Jesaja 5:1-7 Preek
’n Mens besef nie altyd wanneer jy midde-in geskiedenis leef nie. Dat die oomblik wat jy nou beleef, ’n oomblik is waaroor die wêreld vir jare gaan praat nie. Maar ek dink die twee laaste weke was so ’n tyd. Suid-Afrika het opgestaan en begin sê: “Nie weer nie. Genoeg.” En in ’n ikoniese beeld wat waarskynlik vir altyd in ons kollektiewe geheue geëts sal wees, het vier vroue bewend opgestaan – tjoepstil – en mag op sy kop gekeer en onreg ontbloot. So op die vooraand van vrouedag, wat ons herinner aan die onreg van ons verlede en die vroue wat opgestaan het en gesê het: “genoeg.” Vrouedag. Vier vroue met handgeskrewe plakkate wat ons herinner dat 1 uit 3 vroue in SA verkrag word (sommige statistieke sê 1 uit 2), dat daar elke 6 dae ’n vrou in SA deur haar lewensmaat vermoor word.
Wat ’n ironiese tablo was die afgelope twee weke nie! Die skrille kontraste wat in gelid staan.
Die Here het verwag dat daar reg sou wees, maar daar was net onreg, dat daar geregtigheid sou wees, maar daar was net die hulpgeroep van veronregtes.
sê Jesaja 5.