Joh. 9:1-41 – 23-30 Maart
Gee geleentheid dat elkeen iets deel wat gebeur het sedert julle laas by mekaar was.
RUS
Ons gaan in die Skrifgedeelte fokus op Jesus wat die blinde man genees. Maak jou oë toe en verbeel jou jy is blind soos dié man. Beleef die donker en die beperking van jou sig. 1 minuut stilte. Beleef die opwinding as jy hoor dat Jesus jou raaksien in die verbygaan. 1 minuut stilte. Maak dan jou oë oop en kyk asof vir die eerste keer rondom jou. 1 minuut stilte. Maak weer jou oë toe en leef jou in die laaste gesprek van Jesus met die blinde man in. Hoor Jesus vir jou vra: “Glo jy in die Seun van die Mens?” Antwoord Hom in gebed. 2 minute stilte.
Sê amen en gee geleentheid dat mense kan deel wat hulle ervaar het in hierdie tot-rus-kom tyd.
HOOR
1. Lees Johannes 9:1-41.
2. Deel met mekaar wat julle in dié gedeelte tref.
3. Vertel vir mekaar van julle eie ervaring van wonderwerke of iets spesiaal wat julle aan God se werk toeskryf.
4. Dit is duidelik dat die Fariseërs geen kapasiteit het om deur God verras te word nie. Daarom soek hulle vir bewyse dat hier niks spesiaal gebeur het nie – by die blinde ma en by sy ouers. Hoe beïnvloed ander mense se skeptiese houding julle ervaring van wonderwerke? Hoe kan julle mekaar daarmee help?
5. Hoe dink julle oor die verband tussen sonde en siekte? Hoe dink Jesus daaroor? Hoe help Hy julle om God se werk ook in die oënskynlike negatiewe dinge wat gebeur, raak te sien?
6. Let op hoe die verhaal afsluit met die feit dat die blinde man se sig nie net fisies herstel is nie, maar leer om Jesus as die Gestuurde van God (Siloam beteken gestuurde!) raak te sien. Kyk of julle in die teks kan raaksien hoe die blinde man se begrip van Jesus groei (vers 11,17,33,38). Wat sê dit vir julle van genesing en geloof?
LEEF
Richard Niebuhr (Responsible Self) het gesê: “God is acting in all actions upon you. So respond to all actions upon you as to respond to his action.” Deel met mekaar hoe dié lewenshouding julle kan help om God se werk in julle lewe raak te sien. Bid vir mekaar dat julle oë al hoe meer vir God se werk sal oopgaan.
En onthou om met mekaar dié verhale te deel!
Ons hervat weer die voorsiening van kleingroepmateriaal volgende kwartaal in die week 6-12 April met die Lydensgeskiedenis van Jesus soos ons dit in Matteus 26-27 vind. Die daaropvolgende week is ook Heilige Week wat uitmond in Goeie Vrydag (18 April) en Paassondag (20 April). Ons bied weer uitbeeldings van die 12 stasies van die lydensweg aan by die kerk wat daardie week saans beleef kan word. Oorweeg om dit as groep by te woon. Meer inligting Sondag 13 April.