Luk 15:11-24 – Son 15 Feb 09

Praat die waarheid –
BELYDENIS EN SELFONDERSOEK – een van die gewoontes om die valse self te laat
staan

1.    
Valse Self

Dra ons maskers?  Is ek na buite soos wat ek na binne is?  Natuurlik nie!  Dankie tog vir goeie maniere wat die filter
is waardeur my gedrag gestuur word sodat ek doen wat sosiaal reg is en nie soos
ek voel om te doen nie.  Hoe ek gaap en
kou is ook nou die belangrikste voorbeelde nie. 
Daar is ingrypender dinge wat ek na buite doen, wat miskien nie so eg ek
is nie.  Dink aan jou verhoudings met
ander mense.  Jou empatie met mense, voel
jy regtig so, of doen jy dit maar net omdat dit die regte ding is om te doen?

My selfversekerde
optrede:  voel ek na binne ook so, of
woel dit soms hier binne-in my van onsekerheid? 
My geneigdheid om geredelik my mening uit te spreek sonder om ruimte vir
’n ander se mening ruimte te laat, voel ek na binne ook so, of is ek net juis so
onseker, daarom het ek dit nodig om hierdie absolute sekerhede vir myself te
skep.

My vroom
geloofsverhouding met die Here:  hoe eg
is dit?  My dikwels belyde liefde vir
God, is dit leë woorde of deurleefde ervaring?

Die baie eise wat aan
ons gestel word, die baie komplekse situasies waarin ons geplaas word waarin
ons ’n optrede moet vind wat werk, wat doen dit aan ons?  Ek wonder soms oor die storie dat ’n mens
soveel verskillende lae kan hê soos ’n ui. 
Jy kan laag na laag afskil, en aan die einde bly daar niks oor nie.  Ek is ’n eggenoot, ’n dominee, ’n
verhoudingsterapeut, ’n kind, ’n oom,  ’n
….  Wat is ek in my kern regtig?

Dan vind ons dikwels
ons identiteit in verkeerde goed van verbygaande aard. 
Hierdie valse self
probeer om deur middel van minder belangrike goed soos sukses, status, familie,
beroep, voorkoms en reputasie, ’n begrip van wie jy is te skep.  Dan is ek ’n dominee of terapeut ook in my
optrede teenoor my vrou of my familie. 
Of ek is ook in persoonlike verhoudings die uitvoerende amptenaar, of
die hoogleraar.

2.    
Wie jy is
in God se oë?

Die Bybel gee ons ’n ander perspektief op onsself as
die wêreld.   In die Bybel kry ons God se
perspektief op ons.  Daar sou veel meer
wees wat ons kan aanhaal, maar hier is ’n paar gedeeltes wat tog help:

Ons uitgekies:   16 Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies
en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. (Joh 15:16)

Ons is geliefd:  Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy
noem ons kinders van God, en ons is dit ook.  (1 Joh 3:1)

Ons is vriende van Jesus:  15 Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ’n
ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat
Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.  (Joh 15:15)

Ons is ’n tempel van God:   16 Weet
julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon
nie? 
 (1 Kor 3:16)

Ons is geskep om die goeie te doen:   10 Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep
om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.
(Efe 2:10)

Ons op ’n wonderbaarlike wyse geskep:   14 Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen
het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker:
15 geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon
sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. 
 (Ps 139:14 & 15).

3.    
Verlore
Seun

Is hierdie verhaal nie
aangrypend nie?  Na al die jare se
bekendheid daarmee, tref dit steeds. 
Moontlik omdat ons onsself daarin kan erken.  Die swaar wat hierdie jongman gekry het,
dwing hom om op ’n realistiese manier na homself te kyk.  Hy is tussen die varke, nie meer joviaal,
gewild, ryk, nie.  Slegter kan dit seker
nie met hom gaan nie.  Maar dit verskaf
die impetus vir hom om te besluit:  Ek sal na my pa toe teruggaan …

En dan die ontroerende
oomblik.  Hy kom met al sy verskonings
wat hy seker oor en oor  soos hy gestap
het, ingeoefen het.  Pa, ek het teen God en teen pa gesondig …  Maar dit lyk my hy kry nooit die
geleentheid om hierdie hele toespraak te lewer nie.  Sy pa soen sy woorde van sy lippe af.  Wat ’n mooi voorbeeld van ver-soen-ning, skryf ’n teoloog!  En ook aangrypend:  Sy pa sien hom toe hy nog ver was …  Hy moet dag vir dag vir hom staan en wag het!

So is die God wat ek
en jy aanbid!

4.    
Ken
jouself

En daarom, voor
hierdie God, kan ek dit waag om myself te probeer vind.  Voor so ’n God kan ek myself eerlik
verootmoedig, kan ek my swakhede en valshede erken en bely.  Want Hy veroordeel nie, Hy het lief, Hy wag
vir my, Hy dink baie van my, ek wil my juis op ’n egte wyse voor Hom laat leef.

Daarom kan ek die
Heilige Gees vra om my hart oop te maak oor dit wat waar is van my.  Ek kan myself voor God oopstel omdat ek
veilig by Hom is.  Daarom kan ek bely en
sy vergifnis vir myself toeëien, wat die begin van ’n pad van vernuwing en
verandering is.

5.    
Hê jouself
lief

Aanhaling uit Shirley Valentine.

Ek mag myself maar
liefhê.  Ek mag myself maar aanvaar.  Want hoe sal ek julle kan liefhê as ek nie myself
liefhet nie.  Ons moet dan mekaar liefhê
soos ons onself liefhet.  Maar dit beteken
dan nie dit is ’n onrealistiese selfliefde wat nie ruimte benodig vir bekering,
vergifnis en groei nie!  Dit is juis ’n
sober oordeeloor jouself met jou sterkpunte maar ook jou swakpunte.

6.    
Vrug
hiervan

Jy behoort in jou
verhouding met die Here te kan groei.  Hy
behoort jou op hierdie pad te kan oortuig van verkeerde dinge in jou lewe.  Want jy het ’n nuwe blik op jouself.

Jy behoort ook nuwe
verhoudings met ander mense te kan kom. 
Jy behoort groter deernis met hulle swakpunte te kan hê ….

 

 

     

Trackback from your site.

Leave a comment