Skip to main content

Matteus 26-27 – 6-12 April

Gee geleentheid dat elkeen iets deel wat gebeur het sedert julle laas by mekaar was.

RUS

Ons gaan in die Skrifgedeelte fokus op die lyding en kruisiging van Jesus.  Raak stil en dink ná oor Jesus se lyding.   Hoe voel jy daaroor?  1 minuut stilte.  Leef jou in sy ervaring in toe Hy uitgeroep het: “My God, my God waarom het U my verlaat?”  2 minute stilte.  Hoor die offisier se geloof toe Hy ná Jesus se dood gesê het: “Waarlik, Hy was God se Seun.” Dink ná oor die betekenis daarvan vir jou.  2 minute stilte.

Sê amen en gee geleentheid dat mense kan deel wat hulle ervaar het in hierdie tot-rus-kom tyd.

HOOR

1.  Lees Matteus 26-27 vooraf by die huis as voorbereiding vir die kleingroep.  Anders kan julle die gedeelte onder mekaar verdeel en dit by die byeenkoms doen.

2.  Deel met mekaar wat julle in dié gedeelte tref.  Om julle te herinner, dit gaan oor:

  • die omvattende Lyding van Jesus – hoofstuk 26.  Dit sluit sy verwerping deur die Joodse leiers en sy dissipel Judas, sy worsteling in Getsemane en sy gevangeneming, sy verhoor deur die Joodse Raad en die verloëning deur Petrus in, sowel as die salwing vir sy begrafnis en die laaste Pasga saam met sy dissipels wat op die instelling van die Nagmaal uitloop.
  • die onskuldige Kruisiging van Jesus – hoofstuk 27.  Dit sluit sy oorlewering aan Pilatus, sy ondervraging, sy oorlewering vir die kruisdood in stede van Barabbas, sy bespotting deur die soldate en uiteindelik sy kruisiging op Golgota, sy sterwe en begrafnis in.  Die hoofstuk vertel ook van die selfdood van Judas.

3.  Dink ná oor die verskillende dissipels se reaksie op Jesus se lyding – veral Judas en Petrus.  Hagner het van die dissipels gesê: “The line between commitment and betrayal can be a thin one as the disciples themselves were to discover in the very near future.” (Word kommentaar).  Vergelyk dit met die bystand van die vroue (27:55-56).

4.  Die dissipels en die vroue se reaksie is ’n wekroep aan ons om ons lojaliteit aan Christus Jesus nie in ons eie krag te soek nie, maar in die krag van die Gees wat Jesus gee.  Soos Paulus later vir Timoteus sou bemoedig: “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.” (2 Tim. 1:7).  Hoe ervaar julle die werk van die Gees om julle verbintenis aan God te versterk?  Hoe kan julle julle meer daarop toelê?

LEEF

Dit is volgende week Heilige Week wat uitmond in Goeie Vrydag (18 April) en Paassondag (20 April).  Ons bied weer uitbeeldings van die 12 stasies van die lydensweg aan by die kerk wat saans bygewoon kan word.  Oorweeg om dit as groep by te woon.

Die Skrifgedeelte vir volgende week is Handelinge 10.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.