Posts Tagged ‘Chris van Wyk’

Wanneer kom die reën? Pinkster 2018

Wanneer kom die reën? Inderdaad. ‘n Metafoor vir die vraag na die vervulling van God se beloftes – letterlik en geestelik. Vrae soos: Is daar behoeftes waarvoor jy beloftes nodig het? Het jy vrae oor die voorwaardes verbonde aan die vervulling van God se beloftes? Wonder jy watter rol geloof speel? Geduld? Volharding? Vervulling?

Pinkster 2018 is vir jou bedoel. Dit begin by Jesus se afskeidspreek dat ons moet: “wag op die belofte van die Vader wat julle van My gehoor het” (Hand 1:5). Die tema van die Hemelvaart diens Donderdag 10 Mei 18:30. 

Die reeks word voortgesit in sewe eredienste van 13 tot 19 Mei, die Sondagoggende 09:00 en die aande 18:30. Met lekker sop en brood elke aand. Dankie vir die 5 groepe wat gaan help!

Ons fokus op die droogte – wat dit ook al vir jou beteken. Ons gesels oor voorwaardes, geloof, geduld, volharding en vervulling. Met Pinksterdag vier ons die uitstorting van die Heilige Gees, die waarborg dat: “hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Jesus Christus is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.” (2 Kor 1:20).

Ek wil jou uitnooi om jou behoeftes met my te deel. Per e-pos. Anoniem op ‘n stukkie papier in die kerkkantoor. Persoonlik. Ek gaan elke aand geleentheid gee vir gebed. Ook bid vir jou en jou behoeftes. Anoniem of voor in die liturgiese ruimte. En beskikbaar wees vir gesprek elke aand, elke dag.

Ek gaan die beloftes van die Here verkondig wat genoegsaam is vir jou behoeftes: “En my God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in Christus Jesus.” (Fil 4:19).

En toe kom die reën. Soos God belowe het.
****

Vir die Kinders is daar elke aand spesiaal Kinderpinkster in die Ark:  Gee my ‘n G.E.E.S!

Sondagoggend 13 Mei om 09:00, dan Sondag- tot Donderdagaand 18:30.

****

In die Aftree-oorde is daar elke oggend om 09:30 ‘n diens.  Die reeks daar se tema is Volkome Eenheid… Volkome BlydskapLees hier meer oor die Waltonpark Pinkster.

Continue Reading

Boekbekendstelling

Twee nuwe boeke deur Chris van Wyk: “Wat glo jy?” en “Wie is God?

Kan jou laerskoolkind antwoord as iemand vra wie God, Christus en die Gees is? Die boek “Wat glo jy?” beantwoord die mees algemeenste vrae oor God, Christus, geloof en die Gees. Elke antwoord word begrond uit die belydenisskrifte en aangevul met ‘n Bybelse verhaal of gelykenis. Dit is geskryf in samehang met “Wie is God?” wat gerig is op tieners en volwassenes. Ouers, begeleiers en opvoeders kan dus albei boeke tegelykertyd gebruik in gesprekke sodat hulle met kinders kan gesels.

Wie is God?” is gerig op tieners en volwassenes. Die boek beantwoord ook die mees algemene vrae oor wie God is, sy wese en sy werke. Deur 52 kernantwoorde te gee oor God, Christus en die Gees word die grondbeginsels van die Christelike geloof vasgelê. Elke antwoord word aangevul met vier of meer Bybelse aanhalings. Daar is ook verwysings na die belydenisskrifte wat die antwoorde dieper begrond. Dit is ideaal vir gebruik in Bybelstudiegroepe.

Bekendstelling Sondag 25 Maart 10:00 in die konsistorie. Boeke beskikbaar teen R80 elk.

Continue Reading

Bybelskool Jeremia en Klaagliedere

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnOns lees die boeke van die profeet Jeremia en sy Klaagliedere in die derde kwartaal 2014.  Die inleiding op die boek Jeremia word op 23 Julie geplaas en daarna lees ons 6 hoofstukke ’n week, Klaagliedere ingesluit, tot en met die 1ste Oktober.  Ek plaas DV elke weeksdag ’n bydrae.

In die gemeente Somerstrand het ons agt uur-byeenkomste op Woensdae: 30 Julie 19:15; 6 Augustus 19:15; 13 Augustus 18:00; 20 Augustus 18:00; 27 Augustus 18:00; 3 September 18:00; 10 September 18:00; 1 Oktober 18:00.  Let op die verskillende begin-tye asook op die feit dat daar nie byeenkomste 17 en 24 September is nie.

Registreer by die webtuiste www.bybelskool.com om dié bydraes per e-pos te ontvang. Dit is gratis.

Continue Reading

Joh 4 – Son 25 Jan 09

VERWELKOMING

Daar is by baie van ons ‘n begeerte na meer: meer tyd vir die belangrike dinge in die lewe, meer insig in wat mense by ‘n regtig betekenisvolle lewe uitbring, en veral om meer van God in ons lewe te hê. 

Die wonder is, hierdie begeerte na meer val nie uit die lug nie.  Die begeerte na meer in ‘n mens se lewe is alreeds ‘n getuienis dat God aan die werk is in ons lewe.

Wat ons nodig het, is maniere om hierdie werk van God nie net agter te kom in ons lewe nie, maar veral om ruimte daarvoor te maak, daarby aan te sluit en daarmee saam te werk.

Een van die wonderlike maniere waarop ons ruimte vir God kan maak, is deur Geestelike Gewoontes of dissiplines.  Geestelike Gewoontes is soos druppels water vir ons dors na God.  Dit skep ‘n ruimte waarin ons dors na God geles kan word: druppels vir die dors.  Dít is waarop ons dié kwartaal fokus.

Al die inligting is in die brosjures asook in die Joernaal wat u soos verlede kwartaal elke Sondag sal ontvang.  Dit is nie net vir gebruik in die kerk nie, maar veral ook in kleingroepe en saam met vriende.

Kom ons begin met ‘n lied wat van ons behoefte na God praat wat ook ons verootmoediging voor die Here is:

VEROOTMOEDIGING

Lied 163: “Soos ‘n wildsbok wat smag na water, smag my siel na U, o Heer.” – sit

VOTUM

Psalm 36:8-11:
“Hoe kosbaar is u trou, o God!
U beskerm die mense wat by U skuil.
In u huis geniet hulle oorvloed,
U laat hulle drink
uit die strome van u goedheid.
U is die bron van die lewe,
deur u lig lewe ons.
Laat u liefde bly by dié wat U erken
en u trou by dié wat opreg is.

SEËNGROET

Jesaja 55:1:
“Kom, almal wat dors is,
kom na die water toe,
selfs ook dié wat nie geld het nie, kom,
koop en eet;
ja, kom, koop sonder geld
en sonder om te betaal,
wyn en melk.”

LOFSANG

Lied 154:2,3 “Hier is die Heer by ons teenwoordig, Hy skep die ruimte vir sy werk” – staan
Lied 484:1,3 “Almal wat dors het, kom geniet, die grootste gunsbewys, neem wat die Here gee, verniet.” – staan

DOOP

Lied 289:1 “Jesus, Heer, op wie ons hoop, ons maak soos U ons beveel het: Ons bring kinders hier ten doop.” – sit
Lied 288:3 “Gee aan ons kroos u hulp en troos; gee aan ons wysheid, Here.” – sit

KINDERTYD

Lied 541:1,2,3 “Ons bring aan U, Heer Jesus, ons lof en dank en eer.  Ons wil U met ons lewe, terwyl ons jonk is, eer.” – sit

Was julle al regtig dors?

Wat doen julle as julle dors is?

En help dit?

Hier is ‘n paar diere – kom ons kyk wat hulle doen?

Hoe lank help dit?

‘n Mens raak altyd maar weer dors.

Een keer het die Israeliete in die woestyn só dors geraak.  En hulle het gekla.

Wat het toe gebeur?  Kan julle onthou?

Moses het gebid en die Here het vir hulle water gegee.

Moses het op ‘n rots geslaan, en toe het daar water uitgevloei.

En hulle kon hulle dors les.

Dink julle dit was genoeg?

Nee, want hulle het weer dors geraak.

Net soos ons.

En ons kan ook vra vir God vir ons behoeftes, water, kos, klere, al die dinge wat ons nodig het.

Nou ons gaan netnou die storie lees van Jesus by ‘n put.

Weet julle wat is ‘n put?

Hier is ‘n prentjie van ‘n vrou by ‘n put.

Nou Jesus was ook dors.

En daar kom toe ‘n Samaritaanse vrou aan wat ‘n kruik het waarmee sy water kan skep.

En Jesus vra vir haar vir water.

En as sy wonder hoekom hy vir haar vra, dan begin Jesus praat van ‘n ander dors.

Die dors na God.

Want julle weet, ons sal altyd weer water wil drink as ons dors is.

En dit is reg so.  Ons is so gemaak.

Maar, Jesus kan ons dors na God regmaak.

Weet julle wat dit is as ons dors is na God?

Dit is as ons sleg voel oor iets wat ons verkeerd gedoen het, en ons wil hê Hy God moet ons vergewe, dan het ons ‘n dors na God.

En as ons bid en ons vra Hom om ons te vergewe, en ons weet mos Hy doen dit as ons dit bedoel, dan voel ons asof ‘n lekker glas koue water of ‘n glas koeldrank gedrink het.

God gee vir ons geestelike water!

En Hy les ons dors.

GEBED

SKRIFLESING

Net iets oor die put van Jakob – dit is ‘n put wat Hy gekoop het van Hamor (Gen 33) en aan Josef gegee het op sy sterfbed (Gen 50), hoewel Josef dit nooit in besit geneem het nie.  Net sy bene is daar begrawe (Jos 24).

Lees Johannes 4

WOORDVERKONDIGING

Jesus is die enigste een wat jou lewe kan verander.  Hy is die enigste een wat jou begeerte na God, daardie behoefte na sin en betekenis, na heelheid en tevredenheid kan bevredig.

En die beste manier om dit reg te kry, is om, soos Eugene Petersen dit noem, ‘n aptyt vir God te ontwikkel, ‘n dors na Hom.  Hoekom sê hy so?  In The Message, vry vertaal, sê hy dit as volg: “God is die kos en wyn van die beste ete wat jy ooit sal eet.” (Matt 5:6).

Nou die interessante van God se manier, is dat Hy ons ontmoet waar óns is, in ons behoeftes en begeertes.  Hy sit nie eers jou begeertes af en begin dán met jou werk nie.  Hy vra nie eers dat jy darem net só ‘n bietjie meer volwasse moet raak in jou begeertes nie.  God is nie ‘n askeet, een wat die vreugdes en genietinge van die lewe afsit, nie!

Nee – Hy is maar te bly as ons behoeftes het, want dan kan Hy daarby aansluit, dit bevredig, en ‘n geleentheid skep dat ons dieper dors na meer van Hom bevredig kan word.

Hoekom?  Want verborge in ons behoeftes en begeertes is ‘n aptyt, ‘n dors vir God, die een wat ware lewe gee.

KOM ONS KYK EERS VAN JESUS SE KANT AF NA DIÉ VERHAAL:

Jesus is op reis na Galilea in die noorde.  Hy vat die kortpad deur Samaria en nie die gebruiklike langer roete aan die oostekant van die Jordaanrivier om die Samaritane te vermy nie.

Nou ons moet onthou: Jode het nie met Samaritane geassosieer nie.  En dit was wedersyds.  Hulle onderlinge stryd het reeds 7 eeue tevore begin, toe die noordelike ryk, met Samaria as hoofstad, deur die Assiriërs verower is.  ‘n Klomp Assiriërs het daar kom bly, wat tot grootskaalse ondertrouery tussen die Jode en Assiriërs gelei het.  Dit het tot ’n gemengde godsdiens en ‘n gemengde rasse groep in daardie gebied gelei. Die Jode van Juda, die suidelike ryk, het die Samaritane dus as ’n onsuiwer groep mense beskou en hulle gehaat omdat hulle, volgens die Jode, hulle volk en godsdiens verraai het. Daarom het die Jode uit hulle pad gegaan om Samaria en die Samaritane te vermy.

Jesus laat Hom egter nie deur dié eeue lange stryd van stryk bring nie, en as hy by die fontein ‘n Samaritaanse vrou kry, vra Hy vir haar water.

Daarmee het Jesus twee grense oorgesteek.  Hy steek 1) die rasse en sosiale grens oor, én Hy steek 2) die geslag- of gender grens oor – Hy as man praat met ‘n vreemde vrou op ‘n publieke plek.

En die interessante van sy gesprek met haar, is dat Hy haar baie spesifiek vra om sy dors te les.  Daardeur erken Hy haar behoefte aan waardigheid, en Hy gee haar die mag om iets vir Hom te beteken.

As sy met Hom terug begin praat, bied Hy vir haar die lewende water aan, iets waarin sy onmiddellik belang stel, hoewel sy dit eers verkeerd verstaan.

En op haar vraag na die regte plek van aanbidding, lei Jesus haar na ‘n nuwe manier om God te aanbid, nie meer in Jerusalem of Samaria nie, maar op enige plek, solank dit in Gees en in waarheid geskied.

Daarmee steek Jesus natuurlik saam met haar ook 3) die godsdiens grens oor na ‘n nuwe plek waar almal voor God gelyk is en met Hom in ‘n geestelike verhouding kan leef.

Die afloop van die verhaal is treffend – die vrou wat ‘n verstoteling in haar eie gemeenskap was, dié dat sy op die middag kom water skep het, gaan terug na die Samaritaanse gemeenskap, bring hulle na Jesus toe, en herstel eintlik die gemeenskap nie net met God nie, maar ook tussen Jode en Samaritane.

Jesus bevredig dus haar behoefte aan menswaardigheid, aan gemeenskap met haar mense, maar ook aan die regte verhouding met God.

MAAR KOM ONS KYK NOU NA DIE VERHAAL UIT DIE VROU SE HOEK:

Sy gaan skep water op die warmste tyd van die dag, 12:00.  Vroue het twee keer ‘n dag gaan water haal vir hulle huise in daardie tyd, soggens en saans, wanneer dit koeler was.  Hierdie Samaritaanse vrou vermy dus die ander vroue van die dorp, miskien omdat sy verwerp gevoel het, of meer waarskynlik inderdaad ‘n verworpene was.  En verwerpte mense weet ons mos, het ‘n behoefte aan aanvaarding en gemeenskap met ander mense – al sal hulle dit wegsteek of ‘n front voorhou. Die feit dat sy saamgebly het met iemand op dié stadium verraai dat sy ‘n behoefte aan mense gehad het, al was dit dan nou ‘n opeenvolging van mans.

As Jesus vir haar by die put vra na water, is haar eerste reaksie om Hom weg te stoot met die verweer dat Jode nie met Samaritane gepraat het nie, en mans weer nie met vroue in die openbaar nie.

Maar ‘n interessante ding gebeur.  As Jesus vir haar antwoord en begin om God by haar behoefte uit te bring: “As jy geweet het wat God gee …” (vers 10) dan raak sy geïnteresseerd en wil sy by hierdie vreemdeling leer, haar behoefte na meer bevredig.

Eers toets sy nog ‘n laaste keer sy vermoë: “Jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob nie …” (vers 12), maar soos Jesus haar al hoe dieper inlei in alles wat God haar kan gee, ‘n fontein van water wat in haar binneste kan opborrel en vir haar die ewige lewe kan gee, dan raak sy leerbaar.

En haar leerbaarheid lei haar tot ‘n oorgawe aan Jesus se perspektief op God en die wyse waarop Hy aanbid moet word.

En as Jesus vir haar sê dat Hy die Christus is, raak sy ‘n getuie, wat nie net teruggaan na die dorp en die waarheid oor haarself vertel nie, maar nog meer belangrik, Jesus as die Christus aan hulle voorstel.

Dit is asof die ruimte in haar lewe vir God progressief groter word deur vier fases:
•    Sy raak leerbaar.
•    Sy gee haarself oor aan Jesus
•    Sy vertel die waarheid oor haarself
•    En sy raak ‘n getuie.

En nou moet u mooi luister, want ons leer ongelooflik baie hieruit: Jesus sluit aan by haar behoefte aan aanvaarding, haar behoefte om mens in eie reg te wees, haar behoefte om ingesluit te word in die gemeenskap waar sy bly, en Hy bevredig ál die behoeftes, oor en oor … maar sy leer ook die Messias ken, dié Een wat haar diepste begeerte na God kan bevredig.

En God laat water opborrel uit die fontein binne in haar, sodat sy in die dorpie gaan getuig van die lewende water wat Jesus bring.  En haar getuienis maak die deure van die dorpie oop vir Jesus.  Hulle reageer in gasvryheid, nooi Jesus om vir ‘n paar dae daar oor te bly, en raak op hulle beurt getuies: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vir ons vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.” (vers 42).

BETEKENIS

En dit gee ons ‘n diep insig in hoe die geestelike lewe werk:

Van God se kant af sluit Hy by die behoefte aan wat dié vrou het na aanvaarding, en selfs in die geval van die dorpie.  En Jesus nooi haar uit, daag haar uit, moedig haar aan, vertoef by haar totdat sy kan reageer op die geskenk wat Hy gee.

En in die proses kom daar ruimte vir Hom in haar en in die dorpie se lewens.

Wat sien ons in die vrou?
•    Leerbaarheid
•    Oorgawe
•    Getuienis!
•    Praat die waarheid

En by die dorpie Sigar?
•    Gasvryheid
•    Getuienis

Van die vrou en die dorpie se kant af, maak hulle ruimte vir God in hulle lewe deur leerbaar te word, deur hulle oor te gee aan wat God deur Jesus vir hulle wys, deur nie stil te bly oor die geskenk van lewende water wat God deur sy Gees gee nie, deur die waarheid te begin omhels as die enigste manier waarop gemeenskap herstel word, deur gasvry te wees en deur te getuig.

En omdat dié dinge so kragtig gewerk het in hierdie mense se lewens, het dit deel geword van die geestelike wysheid van die kerk.  Die kerk het agtergekom, mense wat leerbaar word, mense wat hulle aan God oorgee, mense wat die waarheid begin praat, mense wat gasvryheid begin leef, is mense wat die lewende water wat God gee, ervaar as ‘n fontein wat in hulle binneste opborrel.

Én … het die kerk geleer deur die eeue, as jy meer van God in jou lewe wil ervaar, is dit dié dinge wat jy as geestelike gewoontes of dissiplines kan aanleer, sodat dit jou gedrag kan bepaal en jy ruimte vir God kan maak in jou lewe.  Dws, as jy leerbaar is, as jy jou oorgee aan God op ‘n daaglikse basis, as jy die waarheid praat, as jy gasvry lewe, dan gee jy God kans om sy werk te doen. 

En dit is wanneer dié dinge ‘n lewenswyse word, wat jou lewe regtig vrug begin dra, dat jou behoeftes bevredig word, dat jy ‘n fontein van lewende water vir ander word.

Só word ‘n mens met jou volle menswees en met jou spesifieke behoefte ingetrek in God se werk en kom daar ‘n ruimte dat Hy ons lewens kan transformeer.

Natuurlik is die dieptepunt van al ons begeertes eintlik ‘n begeerte na God, maar jy begin op die plek waar jy is, soos die vrou, by haar verworpe ervaring, die middag by die put, en deur die ruimte wat daar in haar kom vir God se werk,  in haar geval deur leerbaarheid en oorgawe aan Jesus lei dit haar tot ‘n lewe in waarheid en getuienis … En haar diepste begeerte na God word bevredig.  Sy ontmoet die Messias.

Dít is waarmee geestelike dissiplines ons hierdie kwartaal gaan help.  Om in ons begeertes ons behoefte aan God raak te sien, en in die beoefening van spesifieke geestelike gewoontes ruimte te skep dat Hy ons lewe kan volmaak met die lewende water, vir ons, en vir ander.

Elke week gaan ons daarom een geestelike gewoonte neem, dit verbind aan ‘n behoefte na meer, die Skrif perspektiewe daarop uitspel, en dan maniere om die gewoonte te beoefen ondersoek en voorstel vir inoefening in die daaropvolgende week.  Rethie gaan ook ‘n groep Woensdagaande met Didage op ‘n dieper reis met die geestelike gewoontes neem.  Daar is plek vir 20 mense.

VOORBIDDING

DANKOFFER

SLOTSANG

‘n Mens kan baie woorde vir die dissiplines gebruik: om Hom te aanbid, om sy Naam aan te roep, om Hom te loof, om tot Hom te bid. En ‘n mens kan dit op baie maniere doen – Adel Calhoun noem 62 sulke dissiplines wat ons vandag nog kan beoefen, en daar was en is nog meer.

En hoe ‘n mens ook al dink oor die doel van die geestelike dissiplines, ten diepste is dit telkens om met God gemeenskap te hê.  Om Hom lief te hê, om Hom te dien, om na Hom te luister, om van Hom te leer, om deur Hom vertroos te word, om deur Hom tot rus gebring te word, om deur Hom vergewe te word, om ‘n antwoord op gebed van Hom te ontvang.

Lied 601:1,4,5 “Elkeen wat dors het, mag kom; drink die fontein se water.  God kom dan self by ons woon.” – staan

SEËN

AMEN

Lied 313 – staan

Continue Reading

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Tilla Olivier

    |

    God se grootheid en genade oorweldig ons!
    Dit geen nuwe perspektief te midde van moeilike uitdagings!

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dit is die fundamentele onderskeid tussen gelowiges en ongelowiges. Ongeloof is om te leef in God se wêreld asof Hy nie bestaan nie. Geloof is om rekening te hou met God se bestaan en beloning van dié wat in Hom glo (Hebr 11:6). Gelowiges het dus die moed om onreg aan te spreek, want ons glo dat God in staat is om op te tree.

  • Avatar

    Constance Kotze

    |

    Baie pragtig. Iets wat almaar van ons aan kan werk. Ons moet net glo want God is in beheer.

  • Bybelskool » Bou of breek ons die aarde?

    |

    […] is dit iets waaroor ons gerus beter kan nadink, vanuit ‘n Bybelse perspektief daaroor. Lees gerus hierdie preek van my (uit 2012) om jou denke uit te daag en te verander. Dit neem jou op ’n toer deur die […]