Spreuke 2:1-22 – Hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan
Kleingroep materiaal – SPREUKE 2:1-22 – Week van 22–28 Julie 2012
RUS EN ONTVANG
- Deel met mekaar wat julle ervaar het in julle vertroue dié week op God en in julle ken van Hom in alles wat julle gedoen het. Het dit ’n verskil gemaak? Waarmee het julle gesukkel? Wat het julle geleer? Wees kort en kragtig.
- Word stil en laat iemand Psalm 131 vir julle “voor”-bid/lees. Gee genoeg tyd vir stilte om te “wag op die Here”.
HOOR EN ONTGIN
Lees Spreuke 2:1-22 – “Hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan.”
- Wat tref jou in die gedeelte? Deel dit met mekaar.
Hier volg ’n paar verhelderende opmerkings oor die gedeelte:
Hierdie perikoop is die 2de “les” van die pa aan sy seun. Hy onderstreep dat wysheid met alles in jou gesoek moet word (2:1-4), want dit help jou om God te ken en sy bewaring te kan ervaar (2:5-8), en om met onderskeiding te kan leef (2:9-22).
Om op die “regte pad” te bly, is dit in die eerste plek belangrik om met God te begin, om na Hom te luister (2:6), en Hom te vertrou en te ken in alles wat jy dink en doen (3:1-12). Regdeur Spreuke sal ’n mens dié refrein hoor.
In die tweede plek is dit nodig om vir wysheid te luister. Want, om koers te hou op die pad wat die Here vir jou het, moet jy leer om te onderskei, om tussen alles wat jy hoor, die wysheid te kan herken. En daarvoor het jy gespitste ore nodig (sowel as ’n rein hart, en vaste bakens – waaroor ons in die volgende twee weke gaan gesels). Dit is onontbeerlik om koers te kan hou.
- Dit het aan die een kant te make met die tipe mense na wie jy moet luister, veral na gesagsfigure in jou lewe wat goeie mense is, regverdig, opreg en onberispelik (2:1,9,20,21). Sulke mense moet jy uitkies, na hulle luister, en hulle navolg. Natuurlik sluit dit ook mense in na wie jy nie moet luister nie: mense wat verkeerde dinge verkondig (2:12), mense wat die regte paaie verlaat (2:13), mense wat slegte dinge doen, en wie se paaie krom is (2:14-15), sowel as die “slegte vrou” wat ’n simbool van enige buite-egtelike verhouding is, en natuurlik ook op ’n “slegte man” van toepassing is (2:16-20). Let op die enkelvoud waarin hier gepraat word.
- Aan die ander kant sluit dit ook dinge in waarna jy moet luister, die inhoud wat Spreuke aanbeveel. Let op hoe Spreuke nie net ’n eenmalige luister na die wysheid aanbeveel nie, maar ’n onderskeidende proses, om jou in te span om te verstaan (2:2), om insig en gesonde begrip (common sense) te soek (2:2). Maar Spreuke wil ook hê dat die lewenstyl van mense wat hierdie inhoud uitleef, nagevolg moet word (eerlikheid – 2:7; onberispelikheid – 2:7,21, getrouheid – 2:8; regverdigheid en billikheid – 2:9,20; oordeelkundigheid en verstandigheid – 2:11; goedheid – 2:20; opregtheid – 2:21). Dit is die inhoud van die tipe wysheid wat nagevolg moet word. Só word jyself natuurlik ’n voorbeeld wat ander kan navolg.
Weereens hoor ’n mens Spreuke in die Nuwe Testament weerklink, waar hierdie soektog na die wysheid iets is wat Jesus self later sterk sou beklemtoon in sy bediening en onderrig, soos pragtig geïllustreer in die bekende opdrag in die Bergrede: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” (Matt 7:7-8). En let op hoe Lukas hierdie gawe van wysheid verbind met die gawe van die Heilige Gees (Luk 11:-13), die goeie gawe van God wat ons wysheid gee. En Jakobus sê dat ’n mens wysheid van God kan afbid (Jak 1:5). Watter belofte!
Bespreek.
LEEF EN ONTPLOOI
- Dink na oor watter wysheid jy dié week die Here nodig het. Hoe gaan jy daarvoor soek? Na wie gaan jy luister? Watter proses gaan jy volg om te kan onderskei?
- Deel 2-2 met mekaar jou behoefte aan wysheid … en bid vir mekaar.
- Volgende week hanteer ons Spreuke 4:20-27 en gaan ons na die eerste hooftema daarin kyk: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” Die volgende week sal ons dieselfde perikoop lees, maar die tweede tema hanteer: “Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree.”
- Die Bybelskool begin dié week 25 Julie om 18:30 in die konsistorie waar ons die hele boek Spreuke gaan deurwerk in 7 weke. Registreer by www.bybelskool.com as jy die dagstukkies wil ontvang. Skryf in by die kerkkantoor (0415835115) as jy die Woensdagaand byeenkomste wil bywoon.