Dit is volbring – Goeie Vrydag 2017
Verlede Sondag, terwyl ons Sondag van die Passie gevier het en baie ander kerke Palmsondag, was daar twee selfmoordbomaanvalle op kerke in Egipte. Waar hulle besig was om Jesus se triomfantlike intog in Jerusalem te vier.
Toe ek by die huis kom en die berigte sien, het ek gedink: Goeie Vrydag móét iets hieroor sê. As Jesus se kruisdood nie vir ons iets kan sê oor hierdie gebeure nie, oor die onbeskryfbare pyn en gebrokenheid van ons wêreld – van Christene wat Jesus se oorwinning vier en in die proses vermoor word nie – wat kan dit vir ons sê?
Ek het ook stories gelees van ’n polisieman wat die selfmoordbomaanvaller omarm, sodat hy nie in die kerk kan ingaan nie. Mens hoor van die grasie waarmee die Christene in Egipte optree.
Ons het natuurlik grootgeword met die gedagte dat Jesus vir ons sonde aan die kruis gesterf het. Almal van ons (en die hele liedboek) sal basies iets sê soos: ons sonde moet gestraf word, Jesus het ons sonde op hom geneem, sodat ons kan hemel toe gaan. Ons dink dis wat die kruis beteken, dis ons almal se onmiddellike antwoord: vir my sonde, sonde vergeef, hemel.
Maar wat beteken dit vandag? In Egipte? Of Swede? Of SA, waar almal die laaste weke om verskillende redes betoog het? Wat beteken dit vandag vir ons dat Jesus meer as 2000 jaar gelede aan kruis gesê het “Dit is volbring”?