• Home
  • Preke
  • Barnabas
  • Handelinge 13:1-14 – ’n Gestuurde Gemeente leef deur Gebed en Getuienis

Handelinge 13:1-14 – ’n Gestuurde Gemeente leef deur Gebed en Getuienis

GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Psalm 25:1-2 – In U stel ek my verwagting en ek rig my tot U, God. Sit

Votum en Seëngroet

Lied 221 – Koor x1; Gemeente x2 – Loof die Heer omdat Hy goed is; daar’s geen einde aan sy liefde. Sit

Lied 224 – Gemeente Afrikaans, Koor Latyn, Gemeente Afrikaans – Kom prys Hom alle nasies.  Kom sing, kom loof die Heer. Staan

Verootmoediging

Eksodus 20:8-11 – om ’n gereelde rusdag te hê

8“Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. 9Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 10maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. 11Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

Die sabbat (in Hebreeus beteken die woord: rus) was aanvanklik ‘n rusdag waardeur ‘n gesonde ritme van werk en rus gevestig is (Gen 1).  Dit het in die loop van die geskiedenis verbind geraak aan die vryheid van die Eksodus uit Egipte (Deut 5), dit die teken van die verbond (Eks 20:22) geword, en ook die dag waarop gewyde byeenkomste gehou is (Lev 23).  Na die ballingskap het dit ook ‘n gemeenskapskeppende funksie gekry.

Ongelukkig het die dag vir mense ‘n swaar dag geword, met ‘n klomp reëls wat die vreugde uit die doodgewone rus voor die Here en saam met sy mense gepers het.

Dit is waarom Jesus hierdie reëlbeheptheid relativeer in die NT deur te sê dat die sabbat ter wille van die mens gemaak is, nie die mens ter wille van die sabbat nie. Hy herstel dus die oorspronklike betekenis daarvan as ‘n dag waar op God en mense gefokus kan word.

En die vroeë kerk het Hom hierin nagevolg, deur bv die reëls van die sabbat nie voorskriftelik te maak vir die gelowiges uit die heidene nie (Hand 15).  Hulle het ook eerder op die Sondag bymekaar gekom om die opstanding van Jesus Christus (Mark 16:2; Matt 28:1; Luk 24:1; Joh 20:1) te vier.  Hulle het die nagmaal op Sondae begin vier (Hand 20:7) en die dankoffer ingesamel (1 Kor 16:2).  Dit het die voorkeur dag vir hulle byeenkomste geword.

Maar die oorspronklike betekenis van ’n rusdag waar op God en die gemeenskap gefokus word, bly geldig.

En dit is waarop ons vandag moet fokus – en ons aan moet toewy – watter dag ook al jy vier, en of jy dit opdeel op verskillende dae – ons het rus nodig, rus om op God te fokus en rus om op ons mense te fokus.

En wat die wet vir ons sê, is dat ons UIT die sabbat moet leef, want dit maak dit vir ons moontlik om die ander dele van die wet na te kom.  Die sabbat is soort van die skarnier tussen die liefde vir God – die eerste 3 gebooie (God alleen, geen ander gode, sy Naam nie misbruik nie) – en die liefde vir ons naaste – die laaste 6 gebooie.  Dit is wanneer ons tot rus gekom het in ons verhouding met God, wat ons met respek teenoor ons ouers (5de gebod – eer ouers) en ander se lewens (6de gebod – nie moord pleeg nie) en ons maats (7de gebod – nie egbreuk pleeg nie) en ander se goed (8ste gebod – nie steel nie) en ander se reputasie (9de gebod – nie valse gerugte versprei nie, bv skinder) en ander se voorspoed (10de gebod – nie begeer nie) kan optree.

Kindertyd

Wat doen julle voor julle gaan slaap?

Baie van ons bid voor ons gaan slaap.

Waarvoor bid julle?

Weet julle, julle is reeds besig met een van die belangrikste dinge wat ons kan doen. Hoekom?  Want ons kan met God praat as ons bid, en in ons gebed kan ons raaksien wat Hy doen.

Het julle dit geweet?  Dat ‘n mens kan raaksien wat God doen?

Hoe sien ons raak wat God doen?

Een maklike manier is om te dink oor wat die dag gebeur het en daaroor te bid.

Wat was goed?  Wat was sleg?

Kyk na hierdie twee kinders – een lag van plesier en die ander is baie hartseer.  Dit is mos hoe ons ook voel, nie waar nie?!

En as ons so gelukkig is soos die een kind, dan sê ons dankie vir die goeie goed.

Wat was vir julle gister goed?

Vir al die goeie goed sê ons dankie.

En dan, as ons voel soos die hartseer kind, dan vra ons, “Here, help  ons”, vir die slegte goed.

Wat was vir julle gister sleg?

Vir al die slegte goed vra ons, “Here, help ons” en dan vertrou ons dat Hy dit sal doen.

As ons so bid, leer ons om agter te kom waar het God vandag in ons lewe gewerk.

So sien ons raak wat Hy doen!

Ons sien Hom in die goeie dinge raak.

En dit leer ons om bly te wees oor die goeie goed.

Ons sien Hom egter ook in die slegte dinge raak, want as ons die Here vra, help ons, en die Here vertrou, dan antwoord Hy ons, en verander dinge.

Ons kan God natuurlik ook hoor – maar daaroor gaan julle nou verder gesels in die toepassing.  Die pragtige verhaal van koning Josia, wat op 8 jaar oud al ‘n koning geword het.  En toe die grootste ontdekking van sy lewe gemaak het ….

Terugvoer

Ons het by die vorige erediens nagedink oor omgee.  Gesels gou ’n minuut of twee as jy iets het om te vertel oor jou beoefening van die geestelike gewoonte van omgee of vertel van iets wat iemand vir jou gedoen het wat vir jou baie goed was.

GOD PRAAT EN ONS LUISTER

Gebed
Skriflesing

Handelinge 13:1-14

13 Onder die profete en leraars in die gemeente in Antiogië was Barnabas, Simeon wat ook Niger genoem is, Lucius van Sirene, Manaen wat saam met die heerser Herodes grootgeword het, en Saulus. 2Toe hulle op ’n keer bymekaar was om die Here te dien en om te vas, het die Heilige Gees gesê: “Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het.”

3Nadat die gemeente gevas en gebid en hulle die hande opgelê het, het die gemeente hulle laat gaan.

4So is Barnabas en Saulus deur die Heilige Gees uitgestuur. Hulle het na Seleukië toe gegaan en daarvandaan na Siprus toe oorgevaar 5en in Salamis aangekom. Daar het hulle die woord van God in die Joodse sinagoges verkondig. Hulle het Johannes by hulle gehad om hulle te help.

6Daarna het hulle die hele eiland deurgegaan tot by Pafos, waar hulle ’n Joodse towenaar met die naam Barjesus teëgekom het, wat voorgegee het dat hy ’n profeet is. 7Hy was by die goewerneur, Sergius Paulus, wat ’n verstandige man was. Die goewerneur het vir Barnabas en Saulus laat roep, want hy wou graag die woord van God hoor. 8Die towenaar, Elimas, soos hy in Grieks genoem is, het hulle egter teëgestaan omdat hy wou verhoed dat die goewerneur in Jesus glo. 9Maar Saulus, dit is Paulus, vol van die Heilige Gees, het hom skerp aangekyk 10en gesê: “Duiwelskind! Deurtrapte skelm en bedrieër! Vyand van alles wat reg is! Sal jy ophou om in die pad van die Here te staan! 11Die Here gaan jou nou straf. Jy sal blind word en die son ’n tyd lank nie sien nie.”

Onmiddellik het alles vir hom vaag en donker geword, en hy het rondgetas na iemand om hom aan die hand te lei. 12Die goewerneur was diep onder die indruk van die leer van die Here, en toe hy sien wat gebeur het, het hy gelowig geword.

13Paulus en sy reisgenote het met ’n skip van Pafos af vertrek en by Perge in Pamfilië aangekom. Daar het Johannes hulle verlaat en na Jerusalem toe teruggegaan. 14Maar hulle het die reis van Perge af voortgesit en in Antiogië in Pisidië gekom.

Woordverkondiging

’n Gestuurde Gemeente leef deur Gebed en Getuienis

David Wilkerson

David Wilkerson was, soos gewoonlik, laatnag nog wakker, besig om TV te kyk toe hy vir die eerste keer die vraag vra: “Here, wat sal gebeur as ek die TV stel verkoop en die tyd in gebed spandeer?”

Nadat sy TV regtig verkoop is, het Wilkerson elke nag van 12 tot 2 aan gebed gewy.  Een nag het sy gedagtes aanmekaar gefokus op ’n spesifieke uitgawe van die Life-tydskrif op sy lessenaar.  Eers het hy dit beveg, maar naderhand gevra:  “Here, is daar iets in dié tydskrif wat ek moet raaksien?”

Wat Wilkerson in daardie uitgawe van Life gesien het, sou sy lewe – en die lewe van baie ander – verander.  Hy het ’n berig oor ’n bende-verhoor in New York gelees.  Hy vertel self: “… my aandag is vasgevang deur die oë van een van die figure in ’n kunstenaar se voorstelling van die verhoor.  Dit was ’n seun.  Een van sewe seuns wat verhoor word vir moord.  Die kunstenaar het só ’n blik van verwildering, haat en wanhoop in sy gelaat vasgevang, dat ek net weer en weer moes kyk.  En begin huil het.”

Die sewe seuns was tieners.  Hulle was almal lede van ’n bende wat bekendgestaan het as die drake.  Die berig het vertel hoe hulle na Highbridgepark in New York gegaan het waar hulle ’n vyftienjarige polioslagoffer, Michael Farmer, brutaal aangeval en vermoor het.  Hulle het hom in sy rug gesteek en oor die kop geslaan.  Agterna het hulle sy bloed aan hulle hare afgevee en gesê: “Ons het hom goed bygekom.”

Wilkerson vertel hoe grusaam die storie vir hom was.  Sy maag het gedraai.  In sy klein dorpie was so iets ondenkbaar.  “Daarom was ek so verslae toe die gedagte skielik by my opkom – helder – asof dit van elders gekom het: ‘Gaan na New York en help daardie seuns.’”

Hierdie roepstem wat Wilkerson in sy gebedstyd beleef het, het die skraal 35-jarige predikant van Pensilvania, uit die berge van Philipsburg, in 1958 na New York geneem.  Hy het die belange van die bendelede en dwelmverslaafdes op sy hart gedra, en sy bediening het behoorlik vlam gevat.  Dit is ontwikkel in ’n program wat bekendstaan as Teen Challenge en waarmee merkwaardige resultate onder dwelmafhanklikes behaal word.  Die verhaal van sy koms na New York word in die bekende boek, The Cross and the Switchblade (gepubliseer in 1963), vertel.

Oor Teen Challenge skryf Christianity Today:

The success rate of the Teen Challenge program and its proven approach to Christian discipleship emerged amidst Wilkerson’s evangelical and Pentecostal worldview and theology. Its effect has been repeatedly researched and documented, and its results proven to be quite astounding. It is, in fact, unparalleled as a recovery program in its efficacy.

In a 1975 survey by the National Institute of Drug Abuse, Teen Challenge was shown as having an 86 percent or higher success rate of recovery from drug addiction among its participants. … the remarkably low recidivism rate provided more credibility to the program, and the research ultimately isolated the most distinctive aspect of the program as “Jesus” or “God”; thus, it came to be known as the “Jesus Factor.”

Wilkerson het die Here se stem gehoor omdat hy tyd gegee het om daagliks te hoor wat God sê. En hy het geluister na God se stem in die Bybel, maar ook in die koerante en in die tydskrifte en in sy ervaringe daarvan, en daaroor gebid.

En belangrikste uiteindelik van alles, hy het God gehoorsaam toe hy Sy stem hoor.  Dit is hoe dit gekom het dat hy na New York gestuur is.  Die evangelie het op hierdie manier ’n genesende ontploffing in talle mense se lewens gehad.

En dit is die geestelike gewoonte waarop ons hierdie week gaan fokus – die daaglikse ondersoek.

(David Wilkerson is op 27 April 2011 tragies in ’n motorongeluk in Texas oorlede.  Hy was 79 jaar oud.)

Handelinge 13-20 vertel van die reis na die heidennasies

Hierdie manier van werk is die manier waarop die Here nog altyd sy mense betrokke gekry het by sy koninkryk se koms in hierdie wêreld.  Dit is wanneer ons fokus op wat Hy op ’n daaglikse basis doen, dat ons sy hart vir die wêreld begin raaksien, en wat ons daarby betrokke kan raak.

En ek wil hê dat ons raaksien dat dit die manier is waarop die gemeente van Antiogië gefunksioneer het – hulle het baie gemaak van gebed en hulle lewe het gedraai om hulle getuienis na buite.

Dit is waarom Barnabas en Saulus hier uitgestuur is om die evangelie oral te neem, want God het hulle op reis gestuur na die heidennasies.

Gemeentelike gebed

Dit is opvallend hoe die gemeente in gebed saamkom en hulle God se stem onderskei.  En dit is interessant om te sien dat daar beide ’n voorbereidende gebed is – “toe hulle op ’n keer bymekaar was om die Here te dien en om te vas”  – waarin hulle wag op wat God vir hulle sê, en wat hier inderdaad lei tot die duidelike leiding van die Heilige Gees aan Barnabas en Saulus om deur die gemeente uitgestuur te word vir die werk waarvoor Hy hulle geroep het (13:2,4).

Maar daar is ook ’n volgende fase in hulle gebed.  Hulle wag ook vir bevestiging van die Here se wil.  Nadat hulle reeds die antwoord ontvang het, vas en bid hulle nog steeds voordat hulle uiteindelik vir Barnabas en Saulus die hande opgelê en laat gaan het (13:3).  Die gemeente het seker gemaak het dat hulle God reg en duidelik genoeg gehoor het.

Hierdie onderskeidende rol van gebed is lewensbelangrik om regtig effektief in God se koninkryk op te tree.  Sonder sekerheid oor die roeping en plan van God vir die gemeente en sy bedienaars, kan daar nie met oorleg en oortuiging gewerk word nie.  En sonder gebed sal die sekerheid nooit opdaag nie.

Dit is hoe dit gewerk het in hulle lewens – dit is hoe dit gewerk het in gelowiges se lewens reg deur die eeue – dit is hoe dit gewerk het in David Wilkerson se lewe – en dit is ook hoe dit in ons lewe werk.

Gemeentelike getuienis

Maar gebed is natuurlik net die eerste deel van ’n gestuurde strategie.  Dit moet altyd uitmond in een of ander aksie.  Hier sien ons dat die gebed van die gemeente uitmond in getuienis.

Dit is waarom Barnabas en Saulus ook uitgestuur word om op hulle sendingreise die woord van God te begin verkondig en getuienis af te lê van die evangelie van Jesus Christus.

Sending na Siprus

So het die Heilige Gees vir Barnabas-hulle dus op die eerste tree van hulle wêreldsending gelei, eers na Siprus – die eiland waarop Barnabas groot geword het – en daarna verder.  Barnabas se sendingbediening begin sodoende in ‘n bekende en relatief veilige omgewing.

Daarna het die Gees hulle na Klein-Asië, net Wes van die streek waar Paulus groot geword het, gelei.

Later sou die Gees vir Paulus op sy reise al hoe verder na die onbekende Weste lei na mate hy toenemend op God leer vertrou het.  So is hy eers na die Westelike deel van Klein-Asië en toe na Griekeland (Hand 16:6-10) en later na Rome in Italië voordat hy selfs nog verder weswaarts wou reis na Spanje toe (Rom 15:28).

God gee alles wat nodig is vir ons roeping

Ons leer dus hier:

  1. Dat God regtig alles gee wat ons nodig het om ons roeping te leef. Wat begin het in Barnabas se lewe met die verkoop van ’n stuk grond, en gelei het tot ’n verbintenis aan Saulus en die gemeente in Antiogië, word nou ’n volskaalse roeping om die wêreld met die evangelie van Jesus Christus te bereik.  En elke deel van dié voorafgaande pad tot hier – gawes, afkoms, onderrig, ervarings – gee aan sy roepingsreis ’n doelgerigtheid en dinamika.  En God voorsien in alles wat hulle nodig het.
  2. Dat gebed die manier is waarop God se wil onderskei word – beide in die ontvangs en  bevestiging daarvan.  En die gemeenskap van gelowiges speel as ’n groep daarin ’n belangrike rol.  Sonder gebed is daar geen getuienis.  Sonder gebed is daar geen effektiwiteit nie.  Dit is na alles God se werk.
  3. Dat getuienis God se manier is om hierdie wêreld te verander, selfs al is daar felle teenstand.  As mense nie hoor nie, kan hulle nie glo nie.  En as daar nie gebid word nie, sal mense nie gaan nie.  Daar moet gepraat word, nadat daar gebid is.

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Daaglikse ondersoek

Ons het nou al ’n verskeidenheid aspekte van Barnabas se bediening en lewenstyl bekyk.  In hierdie gedeelte sien ons veral die belangrike rol wat vas en gebed gespeel het in die ontvangs en uitvoering van God se wil vir die gemeente.

Hoewel ons nie presies seker is hoe hulle gevas en gebid het nie, is die feit dat gebed hoog op hulle agenda was vir ons genoeg.  Een van die gebedspraktyke wat deur die eeue ontwikkel is om ’n mens te help om God se stem te herken, is die geestelike gewoonte wat die daaglikse ondersoek (daily examen) genoem word.

Julle kan volg in die joernaal in die aankondigings:

Die daaglikse ondersoek is ’n eeue-oue gebruik om God se teenwoordigheid in die alledaagse gebeure in my en ander se lewe te soek (Kol 1:9; Fil 1:9-10).  Dit word veral verbind met Ignatius van Loyola  van die Jesuïete wat ’n hele paar verskillende maniere daarvoor ontwikkel het wat ’n mens persoonlik en in ’n groep kan gebruik. Dit sluit in om van God se teenwoordigheid bewus te word; die gebeure van die afgelope dag te deurdink; op te let na jou emosies oor die gebeure – beide die positiewe en die negatiewe, wat jou getroos het en wat jou geruk het; te vra na God se perspektief daarop; na te dink oor waar jy die beste konneksie met God gehad het – en waar nie; jou begeertes na Hom te bring met gebed en smeking sodat sy vrede jou hart en gedagtes tot rus kan bring (Fil 4:6-7).

Vir die volgende week stel ons voor dat julle John Ackerman se bekende weergawe hiervan gebruik: “Stop, Neem waar, Luister” (Stop. Look. Listen – dit is hoe jy oor ’n treinoorgang gaan).

En onthou dat wat die Here in gebed vir jou sê, is iets waarvan jy daarna moet getuig.  Daar is ’n intrinsieke verband tussen luister en leef!

Beoefen hierdie geestelike gewoonte dié week op die volgende manier:

STOP:                        Stop met wat jy besig is om te doen en te dink.  Probeer so sit dat jy na ‘n venster kyk of gaan sit of stap buite.  Jy kan ook kniel. Om jou te help stilword, kan jy fokus op jou asemhaling.  Wanneer jy uitasem, herhaal jy stilweg die woorde “ek gee oor aan U” en met elke inaseming, “ek wil luister”.

NEEM WAAR:          Dink terug aan die gebeure van die afgelope dag.  Het jy iets ontvang wat goed of onverwags was? Neem tyd om daaroor na te dink en waarderend te wees.  Probeer, ten spyte van al die slegte nuus wat jy daagliks hoor en ervaar, die goeie in jou buurt, gemeenskap, land en in die wêreld raak te sien.  Herinner jouself daaraan dat jy nie in die sentrum van die heelal is nie.

Dink ook terug aan die pyn wat jy ervaar het.  Vir dele daarvan is jy verantwoordelik.  Vra vir vergifnis. Ondersoek die aard van die seerkry.  Gaan dit regtig oor jou, is dit regtig so belangrik, of is jy vasgevang in iets waarvan die Here jou moet vrymaak?  As iemand jou te na gekom het, bid dat jy sal kan vergewe. Dink ook aan die pyn in die wêreld.  Bid vir dié wat daardeur geraak is.

LUISTER:                   Fokus op insigte, ingewings, gewaarwordings, prentjies, ‘n lied of gedig wat by jou opkom.  Vra jouself af, of dit jou troos, seën of ontsteld laat.  Dink na oor wat God daardeur vir jou wil sê. Bid om helderheid, oortuiging en vrede.  Skryf jou gedagtes in jou joernaal, sodat jy oor tyd kan agterkom hoe die Here besig is om jou te begelei rondom herhalende insigte en ingewings. Wees gehoorsaam aan die lig wat jy ontvang.  Gaan leef dit!

Gebed
Dankoffer

Lied 517 – Koor – Leer ons U vertrou, o Here, leer ons lewe U ter ere.

Slotsang

Lied 280 – Here, Redder, groot en magtig, U oorskou ons lewenspad. Staan

Seën
Amen

Lied 313

     

Trackback from your site.

Leave a comment