Wat doen jy as jy uitgelewer is? – Klaagliedere 04
Klaagliedere van Jeremia Tema: Wat doen jy as jy uitgelewer is? – Klaagliedere 4 Youtube 09:00 28 Junie 2020 Somerstrand Familiediens
Verwelkoming
Welkom van waar in die wêreld jy ook al af inskakel.
Psalm 148
Die mense wat die Eenjaar Bybelleesprogram van die begin van die jaar af volg, het vanoggend Psalm 148 gelees. ‘n Wonderlike lofpsalm.
Wat my tref in die Psalm is dat die Psalmis die Here loof vir die orde wat Hy in die skepping en die geskiedenis neergelê het. Trouens, hierdie orde in die heelal word sy wet genoem:
6 En Hy het hulle in stand gehou vir altyd, vir ewig; Hy het ’n wet gegee wat geeneen oortree nie.”
Dieselfde geld die natuur – die aarde, die plante, die diere – en die mensdom in sy geskiedenis – oud en jonk, konings en regters. Alles en almal word in die Psalm opgeroep om Hom te loof en te prys.
Lament
Uit die res van die Bybel weet ons dat oral waar God se wet oortree word, word hierdie orde omvergewerp. Neem wanorde en chaos toe. En dit is uit hierdie belewenis van wanorde wat die klaagpsalms gebore is. Soos ons ook nou in die Klaagliedere van Jeremia hoor vanweë die ballingskap.
Soos Mark Vroegop sê:
“Lament stands in the gap between pain and promise.” (Dark Clouds, Deep Mercy: Discovering the Grace of Lament deur Crossway – Learning to Lament).
Dit is juis omdat ons glo wat Psalm 148 sê, dat daar orde is, dat God ‘n wet gegee het, dat ons kan bid dat Hy die orde sal herstel, dat Hy die gaping tussen pyn en belofte sal uitwis.
Dit is waarom die Klaagliedere in die Bybel so belangrik is. Dit gee vir ons woorde vir wat ons beleef ook nou waar ons almal in die greep van hierdie Covid-19 pandemie is.
Klaagliedere
Ons lees hierdie week hoofstuk vier van die Klaagliedere van Jeremia waarin ons fokus op ons gevoel van uitlewering aan kragte buite ons beheer.
En waarin ons gaan hoor dat die doel agter hierdie ervarings is dat ons ons afgode van voorspoed en sukses vaarwel sal roep, en ons toevlug sal neem tot die enigste God wat ons kan help. Jy kan steeds my boek vir stiltetyd en kleingroepe op die webtuiste aflaai.
Kerkraad
Ons het ons eerste kerkraadsvergadering per zoom gehad verlede Maandagaand. Ons het die Covid-19 bedryfsplan goedgekeur. Ek is as Covid-19 amptenaar aangewys. Die bedryfsplan is op die webtuiste aangebring en sal aangevul word soos die regulasies van tyd tot tyd verander.
Ek wys net op die oorhoofse vertrekpunt en ons besluit oor eredienste in die kerk.
“Ons moet nie net die regulasies nakom nie, maar ook uitdrukking gee aan die bedoeling van die regulasies, naamlik om die verspreiding van die koronavirus te beperk terwyl ons ‘n reeks bedrywighede weer mag hervat. Die verskillende uitgawes van die staatskoerant met regulasies is ‘n noodsaaklike bron. Ons moet die hele tyd evalueer hoe die uitvoering van ons besluite verloop. Ons vra gereeld wat ons daaruit geleer het en hoe ons dit beter kan doen.”
Ons het daarom besluit om nie eredienste in die kerk te hervat in die volgende maand tot middel Julie nie. Die kerkraad sal dan weer bymekaar kom en die besluit in heroorweging neem.
Statistiek
‘n Bietjie statistiek. Van 22 Maart tot 31 Mei is ons oggenddienste 360 keer gemiddeld gekyk. Dit vergelyk met ons kerkbywoning die eerste drie Sondae van Maart wat 248 gemiddeld was.
Dit kan uiteraard nie ad infinitum so aangaan nie, maar dit het ons gehelp om die besluit te neem. Ons drie Pulse aanddienste is gemiddeld 239 keer gekyk. Saam met die gemiddelde vir Junie vir die Familiediens wat 267 is, staan ons dus op 506 kyke gemiddeld per Sondag sover in Junie.
Kleiner formate
Ons het ook gekyk na maniere om dit vir mense makliker te maak om te kyk. Ons stel vandag ‘n kleiner formaat video beskikbaar (skakels hierbo). Jy kan die skakel via Whatsapp weekliks ontvang. Stuur net jou nommer na Liésl (ngksomer@global.co.za) dan sal ons telkens die skakel stuur. Dit sal ook altyd in die nuusbrief, op die web en op Facebook beskikbaar wees.
Jy sal ook net die klankbaan kan luister wat nog kleiner is. Dit sal ook weekliks per Whatsapp beskikbaar gestel word. Trouens, dit is al 44 keer afgelaai sedert ek verlede Sondag se klankbaan beskikbaar gestel het. Dui net vir Liésl aan of jy die kleiner video of net die klankbaan wil ontvang. Ek sal dit ook in die nuusbrief, web en Facebook beskikbaar stel.
Begroting
Die kerkraad het ook die begroting aangepas. Die verlies aan kollektes het ‘n beduidende invloed op die begroting. Van ‘n oorskot van ongeveer R200 000 begroot ons nou vir ‘n tekort van ongeveer R100 000. Ons sal telkens inligting hieroor kommunikeer.
Eloise Arndt, Xavier Brand (14) en Florence Rautenbach verjaar vandag. Baie geluk. Ek noem ook die name van die kinders tot en met dertien jaar oud wat hierdie week verjaar: Kayden en Megan Botha (11), Zoey Mostert (3), Jacques de Koker (13), en Eldro-leen Louw (3). Die res van die week se name en verjaarsdae is ook op die web. Bel en sê geluk.
Behoeftes
Onthou die swart sakke vir ons Lent projek met klere wat julle kan aflewer by Jaco en Annemarie by Bognorstraat 6 enige tyd deur die dag.
Julle kan steeds kos bydra vir Theo se lysie en Elsje se ACVV lysie.
Bydraes vir die Noodsfonds is ook steeds welkom. Merk dit net “Noodfonds” as jy EFT.
Jy is welkom om, as jy weet van nood waartoe ons kan bydra, vir my te kontak. Ons sal dit diskreet hanteer.
Pulse
Ons het ons derde informele erediens gehad verlede week. Die eerste diens het al 278 kyke gehad en die tweede een 263. Die derde erediens het 175 kyke gehad teen Vrydag hierdie week.
Vanaand gaan dit oor Kind-ouer verhoudings – die omgekeerde van verlede week – weer met ds Wouter Olivier van La Rochelle gemeente in Bellville. Tema: om op die paaie van die lewe te reis. 18:00 op dieselfde kanaal. Dit is ook in ‘n aparte playlist gesit om makliker daarby uit te kom. Skakels op die web, Whatsapp en Mailchimp.
Youtube
Like sommer nou die Youtube kanaal op jou skerm. Dit is die rooi subscribe knoppie.
Votum en Seëngroet
“Dít roep ek in herinnering, daarom het ek hoop: Die troue liefde van die HERE vergaan nie, want sy ontferming ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut – groot is u getrouheid.” (Klg 3:21-23)
Daarom groet ek jou in die Naam van die Drie-Enige God, Vader, Seun en Heilige Gees.
Aanbidding
Ons nader tot God met twee klaagliedere:
Lied 247 en 278 – Heer, wees ons genadig | Hoor ons bid o Heer
Kindertyd
Gebed
Skriflesing en prediking
Briewe van die huis
Ek lees die week ‘n aanhaling van Augustinus oor die Bybel. Hy sê die Bybel is “briewe van die huis.” Die prentjie waarmee hy werk, is dat ons burgers van die hemel is, uitgestuur na die voorste linies in die geveg vir die koninkryk van God.
Die Bybel is soos ‘n bundel briewe wat ons geliefdes vir ons geskrywe het wat ons met ons kan saamdra en vertroetel; wat ons kan lees en toeëien; waaruit ons krag en moed kan put in die daaglikse stryd vir die evangelie.
Die Bybel is inderdaad ‘n bundel briewe van meer as veertig skrywers oor ‘n tydperk van amper twee millennia. Maar die eintlike outeur is die Heilige Gees, God self.
Wat ‘n voorreg om elke dag hierdie bundel briewe oop te maak om God se stem daarin te hoor!
Die briewe bemoedig en berispe. Die briewe troos en tugtig. Die briewe bring ons by lof en lament.
Covid-19 en die “normale lewe”
Ek lees ook ‘n aanhaling van CS Lewis wat deur twee wêreldoorloë geleef het (CS Lewis “Learning in War-Time”):
“Human life has always been lived on the edge of a precipice. Human culture has always had to exist under the shadow of something infinitely more important than itself. If men had postponed the search for knowledge and beauty until they were secure the search would never have begun.”
Wat Lewis oor oorlog geskryf het, is ook op ons van toepassing in hierdie pandemie. Want, soos dit was met die oorloë van die vorige eeu, het die Covid-19 virus nie ‘n heeltemal nuwe situasie geskep nie. Dit het eintlik net die probleme wat die mensdom reeds ervaar, vererger. Soos Lewis sê, ons het nog altyd op die rand van ‘n afgrond geleef.
Die lewe was nog nooit normaal nie
Ons maak dus ‘n fout om die inperking te vergelyk met die “normale lewe”. Die lewe was nog nooit normaal nie.
As ons in die slaggat sou val om te wag dat alles eers weer veilig is, alles weer “normaal” is, sal ons vir ewig wag. Soos Elspeth ons verlede week herinner het. Sy is nou besiger en meer effektief as ooit, omdat sy meer mense aanlyn kan oplei.
Dit hoor ons ook by Jeremia. Ons moet rekening hou met die trane wat vloei, maar ook met die troue liefde van die Here wat nooit ophou nie, wat elke oggend nuut is, soos Klaagliedere 3 ons geleer het.
Maar, dan sal ons die gevoel dat ons uitgelewer is in die oë moet staar en die geleenthede wat die Here vir ons gee, moet omarm.
Wat doen jy as jy uitgelewer is?
As jy voel dat jy geen beheer meer het nie. Dat leiers jou hele lewe begin bepaal. Wat vir jou in detail sê wat jy mag doen en wat jy nie mag doen nie. Sonder enige inset van jou kant af. Sonder dat jou stem enige gewig dra. En jy die gevolge moet dra van verkeerde besluite, soos dit die geval was in Jeremia se tyd.
Jeremia sê, jy kla, jy lament, jy weekla, jy bring jou pyn voor die Here en herinner Hom aan sy beloftes en verwag van Hom om op te tree, om dinge reg te stel.
In Klaagliedere 4 lamenteer Jeremia oor die leierskap wat hulle nie net hier gebring het nie, maar boonop in die steek gelaat het toe die ballingskap aangebreek het.
Hy bring die lot van die volk voor God:
ALEF
1 Ag, hoe het die goud sy glans verloor, die suiwer goud verdof; die heilige edelstene lê rondgestrooi op al die straathoeke.
BET
2 Die kosbare kinders van Sion, hulle was hulle gewig in fyngoud werd; ag, nou word hulle gereken as kleipotte, maaksels van ‘n pottebakker se hande!
Hy weeklaag oor die verskriklike leed op die strate
GIMEL
3 Selfs jakkalse laat drink, hulle soog hulle kleintjies; die dogter van my volk het wreed geword, soos volstruise in die woestyn.
DALET
4 Van dors kleef die tong van die suigeling aan sy verhemelte vas; kinders bedel brood, maar niemand breek dit vir hulle nie.
HE
5 Hulle wat lekkernye geëet het, vergaan in die strate; hulle wat met skarlaken grootgeword het, omhels nou ashope.
Hy is eerlik oor hulle skuld:
WAW
6 Die skuld van die dogter van my volk was erger as die sondes van Sodom – Sodom, wat in ‘n oogwink vernietig is, sonder menslike toedoen.
Hy weeklaag selfs oor die leiers – al is dit juis deur hulle toedoen dat die volk krepeer van ellende:
ZAJIN
7 Die vorste van Sion was helderder as sneeu en witter as melk; hulle liggame was rooier as koraal, hulle voorkoms soos lasuur (blou lapis lazuli).
GET
8 Hulle is nou swarter as roet en word nie op straat herken nie; hulle vel verskrompel aan hulle gebeente, dit is uitgedor soos hout.
Hy wonder selfs of dit nie beter sou gewees het om te gesterwe het, eerder as om in hierdie uitmergelende tyd te lewe nie:
TET
9 Hulle wat deur die swaard getref word, is beter daaraan toe as hulle wat deur hongersnood getref word, ja, hulle wat wegkwyn, wat ly vanweë die gebrek aan opbrengs van die landerye.
JOD
10 Die hande van liefdevolle vroue het hulle kinders gekook; hulle het hulle voedsel geword toe die dogter van Sion ineengestort het.
Dan erken hy dat wat hulle ervaar aan die Here se oordeel te wyte is:
KAF
11 Die HERE het sy gramskap laat uitwoed, sy woede in felheid uitgestort; Hy het ‘n vuur in Sion aangesteek wat haar fondamente vernietig het.
LAMED
12 Die konings van die aarde, ook al die bewoners van die wêreld, kon nie glo dat teenstanders en vyande die poorte van Jerusalem sou binnedring nie.
En hy is eerlik oor die probleem van die leiers wat hulle in die steek gelaat het:
MEM
13 Dit was die gevolg van die sonde van haar profete en die skuld van haar priesters, hulle wat die bloed van regverdiges daar vergiet het.
Hulle het wel gekry wat hulle verdien:
NUN
14 Blind het hulle deur die strate gestrompel, met bloed bevlek; niemand kon aan hulle klere raak nie.
SAMEK
15 Gaan weg, onreines! Het die mense vir hulle geskreeu. “Gaan weg! Gaan weg!
Moenie aanraak nie! Toe hulle op die vlug geslaan het, ja, toe hulle onder die nasies rondgeswerf het, het die mense gesê: “Hulle mag nie meer hier bly nie!”
PE
16 Die HERE self het hulle verstrooi, Hy sien nie meer na hulle om nie. Priesters word nie gerespekteer nie; vir die oudstes is daar geen genade nie.
Maar, dan keer hy terug na hulle leed:
AJIN
17 Met oë wat dof raak, het ons bly uitsien na hulp- maar tevergeefs; in ons wagtorings het ons bly uitkyk vir ‘n nasie – wat nie kan red nie.
TSJADE
18 Ons kon nie ‘n tree gee sonder dat hulle op ons jag maak nie; ons kon nie op straat verskyn nie. Ons einde was naby, ons dae was getel; ja, ons einde het aangebreek.
KOF
19 Ons agtervolgers was vinniger as arende in die lug; oor die berge het hulle op ons hakke gebly, in die woestyn het hulle ons voorgelê.
En hy verwys na hulle valse hoop op die laaste koning, Sedekia, wat hulle ook in die steek gelaat het:
RESJ
20 Ons lewensasem, die gesalfde van die HERE, is in hulle valkuile gevang – die een in wie se skadu ons gedink het ons onder die nasies sou leef!
Hy lig die gebrek aan barmhartigheid uit van hulle broersvolk, die Edomiete:
SJIN
21Wees maar vrolik en bly, dogter van Edom wat woon in die land Us; ook aan jou sal die beker gegee word, jy sal dronk word en jouself ontbloot.
Voordat hy vasgryp aan die belofte van die Here wat ‘n nuwe toekoms vir hulle moontlik gemaak het:
TAW
22 Jou skuld is vereffen, dogter van Sion, Hy sal jou nie weer in ballingskap laat gaan nie. Vir jou skuld sal Hy jou laat betaal, dogter van Edom, Hy gaan jou sonde blootlê. (BDV)
Die probleem van leierskap
Dit is duidelik dat die leiers van Juda ‘n groot invloed op die aanbreek van die ballingskap gehad het. Die leiers se sondes en oortredinge, sê Jeremia, het nie net die Here se geduld met hulle laat opdroog nie, maar die hele volk in die wanhoop van ballingskap gedompel.
Dit is ‘n eenvoudige feit dat waar leiers dwaas is, almal daaronder ly. Die groter sfeer van die invloed van ‘n leier laat ‘n groter aantal mense ly onder sy of haar dwaasheid.
En met reg kon die volk dus kla oor die leiers. Want, op baie maniere was die volk uitgelewer aan die leiers. Die ooreenkomste wat in die politieke en ekonomiese raadsale gesluit word, het immers ‘n direkte impak op mense se lewens. Sonder dat die mense enige direkte inspraak in daardie besluite het nie.
Sedekia volhard in sy sonde
Om dit te illustreer kan ‘n mens in die boek van Jeremia die ontstellende verhaal van Sedekia gaan lees. Gaan lees bv net Jeremia 38:14-27 om die probleem van Sedekia na waarde te kan skat.
Sedekia sit in die laaste weke voor die val van Jerusalem by die derde ingang van die tempel – waarskynlik ‘n private ingang waar mense hulle nie kon hoor nie – en laat Jeremia haal om sy geheime gesprekke met hom voort te sit.
In plaas daarvan om soos sy voorouers die tempel binne te gaan en die Here om genade te smeek! Hoe ironies. So naby God, maar tog só ver.
Sedekia weet die einde is in sig, maar is steeds meer bekommerd oor sy eie lot as oor dié van sy mense en wil by Jeremia weet wat hom te doene staan.
Jeremia kry Sedekia eers sover om te sweer dat die koning hom nie iets sal aandoen nie. Sedekia het immers al toegelaat dat hy in ‘n put gegooi word, wat amper Jeremia se dood gekos het. En spel dan ’n pad van hoop vir Sedekia uit.
Die belofte van hoop wat die Here vir Sedekia gee, het wel beteken dat hy hom aan Nebukadnesar sou moes oorgee. Maar, daar was die voorbeeld van sy voorganger en broerskind, Jojagin, wat presies dit gedoen het en nie net oorleef het met die vorige wegvoering nie, maar ‘n ereposisie in Babel uiteindelik beklee het.
Dit sou vir die volk ook ‘n baie beter bedeling verseker in die ballingskap.
Ongelukkig steur Sedekia hom nie aan hierdie belofte van die Here nie. Al wat vir Sedekia belangrik was, was dat niemand moet weet wat hy en Jeremia gesels nie. Want, hy het reeds ‘n plan gehad, en dit is om soos die skelm jakkals wat hy is, hom saggies uit die voete te maak, en te vlug na ‘n veilige plek. Sy mense aan hulle lot oor te laat.
Sedekia word egter uiteindelik totaal verneder, terwyl Jeremia begenadig en vrygelaat word deur Nebukadnesar. Sedekia moes ook die verdere vernedering ondergaan dat sy kinders voor sy oë geslag is, sý oë daarna uitgesteek is en hy in oneer in ballingskap in Babel dood is (2 Kon 25:6-7; Jer 52:10-11). ’n Grillerige gru-verhaal!
Sedekia se rebelse opstand teen die Here, sy onvermoë om te luister na die waarskuwings van die Here, wat hom selfs in opstand laat kom teen die meer hoopvolle uitkoms wat die Here vir hom belowe, het die toorn van die Here dus onherroeplik oor sy volk laat losbreek.
Baie mense het hulle lewens verloor met hierdie laaste oorlog van Nebukadnesar en die oorblywendes is saam met die laaste skatte van die tempel na Babel weggevoer. Die pragtige tempel van Salomo is afgebrand, die muur van Jerusalem afgebreek, al die beste huise afgebrand en alles van waarde verwoes.
Maar, dit is nie al nie.
Die probleem van sonde
Die grootste probleem in Juda was nie die sonde van die leiers nie. Dit was die sonde van Jan en Susan Alleman.
Vir veertig jaar lank het Jeremia die volk gewaarsku om die Here te dien en Hom alleen. Hy het vir hulle beloftes gegee dat die gevaar van die Galdeërs, die nasie uit die noorde, afgewend kan word, as hulle afsien van hulle afgode, en die Here alleen dien.
Maar, tevergeefs.
- Sien, as daar ‘n altaar gebou word vir Baäl, en jy kan dit nie keer nie, kan jy ten minste weier om daarop te offer. Jy is nooit heeltemal uitgelewer nie. Daar is altyd iets wat jy kan doen.
- As Jeremia alleen staan om die koning en sy afgodery aan te vat, kan jy by hom gaan staan. As Jeremia die ander profete en priesters aanvat oor hulle sonde, kan jy by hom gaan staan.
Maar, niemand het dit gedoen nie.
Daarom is die volk verwoes. Want, ja die leiers was ‘n probleem. Hulle het nie geluister nie. Maar, die volk was ‘n erger probleem. Hulle het ook nie geluister nie, soos Jeremia hier sê:
6 Die skuld van die dogter van my volk was erger as die sondes van Sodom – Sodom, wat in ‘n oogwink vernietig is, sonder menslike toedoen.
Valse hoop
Op die koop toe het die volk ten spyte van alles steeds ‘n valse hoop gekoester dat koning Sedekia – op een of ander wonderbaarlike manier – tog sou slaag in die oorlog. Dat hy – al het almal geweet hy is ‘n lafaard – tog sou deurkom vir hulle. Al het Sedekia hulle soveel keer teleurgestel. Soveel keer in gesprek met Jeremia gewys dat hy ‘n nikswerd dwaas was.
Tog het hulle aan hom gedink as hulle “lewensasem” – die een wat hulle sou kon red. Maar, dit het helaas nie gebeur nie. Soos Jeremia hier in vers 20 sê:
20 Ons lewensasem, die gesalfde van die HERE, is in hulle valkuile gevang – die een in wie se skadu ons gedink het ons onder die nasies sou leef!
Dit is ’n verwysing na Sedekia wat die volk in die steek gelaat het, en weg gevlug het van Nebukadnesar, en toe deur sy mense gevang is. ‘n Lafaard tot die einde toe.
Dit moet ons fundamenteel laat nadink oor leierskap vandag. Die hoop vir hierdie wêreld lê nie in die politieke en ekonomiese leiers nie. Die hoop vir hierdie wêreld lê in die Here Jesus wat mense van hulle sonde kan red, en hulle aan die Here gehoorsaam kan maak.
Tog is daar hoop
Tóg, sê Jeremia, is daar hoop, want die Here sal uiteindelik die straf vir Juda se sonde beëindig. Hy sal die ballingskap nie laat voortduur nie, en selfs die ongeregtigheid wat in die proses teenoor die volk gepleeg is aan die kaak stel. Vers 22:
“Jou skuld is vereffen, dogter van Sion, Hy sal jou nie weer in ballingskap laat gaan nie.”
En dis waar sy boodskap prakties raak vir ons. Dit is omdat God ‘n belofte gee van vergifnis wat die volk kan bid vir verandering.
1. Geloof in God laat ons lament
Dit is die geloof in God se verlossing wat jou dryf na lament. Dit is die geloof in God se soewereiniteit wat klaagliedere skep. Sonder hoop in die bevryding van God en die oortuiging dat Hy almagtig is, sou daar geen rede wees om te treur as pyn ons lewens binnedring nie.
As jy reeds besluit het dat God onbetroubaar is, dat Hy nie sy beloftes kan waarmaak nie, dan sal jy ook soos Sedekia nie ‘n woord bid tot God nie, laat staan nog ‘n lament aan Hom rig.
Dit is waarom die klaaglied gewortel is in wat ons glo. Die lament is ‘n gebed gelaai met teologie. Ons bevestig met die lament dat hierdie wêreld stukkend is, maar dat God almagtig is, en dat hy getrou sal wees.
Daarom staan klaagliedere in die gaping tussen pyn en belofte. Ook in jou lewe. Ook waar jy uitgelewer voel aan magte en kragte buite jou beheer.
Soos Mark Vroegop sê:
“To cry is human, but to lament is Christian.”
Om te huil is menslik, maar om te treur, is Christelik.
Ek wil jou oproep tot hierdie lament. In hierdie tyd. Om te bid vir verandering. Om die Here van die heelal te smeek dat Hy ons genadig sal wees.
Maar, om regtig te kan treur, te kan lament, om die gaping tussen jou pyn en die belofte van die Here vas te hou in gebed, is daar ‘n tweede ding nodig. Dit is, dat jy jou afgode aflê.
2. Jy moet jou afgode aflê
Dit is wat ons sien in Jeremia se tyd. Die doel van die pyn van ballingskap vir die volk was om hulle band met hulle afgode te verbreek. Nie net die afgode van die Baälgodsdiens nie. Maar ook die afgode wat hulle van hulle afvallige leiers gemaak het. Die skynheilige priesters en die vals profete. Selfs die afgode van hulle eie voorspoed en sukses.
Dit is opmerklik ná die ballingskap dat Juda nooit weer afgode toegelaat het in die tempel nie. En waar ander nasies die tempel in die 3de eeu vC ontheilig het, het hulle in die Makkabeër-oorlog die tempel van die afgode bevry. Hulle was ook baie meer katvoet vir leiers. Daar was nie weer ‘n ware koning van Juda in die vierhonderd jaar tot en met die Here Jesus Christus nie. Hy wat in die volheid van die tyd gekom het om die koninkryk van God te herstel. Daar was goewerneurs, en aanstellings deur die Grieke en die Romeine, maar geen ware koning van Juda nie. Tot Jesus.
Dit is ook wat nou met ons moet gebeur in hierdie tyd van die inperking. Ons moet afreken met ons afgode. Die afgode van ons leiers. Wat ook voete van klei het. Die afgode van valse priesters en profete wat God se Woord vervals en verwerp. Ons mag nie onsself aanmatig om aan God se Woord te torring of te verander nie.
Dit is pynlik. Ons skram weg hiervan.
Maar, onthou, pyn is ‘n ongemaklike, maar hulpvaardige onderwyser, sê die geleerdes.
As jy in jou gebede beide jou trane – oor die leed wat jy en ander ervaar, sowel as die pyn om jou afgode af te lê – en die troue liefde van die Here vashou, sal Hy jou lewe nuut maak, en dit al hoe meer in die rigting stuur wat Hy wil.
Gebed
Jy kan jou bydrae gee met Snapscan. Ek sal dit aan die einde weer wys.
Die Bankbesonderhede verskyn ook vir mense wat EFT wil doen.
NGK Somerstrand
Absa Tjekrekening 01008731388
Takkode 632005
Ons wil jou aanmoedig om bv ‘n maandelikse EFT of Snapscan te maak wat jy kan merk “kollekte”. Of natuurlik jou dankoffer te verhoog met daardie bedrag.
Afsluiting
Ons gaan nou luister na ‘n bydrae van Kim en Mohem Mina van Egipte.
Daarna sluit ons af met Vonkk 156, die bekende lied: “It Is Well With My Soul“.
Dit is ‘n lied deur Horatio Spafford en gekomponeer deur Philip Bliss. Horatio het dit geskryf na ‘n reeks traumatiese gebeure in sy lewe. Die eerste twee was die dood van sy vierjarige seun en die Great Chicago Fire van 1871. Dit het hom finansieel bykans verwoes het, want hy het aansienlike beleggings in eiendom gehad wat groot skade berokken is deur die groot brand.
Die gesin sou twee jaar later oorsee vertrek, maar hy het sy gesin vooruit gestuur terwyl hy nog dinge by die huis uitgesorteer het ná die verdere ekonomiese afswaai in 1873.
Tydens die vaart oor die Atlantiese Oseaan het die skip waarin sy gesin was gesink na ‘n botsing met ‘n ander skip. Al vier sy dogters is in die ongeluk dood. Sy vrou Anna het dit oorleef en vir hom die nou beroemde telegram gestuur: “Saved alone…”
Kort daarna, toe Horatio gereis het om sy treurende vrou te ontmoet, is hy geïnspireer om hierdie woorde te skryf terwyl sy skip naby sy dogters se sterfplek verby gevaar het.
1. When peace like a river, attendeth my way,
When sorrows like sea billows roll;
Whatever my lot, Thou hast taught me to knowa
It is well, it is well, with my soul.
Refrain
It is well, (it is well),
With my soul, (with my soul)
It is well, it is well, with my soul.
2. Though Satan should buffet, though trials should come,
Let this blest assurance control,
That Christ has regarded my helpless estate,
And hath shed His own blood for my soul.
3. My sin, oh, the bliss of this glorious thought!
My sin, not in part but the whole,
Is nailed to the cross, and I bear it no more,
Praise the Lord, praise the Lord, O my soul!
4. For me, be it Christ, be it Christ hence to live:
If Jordan above me shall roll,
No pang shall be mine, for in death as in life,
Thou wilt whisper Thy peace to my soul.
5. But Lord, ’tis for Thee, for Thy coming we wait,
The sky, not the grave, is our goal;
Oh, trump of the angel! Oh, voice of the Lord!
Blessed hope, blessed rest of my soul.
6. And Lord, haste the day when the faith shall be sight,
The clouds be rolled back as a scroll;
The trump shall resound, and the Lord shall descend,
A song in the night, oh my soul!b
a “know” (at the end of the third line) was changed to “say”.
b “A song in the night, oh my soul” (last line) was changed to “Even so, it is well with my soul”.
Bydrae van Kim en Mohem Mina
Slotlied
Vonkk 156 – As vreugde my deel is
Seën
Goed is die HERE vir hulle wat op Hom wag, vir die mens wat na Hom soek.
Goed is dit om stil te hoop op die verlossing van die HERE. (Klg 3:25-26)
En die gemeente sê: “Amen!”
Snapscan
Judy
Dankie Chris dat jy die Woord so duidelik vir ons oopbreek. Theo en ek geniet Klaagliedere en neem jou boodskap ter harte!