Skip to main content

Markus 5:21-43 Week vanaf 24 Junie 2012

Huisgodsdiensmateriaal

Week van 25-30  Junie 2012

RUS

  • Wat was die beste deel van die afgelope week?  Sê vir die Here dankie daarvoor!
  • Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

HOOR

Lees elke dag van die week ‘n stukkie van Markus 5:21-43 

21–24 Hierna is Jesus weer met die boot terug na die oorkant toe. Toe Hy op die strand kom, het baie mense na Hom toe gekom. Onder die mense was iemand met die naam Jaïrus. Hy was die hoof van die plek waar die Jode tot God gebid het. Toe hy Jesus sien, val hy voor Hom neer. Hy sê vir Jesus: “My dogtertjie is besig om dood te gaan. Asseblief, kom raak net aan haar. Dan sal sy leef!” Jesus is toe saam met hom. ’n Groot klomp mense is agter Jesus en Jaïrus aan.

’n Vrou word Gesond

25–26 Tussen die mense was daar ’n vrou wat vir twaalf jaar lank siek was. Sy het baie swaar gekry. Sy het al haar geld aan dokters betaal om haar gesond te maak, maar sy het net sieker geword. 27–29 Die vrou het op ’n dag van Jesus gehoor. Sy sê toe vir haarself: “As ek net aan hierdie Man kan vat, sal ek gesond word.” Toe Jesus so tussen die mense stap, kry sy haar kans. Sy het aan Hom geraak. Sy kon dadelik voel dat sy gesond word. 30–31 Jesus het geweet iemand het van sy krag gebruik om gesond te word. Hy draai toe om en vra: “Wie het aan My gevat?” Die dissipels antwoord: “Hier is baie mense rondom U. Hoe vra U dan: ‘Wie het aan My gevat?”’ Jesus het Hom nie aan hulle gesteur nie. Hy het rondgekyk om te sien wie dit was. 32–34 Die vrou was so bang dat sy gebewe het. Sy val toe voor Jesus neer en vertel Hom alles. Jesus sê vir haar: “Omdat jy in My glo, is jou siekte vir altyd weg. Gaan leef nou in vrede met God!”

Jesus is Sterker as die Dood

35–36 Jesus was nog besig om met die vrou te praat, toe kom ’n paar mans van Jaïrus se huis af daar aan. Hulle sê vir Jaïrus: “Jou dogter is nou net dood. Moenie vir Jesus verder pla nie.” Jesus het dit gehoor. Hy sê toe vir Jaïrus: “Moenie ontsteld wees nie. Hou net aan om te glo!” 37–39 Jesus is toe saam met Petrus, Jakobus en Johannes na Jaïrus se huis toe. Hy wou nie hê die ander mense moet saamgaan nie. By Jaïrus se huis het ’n groot klomp mense buite gestaan en huil. Jesus vra vir hulle: “Hoekom huil julle so hard? Die kindjie slaap net. Sy is nie dood nie.” 40–43 Die mense het Jesus uitgelag. Hy jaag hulle toe uit die huis uit. Daarna is Jesus saam met die ouers en sy drie dissipels na die dogtertjie toe. Jesus vat haar hand en sê: “Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!” Die dogtertjie het dadelik opgestaan en tussen hulle rondgestap. Sy was twaalf jaar oud. Jesus sê toe dat iemand vir haar iets moet gee om te eet. Die mense was baie verbaas. Jesus het hulle mooi gevra om nie te vertel wat gebeur het nie. (Joubert, S. (2000). Die Nuwe Testament vir kinders in ‘n taal wat hulle verstaan (Mk 5:24–43). Vanderbijlpark: Carpe Diem.)

Gesels oor die teksgedeelte.  Maak eers seker almal verstaan al die woorde.

  • Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die teks.  As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels. 
  • Vertel vir mekaar hoe jy sou voel as jy daar was toe die goed gebeur het.
  • Hoekom het Jesus mense gesond gemaak?  Wat leer ons uit hierdie teks oor Jesus?

LEEF

  • Maak ‘n “word gou gesond”-kaartjie vir iemand wat siek is en vat dit vir hulle.
  • Gaan deur jul gebedslys- is van jul gebede beantwoord?  Sê dankie!  Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

huisgodsdiens; materiaal; huisgodsdiensmateriaal; markus

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.