6 tot 12 Mei Die Koninkryk Deel in Twee
RUS
- Vertel vir mekaar hoe die Here jou die afgelope week geseën het.
- Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.
HOOR
Lees Hoofstuk 14 van Die Storie vir Klein Hartjies of Die Bybelstorie vir Kinders of die verhaal van die koninkryke wat skeur (1 Konings 14-15) uit enige kinder-vriendelike Bybel (of lees van Koning Asa in 1 Konings 15:9-24).
- Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
- Israel se konings het hulle op dwaalspore gelei, sodat hulle nie meer vir God gedien het nie. Wie is leiers wat jy volg? Hoe kan ’n mens weet dat ’n leier jou nie op ’n dwaalspoor lei nie?
- Koning Asa het uit sy oupa se foute geleer. Hoe kan ons uit ons en ander se foute leer?
LEEF
- Hoe gaan jy hierdie week ’n seën wees? Jy kan bv. ander seën deur vir hulle te bid. Vir wie gaan jy spesiaal hierdie week bid om hulle te seën? Wat gaan jy vir hulle bid.
- Gaan deur jul gebedslys- is van jul gebede beantwoord? Sê dankie! Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge. Bid ook vir Pinkster (en Kinderpinkster) wat 19 Mei begin. Bid vir almal wat nou hieraan voorberei, dat hulle sal luister na God se stem. Bid ook dat die Gees nou al sal begin om julle harte gereed te maak en dat die Gees spesiaal met julle sal praat tydens Pinkster.