Skip to main content

Tag: Matt

Matt 16:13-20 – Son 24 Aug 08

KINDERTYD

Weet julle wie is die president van Amerika?

  • Nou sy pa, George Bush snr, het eenmaal, toe hyself president van die VSA was, ’n ouetehuis besoek. 

Weet julle wat ’n ouetehuis is?

  • En daar het vriendelik met ‘n ou oom begin gesels en vir hom gevra:  “Weet jy wie ek is?” 
  • Die ou oom het nie geweet nie en geantwoord:  “Nee, maar gaan na die ontvangs toe, want as ons vergeet, vertel hulle vir ons wie ons is!”

Maar jongmense het ook dié probleem!

  • Ek onthou ‘n dogtertjie wat toe sy een keer in ‘n kring om my staan, haarself aan my moes voorstel, en toe gesê het: “Wie is ek nou weer?!”

Kom ek vra vir julle: “Wie is jy?” 

  • En “Nou wie is  …….. ?”
  • En “Wie is ………. ?”

Ons almal weet min of meer vanwaar af ons kom.  Jy ken jou ma en jy ken jou pa en jy ken jou ouma en oupa en ooms en tannies en neefs en niggies en sommer nog ’n hele spul ander mense ook.  Dit help ons verstaan wie ons is.

In die Bybel het Jesus dieselfde vraag gevra: “Weet julle wie is Ek?”

  • Wat dink julle het hulle geantwoord?
  • Wat sou julle antwoord?

Petrus het die ‘regte’ antwoord gehad; hy kon sê wie se Seun Jesus is.

En wie se Seun is Jesus?

God s’n!

En omdat Hy God se seun is, kan ons op Hom vertrou. Ons ken Hom.  Hy is God se Seun!

Daarom kan Hy ons gebede verhoor, Hy vergewe ons sonde, Hy help ons wanneer ons sukkel, Hy troos ons wanneer ons hartseer is.

Dis darem maar goed ons weet Hy is God se Seun, nê!

SKRIFLESING

Die hart van ons Gereformeerde Identiteit het te make met vier frases:

  • Net genade             Ef 2:8-10/ Rom 3:23-24
  • Net geloof               Rom 1:17/ Rom 5:1
  • Net Christus            Rom 5:8/ Rom 6:8 en 23
  • Net die Skrifte         Ps 1:1-3/ 2 Tim 3:16; 4: 2-3

En dit is nie asof dit ‘n optelsom is nie – jy sien die genade in Christus, en sonder geloof maak die Skrifte nie sin nie – dit is ‘n beskrywing van ‘n geheel.
Ons fokus vandag op Jesus en wie Hy is, want dit is wat die teks op die tafel sit, maar ons is telkens besig met die hele geheel – die kern van ‘n Gereformeerde kyk na wat Christelik is.

Opbou en agtergrond

Hoewel hierdie gedeelte ten nouste met die voorafgaande gedeelte oor die suurdeeg en sy invloed saamhang, onderstreep die begin van dié gedeelte van toe af (wat ook in 4:17 voorkom) dat hier ’n nuwe fase in Matteus begin waarin besondere klem op Jesus se lyding en sterwe val.  Die gedeelte self bestaan uit drie dele:

  1. die vraag aan die dissipels oor sy identiteit deur Jesus, met ’n rits antwoorde met Petrus s’n as hoogtepunt (vers 13–16);
  2. die uitsonderings posisie van Petrus (vers 17–19) en
  3. die opdrag aan die dissipels om oor Jesus se identiteit te swyg (vers 20).

Kom ons lees Matteus 16:13-20

WOORDVERKONDIGING

“Wie is ek?”

In vers 13 vra Jesus wie die mense dink die Seun van die mens is. 

Word on the street vertaal:”13 What’s the gossip? What are people saying about Me? They worked it out yet?”

Dis ’n ongelooflike gelaaide vraag.

Nou vir die ingeligte hoorder, sou die titel al klokkies laat lui het.  Hulle sou onthou het van die geheimsinnige man wat Daniël (7:13) in sy nagtelike visioen gesien het.  Dié verwysing het immers ’n uiters belangrike rol in die Jode se Messias verwagting gespeel.  Só, hulle sou die afleiding kon maak, dat Jesus eintlik na Homself as Messias verwys.

En dit is nie asof Jesus die term net een keer in ‘n gesprek oor Homself gebruik het nie.  Dit kom in al vier evangelies voor, dat Jesus só na Homself verwys (Matt 8:20, 9:6, 11 en 19; Mark 2:10; Luk 7:34; 9:58; Joh 9:35-37).  En niemand anders gebruik die term nie, net Hy. 

Maar die antwoorde wat die mense vir die dissipels gee, wys dat die mense nie verstaan het wie Jesus is nie.  Uit die uiteenlopende antwoorde lyk dit asof almal op een of ander manier dink dat Jesus ’n profeet was (vers 14): Johannes die Doper, Elia, Jeremia (net Matteus vermeld die feit).  Maar die kloutjie kon hulle nie by die oor kry nie.

Maar julle, wie sê julle is Ek?

En dan kom die belydenis van Simon, wat sy voorloper al in hfst. 14 gehad het toe Simon op die see saam met Jesus geloop het, en hy en die ander dissipels voor Jesus gekniel het en as die Seun van God aanbid het. 

U is die Christus, d.w.s. die gesalfde, die een wat God as Messias gesalf het (Christus is immers die Griekse vorm van die Hebreeuse woord Messias), die Seun van die lewende God.

En met vreugde verklaar Jesus dan vir Simon as gelukkig, geseënd.  Interessant dat Hy Simon as die Seun van Jona, Simon Barjona (bar is die Aramese woord “seun [van]”)  aanspreek en dan sy naam verander na Simon Petrus toe. 

Jy is Petrus, rots, en op dié rots sal Ek my kerk bou, ‘n ongelooflike belofte (vers 18)! 

Die gesag om die kerk te onderrig, die sleutels van die hemel, word ook aan hom gegee (vers 19). 

Nou daar is ’n groot verskil in hoe Katolieke en Gereformeerdes die teks verstaan. 

  • Vir eersgenoemde gaan dit om die vestiging van ’n amp – dié van die pous, ‘n individu as ‘n rots, wat hiërargiese volmag het in alles van die kerk. 
  • Vir laasgenoemde gaan dit oor die rol van die kerk – as geloofsgemeenskap, ‘n gemeenskap wat op die rots van Petrus se belydenis gebou is, in wie Christus die volmag het. 

Interessante vertaling in Word on the Street werp miskien ‘n ander lig op die betekenis van dié gedeelte: “I’ll tell you the security codes of heaven: if you block something down here, heaven will make sure it stays blocked, if you give something the green light down here, heaven will make sure it goes through.”  Dit klop met die betekenis in Matteus 18:18-19 waar ook oor dié sleutelmag gepraat word, en die uitoefening daarvan verbind word aan die saamstemmende gebed van die gemeenskap van gelowiges.

Wat ‘n mens onmiddellik anders laat dink oor die belangrikheid van gebed!  Dit is die kodes wat die hemel oop- en toesluit – en ons het dié mag gekry, om in afhanklikheid van ons Messias, die een wat mense kinders van God wil maak, te gebruik.

Maar dan kom ons by die gedagte wat my die meeste getref het.  “Op hierdie rots sal Ek my kerk bou en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (vers 18).  Doderyk of Hades staan hier vir die plek waar die ongelowiges gebêre word vir die oordeel, ‘n uiters ongemaklike plek, wat sommer in later gebruik van die woord, as die hel bekend geword het, hoewel tegnies die hel eers aan die einde van die tyd regtig in spel sal kom, as ‘n mens Openbaring in gedagte hou.
Maar belangrik.  Dit is nie Petrus wat bou nie.  Dit is Jesus Christus wat bou. 

Dit is nie Petrus of sy dissipel-vriende of enige ander Christen daarna wat die voortgang van die kerk verseker nie.  Dit is Jesus Christus wat die bose magte sal teëstaan sodat die kerk nie oorweldig word nie.

Matteus sluit die gedeelte af met die bevel van Jesus in vers 20 dat hulle dié insig in wie Jesus werklik is, nie verder met buitestaanders moet deel nie.  Sonder die kruisdood en opstanding van Jesus, sou sy Messiasskap immers nie sin maak nie. Geen wonder dat Matteus met smaak aan die einde van die evangelie dié kleed van geheimsinnigheid  afgooi en in die woorde van Jesus self sê dat dié boodskap van die Messias die hele wêreld in verkondig moet word (28:19) – die bekende Groot Opdrag.

TOEPASSING

Ek wil na hierdie Skrifuitleg twee dimensies hiervan uitlig.

1.  Jou eie identiteit in Christus

Jesus begin hier met ’n algemene vraag aan die dissipels:  “Wie sê die mense is Ek?”

En as hulle vir Hom ’n paar antwoorde gee, dan maak hy dit persoonlik: “Wie sê julle is Ek?”

Dis die vraag wat elke mens deur die eeue moet antwoord … Wie is Jesus vir jou?

Ek het onlangs die boek van Francis Collins gelees, The Language of God, waarin hy as wetenskaplike oor geloof gesels.  Hy is die vader van die menslike genoom projek en het die Nobelprys daarvoor gekry.

Hy begin sy volwasse lewe as ‘n ateïs, iemand wat nie in ‘n God glo nie.  Maar dan ontmoet hy ‘n vrou in die hospitaal wat besig is om dood te gaan, en dié vra hom wat hy regtig glo.  En met ‘n skok besef hy dat hy eintlik sy hele lewe die vraag na God ontwyk het.  En dat Hy nie langer dít sou kon doen nie.   Hy sou moes ‘n antwoord gee op die vraag, in terme van die teks, wie is Jesus vir jou?

En dan met die lees van ‘n paar boeke, veral CS Lewis se boeke, raak hy oortuig van die bestaan van ‘n universele morele wet wat nie uit natuurlike ontwikkeling verklaar kan word nie.  En wat hom spesifiek aanspreek, is dat mense altruïsties kan optree, d.w.s. lief kan hê sonder om iets terug te verwag (wat die Bybel as agape liefde beskryf).  En omdat hy dié tipe liefde nie uit natuurlike ontwikkeling kan verklaar nie, kon hy eenvoudig nie God se bestaan langer ontken nie.  En Jesus raak vir Hom die Seun van God, die Messias, die Christus.

Ek weet ek praat met mense wat die evangelie ken – maar die vraag bly steeds – wie is Jesus vir jou?  Dit bly die belangrikste vraag, een wat ‘n mens nie kan ontwyk nie, en een wat jou lewe hier en nou bepaal.

2.  Ons identiteit in Christus

As ons seker is van ons identiteit in Christus, dan is die tweede vraag wie is die kerk, dié kerk wat Jesus bou en waarvan Hy sê, die poorte van Hades sal dit nie oorweldig nie?

Nou, ek is nie onbewus daarvan dat die antwoord op die vraag baie diep deur ons konteks bepaal word.

Dié week het bv. die kerkherenigingsbootjie ‘n rowwe see binnegevaar.  U het seker kennis geneem daarvan dat die VGK die NGK se afskeid van apartheid ernstig bevraagteken het, en nie ons aansoek om deel van ‘n Afrika Konferensie van Kerke te word, goed te keur nie. En dit plaas die hele gesprek tussen ons in gevaar.
En die ontstellende is dat ons eie kontekse ons perspektiewe daarop so indringend bepaal.

  • Vir die NGK was dit ‘n skok, só onverwags.  Die VGK het weer teruggekrabbel na hulle hantering van die belydenis van Belhar as ‘n uitsluitende voorwaarde vir gesprekvoering en nié ‘n insluitende voorneme om dit deel van die belydenisgrondslag van die herenigde kerk te maak.  En die beskuldiging van apartheid en rassisme word weer voor ons deur gegooi.  Ons voel seergemaak en verraai.
  • Maar ek kan dink dat die VGK se terugkrabbelry ook kom uit ‘n ervaring van pyn, spesifiek onverwerkte pyn uit die verlede: die pyn van menswaardigheid wat aangetas is, die pyn van gedwonge verskuiwings, die pyn van verbrokkelde gesinne en afwesige pa’s, die pyn van die verlies van geliefdes op ‘n verskeidenheid van maniere, wat natuurlik aan albei kante van die spektrum van ons verlede plaasgevind het.

En dít maak dit so moeilik om in dieselfde gespreksruimte te bly:

  • as die NGK se mense sê, ons gaan nie almal die belydenis van Belhar aanvaar nie, dan hoor die VGK dit in hulle pyn … dat ons húlle nie aanvaar nie, en nié erken dat hulle pyn gely het in die verlede nie. 
  • En ons hoor weer in hulle voorwaardes, dat hulle ons nie aanvaar nie, ten spyte van ons verskeie belydenisse van die verlede en die nuwe oortuiging waarmee ons die pad van hereniging stap.

En die probleem is, ons gesukkel om mekaar te vind, laat die kerk in die breë skade ly, en ten diepste, laat die boodskap van Christus skade ly.

Die tyd het miskien gekom dat ons nog dieper die pyn van die verlede in die oë staar en iets daaraan probeer doen. 

Ons identiteit sal nooit nét in ons eie geledere uitgeklaar kan word nie.  Ons is verbind aan mekaar met drie eeue se saam-Christen-wees.  Vir die eerste 200 jaar was hier net een kerk, was ons saam, en kan ons nooit heel wees sonder dat ons by mekaar op een of ander manier is nie.

Miskien gee die teks vir ons ‘n weg vorentoe, want dit is interessant dat die gesprek tussen Jesus en Simon Petrus na beide kante toe ‘n bevestigende gesprek is.  Simon Petrus bevestig Jesus se identiteit, U is die Christus, en so ook Jesus die identiteit van Simon Petrus, jy is die seun van Jona, en ek gee ook vir jou nou ‘n nuwe identiteit, dié van ‘n rots, Petrus.

Die gemeente en die proses van kerkhereniging behoort juis ‘n veilige plek te wees waar ons mekaar bevestig en nie verder beskaam nie! En hoe nodig het ons nie dat die Here vir ons ‘n pad vorentoe wys, op ‘n wedersydse bevestigende manier. 

Ten minste is ek oortuig dat die Here sê dat ons mekaar nie mag los nie!

  • Selfs wanneer jy hoog opgee oor ‘n spesifieke greep op die waarheid, soos wat belydenisskrifte per se is, ‘n greep op die waarheid, jy die ander een nie mag los nie! Dit het ek geleer by Brenda Salter McNeil se A Credible Witness – Reflections on power, evangelism and race. (2008, Downers Grove: IVP). Sy maak die volgende stellings oor eenheid:
  • “To choose Christ is also to choose his community.” (2008:16)
  • “Our unity in the midst of our diversity is one of the most powerful ways we reveal the reality of what Jesus accomplished on the cross.” (2008:16)
    • Ek het ‘n artikel daaroor geskryf in die vorige Kruisgewys vir mense wat meer daaroor wil lees: http://www.gemeentes.co.za/Pdf/McNeil.pdf  .  Of kom haal een in my kantoor.

Dit is wonderlik om te sien hoe die kerk in die vlaag xenofobie wat onlangs deur die land gespoel het, bakens van hoop was, wat mense in hulle nood ingesluit het en hulle oor randfigure ontferm het.

Dít is wie ons as kerk is, ‘n insluitende gemeenskap!  En ons moet dit nie vergeet nie en gebruik in die antwoord op die vraag, wie is ons?

Ek sluit af.

  • “Wie is Ek?” vra Jesus.  U is die Christus, die seun van die lewende God.
  • “Wie is ons?” as Christene.  Ons almal, saam, is kinders van die lewende God, en ons het die heilige opdrag om te sorg dat ons dit saam kan vier.

Amen.

GEBED

DANKOFFERS

SLOTSANG

  • Lied 478 “Op vaste fondamente” staan

SEËN

AMEN

  • Lied 314 “Amen” staan

AANKONDIGINGS

Matt 13:31-33, 44-52 – Son 27 Jul 08

Die
Koninkryk bring ’n ingrypende verandering in ons lewe

Deon
Binneman

Skriflesing:  Mat 13:31-33; 44-52

Kindertyd: 

Met die
lenteblomme van Namakwaland is daar vir die kinders van die verandering wat die
lente bring, vertel.  Netso kan Jesus
Christus ook ’n verandering in ’n mens se lewe bring.  Die kinders is gevra om te dink aan iemand
wat hulle ken in wie ’n mens hierdie verandering baie duidelik kan sien.

Inleiding:

Die meeste mense sal voorbeelde kan noem van
mense wat hulle beskou as goeie voorbeelde van gelowiges wat geheel en al  verander is deur die geloof.  Vir my is Moeder Theresa ’n verstommende
voorbeeld van iemand wat haar hele lewe gewy het aan dit wat vir haar belangrik
was, dit wat haar hele lewe opge
ëis  het, naamlik die liefdevolle
uitreik in die naam van Jesus Christus na die ellendigste van mense.

Nader aan ons het die lewe van Beyers Naudé my
nog altyd ontroer.  Hy en sy vrou het
hulle lewe opgeoffer vir dit waarin hulle geglo het.

Die vyf kort gelykenisse:

Ons het vanoggend vyf kort gelykenisse gelees,
nl die gelykenisse van die mosterdsaadjie,
die suurdeeg, die skat in die saailand en die kosbare pêrel en van die treknet met die baie visse.  Ons weet die bedoeling is om vir ons iets van
die koninkryk van die hemel daarmee te verduidelik.  Al hierdie gelykenisse beeld op een of ander
manier die koninkryk van God
uit.  Daarom begin elkeen van die
gelykenisse met “Die koninkryk van die hemele is soos…”
.  Jesus het sy hele aardse bediening
gesien as die koms van die Koninkryk, die koms van God se heerskappy op aarde
en in mense se lewe. 

In Matteus 4:17 begin Jesus sy bediening met
die oproep:  Bekeer julle, want die
koninkryk van die hemel het naby gekom. 
Deur
sy woorde en dade het die koninkryk van God aangebreek, het die heerskappy van
God in mense se lewe naby gekom:  siekes
is genees, blindes het gesien, en mense se lewe is ingrypend verander.  Jesus verduidelik met wonderwerke,
gelykenisse en preke dat die koninkryk van die hemel reeds aangebreek het en
wat die aard en vereistes daarvan is.  In
Matteus word dit ook duidelik dat die koninkryk mense is, gelowiges wat die
Koningskap van Jesus Christus aanvaar. Hy het gekom om ons na sy koninkryk te
roep. Hy roep ons op tot ’n radikale keuse vir die koninkryk. Persone wat
hierdie keuse maak, betree nie die koninkryk nie, maar is die koninkryk.

 Die vyf
kort gelykenisse wil vir ons leer dat die koninkryk van God op ’n manier iets
is wat klein begin en baie groot word en ’n baie groot invloed het.  Verder wil die gelykenisse ook leer dat die
koninkryk kosbaar is en dat die besef van die waarde daarvan mense totaal
opeis.  Ons wil dus vanoggend op die
volgende drie aspekte van die koninkryk fokus: 
Die koninkryk van die hemel het ’n bepaalde aantrekkingskrag; die
koninkryk van die hemel het ’n veranderde effek; en die koninkryk van die hemel
is kosbaar/waardevol.

 

Continue reading