Handelinge 15:1-22 – Die Heilige Gees leer ons onderskei

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Toetrede

Lied 555 – Ek kniel hier in die oggendlig – koor

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 100 – Juig almal tot Gods lof en eer – staan

Lied 199 – Loof die Here uit die hemel – sit (koor vers 2)

Lied 214 – Here, ons sal U loof, u weldade roem – sit

Kindertyd

Ek wil vandag met julle gesels oor julle ore.

Waarvoor is ore?

Om te hoor.

En waarom is dit belangrik om te kan hoor?

  • Ons kan hoor as daar kos op die tafel is.  Of ons maatjies ons roep om te kom speel.  Of die klok op die speelgrond.  Of musiek wat ons hart kan bly maak.  Of as daar ‘n motor as ons oor die pad wil loop.  Of as ons pa of ma vir ons vra om iets vir hulle te doen.
  • Of as die Here vir ons iets vra om te doen.  Dit is mos waarvoor die Bybel daar is, dat ons God se stem kan hoor.

In die Bybel vertel Jesus vir ons hoe dit werk.  Hy wil graag hê dat ons sal luister wat God sê en dat ons sal doen wat God sê.

Een dag, vertel Jesus, was daar ‘n pa en twee seuns (Matt. 21:28-32).

Twee seuns – pa sê vir hulle om vir hom ’n werkie te doen.  Hulle moet vir hom grassny (die teks sê eintlik in die wingerd gaan werk, maar dit is onbekend vir ons kinders).  Die een seun, Japie, sê ja, pa.  Die ander een, Gawie, sê nee, pa.

Watter een dink julle het geluister?

Japie hoor toe sy vriende gaan sokker speel, en hy vergeet skoon om die gras te sny.

  • Hy het dus gehoor, maar hy het nie geluister nie, want hy het nooit daarby uitgekom en die gras gesny nie!

Gawie se gewete begin hom pla en hy besluit, hy het nou wel vir sy pa gesê, hy gaan nie gras sny nie, maar hy wil tog doen wat sy pa sê en hy trek die grassnyer uit en sny die gras.

  • Gawie het dus eers nee gesê en toe later wel gedoen wat sy pa gesê het.

Het Gawie geluister?

  • Ja, want hy het gedoen wat sy pa gesê het.

Het Japie geluister?

  • Nee, want hy het nie gedoen wat sy pa gesê het nie.

Sien, wat ons sê, is belangrik, maar wat ons doen, is nog belangriker.  Wat ons doen, is uiteindelik die toets, of ons regtig geluister het.

Daarom sê die Here, ons moet doen wat ons gehoor het, want dan was ons gehoorsaam.

Kom ons sê dit saam!

Elkeen wat die Bybel hoor en dit doen sal gelukkig wees.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing

Handelinge 15:1-35 – Die Heilige Gees leer ons onderskei

Die vergadering in Jerusalem

15 Daar het mense van Judea af gekom en die gelowiges wysgemaak: “As julle nie die gebruik van Moses nakom deur julle te laat besny nie, kan julle nie gered word nie.”

2Toe Paulus en Barnabas hulle daarteen verset en in ’n heftige meningsverskil met hulle betrokke geraak het, is daar besluit dat hulle twee en nog ’n paar ander van die gemeente na die apostels en ouderlinge in Jerusalem moet gaan in verband met hierdie vraagstuk.

3Nadat die gemeente hulle van die nodige vir die reis voorsien het, het hulle deur Fenisië en Samaria gegaan en vertel van die bekering van die heidene. Hieroor was al die gelowiges baie bly.

4Toe hulle in Jerusalem aankom, is hulle deur die gemeente, die apostels en die ouderlinge verwelkom. Hulle het vertel wat God alles deur hulle gedoen het, 5maar party van die gelowiges wat vroeër Fariseërs was, het na vore gekom en gesê: “Die bekeerlinge moet besny word en aangesê word om die wet van Moses te onderhou.”

6Die apostels en die ouderlinge het toe bymekaargekom om hierdie vraagstuk te bespreek. 7Na ’n lang bespreking het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Broers, julle weet dat God my lankal uit julle geledere gekies het om die evangelie aan die heidennasies te verkondig sodat hulle kan glo. 8En God, wat die harte ken, het dit bevestig deur die Heilige Gees aan hulle te gee net soos aan ons. 9Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie: Hy het ook hulle harte deur die geloof gereinig. 10Waarom wil julle dan nou God se geduld op die proef stel deur op die nek van die gelowiges uit die heidennasies ’n juk te lê wat ons voorvaders nie in staat was om te dra nie en ons ook nie? 11Nee! Ons, en ook hierdie gelowiges, glo dat ons net deur die genade van die Here Jesus gered word.”

12Daarna het al die mense stilgebly en na Barnabas en Paulus geluister. Hulle het vertel van die tekens en wonders wat God deur hulle onder die heidennasies gedoen het.

13Toe hulle klaar was, sê Jakobus: “Broers, luister na my! 14Simon het verduidelik hoe dit God self is wat begin het om na die heidennasies om te sien deur vir Hom ’n volk uit hulle te versamel. 15Die profete sê dieselfde. Daar staan geskrywe:

16Daarna sal Ek terugkom,

en Ek sal die vervalle huis van Dawid

weer opbou,

en Ek sal sy bouvalle herstel

en dit weer regmaak,

17sodat al die ander mense

die Here kan soek,

ja, al die heidennasies

wat Ek geroep het

om my eiendom te wees,

sê die Here wat hierdie dinge doen. e

18“Dit is van ouds af bekend. 19Daarom meen ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir die heidene wat hulle tot God bekeer nie. 20Maar ons moet vir hulle skrywe om nie vleis te eet wat aan ’n afgod geoffer is nie, want dit is onrein; dat hulle onsedelikheid moet vermy, geen dier wat verwurg is, moet eet nie, en ook nie bloed nie. 21Hierdie voorskrifte van Moses word immers van ouds af in elke stad aan die mense voorgehou. Elke sabbatdag word dit in die sinagoges voorgelees.”

Die besluit van die vergadering

22Daarna het die apostels en die ouderlinge saam met die hele gemeente besluit om mense uit hulle geledere saam met Paulus en Barnabas na Antiogië toe te stuur. Hulle het vir Judas, wat ook Barsabbas genoem is, en vir Silas gekies, manne wat die agting van die gelowiges geniet het.  + BRIEF.

Woordverkondiging

Diepsee duiker

’n Diepsee duiker vertel dat hy diep in water moes duik waar dit plotseling stikdonker geword het.  Dit was bitter moeilik om nie gedisoriënteerd en diep angstig te raak nie.  “Dit is ’n verskriklike gevoel,” vertel hy, “om onder die water te wees sonder om eers jou eie hande voor jou gesig te kan sien.  Jy kan geen sentimeter sien nie.  Jy weet nie watter rigting is boontoe nie.  Ek het paniekerig begin raak, sonder koers, en gewonder of ek ooit weer bo sou uitkom.”

“Wat doen jy toe,”  vra ek hom?

“Ek het my instrukteur se woorde onthou en vir die borrels van my asemhaling gevoel,” sê hy.

“Die borrels?”

“Dis reg.  Wanneer dit stikdonker is, en jy het geen idee watter rigting boontoe is nie, met die gevaar dat jy dieper of dwarsweg kan duik, menende dat jy boontoe gaan, steek jy jou hande uit en soek vir die borrels.  Die borrels styg altyd boontoe, in die rigting van die oppervlak.  Wanneer jy nie meer jou eie oordeel of jou eie sintuie kan vertrou nie, kan jy altyd op die borrels vertrou om jou weer bo te kry.”

Mens beland meermale in die lewe in omstandighede waar jy wonder wat waarheid is.  Veral as groot besluite geneem moet word.  Die gevaar is dat mens dan doelloos kan begin rondspartel.  Wat is die regte rigting om in te slaan?

Vir gemeentes en gelowiges is hierdie ’n kritiese belangrike vraag.  Wat is die wil van God?  Wat is die rigting wat God wys?  Hoe bepaal ons wat werklik God se koers is?  Hoe werk geloofsonderskeiding?

Vroeë kerk voor ’n kruispad

In Handelinge 15 kom die vroeë kerk voor ’n belangrike vraag te staan, ’n kruispad.  Die vraag is: Hoe word mens gered?

En dit was ’n ernstige vraag.  Mense se geloofsekerheid het daarvan afgehang.

Die rede waarom hulle dié vraag moes vra, was weens mense van Judea wat die gelowiges in Antiogië wys gemaak dat mens nie gered kan word as jy nie besny word nie (15:1).

Paulus en Barnabas verset hulle teen hierdie siening, en ’n heftige meningsverskil ontstaan.  Wat is waarheid?  Watter koers is die regte?  In watter rigting beweeg – figuurlik gesê – die borrels?

Nou ons moet hierdie konflik in konteks verstaan.  Voor die ontstaan van die gemeente in Antiogië was verreweg die meeste van Jesus se volgelinge mense uit die Jodedom.  Vir baie van hulle was die Christus-beweging eintlik maar net  ’n Joodse beweging.  Toe groot getalle mense uit die heidendom tot bekering kom, is die vraag of hulle ook die Joodse gebruike moet nakom.  Moet jy ’n Jood word (besny word)  om ’n Christen te kan wees?

Veral gelowiges wat vroeër Fariseërs was (15:5) het sterk gevoel dat alle nuwe gelowiges Jode moet word.  Hulle moet besny word en die wet van Moses onderhou.

Nou daar was ook ’n ander siening besig om veld te wen, en deur niemand minder as Petrus nie.  En dit is dat die besnydenis  nie nodig was nie.  Reeds met die bekering van Kornelius het Petrus tot hierdie insig gekom en dit duidelik vir die gemeente in Jerusalem onderstreep dat die Here aan hom gewys het dat die besnydenis nie belangrik was nie (Hand 10:46).

Trouens, die gemeente in Jerusalem het daarmee saamgestem (11:15-18).

Maar nou is daar hierdie Joodse Christene in Antiogië wat anders daaroor dink en die gemeente in Antiogië besluit om Barnabas en Paulus, tesame met ’n paar ander gelowiges, Jerusalem toe te stuur om die waarheid saam met die ander gelowiges te gaan soek.

Die voordeel van hierdie hantering, is dat hierdie besoek aan Jerusalem ’n baie belangrike openbaring sou word van hoe ’n mens geloofsonderskeiding doen, hoe jy, by wyse van spreke, agterkom in watter rigting die borrels beweeg.  En hulle beoefening van hierdie geestelike gewoonte het die standaard geword wat vir die kerk van alle eeue gewys het hoe ’n mens die wil van God onderskei.

Kyk konflik in die oë en hanteer dit

Voordat ons prakties oor geloofsonderskeiding praat, eers ’n opmerking oor konflik.

’n Mens is geneig om negatief te kyk na die gelowiges wat uit die Fariseërs se geledere gekom het en ’n ekstra juk op nie-Jode wou plaas.  In baie geloofsgemeenskappe sal die versoeking wees om sulke “beswaardes” te ignoreer of hulle standpunte van die tafel te vee.

Alternatiewelik kan mens te vinnig soek na ’n kompromis, om die konflik uit die weg te kry, en so die waarheid afwater.

Maar dan doen jy óf skade aan die eenheid óf skade aan die waarheid.  Daarom moet ’n mens nie probeer om konflik te vermy nie, en ook nie om dié wat anders dink aan te val nie.

Hoekom?  Want konflik is baie keer ’n katalisator vir die onderskeiding van God se wil.  En die hantering van hierdie konflik het vir ons ’n model gegee wat die toets van die tye deurstaan het.

Die vraag na die afdwingbaarheid van die besnydenis op gelowiges uit die heidennasies gee ons dus ’n kykie na hoe geloofsonderskeiding as ’n geestelike gewoonte werk.

Terug by die vraag: wat leer ons uit ons teks oor die praktiese manier waarop geloofsonderskeiding werk?

Een: Onderskeiding sluit almal se bydraes in

In Jerusalem aangekom, blyk duidelik dat die hele gemeente, die apostels en die ouderlinge partye in die gesprek is (4-5).  Beide die gewone gelowiges en die leierskap gesels saam.  Die aandrang op die besnydenis kom immers spesifiek uit gelowiges wat vroeër Fariseërs was se geledere.

Dit is duidelik dat baie menings en perspektiewe verreken word.  Die proses word nie afgejaag of met die hantering deur ’n magskliek vinnig in ’n rigting gedwing nie

Twee: Onderskeiding werk met getuienisse oor God se werk in die lewe

Die gesprek in die gemeente handel oor alles wat God gedoen het.  Die tema is die lewe van geloof, en die wyse waarop gelowiges beleef dat God handel.  Verhale word vertel om op die spoor van God se aksie te kom, want dit is mos, by wyse van spreke, die rigting wat die borrels beweeg.

Wanneer die apostels en ouderlinge bymekaar kom, praat Petrus ook eers oor wat God doen en gedoen het.  Petrus is geroep om die evangelie aan die heidennasies te bring.  Trouens, hy het so pas van ’n eie sendingreis teruggekom, soos Lukas ons vertel.  En hy het self beleef hoedat God sy Gees aan heidense gelowiges gee, met die bekering van Kornelius en sy mense, net soos aan Joodse gelowiges.  En hy het gesien dat hulle harte deur geloof gereinig is, nie deur die nakoming van die Joodse wet nie, wat beteken dat die besnydenis nie noodsaaklik is nie.

Hierna vertel Barnabas (hy word eerste genoem, waarskynlik omdat hy meer gesag in dié vergadering gedra het) en Paulus wat God onder die heidennasies gedoen het. Hierdie benadering gee ruimte aan God.  Die vraag is wat God doen, en hoe God deur die gemeente se bediening nagevolg moet word.  Dis nie ’n strategiese gesprek wat voor- en nadele opweeg, of takties korrek wil wees nie.  Hier is ’n diepe soeke na God se handelinge ter sprake, en die vertel van verhale wat dit op die agenda plaas, is die benadering wat gevolg word.  Dit is in die stories van God se werk wat sy wil duidelik word!

Drie: Onderskeiding toets alles aan die Skrifwoord totdat daar klaarheid daaroor kom.

Nadat die vertelling van God se handelinge in die hede en verlede afgehandel is, word dié verhale aan die Skrif getoets – die verhale van die hede word in verband gebring met die verhale van die verlede, juis dié verhale wat die geloofsgemeenskap oor die eeue geoordeel het, gesag het, en betroubaar is, as getuienis van God en sy wil.  Jakobus speel hier ’n belangrike rol om die Skrif, die gebeure en die gelowiges se interpretasie daarvan bymekaar te bring.

Oor die leer van die Skrif is daar dus gesprek – dws die blote naïewe lees van die Woord word aangevul deur die interpretasie van daardie Woord.  Jy kan nie maar net tekste aanhaal en daarmee basta nie.  Jy moet deel wat jy daaruit agterkom van wat God wil hê en saam luister tot daar ’n oortuiging posvat wat algemeen is en deur almal aangehang kan word.

Uiteindelik is dit dus die vergadering van gelowiges (22) wat aandui dat die verbintenis tussen die verhale wat vertel word en die interpretasie van die Skrif vir hulle sin maak en dan ’n besluit daaroor neem.

Dit is so belangrik dat ’n mens nie die Bybel gebruik om mekaar af te kraak nie.  Die Bybel is nie ’n geweer waaruit ons tekste soos Bybel-koeëls op mekaar afskiet ten gunste van een of ander standpunt nie.

Nee, gelowiges soek saam en lank genoeg – tot die punt van voldoende konsensus – na waarheid uit die Woord. Dit geskied totdat die sake waaroor die besluit geneem moet word voldoende deur die Woord belig is en helderheid bereik is.

Vier: Eers as daar wye instemming bereik is, word dit die besluit van die geloofsgemeenskap

Geloofsonderskeiding is dus om saam te soek na ’n gemeenskaplike konsensus wat gebore word uit die oortuiging dat God reg gehoor en sy Woord reg geïnterpreteer word, soos wat dit in die lewe gestalte kry in die stories van God se werk onder ons.  Eers dan neem die geloofsgemeenskap ’n besluit (22).

Die verhaal het ’n goeie afloop: die apostels en ouderlinge besluit saam met die hele gemeente om ’n afvaardiging na Antiogië en die omliggende streek van Silisië te stuur om die besluit van die vergadering bekend te maak.

Die brief wat hulle saamstuur, sluit aan by die onenigheid wat deur mense – wat geen opdrag van Jerusalem gehad het nie! – veroorsaak is.  Barnabas en Paulus word as “geliefdes” beskryf en die besluit as komende van “die Heilige Gees en ons”.

Net vier voorskrifte word uitgestippel: 1) geen afgodsvleis, 2) geen bloed, 3) geen verwurgde diere, en 4) geen onsedelikheid nie –dinge wat met die publieke lewenswandel te make het en breek met afgodsgebruike, ’n “menslike” hantering van diere aanprys, en ’n positiewe ingesteldheid teenoor die huwelik skep.  Die besnydenis is daarmee beslissend uitgesluit van enige voorskrif aan die gelowiges uit die heidene.  Terloops ook die Sabbat, hoewel dit nie die primêre vraag is nie.  Slegs die vier goed word van hulle verlang om na te kom.

Die afgevaardigdes het die blye nuus aan die gelowiges in Antiogië gaan oordra.  Almal was bly oor die bemoedigende boodskap. Die profetiese rol van Judas en Silas in die bemoediging en geestelike versterking van die gelowiges word spesifiek beklemtoon.  Die gemeente reageer ook met ’n groeteboodskap terug aan die gemeente in Jerusalem.  Daarmee word die onderlinge gemeenskap, verbondenheid, liefde en respek bevestig.

Wye impak

Die besluit van die kerk in Handelinge 15 sou die belangrike patroon vestig wat oor al die eeue steeds geld: mense kan na die Here kom soos hulle is.  Jy hoef nie eers te verander, bv. deur  ʼn Jood te word nie.  Nooit sou die kerk beperk kon word tot ’n enkele groep of kultuur nie.  Nooit sal een spesifieke kultuur hul insig in die Christelike geloof tot die absolute waarheid kon verklaar nie – ’n beslissende verskil met die Moslem-geloof wat een kultuur op almal afdwing.  In die evangelie van Jesus Christus is HY belangrik, nie die kultuur waaruit Hy gekom het nie.

Hierdie besluit maak die evangelie werklik vry om oor alle grense te beweeg en mense in die koninkryk van God in te sluit deur geloof in Jesus Christus alleen.

Praktiese uitvoering

Maar dit het ons ook geleer hoe om geloofsonderskeidend op te tree.  En dit is so noodsaaklik dat ons dié proses volg. Te veel kerklike besluite word geneem deur geslote debatte of pogings om te koukus om die meeste stemme te werf.  En te veel persoonlike besluite word geneem sonder om jou verhale en insigte aan die toets van die Skrif en ander gelowiges se mening te toets.

Dan swem mens ondertoe, terwyl jy eintlik in die donker water boontoe moet beur.  Of jy karring sywaarts aan tot jou suurstof op is en jy in ’n geweldige krisis beland.

“Voel vir die borrels, hulle beur in die regte rigting,” sê die duiker, en sê die Bybel.

Gebed

God stuur ons om te leef

Geloofsonderskeiding

Ons fokus dus op geloofsonderskeiding.

Hier is ’n beskrywing van geloofsonderskeiding as geestelike gewoonte.

Geloofsonderskeiding is om God se wil in die praktyk van die lewe te herken.  ’n Ander woord daarvoor is wysheid (Jak 1:5; Fil 1:9-10).  Dit sluit in om na die 1) getuienisse van God se werk in die lewe te luister; om 2) almal geleentheid te gee om hulle perspektiewe daarop te deel; om na 3) die Skrifwoord te luister en alles daaraan te toets tot daar 4) ’n wye instemming kom oor wat God se wil is.  Dit sluit in om tot rus te kom voor God, na ander stemme as jou eie te luister, individuele en gesamentlike gebed te beoefen, en die bereidheid om wat jy hoor, te gaan leef.

Ek gaan vir julle twee maniere gee om die geestelike gewoonte van geloofsonderskeiding te gaan beoefen.  Dit is twee weergawes van die luistersiklus wat jy kan gebruik, die korter een is vir jou persoonlik, of vir ’n groep en die langer weergawe is meer vir groepe geskik.

Dit is ’n manier om Bybelstudie te doen, maar op ’n geloofsonderskeidende manier.  Jou ervarings word ingetrek in jou lees van die Woord, soos dit ook die geval was met die daaglikse ondersoek as geestelike gewoonte.

A.  Gebruik die drie groot bewegings – rus, hoor en leef.

RUS

  • Raak bewus van jou diepste behoeftes.
  • Gee dit in gebed aan God.

HOOR

  • Lees ’n Skrifgedeelte.
  • Deel met mekaar wat julle daarin tref.

LEEF

  • Wat lê die Here nou op jou hart?
  • Besluit op ‘n gepaste reaksie en sluit met gebed af.

B.  Gebruik die volgende agt stasies met ’n Skrifgedeelte van jou/julle keuse.

RUS

1. Ingenooi  deur God

  • Dink na: Waarmee kom jy nou na God toe? Wan­hoop, verwarring of hoop? (Dit kan ’n vraag, ’n behoefte, ’n seer, ’n dankbaarheid … wees.)
  • God nooi ons uit om by Hom tot rus te kom.

2. Ingaan in God se tyd

  • Raak bewus van die ruimte wat God nou vir ons skep deur op die kerkjaar (bv Pinkster), ’n geloofsbelydenis of ’n psalm te fokus.
  • Oordink die betekenis wat dit vir ons inhou.

HOOR

3. Luister na God se Woord

  • Lees die Skrifgedeelte. Raak bewus van watter gedagtes, beelde of vrae by jou opkom terwyl ons saam die gedeelte lees.

4. Luister na mekaar

  • Kom ons ontvang God se Woord deur na mekaar te luister.

5. Luister na ander en die tye

  • Kom ons luister na hulle wat nie hier is of nie hier praat nie. Hoe sou hulle na dié Skrifgedeelte geluister het?

6. Luister weer na God se Woord

  • Ons luister nuut na die Skrifgedeelte. Raak be­wus: Hoe ruk en/of troos hierdie gedeelte jou/ons?

LEEF

7. Fokus op wat God nou doen

  • Watter moontlikhede het God in ons tyd saam vir jou oopgemaak? Watter van dié moontlikhede voel jy wil God hê moet jy laat vaar/ontgin?

8. Antwoord met ons lewe

  • Sê vir mekaar wat julle nou gaan doen. Dit is hoe ons God se genade uitleef en vir ander aangee.

Dankoffer

VONKK 57 – Ek gee aan julle ’n nuwe gebod – koor

Ek gee aan julle ’n nuwe gebod

Om soos Ek julle liefhet,

Mekaar lief te hê.

Want so sien alle mense

Wie is my dissipels:

Deur liefde wat julle vir mekaar het (Joh 13:34-35)

Slotsang

Lied 436 – Herskep, o Gees, laat leef, o Gees – staan

Seën

Amen

Lied 189 – Halleluja, Halleluja, Halleluja – staan


e Vgl. Amos 9:11–9:12

     

Trackback from your site.

Leave a comment