Skip to main content

Preek 8 Augustus 2010: Om te bid in ‘n wêreld waar ander godsdienste dreig om die oorhand te kry

 Om te bid in ‘n wêreld waar ander godsdienste dreig om die oorhand te kry

8 Augustus 2010

Teks:  1 Konings 18:1-2, 16-21, 30-38

 

1.       Agab

Agab en Isebel.  Die koning en die konigin van Israel.  Verteenwoordigend van wat sleg kan wees in magtige regeerders.  Ons onthou die baie bekende verhaal van Nabot se wingerd.  Dit was aangrensend aan die paleis en die koning wou dit vir ‘n kruietuin gebruik.  Toe Nabot dit nie aan Agab wou verkoop nie, en Agab koppig op sy bed gaan lê en na die muur staar, toe kom Isebel met ‘n listige plan.  Sy beraam ‘n vroom komplot – sy koop twee mans om om te sê dat Nabot ‘n vloek teen God en die koning uitgespreek het – wat daartoe lei dat hy gestenig word.  Toe kon die koning op sy grond beslag lê – wat Agab dan rustig doen!

In die laaste verse van Hoofstuk 16 ontmoet ons Agab vir die eerste keer toe hy sy pa, Omri, as koning van Israel opvolg.  Hy het gedoen wat verkeerd was in die Here se oë … hy het meer gedoen om die Here die God van Israel uit te tart as al die konings van Israel voor hom (1 Kon 16:30, 33). 

Continue reading

Kol 1:1-14 – So 11 Julie 2010

Teks: Kolossense 1:1-14

11 Julie 2010

Ons vaste fondament laat ons die Vrugte dra

Ek en Sandra het die afgelope vakansie ‘n ervaring gehad wat ons nog nooit vantevore gehad het nie. Ons het ook besluit om dit maar liewer vir onsself te hou omdat niemand ons sou glo nie. Ons het een aand so om en by 11 uur by ons hotel teruggekom na aandete. Omdat dit so warm was, het ons so ‘n bietjie op die balkon gaan sit en oor die stad uitgekyk. Ek het ‘n helikopter gesien wat al hoe nader aan ons gevlieg het. Toe dit al heel naby was, ek het vir Sandra gesê dat dit vreemd was dat ons geen geluid hoor nie. Sy het toe ook begin om die lig dop te hou. Dit het nog nader gekom, steeds geluidloos. Daar was ‘n helder vierkantige lig aan die voorkant, dit het soos ‘n helder verligte venster gelyk, aan die agterkant was ‘n vae, onverligte deel. Terwyl ons nog daarna kyk, het dit vinnig al hoe kleiner geword, asof dit vinnig van ons af weg gaan. Toe het dit sywaarts begin beweeg. Ons het dit dopgehou totdat dit later in die verte verdwyn het.

Continue reading

Joh 13:13-17 – So 28 Feb 2010

Volg in die Voetspore van Jesus …

en jou liefde vir ander groei

Skriflesing Joh 13:1 – 17

Teks:  Joh 13:13-17

Interessant in hierdie bekende gedeelte, is dat Mattteus, Markus en Lukas van hierdie gebeurtenis vertel as die instelling van die Nagmaal. Jesus gebruik die Joodse Pasgamaaltyd om te sê dat Hy die Lam is wat geslag gaan word om hulle uit die sondeslawerny te verlos. Die wyn en die brood wys van hierdie oomblik af dan na Jesus se bloed en sy liggaam.

Johannes laat die ete ‘n aand voor die pasgamaal plaasvind as ‘n ete saam met goeie vriende. Dit sou ‘n laaste maaltyd saam met vriende, saam met sy dissipels, wees. Jesus het geweet wat op Hom wag. ‘n Mens sou kon verstaan dat dit vir Hom ‘n emosioneel gelade oomblik sou wees. Die Johannes-evangelie beskryf hoe Jesus sy dissipels se voete gewas het, terwyl die ander evangelies net vertel van die instelling van die Nagmaal. ‘n Mens sou moet insien dat die voetewassing ‘n simboliese handeling van groot belangrikheid is. Dit was ‘n belangrike geleentheid vir Jesus, sy dae op aarde raak min, Hy moet nou vir sy dissipels die dinge sê wat nog gesê moet word. Dat hierdie simboliese handeling misverstaan kan word, is baie moontlik. Daarom vra Hy toe Hy klaar hulle voete gewas het, weer sy bokleed aangetrek het en weer gaan aansit het: Verstaan julle wat ek vir julle gedoen het?

Jesus wou ʼn baie spesiale boodskap by die Kerk inskerp, want in die eerste dae van die vroeë Kerk het die gevaar bestaan dat Jesus se opdrag van diens en diensbaarheid vergete kon raak. Die simbool van vriendskap en vreugde het gevaar geloop om te verander in ʼn instrument van oorheersing en mag. Jesus se dissipels het besonder intens meegeding om die eerste plek. Omdat Jesus dit goed geweet het, het Hy vir hulle en vir ons ʼn voorbeeld gestel: Hy het die voete van ander gewas, iets wat slawe in daardie tyd gedoen het. Dit het Hy gedoen in sy laaste ure van vryheid. Dit is wat Hy nog moes doen. ʼn Mens moet baie sterk wees om iemand anders op so ʼn manier te dien. Die slaaf is die meester en die lydende kneg is die Seun van God! Dit is en was ongehoord!

Die was van sy dissipels se voete wil vir hulle iets oor mag en die prysgawe daarvan, leer, oor die vernietigende verleidelikheid van mag wat nooit deel van die kerk moes gewees het nie. Maar as ‘n mens al die Vatikaanstad en die Vatikaan museums met al die skatte in Rome besoek het, dan kom ‘n mens gou agter hoe vinnig die kerk Jesus se boodskap vergeet het. En natuurlik nie net ‘n ver kerk in Rome nie, maar ook naby, hier by ons, orals rondom ons. Die werklikheid van mag en magsmisbruik in die wêreld waarin ons leef, is orals te sien, ook in alle kerke, op alle plekke.

Jesus se hele aardse geskiedenis is eintlik ‘n anti-mag storie. Kort na sy geboorte moes sy ouers al met Hom vlug omdat Herodes die mag gehad het om te bepaal om alle seuntjies onder twee jaar te laat doodmaak omdat hy bang was dat die Verlosser waarvan die wyse sterrekykers uit die Ooste kom vertel het, hom van sy mag sou beroof. Jesus word uiteindelik oorgelewer om gekruisig te word omdat die magte van daardie oomblik bedreig was deur sy optrede. Jesus laat dit toe, as hulle dink hulle wen, slaag, dan sterf Hy om mense te verlos, dan sterf Hy soos ‘n lam.

Continue reading

Rut 1:15-19 – Om met Toewyding te leef – 29 Nov 09

29 November 2009

Teks:  Rut 1:15-19

Rut – om met toewyding te leef

1.      Die verhaal

Die verhaal van Rut klink met die eerste lees eenvoudig.  Die verhaal van Naomi en Elimelek begin in Betlehem tydens ’n hongersnood.    Om sy familie te red, is die enigste opsie vir Elimelek om oorkant die Jordaan, in die land van ’n vyandige volk te gaan bly.  So het dit gekom dat Naomi en Elimelek en hulle twee seuns, Maglon en Kiljon, vir 10 jaar gelukkig in Moab gewoon het.  Die seuns  het groot geword en hulle het elkeen met ’n Moabitiese meisie getrou, Rut en Orpa.  Maar dan gebeur die hartseer –  eers sterf Elimelek en dan sy een seun en daarna die ander seun ook.  Dit laat die drie vroue sonder sorg en in ’n baie benarde posisie.  En vir Naomi is dan ook nog in ’n vreemde land.  En dan besluit sy dat dit die beste vir haar sal wees om terug te gaan Bethlehem toe waar daar nog ’n stukkie grond was wat aan haar behoort het en waarop sy dan in haar bejaardheid ’n nuwe lewe kan begin.

En verder, al was sy so afhanklik van haar twee skoondogters, want die jonger geslag moes vir die ouer geslag sorg, stel sy hulle vry van enige verpligting.  In hulle eie land van herkoms kan hulle miskien weer in die huwelik tree, terwyl hulle Betlehem vreemdelinge sou wees.  Orpa maak van die aanbod gebruik.  Maar Rut nie.

2.       Die betekenis daarvan vir ons

Dit is ’n eenvoudige vertelling.  En tog, ʼn verhaal wat van vele kante af bekyk kan word en waarin daar kan ’n verskeidenheid van waarhede ook vir ons lewe gevind kan word.  Die verhaal doen iets vir vroue – in ’n tyd waarin die status van vroue nie baie hoog was nie.  Die hooffigure is twee baie moedige vroue.  Maar dit is nie al nie.  Rut is ook ’n Moabiet.  Dit is veelseggend.  Sy is uit ’n heidense nasie.  Maar nog meer belangrik.  Sy is die oumagrootjie van Koning Dawid!  ’n Koning na God se hart kom uit ’n geslag in wie se are ook heidene se bloed vloei!  En dan is daar ook nog die tema van medemenslikheid, mededeelsaamheid, sorg en omgee vir ander wanneer ons na Boas se optrede gaan kyk.  En uiteindelik is dit ’n storie van geloof en hoop!

3.       ’n Voorbeeld van Toewyding

Maar ons wil nie vanoggend op een van hierdie(baie belangrike) fasette fokus nie.  Ons wil na ’n ander belangrike element kyk, naamlik die verhouding tussen Naomi en Rut.  Die verhouding tussen die twee skoondogters en hulle skoonma word met mekaar gekontrasteer.  Vir Orpa, al was sy miskien hoe lief vir haar skoonma, daar kom ’n oomblik dat sy besluit dat sy liewer haar eie pad moete gaan.  Sy draai om om terug na Moab toe te gaan.

Maar met Naomi is dit anders.  Sy sê: 

“Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; 17 waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ’n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.”

Dit noem ’n mens ’n totale oorgawe, ’n verbondenheid, ’n toegewydheid.  En dit is hierop waarop ons vanoggend wil fokus.  Ons wil vanoggend vir Rut as ’n voorbeeld gebruik, ’n voorbeeld van toewyding.  En in ons geval, toewyding aan God.

4.       ’n Belangrike kenmerk van alle naby verhoudings

Is ʼn algehele toewyding, ’n algehele oorgawe, nie ’n belangrike element van alle naby verhoudings nie?  Is dit byvoorbeeld nie ook so van ’n huweliksverhouding nie?  Sou ’n huweliksverhouding waarin ’n mens baie duidelik weet jy en jou belange weeg nie baie swaar vir jou lewensmaat nie, werklik gelukkig en vervullend kan wees?  Of is hierdie verbondeheid, hierdie oorgawe juis dit wat ’n huweliksverhouding diep bevredigend maak?

Om halfhartig in so ’n verhouding te wees, moet die verhouding baie moeilik en onbevredigend maak.  Om die hele tyd voor te gee dat die ander persoon vir jou belangrik is en dat jy op die ander se belange gefokus is, moet uitputtend wees.  Jy sal die hele tyd so versigtig moet wees!  Aan die ander kant, as jy heelhartig, eg in so ’n verhouding is, dan is  dit maklik, ongekompliseerd en juis emosioneel bevredigend.  Jy hoef nie voor te gee nie, jy kan dood gewoon doen soos jy voel om te doen.

Het jy ook al gewonder hoekom God so alles van ’n mens vra?  Hoekom is Hy nie met ’n bietjie minder as alles tevrede nie?  As ek baie van myself gee, behoort dit ook mos al goed genoeg te wees!   Maar sien:  God vra alles, want Hy vra ’n egte verhouding.   Soos in ’n huweliks-verhouding vra Hy ook om die enigste Een te wees, deur dik en dun, deur voorspoed en teenspoed.  Hy vra ’n totale oorgawe, ’n totale toewyding.  Luk 16:13 is hieroor baie duidelik:  Julle kan nie God én Mamon dien nie.  Geen huisbediende kan vir twee base tegelyk werk nie, want hy sal of die een minder ag en die ander een hoër, of vir die een meer oorhê en die ander een afskeep.

Die Here het ook geweet dit is van ons kant af gesien, die enigste moontlikheid om ’n bevredigende verhouding met Hom te hê.

Hierin lê heel moontlik die oorsaak dat sommige mense ophou glo.  Hulle verwagtings word teleurgestel.  Hulle verhouding met God het minder opgelewer as wat hulle verwag het.  As ’n mens byvoorbeeld wonder oor die rede hoekom Judas opgehou het om ’n navolger van Jesus te wees en liewer gekies het om Hom te verraai, dan wonder ek of dit nie teleurgestelde verwagtings was nie.  Judas het uiteindelik in sy verhouding met Jesus nie gekry wat hy gesoek het nie.  Maar het hy homself heeltemal vir hierdie verhouding met Jesus gegee?  As iets heeltemal beslag op jou lê, dan is geen opoffering te veel nie, dan is geen inspanning te veel nie.  Jy doen dit omdat jy dit wil doen, met jou stokperdjies, in die huwelik, maar ook in jou verhouding met die Here.

5.       God doen dit in ons

As ’n mens in jou eie krag moet probeer om ’n ander lief te hê, of ’n bietjie liewer te hê, gaan jy nie baie suksesvol wees nie.  Liefde is ’n reaksie op dit wat die ander persoon is en doen.  En die wonderlike is, in ons verhouding met die Here werk dit ook so.  Ons kan maar net op Hom reageer!  In hierdie verband is dit weer belangrik om te onthou hoe die Here teenoor ons is, en ook doen.  Hy kom verbind Hom aan ons deur sy verbond, deur die beloftes van liefde en trou wat Hy teenoor ons maak.  Hy gee Jesus Christus om ons te kom verlos, Hy stuur sy Heilige Gees om in ons te kom woon om ons van binne af te verander.  Die Here se genade gaan dus altyd ons geloofsreaksie vooraf.  Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes (1 Joh 4:9-10).  Die Here verbind Hom so aan ons, hierop kan ons maar net reageer deur te stamel:  Vir so ’n Heer gee ek myself, dag vir dag, keer op keer, met blydskap!

’n Lewe van toegewydheid aan God – dit is waarvoor ons geskep is, dit is die enigste moontlikheid wat kan bevredig, wat egte geluk kan bring.

Amen

Mark 12 – Son 15 Nov 09

 

Teks:  Markus 12:38 – 44

 

Die arm weduwee:  Om met die regte prioriteite te leef

ʼn Mens se karakter, daardie konstante manier van doen en nie doen nie, word geopenbaar deur die lewensbeginsels waarvolgens jy leef – anders gesê, deur die prioriteite wat jy vir jouself stel.

Ons teks handel oor ’n vrou wie se lewensbeginsels baie duidelik geopenbaar word deur die keuse wat sy maak as sy haar dankoffer in die offergawekis in die tempel gooi.  Ons sien baie duidelik wat vir haar belangriker as ander minder belangrike dinge was.  En daarin lê daar miskien ’n baie belangrike lewensles vir ons opgesluit.

1.      Die Skrifgeleerdes en die weduwee

In verse 38 –  40 waarsku Jesus teen die skrifgeleerdes, leiers op godsdienstige gebied.  Hulle hou van swier en aansien, maar toon terselfdertyd dat hulle ’n gebrek aan genade vir die magteloses het.  ’n Weduwee was juis ’n goeie voorbeeld van magteloosheid omdat, soos met die wese en die vreemdelinge, hulle nie toegang tot die lang gehad het nie, en daarmee nie in die land se opbrengs kon deel nie.  Daarom was hulle weerloos en kon hulle maklik uitgebuit word.

Die tweede deel van die Skriflesing, verse 41 – 44, vertel van die arm weduwee wat twee muntstukkies in die offergawekis kom gooi.  Haar dankoffer staan in skerp kontras met die dankoffers wat baie ryk mense gegee het.  Dat dit hier nie oor geld gaan nie, is duidelik as Jesus sy dissipels naderroepe en sê:  Dit verseker ek julle:  Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het.  Die rede hiervoor lê daarin  dat hierdie vrou alles wat sy gehad het, gegee het.  Al het van die rykes hoeveel gegee, het hulle ook nog baie gehad wat hulle nie gegee het nie.  Hierdie vrou se lewensbeginsel waarvolgens sy leef, word duidelik geopenbaar.  Vir haar is die Heer die Een vir sy alles gee, vir sy haarself sonder enige reserwe, gee.

Dit word soveel meer aangrypend as ’n mens besef dat sy haar offer aan ’n sisteem toevertrou, die georganiseerde tempeldiens, wat juis magtelose mense soos sy uitbuit!  Weet sy dit dan nie?!  Is sy arm én dom?  Ek kan aan ’n klomp mense dink, myself ingesluit, wat doodgewoon sou sê ek gee geen dankoffer aan so ’n instansie nie.  ’n Mens kan maklik verlei word om die voorstelling by jouself te hê van ’n arme, patetiese vroutjie in verslete klere wat skuifelend, onseker, na die offergawekis beweeg om haar skaam-skaam nietige offer te bring.  Maar dan sou jy meer in die teks lees as wat daar staan.  Hierdie vrou was ’n weduwee, sy was dus een van die groep wat nie toegang tot die grond se opbrengs gehad het nie, sy was weerloos.  Maar dit kan wees dat sy met haar vaste oortuiging van die plek wat die Here in haar lewe inneem, met waardigheid na die offergawekis toe stap omdat sy so oortuig is van dit wat sy is en wat sy doen!  Hierdie vrou het dit heel moontlik met haarself uitgemaak dat haar verhouding met die Here hierdie offer van haar vra, ongeag wat die instansie aan wie sy dit gee, is en doen!  Sy gee haar alles, al palm die magtiges die weerlose weduwees se huise in.

2.      ’n Onvolmaakte kerk

Daar is mense wat hulle rug op die kerk draai as gevolg van die optrede van leiers in die kerk – kerkraad, predikante.  Of miskien besluite wat in die kerk geneem is of beleid wat geformuleer is.  Daar is heel  moontlik heelwat geldige redes aan te voer hoekom ’n mens jou dankoffer kan weerhou, of kan ophou om die eredienste by te woon, of om doodgewoon net op te hou deel wees van die gemeente.  Hierdie vrou in die teks het blykbaar genoeg rede gehad.  Maar sy doen dit nie.  Diegene in die kerk wat vir ander ’n struikelblok kan wees, moet ook weet dat hulle daarvoor verantwoordelikheid sal moet aanvaar.

Maar hierdie vrou laat nie toe dat die situasie waarin sy haar bevind, haar lewensbeginsels, haar prioriteite, bepaal of voorskryf nie.  Sy reageer nie op die omstandighede nie.  Ongeag die omstandighede, bly sy getrou aan die beginsels wat sy vir haar lewe gekies het.  En dit is ’n baie belangrike ding om in jou lewe te doen.  Jy behoort ’n baie duidelike verstaan van wie jy is en hoe jy maak te hê.  En hierdie konstante kern van optrede behoort nie bepaal te word deur die situasie nie.  Byvoorbeeld:  As my lewensbeginsels inhou dat ek nie ander mense se goed vat nie, dan sal ek dit nie doen al is ek ’n situasie waarin ek dit kan doen sonder om uitgevang te word.  Omstandighede behoort my nie te verlei om anders op te tree as wat ek wil optree nie, as wat my waardes en my prioriteite inhou nie.

 

3.      Paulus se voorbeeld

Paulus is hier nogal ’n belangrike voorbeeld.  In Filippense 3:13 sê hy ’n belangrike ding.  Hy sê:  Maar een ding doen ek …  Hy het te midde van die situasies waarin hy hom bevind en die keuses wat hy moes maak, ’n duidelike verstaan van wat belangrik was en wat minder belangrik in sy lewe was, gehad.  So helder dat hy kon sê dat daar een, duidelike beginsel was wat sy lewe bepaal het.  Dit is ook in ons eie lewe belangrik.  Ek behoort ook te kan sê:  Een ding doen ek, dit is ek …  En as die oorkoepelende beginsel van my lewe is om die Here te dien, dan lewe ek daarvolgens.  Soos wat die weduwee gedoen het.  Dan doen ek soos my beginsel bepaal, sonder om my te laat weglei deur dit wat ander mense doen.   ’n Helder verstaan van ’n enkele, oorkoepelende prioriteit, is baie belangrik in die lewe.  Die lewe is te kompleks om met lang lyste prioriteite te lewe.  Paulus het geweet van een sentrale ding wat sy lewe bepaal het, en sy prioriteite het uit hierdie sentrale fokus gegroei.

 

4.      ’n Kritiese kyk na myself

Ek moet krities na my eie lewe, na my beginsels, na my prioriteite, na my keuses kyk.  Want die gevaar van selfregverdiging is baie groot.  Dit is maklik om raak te sien dat ander se karakter blootgelê word deur hulle lewe, maar vir myself en my eie lewe is ek dikwels blind.  Daarom is dit genade as die Here ’n onrustigheid oor jouself gee en vir jou ’n helder insig in jou eie manier van wees en doen, gee.  En dit is nie altyd lekker nie.  Dit behoort nie altyd aangenaam te wees nie.  Maar dit is die punt waar ’n nuwe groei in jou lewe kan begin, ’n nuwe groei in jou oorgawe aan die Here kan begin, ’n nuwe groei in die verstaan van sy wil vir jou lewe kan begin.

 

Jesus vertel ’n storie van ’n man wie se belangrikste prioriteite hyself en sy besittings was, die storie van die sogenaamde Ryk Dwaas.  Met hierdie storie waarsku Jesus nie net teen die gevaar van hebsug of geldgierigheid nie.  Hy wys veral op die futiliteit van prioriteite wat nie ooreenstem met God se wil vir jou lewe nie.  Die man in die gelykenis se prioriteite is duidelik – persoonlike rykdom en ’n toekoms waarin hy goed versorg sal wees.  Maar hierdie ryk dwaas begin met die verkeerde motiewe en slaag nie daarin om een van hierdie doelwitte te verwesenlik nie.  Hy is dood voordat hy sy besigheid kon uitbrei of sy aftrede kon geniet.  Jesus maak dan hierdie gelykenis van toepassing op almal wie se prioriteite openbaar dat hulle harte by hulle eie belang in plaas van by God gelê het.  Ons lewe behoort God te verheerlik en nie op onsself gerig te wees nie.  Ons sou dus kon vra of ons belangrikste prioriteite tot die erkenning van God sal lei.  Indien wel, dan sal ons ryk in God se oë wees.

 

Wat doen die Here se Woord vanoggend in ons?  Maak dit jou onrustig en wil jy jou voorneem om in die toekoms harder te probeer om dit of dat te doen?

 

Dink eerder aan nog ’n gawe wat ook meer werd is as enige ander gawe.  Dink aan die offer wat daar reeds vir jou en vir my gebring is.  Die offer van ’n lewe aan die kruis.  Daar lê die moontlikheid van ’n daaglikse nuwe begin in ’n nuwe verhouding met Christus.  Laat dit jou oorkoepelende, bepalende riglyn vir jou lewe wees.  Gee jouself uit dankbaarheid as ’n lewende offer aan Hom …

 

Amen

Ps 8 – So 4 Okt 09

4 Oktober 2009
Teks: Psalm 8

Wat is die mens?

Volgens die Duitse filosoof Immanuel Kant is hierdie vraag een van die basiese vrae van die mens in sy soeke na die sin van haar bestaan.  Wat is die mens dat U aan ons dink?  Dié vraag wat Psalm 8 stel, is gebore uit ontsag vir die grootsheid van God se Naam oor die ganse aarde. As die skrywer van die psalm die hemel aanskou, die maan en sterre waaraan God ’n plek gegee het, dan kan hy nie anders nie as om onder die indruk te kom van die nietigheid van die mens.  Die antwoord op hierdie vraag:  Wat is die mens?, is:  Niks!  Dit vestig die grondtoon van die psalm, naamlik verwondering. Die wonder is dat God bemoeienis maak met ’n nietigheidjie in die groot heelal.

As Dawid vra: Wat is die mens? dink hy aan die mens in verhouding tot God. Hy laat nie die klem op die mens self val nie, maar stel sy fokus op die mens voor en in verhouding tot God. Hy weet van geen selfgenoegsame, onafhanklike, abstrakte en geïsoleerde mens wat sonder God kan bestaan nie. Vir Dawid bestaan die mens alleen maar deur die goedheid en genade van God. Daarom kan hy met verwondering vra:  … wat is die mens dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?

En dan volg die verbasing van die psalmskrywer in die tweede helfte. Die mens is eintlik self ’n soort God.  Dit staan letterlik só in die Hebreeus.  Maar wanneer Dawid die vraag na die mens vra, wil hy nie die vermoë van die mens beklemtoon nie, maar wil hy uitdrukking gee aan sy verwondering dat die Here te midde van sy wonderbare skepping die mens kon aanstel as die kroon van dit alles. Daarom sê hy in vers 4:  As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ’n plek gegee het…  Die mens heers oor die werk van God se hande. Alles op aarde, selfs die wilde diere, die voëls in die lug en die visse in die see is aan die mens gegee om daarvoor te sorg.  Die nietige mens dra die kroon van ’n koning. Ons word met aansien en eer gekroon. 

Die verbasing van Psalm 8 het vandag omgekeer in ’n soort vanselfsprekendheid. Die skrywer van Psalm 8 kan dit amper nie glo dat God tog nog aan die mens dink nie, dat God oor kinders en suigelinge besorg is nie. Vir ons is die plek van die mens in die skepping veel meer vanselfsprekend.  Dit is eerder God wat vir ons onvanselfsprekend geword het. Psalm 8 kyk op na die hemel en wonder: Wat is die mens? Ons kyk op na die hemel en wonder:  Waar is God?

Met die vraag: Wat is die mens? het ons veel minder moeite. Die mens, so argumenteer ons graag, is immers die kroon van die skepping. Ons is na die beeld van God geskape. Ons is geroep om te heers oor die skepping.  Ons het eintlik in ons eie oë verskriklik belangrik geword.

Tog vreemd dat as ons soms die slegste wat in die mens te voorskyn kom, probeer vergoeilik deur die uitspraak:  Ook maar mens …  Dit is juis verkeerd!  Ook maar mens moet gebruik word vir die ons mees verhewe moontlikhede.  Want ons is mos net ’n klein bietjie minder as ’n hemelse wese …

Ons wat net ’n klein bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak is, wat God se verteenwoordiger op aarde moet wees, wat moet heers oor sy tuin, hoe het ons gevaar?  Ons was veronderstel om vir die diere, die plante en die grond te sorg, om die aarde soos ’n goeie tuinier te versorg. Maar wat het ons nie aangevang nie!  Ons moet sorg vir die skape en beeste – en die varke en hoenders. Maar baie van hulle word deesdae in klein kampies ingehok, vetgevoer met ’n chemiese dieet en uiteindelik geslag. Diere word wreed mishandel en gepynig.

Ons heers oor die wilde diere van die veld deur hulle in wildparke te bewaar. Maar al die orige grond het ons vir onsself opgeëis. So asof een enkele spesie, die mens, ’n goeie reg het op 90% van alle benutbare grond. Talle dier-  en insekspesies sterf uit sonder dat iemand ooit van hulle bestaan geweet het.  Ons moet ook vir die voëls in die lug sorg. Maar oor die lug self is ons minder bekommerd. Ons pomp die lug vol petroldampe, want ons wil graag in ons motors, taxi’s en vliegtuie ry. Ons verbrand elke jaar tonne steenkool per persoon omdat ons energie nodig het – sonder om aan die gevolge daarvan vir ons eie longe te dink. Ons is letterlik besig om die samestelling van die atmosfeer self te verander. Daar is al hoe meer koolsuurgas in die lug as gevolg van al die energie wat ons verbrand en die bome wat ons afkap.  Oor die gevolge daarvan vir ’n oorverhitte planeet moet ons ons maar later bekommer.

Hoe vaar ons in ons verhouding met ander wat soos ons die kroon op God se skepping vorm – die ander mense?  Doen mense nie die mees afskuwelike dinge aan en met mekaar nie? 

Ons verdedig al hierdie dinge deur te redeneer dat dit ons Godgegewe roeping is om oor die aarde te heers en dit te onderwerp. Ons is immers die kroon van die skepping. Maar ons vergeet dat ons grootsheid juis in ’n insig in ons eie geringheid lê.  Die geringheid en die grootsheid van die mens.

Die ontdekking van die geringheid en grootsheid van die mens word omraam deur die lof aan God: O Here, ons Heer, hoe magtig is u Naam oor die hele aarde  (Ps 8:1, 10). Dit is pas wanneer die psalmis nadink oor die almag van God dat die insig in die geringheid van die mens gebore word. Dit is pas wanneer die psalmis nadink oor die sorg van God dat die insig in die grootsheid van die mens gebore word. Nóg die nadenke oor die hemelruim nóg die nadenke oor lewe op aarde lei die mens vanself na God.

In die Nuwe Testament word hierdie insig op Christus van toepassing gemaak.  Dit blyk nêrens beter nie as in Pilatus se beroemde uitspraak in Johannes 17:5:  Dit is die mens.   Dit is pas in Jesus Christus dat ons die geringheid en die grootsheid van die mens ten volle begryp.  Dáár, by die kruis, leer ons wat dit beteken om as mens voor God te staan te kom. Daar sien ons die gevolge van ons menslike arrogansie en hoogmoed raak, miskien vir die eerste keer. Miskien kan dit ons vandag ook help om die ekologiese gevolge van ons menslike arrogansie raak te sien. Dan sal ons dalk begin leer om ons verantwoordelikheid teenoor skape, beeste, wilde diere, voëls en visse, en ander mense, raak te sien.