Skip to main content

Tag: Filippense

Fil 2:12-18: Week vanaf 12 Feb 2012

Week van 13-18 Februarie 2012

Ons werk hierdie kwartaal met die brief van Paulus aan die Filippense.

RUS EN ONTVANG

  • Gesels met mekaar oor julle ervaring van selfopofferende diensbaarheid (Fil 2:5-11 van verlede week) en wat die Here julle die week geleer het.
  • Word stil en oordink die betekenis vir jou van die sleutelteks in Filippense – 2:5-8.
  • Laat iemand met ‘n gebed open.

HOOR EN ONTGIN

  • Lees Filippense 2:12-18 – Die Gees verander ons tot ’n onberispelike lewenswandel
  • Sê vir mekaar wat die teks by jou wakker gemaak het.

Hier volg ’n paar verhelderende opmerkings oor die gedeelte:

Ligdraers in die wêreld

Paulus volg sy oproep tot onderskeidende liefde (1:9-10), en eensgesindheid na buite en binne (1:27-2:2), deur veral aan ander se belange te dink (2:3-4), op in Fil 2:12-18 deur hulle hier aan te moedig om in alles gehoorsaam te wees aan die kruis-evangelie – soos Christus inderdaad vir hulle die voorbeeld van gehoorsaamheid gestel het (2:6-11).  En die metafoor wat hy daarvoor gebruik, is dat hulle soos ligdraers in die wêreld sal wees (letterlik: “skyn soos ligte in die wêreld” – vgl Jesus in die Bergrede: “Julle is die lig vir die wêreld” – Matt 5:14).

Hy beskou dit as sy priesterlike taak om hulle hiertoe aan te moedig en sy lewe in diens van hulle gehoorsaamheid te gee.  Daarom gebruik hy die verdere metafore uit die offerkultus dat hulle geloof ’n offer is wat hy in diens van God bring, en sy bloed ’n drankoffer is wat daaroor uitgegiet word, waaroor hulle saam met hom moet bly wees (vers 17-18 – vgl ook Rom 15:16 waar hy op soortgelyke wyse skrywe oor sy priesterlike taak om die evangelie van God te bedien).

“Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe” is die NAV se poging om vers 12 se Griekse oorspronklike te vertaal, wat letterlik lui: “met vrees en bewing moet julle jul heil/verlossing/saligheid uitwerk”. Die voorgestelde nuwe Afrikaanse vertaling lui so: “werk met vrees en bewing aan julle verlossing.”

Paulus bedoel kennelik nie hier dat hulle verantwoordelik is vir hulle ewige saligheid nie.  Dit sou op ’n onvanpaste werkheiligheid neerkom wat in stryd met die res van die NT boodskap sou wees.  Hy roep hulle eerder op om vrugte te dra wat by hulle verlossing pas.  Wright sê hiervan, dat hulle opgeroep word: “(to) work out in practice what it means to live by this salvation rather than the one their culture is forcing upon them.”

Let ook op dat hierdie oproep van Paulus afhanklik gemaak word van God se werk (vers 13) wat juis vir hulle in staat wil stel om gehoorsaam te kan wees: “want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer”.  Hulle gehoorsaamheid is dus nie die aanvulling of voltooiing van God se werk in hulle lewens nie, maar die resultaat van wat Hy in hulle begin het (vgl veral Fil 1:6!) – “creating both the desire and the drive” (Hawthorne).  Die fokus is dus op God se werk in hulle, en om dit prakties deel van hulle lewens te maak.  Dit sluit in dat hulle nie moet kla en murmureer nie (eerder bid – Fil 4:6-7), moet sorg dat hulle opreg en onberispelik optree, sodat niemand hulle van iets slegs sal verdink nie, en bo alles aan die woord van die lewe moet vashou om dit uit te dra (vgl Petrus in Joh 6:68: “U het die woorde wat ewige lewe gee”, waarmee hy ook eksplisiet sy eie vashou aan die Here verklaar het).

LEEF EN ONTPLOOI

  • Hoe is die Here in jou lewe besig om jou ’n onberispelike lewenswandel te leer?
  • Hoe kan jy groei in jou verantwoordelikheid daar rondom?
  • Sluit af met ‘n gebed rondom Fil 2:9-11.

Fil 2:1-13 – Son 28 Sept 08

Hy begin deur hulle te herinner aan alles wat God aan hulle geskenk het (en wat hulle al ervaar het).  Hy verwys 1) na die troos in Christus (hulle is verloste mense), 2) die aansporing deur die liefde (waarin God se Vaderskap gehoor kan word) en 3) die gemeenskap deur die Gees .  Daarby voeg hy 4) die herinnering aan die innige meegevoel en meelewing wanneer hulle deur moeilike tye gaan.

Hy herinner hulle dus – aan God, van wie hulle net liefde ontvang en aan hulle medegelowiges, die liggaam van Christus.

Hy sê daarmee: Julle is bevoorreg om met God ‘n pad te kan stap.  Julle is bevoorreg om dit saam met ‘n klomp volgelinge van God te doen.  Laat my beker dan nou van vreugde oorloop dat julle as vriende van mekaar, soos een siel in twee liggame (letterlik kan sumpsuchoi vertaal word met “een siel”) sal lewe.  “Sing off the same page!”

As die gemeenskap van gelowiges een na buite moet wees, hulle beste moet gee, vir Christus se boodskap moet lewe, as vriende dit moet doen … dan moet hulle verseker dit ook na binne toe wees.

Dit hou in, dat hulle niks uit selfsug of eersug sal doen nie, in nederigheid die een die ander hoër sal ag as hom- of haarself en  elkeen nie net aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.

Nou hoe werk dié eenheid en vriendskap na binne toe?

Ek lees dié week weer ‘n artikel van Israel Galindo wat sê daar is twee uitstaande goed wat ‘n gemeenskap eenheid gee:

  • Shared Language
  • Being Together

Kom ons begin met die tweede eerste, being together:

OM SAAM TE WEES (BEING TOGETHER)

 

Saam wees

 

Om saam te wees, om geestelike vriende te wees, het meer te make met verhoudings as met programme of administrasie.

Daarom doen ‘n gemeente goed wat geleenthede skep (vgl. Prentjie van Nico Simpson) waar mense saam kan wees, dinge saam kan doen en, oor dinge saam kan gesels.  Dit is in die interaksie met mekaar, in die deel van ons lewens met mekaar, wat groei kom, wat eenheid kom.

Ons idee van Woensdae se Didage is juis om só ‘n geleentheid te skep.  ‘n Ruimte waar mense hulleself kan wees, saam oor die lewe kan gesels, saam oor die Bybel kan gesels, en só die diep eenheid wat die Here tussen ons geskep het, kan beleef en verinnig.

Maar om saam te kan wees, terwyl ons ook baie verskillend is, verg ‘n paar dinge van ons almal, soos die teks vir ons uitspel:

1.  Ons moet bereid wees om tweede viool te speel

Daar is die bekende storie van die beroemde dirigent en komponis, Leonard Bernstein. Toe daar vir hom gevra is wat die moeilikste posisie is om in die orkes te vul, was sy antwoord: “Tweede viool.”  “Hoekom?” wou die persoon weet.  Bernstein het geantwoord:  “Almal verkies die prestige van eerste viool.  Maar sonder tweede viool is daar geen harmonie in die orkes nie!”

“One of the greatest problems in the modern-day Christian church is that so many Christian people who are members of a local church, refuse to share their spiritual gifts with the body of Christ unless they are first-violin or first-string.”  (Eric Ritz)

2.  Ons moet bereid wees om mekaar se foute te aanvaar

Dit beteken onder andere dat ons mekaar sonder ophou moet lief hê.

Iemand het die volgende tong-in-die-kies gediggie gemaak oor die perfekte kerk:

If you should find
the perfect church
without fault or smear,
Please, don’t join that church,
you’d spoil the atmosphere.
If you should find the perfect church
where all anxieties cease,
Then pass it by lest joining it
you mar the masterpiece.
If you should find the perfect church,
then don’t you ever dare
To tread upon such holy ground
you’d be a misfit there.

But since no perfect church exists…
made of imperfect men,
Then let’s cease looking for that church,
and love the one we’re in.
Of course it’s not a perfect church,
that’s simple to discern,
But you and I and all of us
could cause the tide to turn.
So let’s keep working in our church
until the resurrection,
And then we each will join God’s church
without an imperfection.

3.  Ons moet inklusief wees

Uiteraard is daar by ons ‘n behoefte aan ‘n tuiste in ‘n gemeente.  En ons moet geleenthede hê waar ons “tuisvoel”.  Maar dit kan juis die eenheid deurbreek, as ons net saam is met mense wat soos ons is, waar ons makliker tuisvoel.

 

Inklusief

 

Daarom moet ons doelbewus inklusief wees, mense intrek, selfs al is hulle baie anders as ons. Ons moenie net werk met ‘n soort soek soort benadering nie, maar juis werk met ‘n ondersteuning in gemeenskap model (vgl. Prentjie van Nico Simpson).

Dit het natuurlik baie te make met nuwe mense wat in ‘n gemeente en ‘n gemeenskap intrek.  Maar soms is daar mense wat langs ons bly, tussen ons beweeg, maar nie deel voel van die gemeenskap van gelowiges nie.  En hulle het net so nodig dat ons uitreik en intrek en hulle deelmaak van ons geloofsvriendekring.

‘n Gemeente groei nie deur nuwe intrekkers nie.  ‘n Gemeente groei deur insluiting.  In ons groei na Christus toe, moet elkeen sy plek vind, moet ons help dat elkeen sy plek kan vind, sodat die liggaam opgebou kan word in liefde (Ef. 4).

Ek begin ook wonder of die beeld van die kerk as vriende, nie vir ons ‘n perspektief op gemeentewees gee, wat ons nou nodig het nie.

4.  Ons moet mekaar na buite toe ondersteun

Daar is ‘n al hoe groter behoefte dat ons as ‘n gemeenskap van gelowiges ons rol in die publieke sfeer speel.  En dan praat ek van die onderwys, en die gesondheidsdienste, en die metropool en die veiligheidsdienste, en die sosiale dienste, sowel as die landspolitiek.

 

Ondersteun in die publieke sfeer

 

En ons moet mekaar daarin ondersteun (vgl. Prentjie van Nico Simpson).  Dit is wat ‘n Gestuurde Gemeente doen – hulle ondersteun die gestuurdes, en dit is almal van ons, in die gemeente, in die uitvoering van hulle roeping.

En dit beteken nie dat ons almal ja-broers en susters moet wees nie.  Ons moet mekaar ook uitdaag en aanspoor tot beter maniere van dienslewering, en leer by mekaar wat die beste en God-welgevallige weg is.

Dit bring my die tweede fokus in ‘n gemeente wat as vriende wil lewe.

OM ‘N GEDEELDE TAAL AAN TE LEER (SHARED LANGUAGE)

 

Gedeelde taal

 

‘n Gemeente wat as vriende wil lewe het ‘n taal nodig waarmee hulle nie net mekaar kan verstaan nie, maar waardeur hulle letterlik die werklikheid kan skep (vgl. Prentjie van Nico Simpson).

Dit is waarom die Bybel so belangrik is – dit gee vir ons ‘n gedeelde taal.  En dit sal altyd die belangrikste taal bly wat ons moet aanleer, en waarmee ons die hele tyd moet besig wees.  En dit moet daagliks en gereeld wees.  Enigeen van julle wat al ‘n tweede of derde of vierde taal aangeleer het, weet hoe belangrik dit is dat jy dit inoefen, en nie net op jou eie nie, in gesprek met ander wat dieselfde taal praat.  Dit is al manier waarop jy dit leer.

1.  Die taal van Jesus

In die eerste plek beteken dit natuurlik dat ons die taal en gewoontes van die Here Jesus self sal aanleer – die taal van ‘n dienskneg – soos hier in vers 5 en verder uitgespel.

Daar was eendag ’n skilder wat sy meester se skilderkwas gekoop het.  Hy sou nou self ’n meester skilder wees!  Nadat hy sy eerste skildery met sy meester se kwas voltooi het, het hy dit geneem na die kurator van ’n beroemde museum.  Die kurator het na die skildery gekyk en die volgende opmerking gemaak:  “You don’t need the master’s brush, you need the master’s spirit and mind.”

Dieselfde geld ons as volgelinge van Jesus- “you need His spirit and His mind.”

En ons kry dit deur die Bybel te lees en te herlees en te oordink en te bespreek en te doen en weer te oordink en weer te doen.  Dit is hoe jy die taal van die Bybel, en die taal van Jesus aanleer en die taal van die Heilige Gees en die Vader en dissipelskap en nog ‘n hele boel ander nuanses of dialekte van die taal van die Bybel aanleer.

2.  Die taal van die tradisie en die taal van die tyd

Maar dit is nie net die taal van Jesus wat ons moet aanleer nie.  Ons moet ook ons eie taal as gemeente aanleer, die kultuur, die maniere, die gewoontes waarvan ons vir mekaar oor tyd stories kan vertel.

 

Tradisie en eietyds

 

Interessant dat Galindo sê (vgl. Prentjie van Nico Simpson), dat ‘n gemeente aan die een kant trekke van die oorgelewerde gebruike en gewoontes van die tradisie moet vertoon – ons staan immers in ‘n lang en ryk tradisie wat teruggaan eintlik tot die eerste mense, soos Genesis vertel.

Maar dit moet aangevul word deur die taal wat ons skep in reaksie en interaksie met die tyd waarin ons lewe.  Daarom het ons ‘n visie en ‘n missie wat anders is as ander gemeentes, maar ons sing liedere en gebruik die Bybel wat deur baie ander gemeentes reg deur die eeue al gebruik is.  Daarom ondersteun ons ‘n beweging soos Klema as deel van die gemeente se ontwikkeling, maar ons bly deel van die breër NGK verband, en hou ons ons aan die riglyne wat die ring, en sinode en Algemene Sinode van tyd tot tyd bepaal.

Dit is eers wanneer albei perspektiewe teenwoordig is, dat verantwoordelike vernuwing gebeur, en ons in die gedeelde taal vriende vir mekaar as gelowiges kan wees.

 

Gedeelde ervarings

 

Daarom dat ons nie die geleenthede wat ons as vriende vir mekaar reël kan, mag mis nie, want ons het gedeelde ervarings nodig (vgl. Prentjie van Nico Simpson), om ‘n gedeelde taal te kan ontwikkel.

En daarom is dit ook ‘n proses wat nooit mag stop nie – vernuwing is iets wat altyd nodig is.  Dit is soos die vlerke van ‘n arend.  Maar dit moet ook verantwoordelik wees, dit moet op een of ander maniere geanker wees aan die breër storie van gelowiges deur die eeue.  Dit is soos die pote van ‘n arend, waarmee hy uiteindelik na die wye draaie in die lug op sy nes hoog teen ‘n krans gaan sit, sy kuikens versorg, sy kragte herwin, sodat hy weer sy vlerke kan gebruik.

EK SLUIT AF

Neem tyd dié week en vra jouself net die twee vrae af:

  • Watter gemeentelede is geloofsvriende vir jou.  Soek hulle op, versterk julle verhoudings. Praat die taal van die gemeente en van ons geloof.
  • Watter gemeentelede of ander gelowiges in jou gebied is nie geloofsvriende van jou nie.  Kies een van hulle, reik uit, gaan drink koffie saam, braai ‘n vleisie, leer mekaar ken en sluit iemand so in jou geloofsvriendekring in.  En leer ‘n paar nuwe woorde aan van die taal wat God ons in gemeenskap met mekaar gee.

Amen

Fil 1:20-30 – Son 21 Sept 08

 

LEWE TER WILLE VAN CHRISTUS

Paulus is hier weer in die tronk (waarskynlik in Rome).  En as hy hier skryf dat hy onseker is of hy wil leef of sterf (vers 22), moet ‘n mens in gedagte hou, dat vir baie gevangenes dit werklik beter was om te sterf as om in ’n Romeinse tronk te probeer oorleef. 

Die omstandighede in tronke was haglik.  Die tronke was vuil, donker, warm, bedompig en onhigiënies.  Gewoonlik was daar nie individuele selle nie, maar is mense eerder aan mekaar in groepe vasgeketting (vgl. Fil. 1:14).  Gevangenes het min slaap gekry, en moes deur hulle families van kos en klere voorsien word (Kyk bv. na Fil. 4:18 waar Paulus die gelowiges bedank vir wat hulle vir hom gestuur het om van te oorleef: “… ek het alles ontvang en ek het meer as genoeg”). Vriende het baie keer die gevangenes in die tronk bygestaan, soos ons hier lees van Timoteus en Epafroditos se diens aan Paulus (van wie Paulus in hfst. 2:19-30 sê: “wat deur julle hierheen gestuur is om my in my omstandighede by te staan”).  Die hulp van vriende buite die tronk, was dikwels die verskil tussen lewe en dood vir gevangenes. 

Maar – Paulus is nie bekommerd oor die tronk as sodanig nie.  Hy dink nie oor lewe en dood vanuit sy omstandighede nie.  Hy dink uitsluitlik aan die effek van sy lewe (of dood) op die gelowiges.  Vir hom is dit beter om hemel toe te gaan … maar wat dan van dié wat agterbly?  En as hy aan hulle dink, dan besef hy, dit is nog nie tyd om te gaan nie. Hy het nog iets om te doen hier op aarde.  Hy bestaan immers ter wille van Christus en sy saak op aarde.

Hoekom dink hy so?

Want die lewe is vir hom Christus.  En hy is bereid om sy lewe weg te gee ter wille van Christus.

En dit is die uitdaging aan ons as Christene – dat die lewe ook vir ons Christus sal wees, dat ons ook bereid sal wees om ons lewe weg te gee.

Nou dit kan wees dat jy nou na my luister, en net besef, dit is nie waar ek is nie.

En dit is ‘n goeie gedagte – want dit is wanneer ons eerlik na ons eie lewe as Christene kyk en ons meet aan die lewe van ‘n volwasse Christen soos Paulus en ons bewus raak van die gapings in ons eie lewe, dat ‘n kreatiewe krag (Peter Senge) in ons aangesteek word, om verander te word, sodat die lewe ook vir ons Christus kan wees, en ons Christus-gesentreerd kan lewe.

Kyk, ‘n mens begin nie waar Paulus geëindig het nie.

Jy begin presies waar jy nou is.

En waarop konsentreer jy?

Wel, Paulus druk dit hier só uit: “Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees.”

D.w.s. ons lewe moet al hoe meer in lyn kom met die boodskap van Christus.  In kort, ons lewens moet ooreenstem met die Bybel.  Nou, die interessante is, dat empiriese navorsing oor geestelike groei aandui – presies dít wat Paulus al aan die begin van ons jaartelling skrywe – dat gelowiges die Bybel as die mees kragtigste katalisator ervaar in hulle lewe, dié ding wat hulle lewens verander.

En hoe Paulus dit hier uitspel, is dat ‘n mens twee goed doen in geestelike groei, jy kyk na jou lewe en jy kyk na die Bybel en jy begin algaande die twee met mekaar in verband bring.  Dít is hoe jy geestelik groei.  Dit is hoe jy verander.  Jou lewenswandel kom in ooreenstemming met die boodskap van Christus.

Dit beteken – in jou stiltetyd lees jy die Bybel, jy dink na oor jou lewe, en jy laat toe dat die Bybelse visie, God se visie, want die Bybel is immers sy Woord, jou lewe verander.  In Bybelstudiegroepe lees jy die Bybel, dink na oor jou lewe, en laat die Bybelse visie jou lewe verander.  En ons doen dit in die erediens en ons doen dit in die kursusse wat ons aanbied.

Dit is die motivering agter die Didage aanbiedinge in die vierde kwartaal op Woensdae.  Didage beteken leer.  En dit is wat ons gaan doen, ons gaan leer hoe om ons lewens al hoe meer in ooreenstemming met die Bybel te bring:

  • Bybelskool – lees die eerste 5  boeke in die Bybel en dink na bv. oor hoe God met families in Genesis gewerk het, en probeer daaruit leer hoe om in ons eie families die Here te dien;
  • Bly in voeling – leer ‘n paar beproefde gewoontes aan om God se stem te kan onderskei en in voeling met God te kan bly;
  • Lectio Divina – leer baie spesifiek hoe om die Bybel te lees met die oog op lewensverandering;
  • Alpha Huwelikskursus – leer saam met mekaar hoe ons huwelike in lyn kan bring met wat God oor die huwelik in die Bybel leer.

Dink ‘n bietjie eerlik oor jou lewe – stem jou lewe ooreen met dít wat die Bybel leer?  Het jy ‘n groeiende verhouding met die Here?  Lewe jy Christus-gesentreerd?

Oorweeg dan om in te skakel by ons Woensdagaand sessies.  Neem die volgende stap in jou geestelike reis.  En bring mense saam met jou, familie, vriende, kennisse, kleingroep lede, wie ook al.

LEWE AS VRIENDE

Want, en daarmee sluit ek af, die Christelike lewe is nie ‘n alleen reis nie.  Dit is bedoel vir vriende in die geloof.

Paulus het ‘n klomp goeie dinge om oor die Filippense te sê.  Hulle het van die begin af met hom saamgewerk. Hulle lê hom na aan die hart.  Op ‘n punt was hulle al gemeente wat hom finansieel bygestaan het (hfst. 4).

Maar daar was een ding wat hy wou hê dat hulle nog moes doen – en dit is dat hulle soos vriende eensgesind moes saamstry vir die Evangelie en saam moet leer wat die evangelie, die Bybelse boodskap, vir hulle lewens beteken.  Daarom versoek hy vir hulle om soos een mens saam te stry vir die geloof en praat hy oor “hulle” lewenswandel.

Paulus versoek hulle ook in die volgende hoofstuk in dieselfde “vriendskap”-taal om een in liefde, hart en strewe te wees (2:2-4).  En wanneer Paulus vir Euodia en Sintige in hfst.. 4:2 vermaan om eensgesind te wees, bedoel hy dat hulle weer soos vriende moet leef.

Geestelike groei is dus nie vir Paulus ’n individualistiese saak nie. Hy wil hê dat die gemeente as geestelike vriende sal lewe. Vir die Grieke was ware vriende immers een siel wat in twee liggame geleef het, met dieselfde wil of strewe, en dit is hoe Paulus wil hê dat die gemeente moet lewe.

Kom ons stap só ‘n pad met mekaar in dié gemeente, die pad van gelowige vriende.

KINDERTYD

Die afgelope maand het die Olimpiese Spele ons almal aan die praat gehad. Die vinnigste man op aarde (Usain Bolt); die vrou wat ‘n spies die verste kan gooi (Barbora Spotakova). En ons leer by die atlete: om nooit op te hou nie, om hard te probeer, om alles te gee.

Maar dit was die Paralimpiese Spele wat vir ons die meeste geleer het. Mense wat ‘n gebrek het, net een been, of net een arm, of blind en dan die beste doen met wat hulle het. En dit lyk mos asof hulle nóg meer as hulle Olimpiese maats die Spele geniet.

Een van die grootste atlete daar was ‘n Suid-Afrikaner, wat eers by die Olimpiese Spele geswem het en toe ook by die Paralimpiese Spele, Natalie du Toit, en vyf goue medaljes gewen het.

Maar ek wil vir julle vandag vertel van hierdie meisie.

Het julle al vir haar gesien?

Haar naam is Shireen Shapiro.

Toe sy sewentien jaar oud was het ‘n vreeslike ongeluk haar getref.  Sy was ‘n goeie swemmer. Haar droom was om by die Olimpiese Spele deel te neem. Maar toe ry ‘n motorboot bo-oor haar, en die skroewe skeur haar liggaam uitmekaar.

En sy was baie hartseer, en wou haar droom om op die Olimpiese Spele te swem, laat vaar. En toe kom kuier Natalie du Toit vir haar.  En sy praat vir Shireen moed in.  En Shireen besluit sy gaan tog weer swem en begin oefen om in die Paralimpiese Spele te swem.

En daar wen sy en stel boonop ’n wêreldrekord op in die 100 m-rugslag vir vroue (S10-klas).  Sy het die beste gemaak van wat sy gehad het!

Nou die Bybel vertel ons van die apostel Paulus.

Een keer is hy in die tronk gegooi, omdat die mense nie wou hê hy moes vir ander van Jesus vertel nie.

En die tronk was ‘n baie slegte plek.

En wat dink julle doen hy?  Gee hy moed op?

Nee, hy besluit, ek kan mos nog skryf.  En hy skryf ‘n brief vir die mense in Filippi.  Dit is ‘n dorpie in Griekeland.  En hy sê vir hulle, julle moet onthou om alles te doen wat Jesus vir julle vra.  En julle moet onthou om lief te wees vir mekaar. En julle moet onthou om met ‘n glimlag te lewe.  Hoekom?  Want die Here is lief vir julle.

En dan sê hy vir hulle: as mense nie glo wat julle sê nie, moenie moedeloos word nie, moenie vir hulle skrik nie, maar hou by wat julle geleer het.

En so maak Paulus die beste met wat hy het, en hy moedig die mense van Filippi ook aan om die beste te maak met wat hulle het.

SKRIFLESING

Drie tekse uit Filippense vir die volgende drie weke.

Filippi was ’n kleinerige stadjie in die Noordoostelike deel van Masedonië (vandag Griekeland) waar talle Romeinse soldate afgetree het (Hand 16:12).  In ruil vir landbougrond het die veterane gehelp om die belangrike via Egnatia  – die pad tussen Europa en Asië – te beveilig.  Dit het ook gekeer dat Rome oorbevolk word met afgetrede soldate wat niks het om te doen nie. 

Filippense 1:20-30

20 Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe,21 want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins. 22 As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie. 23 Ek is in ’n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; 24 maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe. 25 Omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek sal bly, ja, vir julle almal behoue sal bly, sodat julle kan toeneem in geloof, en blydskap in julle geloof kan hê. 26 As ek weer by julle kom, sal julle oorvloedige rede hê om Christus Jesus oor my te prys.

27 Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees. As ek dan kom, sal ek self sien, of as ek nie kan kom nie, sal ek deur berigte hoor dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie 28 en julle in geen opsig deur die teenstanders laat afskrik nie. Dit is vir hulle ’n teken van húlle ondergang en van júlle redding, en dit kom van God. 29 God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly. 30 Julle en ek het dieselfde stryd wat julle my vroeër al sien stry het en waarvan julle hoor dat ek nou nog stry.