Skip to main content

Joh 13:13-17 – So 28 Feb 2010

Volg in die Voetspore van Jesus …

en jou liefde vir ander groei

Skriflesing Joh 13:1 – 17

Teks:  Joh 13:13-17

Interessant in hierdie bekende gedeelte, is dat Mattteus, Markus en Lukas van hierdie gebeurtenis vertel as die instelling van die Nagmaal. Jesus gebruik die Joodse Pasgamaaltyd om te sê dat Hy die Lam is wat geslag gaan word om hulle uit die sondeslawerny te verlos. Die wyn en die brood wys van hierdie oomblik af dan na Jesus se bloed en sy liggaam.

Johannes laat die ete ‘n aand voor die pasgamaal plaasvind as ‘n ete saam met goeie vriende. Dit sou ‘n laaste maaltyd saam met vriende, saam met sy dissipels, wees. Jesus het geweet wat op Hom wag. ‘n Mens sou kon verstaan dat dit vir Hom ‘n emosioneel gelade oomblik sou wees. Die Johannes-evangelie beskryf hoe Jesus sy dissipels se voete gewas het, terwyl die ander evangelies net vertel van die instelling van die Nagmaal. ‘n Mens sou moet insien dat die voetewassing ‘n simboliese handeling van groot belangrikheid is. Dit was ‘n belangrike geleentheid vir Jesus, sy dae op aarde raak min, Hy moet nou vir sy dissipels die dinge sê wat nog gesê moet word. Dat hierdie simboliese handeling misverstaan kan word, is baie moontlik. Daarom vra Hy toe Hy klaar hulle voete gewas het, weer sy bokleed aangetrek het en weer gaan aansit het: Verstaan julle wat ek vir julle gedoen het?

Jesus wou ʼn baie spesiale boodskap by die Kerk inskerp, want in die eerste dae van die vroeë Kerk het die gevaar bestaan dat Jesus se opdrag van diens en diensbaarheid vergete kon raak. Die simbool van vriendskap en vreugde het gevaar geloop om te verander in ʼn instrument van oorheersing en mag. Jesus se dissipels het besonder intens meegeding om die eerste plek. Omdat Jesus dit goed geweet het, het Hy vir hulle en vir ons ʼn voorbeeld gestel: Hy het die voete van ander gewas, iets wat slawe in daardie tyd gedoen het. Dit het Hy gedoen in sy laaste ure van vryheid. Dit is wat Hy nog moes doen. ʼn Mens moet baie sterk wees om iemand anders op so ʼn manier te dien. Die slaaf is die meester en die lydende kneg is die Seun van God! Dit is en was ongehoord!

Die was van sy dissipels se voete wil vir hulle iets oor mag en die prysgawe daarvan, leer, oor die vernietigende verleidelikheid van mag wat nooit deel van die kerk moes gewees het nie. Maar as ‘n mens al die Vatikaanstad en die Vatikaan museums met al die skatte in Rome besoek het, dan kom ‘n mens gou agter hoe vinnig die kerk Jesus se boodskap vergeet het. En natuurlik nie net ‘n ver kerk in Rome nie, maar ook naby, hier by ons, orals rondom ons. Die werklikheid van mag en magsmisbruik in die wêreld waarin ons leef, is orals te sien, ook in alle kerke, op alle plekke.

Jesus se hele aardse geskiedenis is eintlik ‘n anti-mag storie. Kort na sy geboorte moes sy ouers al met Hom vlug omdat Herodes die mag gehad het om te bepaal om alle seuntjies onder twee jaar te laat doodmaak omdat hy bang was dat die Verlosser waarvan die wyse sterrekykers uit die Ooste kom vertel het, hom van sy mag sou beroof. Jesus word uiteindelik oorgelewer om gekruisig te word omdat die magte van daardie oomblik bedreig was deur sy optrede. Jesus laat dit toe, as hulle dink hulle wen, slaag, dan sterf Hy om mense te verlos, dan sterf Hy soos ‘n lam.

Ek het jare gelede ‘n mooi beriggie in Die Burger gelees. Dr Anton Rupert en sy vrou was die eienaars van een van die losies in die Kaapstadse stadsaal. Een Donderdagaand tydens ‘n konsert van die Kaapstadse Simfonie orkes, kry een van die plekaanwysers die Ruperts waar hulle op die trappe wat na die boonste verdieping lei, sit. Op haar navraag oor hoekom hulle daar sit, sê hulle dat daar ander mense in hulle losie sit. Die meisie sê toe sy sal onmiddellik gaan seker maak dat hierdie mense die losie verlaat. Waarop die Ruperts glo gesê het: Laat hulle rustig daar sit, ons kan goed hoor hier waar ons nou sit! Hulle het gekies om hier eerder te dien as om te heers, hulle het hulle mag prysgegee.

Mag is gevaarlik, want dit is verleidelik. Daarom wil ons graag ons magsposisies behou. Niemand is bereid om mag af te staan nie want dit is lekker om in beheer te wees. Wie is bereid om ‘n vlugteling te wees, of ‘n skoonmaker of ‘n huiswerker? As jy ʼn klerk, is wil jy ʼn opsigter wees, as jy ʼn opsigter is wil jy ʼn bestuurder wees, as jy ʼn bestuurder is, wil jy ʼn direkteur word. As jy klein is wil jy groot wees; as jy ʼn werker is wil jy ʼn baas wees; as jy swart is, wil jy wit wees.

Jesus roep ons op deur sy simboliese handeling van die was van sy dissipels se voete om sensitief te raak vir mag, ook vir ons eie mag. Die mag wat mans teenoor vrouens het, wit teenoor swart het, arm teenoor ryk het, geleerd teenoor minder geleerd het. En hy sê vir ons daarmee ons sal juis groot wees as ons bereid is om klein in eie oë te wees, bereid is om waarlik te dien.

Ek hoor die afgelope week dat iemand vertel dat as jy jouself wil handhaaf en wil heers, dan is jy ‘n MENEER. As jy bereid is om eie belang te los en te dien, dan is jy ‘n MEESTER.

Ons word vandag daaraan herinner dat ons evangelie dikwels maar ʼn flou, afgewaterde, makgemaakte, verhuislikte evangelie is, ʼn “evangelie” wat ons toelaat om al die misbruike van mag maar weg te praat en goed te praat en daarmee saam te lewe (Julian Müller). Maar dit is nie soos die Here dit wil hê nie. Ons Meester het ons dit met sy lewe gewys. Ons wat in sy voetspore volg, moet soos Hy bereid wees om uit liefde te dien!

Hier by ons in die gemeente woon ‘n vrou wat as ‘n jong getroude vrou in Amsterdam gedurende die Tweede Wêreldoorlog gewoon het. Sy vertel ‘n aangrypende verhaal van swaarkry, die honger, die koue, die wreedhede wat sy daar beleef het. Toe sy haar storie nou die dag vertel, vra ek haar wat daardie ervarings aan haar en haar Christenskap gedoen het. Sy sê toe dat sy die eenvoud van dit wat ons in die lewe nodig het, leer ken het en dat haar gebed vir die wêreld is dat elke mens maar net ‘n dak oor hulle kop kan hê, nie honger hoef te lei nie en in vrede en harmonie met ander kan leef. Ek vra haar toe of sy dit vir die Duitsers ook gun. Waarop sy antwoord: Ek hou nie van hulle nie hulle nie, maar omdat ek ‘n Christen is, moet ek dit ook vir hulle gun.

Dit is om ‘n evangelie in jou lewe saam te dra wat jou verander, en nie om die evangelie te verander om jou te pas nie. Dit is om die Here op so ‘n manier in jou lewe te hê dat Hy jou ingrypend verander en vernuwe!

 

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.