Méér geloof, Here – kleingroepmateriaal 29 September tot 5 Oktober (Luk. 17:1-10)
Omgee gesprekke
Gee terugvoer oor julle beoefening van die geloofsgewoonte van gasvryheid, soos julle die vorige keer afgespreek het. Wat het gebeur? Wat het dit vir jou beteken?
Bybel lees
Ons vervolg eers die week van 13-19 Oktober met die laaste 4 hoofstukke van Die Storie weens die Algemene Sinode. Volgende Sondag preek ek oor Lukas 17:1-10 met die tema: Méér geloof, Here. Die Kleingroepmateriaal handel dus daaroor.
Agtergrond: Waar Jesus se bediening in Lukas 4:14-9:50 hoofsaaklik afgespeel het in die platteland van Galilea is Jesus in Lukas 9:51-19:44 “op pad na Jerusalem”. Telkens gaan sy vasbeslotenheid om daar uit te kom ook herhaal word (9:51; 10:38; 13:22; 17:11; 18:31). Jesus versamel dus steeds dissipels om Hom, Hy daag steeds almal uit met sy onderrig, en Hy staan spesifiek die Fariseërs se Godsbeeld teë – en word natuurlik verwerp as gevolg daarvan – maar die hoofmotief van hierdie gedeelte is dat Hy op pad is om Sy roeping te vervul om versoening tussen God en mens te bewerk. En dit kan Hy net in Jerusalem doen.
Lees hoofstuk 17:1-10. Wat tref jou in dié gedeelte? Watter belofte of opdrag hoor jy daarin? Hoe kan jy daarop reageer?
Dink verder na oor hierdie vier uitsprake van Jesus aan sy dissipels en die impak op jou geloofslewe:
- Jesus moedig hulle aan tot ’n onberispelike lewe wat nie vir ander tot struikeling aanleiding sal gee nie – vers 1-3a. Hoe kan jy daaraan gehoorsaam word?
- Jesus moedig hulle aan tot ’n genadige lewenstyl wat telkens bereid is om berouvolles te vergewe – vers 3b-4. Hoe beïnvloed dit jou manier om ander mense te hanteer?
- Jesus moedig hulle aan tot ’n geloofslewe gewortel in God waardeur wonders vir hulle moontlik sal word – vers 5-6. Hoe gaan dit jou verwagting van God beïnvloed?
- Jesus moedig hulle aan tot ’n nederige lewenstyl waarin hulle nie arrogant sal raak oor wat hulle bereik in die koninkryk nie, want uiteindelik behoort die lof aan God self – vers 7-10. Hoe verander dit jou denke oor jouself?
Gewoontes en gebruike
Dink hieroor na en deel met mekaar julle gedagtes hieroor: Nederigheid is een van die sleutel geloofsgewoontes van ’n volwasse wordende geestelike lewe. Nederigheid kies om op die weg van dienslewering te bly. Dit behels dat jy afstand kry van jou vermoëns en prestasies deur jouself doelbewus uit die sentrum van jou lewe te haal, en te sorg dat ander jou nie op ’n verhogie plaas nie. Nederigheid word moontlik deur minder gereeld oor jouself te dink, en meer gereeld oor die behoeftes van ander … eerder as dat jy minder van jouself dink (Adele Calhoun).
Geseën om te seën
Die Here seën ons om te seën. Hier is drie opsies om jou gedagtes te stimuleer om die geloofsgewoonte van nederigheid te beoefen: 1) Kies iemand uit in jou invloedsfeer en gaan bevestig so ’n persoon met ’n waarderende opmerking of guns wat jy vir hom of haar doen. 2) Kies iemand wat in nood is, en doen iets goeds vir die persoon … sonder om vir hom of haar iets daaroor te sê. 3) Kies iemand uit wat jy vertrou (of ’n groep vriende) en vra hulle om eerlik met jou te wees oor jou blindekolle en jou houding teenoor jou eie prestasies en invloed. Skryf dit neer (of laat hulle dit doen, dit help jou met die eerlikheid!) en werk biddend daardeur. Vra die Here om jou insig te gee om met groter eerlikheid te lewe. Dit is die begin van ’n nederige lewenstyl.
Bybelskool
Die Bybelskool handel dié kwartaal oor Openbaring, sowel as die briewe van Johannes en Judas. Die eerste bydrae by die webtuiste word vir 17 Oktober beplan. Die eerste byeenkoms is Woensdag 23 Oktober om 18:00-19:00 in die konsistorie.