Skip to main content

Tag: Matteus 3

Psalm 29, Jesaja 42 en Matteus 3 Preek 8 Januarie 2017

Die Keltiese Christelike tradisie praat hulle van verskynings van God as “dun plekke”, plekke waar die grens tussen die gewone en ewige vervaag, waar God die gordyn effens wegtrek en ons ’n kykie kry op sy liefde, mag en majesteit.  Plekke waar ons die hemel sien.  Hierdie dun plekke – die verskyning van God, Epifanie – laat ons toe om onder die gewone oppervlak te kyk en die buitengewone te sien.  Om God te sien.

Die probleem is, natuurlik, dat meeste van ons nog nie ’n helder ster gesien het wat ons na die koning lei, of die hemel sien oopbreek en die Gees wat soos ‘n duif neerdaal met ’n stem uit die wolke nie.  Ons het nie water sien wyn word of Jesus se klere met wit lig sien gloei op ’n bergtop nie.

Psalm 29 beskryf God se stem en sê dit  kloof die seders van die Libanon oop!  Maar meestal, wanneer die jaar nou aan die gang kom en ons elke dag werk toe ry en saans help met huiswerk…  dan is dit asof die stem van God stil is, die hemel toe.  Asof daar geen dun plekke is nie.  Terwyl ons met ons hele wese epifanie begeer – nie net vir ’n seisoen in die kerkjaar nie, maar vir ons hele lewe.

Continue reading

Matteus 3:1-12 Preek – 4 Desember 2016

“Amazing Grace, how sweet the sound, that saved a wretch like me.”  Dis die woorde van John Newton, wat mense oor die eeue aan die hart gryp.  Amazing grace… Wretch… Ellendeling

En as jy John Newton se storie ken, dan maak hierdie lied soveel sin.  Hier was ’n ou, ’n slawehandelaar, wat vir ’n groot deel van sy lewe nie net met slawe gehandel het nie.  Hy was die kaptein van skepe wat slawe ontvoer het uit hul eie land en in die weste verkoop het.  En Newton kom tot bekering.  Hy skryf:  “Amazing Grace, how sweet the sound that saved a wretch like me.”  En ’n wretch, dink ek sal meeste van ons saamstem, was hy beslis.

Maar hierdie lied het Newton geskryf terwyl hy nog betrokke was in slawehandel.  Hy kom tot bekering in 1748.  En hierdie bekering, hierdie ellendigheid waaroor hy skryf, was, volgens sy eie getuienis:  vloek, dobbel, drink.  Hy het aan homself gedink as ellendeling, omdat hy gevloek, gedobbel en gedrink het.  Met sy bekering het hy daarmee opgehou.  Maar dit sou nog 40 jaar wees, voordat hy sou opstaan teen slawerny.  Veertig jaar waarin hy gedink het bekering is om op te hou rummikub speel.  Dit het 40 jaar geneem voordat hy kon sien – en sê – dat slawerny sonde is.

Dan maak dit heeltemal sin dat woorde soos “sonde, toorn, oordeel, bekeer”, nie meer woorde is wat ons kultuur gemaklik gebruik nie.  Want eeue lankal word dit misbruik om ons aandag af te trek van die eintlike probleem.  Laat dit die fokus op kleinlike nietighede val, terwyl dit groot onregte verskuil.

Maar dis jammer dat ons só oorreageer, dat ons glad nie wil praat oor sonde, oordeel en bekering nie.

Continue reading