe dae na ’n begrafnis te sit. Dan kom mense na jou toe om by jou as treurende te sit, hulle praat net as jy praat en natuurlik word kos gebring. Ek dink haar sewe dae kom nou tot ’n einde. Sy het haar die tyd gegun om Shiva te sit.

Dawid het hom ook die tyd gegun om te rou. Hy het oor Saul gerou, Saul wat as koning misluk het en wat hy as koning moes vervang. Ook oor Saul se dood is hy eg hartseer. En dan rou hy ook oor sy boesemvriend, Jonathan. Hy skryf ’n klaaglied, en hy gee die opdrag dat die lied aan die inwoners van Juda geleer moet word. Hy het geweet dat hulle as groep, as volk, dit ook nodig het om te rou. Want hier is hulle in die proses van oorgang tussen die regering van Saul en dié van Dawid. Al was Saul ’n slegte koning, het hulle hulle koning verloor. Hulle het ’n nuwe koning. Wat sal die toekoms inhou?

Ek onthou die dag toe ons gehoor dat die Eerste Minister, HF Verwoerd, vermoor is, baie goed. Dit was op 6 September 1966. Ek was 12 jaar oud. Ek onthou die verslaenheid, die onsekerheid. Ek onthou die koerante en die foto’s van die begrafnis … Die Movietone nuusprent in die dorp se rolprentteater van die kanonwa met die kis op, die militêre orkes, die stadige mars …

Die mense het gerou. Hoe lank hulle Shiva gesit het, weet ek nie. Dieselfde groepsuiting van die emosionele impak van verlies het ook met die dood van prinses Diana plaasgevind.

Tydens ’n gesprek wat deel was van ʼn GriefShare-kursus, loop die gesprek na die verliese wat die deelnemers al ervaar het. Hulle noem voorbeelde van die verlies van ’n huwelik en die beplande toekoms saam tydens ’n egskeiding. Hulle praat van die verlies van ’n mens se werk en die identiteitsverlies, die finansiële verlies, die verlies van ’n beplande toekoms wat daarmee gepaard gegaan. (In my eie lewe beleef ek die afgelope dertien maande wat ’n moontlike vroeë aftrede en die gepaardgaande verliese aan my doen – die komplekse emosies van hartseer oor drome wat moontlik nie gerealiseer gaan word nie, woede oor ’n mens se eie magteloosheid teenoor dit wat jy as onregverdig beleef, vrees vir onbekende toekoms, ensovoorts). Dieselfde gebeur dikwels met die hoor van die diagnose van ’n ernstige siekte. Mense ervaar die potensiële verlies van ’n lewe en dit wat jy aanvaar het die lewe vir jou inhou, ook as ’n rouproses. Ek wonder ook of ons nie soms die veranderde rol van die N G Kerk en die gebruike in die N G Kerk wat verander as ’n verlies ervaar waaroor ons behoefte het om te rou nie. Maar mense noem ook die onnoembare: die verlies van die bekende wêreld in 1994 tydens die politieke oorgang. Dinge wat verkeerd was, het skielik reg geword en dinge wat reg was, skielik verkeerd. Dinge wat seker was, het skielik onseker geword. Die bekende dinge was skielik weg. Nuwe dinge moes gewoond geraak word.

Het ons Shiva gesit? En hoe lank? Ek het ’n vermoede ons het dit nie openlik gedoen nie. Wat help dit ’n mens sit alleen, op jou eie, Shiva? Dit is moontlik waar dat ons in Suid-Afrika sit met opgehoopte ervarings van verliese en ontnugtering. Waar is daar ruimtes in ons samelewing waar dit vir ons verwoord word of waar ons ons eie pyn kan verwoord. Meestal beskou ons hierdie emosies as private aangeleenthede wat ons maar op ons eie deurwerk of meestal ontken.

Na 1994 het ’n deel van die land se bevolking die geleentheid gehad om te rou met die Waarheids- en Versoeningskommissie. Ek het baie gereeld na die radio-uitsendings van hierdie sittings geluister. Ek onthou die rou emosies wat gereeld na vore gekom het, van mense wat vir die eerste keer geweet het wat gebeur het en daaroor kon huil …

Wat gebeur as ’n mens nie jou rousmart tot uiting laat kom in handelinge van rou nie? Wel, mense ontvlug in die soeke na allerlei vorme van genesing vir die pyn. Hierdie ander maniere is dikwels nie suksesvol nie en dikwels destruktief.

2   .     2.  Ons geloof dat ons Koning met die geskiedenis op pad is:

Dit is baie maklik om na die wêreld se politieke situasie te kyk en te sê: Hoe meer dinge verander hoe meer bly dit dieselfde. Ek moet bely ek is nogal geneig om so sinies te wees. Maar kan dit waar wees? Wat is die implikasie van so ’n uitspraak vir ons geloof in God? Indien ons met ’n Christelike oog na die gebeure om ons kyk, is die spreekwoord nie so waar nie. Want daar breek tog ’n nuwe era aan met Dawid as koning. En ’n nuwe era kom nie sonder hartseer en opoffering nie – Dawid moet afskeid neem van koning Saul en sy boesemvriend, Jonathan. Indien ons mekaar wil help om deur die pyn te werk sal ons ook in die publieke ruimtes soos eredienste moet praat oor die emosies van verlies. Dawid het die belang hiervan verstaan – self gerou, maar ook sy volk gelei om hulle ervarings van rou beter te verstaan en deur te werk.

Ons glo vas dat daar ook ’n radikaal nuwe era wat aangebreek het met die geboorte van die ander Een uit die geslag van Dawid: Christus die Here. En ons glo dat Hy ons Koning is. Ons glo dat Hy in beheer is, dat Hy regeer. Ons glo dat Hy weer kom, dat Hy alles nuut sal maak. Ons het ’n toekoms!

Kom ek lees vir u Psalm 130. Word stil, luister …

’n Pelgrimslied. Uit die dieptes roep ek na U, Here, 2 luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep. 3 As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie sou dan nog bestaan? 4 Maar by U ís daar vergifnis: daarom word U steeds gedien.

5 Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. 6 Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre. 7 Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker. 8 Hy alleen sal Israel verlos van al sy sondes.

Amen

1 Samuel 15:34 – 16:13

14 Junie 2009

(Die deurlopend beeld op die skerm vandag is ’n kaart van die Romeinse Ryk wat ons deurgaans daaraan wil herinner dat ons op hierdie eerste Sondag in Koninkrykstyd fokus op die Koninkryk van God).

Onder Isai se seuns sien Ek vir my ‘n koning!

Teks:  1 Samuel 15:34-16:13

 

Geskryf deur Deon Binneman

 

Ons het aan die begin gesê dat vandag die eerste Sondag van Koninkrykstyd is.  Met die kaart van die Romeinse Ryk op die skerm, wil ons telkens daaraan herinner word dat die fokus vandag op die koninkryk is, op die koninkryk van God is.

 

Die aanbreek van die koninkryk van God was die kern van Jesus se verkondiging. Alhoewel die Ou Testament nêrens van die koninkryk van God praat en dit voorspel nie, was die idee vir die hoorders van Johannes en Jesus wel bekend. In baie Psalms en ook elders  word God as Koning van Israel en van die hele lewenswerklikheid bely.  Die konings van Israel was dan ook veronderstel om die aardse regeerders volgens God se wil te wees.  Hulle mislukkings om aan hierdie verwagting te voldoen het dan ook die  verwagting van ’n nuwe Koning, die Messias al hoe meer laat groei. Sedert Pinkster is almal wat in Hom glo, sy liggaam, sy gemeente, gedoop en gesalf met die Heilige Gees (Hand 1-2). In die nuwe bedeling is die kerk en gemeente die uitverkore volk, die nasie van priesters en konings wat hierdie koningskap van God proklameer (1 Pet 2:9).

Dat die Koninkryk van God ’n verrassend vreemde koninkryk is, is seker.  Dit is so anders as wat mense sou verwag.  In hierdie koninkryk gebeur dinge ook so anders as in aardse koninkryke.  Maar dit is hoe God is en hoe Hy werk.  Jare gelede al het Murray Janson geskryf dat God, wanneer hy oor die gelykenis van die onkruid tussen die koring skryf, op ’n vreemde manier boer.  Hy laat nie onkruid uitskoffel nie.  Hy betaal alle arbeiders dieselfde, of hulle nou ’n hele dag of net een uur gewerk het.  Hy het gesê God is ’n genadeboer.  Net so is God se manier van doen in sy koninkryk ook so anders as verwag.

 

1.         Eerste uitstaande aksent van ons teks is dat dit wat gebeur God se inisiatief is.

Daar word deurgaans op die Here se aktiewe bestuur, as motief van die verhaal, klem gelê. Terwyl Samuel uitsig verloor, “sien” die Here reeds die nuwe toekoms. Hy gee die opdragte, Hy maak die keuse, hy stuur vir Samuel, Hy sien anders en dieper as ’n mens. Hy kies en bekragtig die “man na sy hart” (13:14). Volgende geslagte mag weet: Die rigting wat die koninkryk hier ingeslaan het is God se inisiatief en dra sy sanksie.

Die Koninkryk van God wil ons leer dat Hy regeer.  Maar so dikwels is die geloof dat God in beheer is, vir ons ’n probleem!  Ons sien so dikwels dinge in die wêreld wat ons wil laat dink dat alles behalwe die Here in beheer is.  Maar, die gedagte dat die Koninkryk God se inisiatief is, nie ons s’n nie, wil tog ook weer die geloof in ons wakker maak dat Hy in beheer is en bly, al is dit nie altyd so ooglopend nie.

 

2.         Die spannende opbou van die verhaal is daarop gemik om klem te lê op die menslik onwaarskynlike van God se gekose instrument.

God gebruik menslik gesproke die mees onwaarskynlike instrumente. Hy sien nie wat voor die handliggende is nie. Hy kyk dieper.  Hy sien iets anders as ons.  Moses hakkel.  Jakob lieg.  Josef is ‘n dromer.  Gideon is bang.  Timoteus het maagsere – hy stres te veel.  Abraham was te oud.  Naomi was ’n weduwee.  Rut was ’n vreemdeling – ’n Moabiet.  Jona hardloop weg van God.  Maria is ’n jong tiener.  Petrus was ’n grootmond.  Thomas twyfel.  Martha was ’n kommerkous en ’n neulpot.  Paulus was ’n vervolger van die kerk.  Hy vestig sy kerk met vissermandissipels en talle naamlose en huiwerende gelowiges.  God sien potensiaal waar niemand dit sien nie, selfs nie eens Dawid se eie pa nie.  Uiteindelik kies God, Jesus van Nasaret, die Gekruisigde (Jes 53).

Paulus het dit goed begryp (1 Kor 1:18-25). Dit moet die gemeente aan die begin van Koninkrykstyd goed besef: Nie groot skemas en luisterryke programme nie, maar erdekruike met skatte in, gee gestalte aan sy koninkryk (2 Kor 4:7-13). Groei, glorie, voorspoed en gewildheid, is die groot verleiers van die kerk.  God se koninkryk lyk nie so nie en kom nie so nie. Dit kom in en deur die mense wat nie belangrik in eie oë is nie, dikwels die randfigure in die menslike samelewing. Dit is waar en hoe die gemeente moet kyk om God se merkers vir die koninkryk te volg. Geen situasie is vir die Here te erg nie en geen mens of gemeente vir Hom te klein om te gebruik nie.

 

3.         Die derde kernelement van die verhaal is die salwing met olie, maar veral met die Gees van die Here.

Dawid word as koning gesalf.  Die salwing het geskied deur die kop van die persoon met olie te smeer of om olie oor sy kop uit te gooi.  Dit was ’n simboliese handeling wat gedui het op die aanstelling in ’n amp en ook die aanvaarding van die amp.  Dit het die persoon toegelaat om namens en met die gesag van die Here op te tree.

Die salwing het dikwels gepaard gegaan met die ontvangs van die Heilige Gees. Die ontvangs van die Gees dui daarop dat God diegene wat hy roep, ook toerus. 

Omdat daar in die geskiedenis van Ou-Testamentiese konings so min van hierdie aspekte tereg gekom het, het die profetiese verwagting van die Groot Gesalfde, die “Messias” wat sou kom, al sterker gegroei tot en met die koms van Jesus, die Messias, wat in Hebreeus gesalfde beteken.  Ook die naam Christus beteken Gesalfde in Grieks.  Dit het mos by Jesus se doop.  Hier is Hy mos deur ’n teken van God aangewys as sy agent vir die vestiging van die koninkryk (Matt 3:16-17, 4:17, 23).

 

EN NOU: 

Wat is die betekenis van hierdie gebeure van lank gelede vir ons?  Hoe kan die verkiesing van Dawid as koning en sy salwing en die gedagte van die Koninkryk van God vandag in ons lewe vir ons iets beteken?

In die Ou Testament is daar ook ’n ander verwagting in verband met die Gees wat van belang is vir ons verstaan van die teks vandag. Dit is in besonder verwoord deur die profeet Joël (2:28-32) en is volgens die tradisie direk op Pinksterdag vervul, naamlik dat alle gelowiges met die Gees gedoop, gesalf is. Elkeen is dus deur die Gees afgesonder en toegerus om instrument van die koms van die koninkryk te wees. Hy neem elkeen se gawes en talente in gebruik (1 Kor 12).  God is sekerlik by magte om alles wat Hy op aarde gedoen wil hê met een woord te laat gebeur.  Maar Hy verkies om mense te gebruik – mense soos jy en ek.  Mense wat Hy kies, maar ook toerus.

Sy toerusting vind op ’n besondere manier plaas.  Sy Gees kom binne-in ons woon.  Hy verander ons van binne af.  Die woning, die werkplek van die Gees, is nie in die eerste plek die uitsonderlike indiwidu nie, maar die gemeente waarbinne al die lede hulle funksie verrig (1 Kor 3:16, Ef 2:19-22).  Daarom is die gemeente en die gemeenskap van die gelowiges vir ons so belangrik.

Hierdie verhaal van Dawid is opgeneem in die kanon van Israel en het besondere betekenis gekry in tye wanneer die volk in ballingskap of daarna in krisis verkeer het. Dan het die verhaal ’n oriënteringspunt verskaf, perspektiewe geopen oor hoe en waarmee God verkies om te werk. Dan kon die geloofsgemeenskap weet: God bestuur en Hy kan met ons, ten spyte van wie ons is, sy koninkryk laat kom!  Ook ons kan weet:  God het ons gekies, Hy is in beheer, ten spyte van ons, Hy regeer en Hy is op pad met ons na ’n verrassende nuwe toekoms!  Hierdie verhaal beklemtoon dat die Here nie toelaat dat sy koninkryk saam met ʼn eerste, mislukte koning, tot ’n val sou kom nie.  Ook ons hou nie sy Koninkryk in stand nie.

Amen