Skip to main content

Dag 22: Gebedsfokus op herlewing: ‘n Simpatieke Hoëpriester

Dinsdag 4 Mei 2010

Hebreërs 4:15 Die Hoëpriester wat ons het, is nie een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.

OORDENKING: Jesus is bekend met al die kwessies waarvoor die mens te staan kom. Hy het dit immers self ondervind. Hy het Homself ontledig van Sy goddelike mag sodat Hy werklik mens kon word. Hy is geduldig met ons swakhede omdat Hy presies weet hoe ons voel. Sy fokus is nie in die eerste plek om te oordeel nie, maar om ons te help om ons swakhede te oorwin net soos Hy ook die sonde oorwin het. As jy jou daarop instel om hierdie waarheid te verstaan, sal jou hart vertroos word en sal jy hoop ontvang dat jy van enige vorm van sonde vrygemaak en verlos kan word.

PERSOONLIK: Jesus is ons vertroue waardig! Al wat nodig is, is dat ek myself onvoorwaardelik en volkome aan Hom oorgee. Ek moet nooit terneergedruk of teleurgesteld oor myself word omdat ek skynbaar nie ‘n sondelose lewe kan voer nie. Ek moet myself volkome aan Hom onderwerp en op geen manier Sy planne met my teenstaan nie. Wil jy jouself nie nou volkome aan Hom oorgee nie?

GEMEENTE: Bid dat die Kerk ‘n intense begeerte sal hê om ‘n liggaam te word wat geheel en al en volkome sonder sonde is. Bid dat die Kerk ook so barmhartig en simpatiek teenoor sondaars sal wees as wat Jesus was. Laat ons ons veroordelende houding bely en die Here Jesus vra om Sy hart vir ons te gee.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.