Skip to main content

Psalm 2 Kleingroepmateriaal 17-23 Oktober 2011

Ons lees die Psalm met die Lectio Divina metode:

1.  Kom tot rus – (Silencio)

  • Elkeen draai hul handpalms ondertoe as simbool van hul oorgawe aan die Here en gee in ’n eenvoudige stilgebed hul kommer vir die Here.  Draai dan jou handpalms na bo en dank Hom vir sy voorsiening.  Die leier bid Psalm 2:12: “Dit gaan goed met almal wat by Hom skuiling soek” as inleidende gebed (5 min).

2.  Lees die Psalm – (Lectio)

  • Laat iemand Psalm 2 lees. Gee stilte dat elkeen nadink oor wat hom of haar tref.
  • Deel dit met mekaar – gee elkeen ’n kans; moenie nou al kommentaar lewer nie.
  • Lees die volgende inset, en deel met mekaar wat julle tref daarin.

o   Psalm 2 help ons om te verstaan dat God almagtig is.  Hy is aktief op die wêreldtoneel van volke, nasies, konings en leiers.  Psalm 1 is die fondament vir jou persoonlike lewe met God.  Psalm 2 is die fondament vir jou publieke lewe met God.

o   Die Bybel vir die Lewe 24/7 (Lux Verbi.BM: 2006) sê: “as ons glo wat Psalm 1 en 2 ons leer … kan ons in alle omstandighede bid.”  Bespreek.

o   Interessant genoeg begin Psalm 1 met ’n saligspreking (1:1): Geseënd is die mens wat in die woord van die Here sy vreugde vind … en eindig Psalm 2 met ’n soortgelyke saligspreking (2:12) : Geseënd is dié wat by Hom skuiling vind (of oorspronklik: wat op Hom vertrou).  Dit het sommige verklaarders laat dink dat die twee Psalms eintlik oorspronklik een Psalm was.  Die twee Psalms maak dus as ’n geheel die punt: Geseënd is dié wat hulle vreugde in God vind, en op Hom vertrou.

o   Hierdie Psalm word die meeste in die NT aangehaal.  Dit was die Psalm wat die duidelikste skakel tussen God se werk in Israel (veral die koningshuis) en God se werk in Jesus gevorm het.  Dit is wat agter die identifikasie lê van Jesus as die Een wat God se koninkryk laat kom (Mark 1:14-15) wat nie net die Messias (Luk 9:20) is nie, maar ook die Seun van God (Matt 16:16)  Hoor weer vir Marta in Joh 11:27: “Ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

o   Johannes maak die belofte van Psalm 2:8, wat mag en gesag oor die nasies insluit, van toepassing nie net op Jesus nie (Open 12:5; 19:15), maar ook op die gehoorsame dissipels, dws die kerk, waarin die belofte opgesluit lê dat die evangelie effek tot aan die eindes van die aarde sal hê (Op 2:26,27).  Ons mag/moet God daarvoor vra – dat Hy Sy koninkryk aan al die nasies sal bring.

o   Ons het nodig om Psalm 1 te bid rondom ons eie verbintenis aan God.  Maar ons het regtig nodig om Psalm 2 met hernude oorgawe te bid ter wille van ‘n wêreld se verbintenis aan God, en om ons self te herinner daaraan dat ons God mag vertrou, al smee die nasies planne en al is daar onrus onder die volke.

3.  Oordink die betekenis van die Psalm – (Meditatio)

  • Elkeen kies ’n vers of woord uit die Psalm wat jou ruk/troos/uitdaag en oordink die praktiese betekenis daarvan vir jou. Deel dit met mekaar.

4.  Antwoord die Here in gebed – (Oratio)

  • Fokus op wat julle gehoor het en antwoord die Here. Julle kan ook hier voorbidding doen.

5.  Geniet God se teenwoordigheid – (Contemplatio)

  • Gee ’n tyd van stilte waar in julle sonder woorde God se teenwoordigheid geniet (3 min).

6.  Wees gehoorsaam aan God – (Incarnatio)

  • Gaan doen wat julle gehoor het!

Jy kan ook elke Woensdagaand 17:30-18:30 met Rethie die Psalm van die week met Lectio Divina saamlees.

 

Psalm 1 Kleingroepmateriaal 10-16 Oktober 2011

’n Uitstekende manier om die Psalms te lees is om dit met die Lectio Divina metode te lees.  Lectio Divina is ’n eeue-oue metodiek om die Bybel só te lees dat jy God se stem daarin hoor en leer om op Hom te reageer.  Hier is ’n 6-stap proses wat baie goed werk waarmee ons Psalm 1 gaan lees:

1.  Kom tot rus – (Silencio)

  • Elkeen sit gemaklik, fokus op jou asemhaling, en gee in ’n eenvoudige stilgebed jou kommer vir die Here.  Dank Hom vir sy gawes.  Die leier bid Psalm 1:2 as inleidende gebed (3 min).

2.  Lees die Psalm – (Lectio)

  • Laat iemand Psalm 1 lees. Gee stilte dat elkeen nadink oor wat hom of haar tref.
  • Deel dit met mekaar – gee elkeen ’n kans; moenie nou al kommentaar lewer nie.
  • Lees die volgende inset, en deel met mekaar wat julle tref daarin.

o   Twee groepe mense word hier gekontrasteer: die regverdiges (1:5,6) en die goddeloses (1:1,4,5,6).  In wese is dit die kern van al die Psalms (en die Bybel) se boodskap: die sin van die lewe word in die regte verhouding met God gevind; dit is dwaas om sonder God te probeer lewe.

o   Let op hoe die Psalm die impak uitspel wat regverdiges en goddeloses se onderskeie lewenstyle (1:1-2) op hulle ervarings (1:3-4) en bestemming het (1:5-6).  Die pad wat jy kies in hierdie lewe het gevolge.  Saam met God is daar vreugde en voorspoed – jy is soos ’n boom by standhoudende water.  Sonder God is daar verydeling en ondergang – jy is soos kaf in die wind.

o   Dit laat ’n mens dink aan Jesus se tipering van twee paaie in Matt 7:13–14.  Die een is ’n poort na die verderf, die ander die poort na die lewe.

o   Elwell het gesê, dit gaan goed met die mens wat “the corrosive influence of the cynical” vermy, “taking pleasure instead in every revelation of the mind and will of God, feeding his mental life on the divine Word”. Bespreek.

o   Die frase in vers 6: “die Here lei die regverdiges op hulle pad” is eintlik ’n vertaling van die volgende Hebreeuse frase: “die Here ken die pad van die regverdiges”.  Die NIV vertaal dit met: “the Lord watches over the way of the righteous” op voetspoor van Dahood wat aangedui het dat die woord ken ook in die betekenis van beskerm gebruik kan word (Craigie).

o   Let op dat die Psalm nie sê dat die regverdigheid van die regverdiges die basis vir hulle voorspoed is nie, maar die feit dat God met hulle in verhouding is, dat Hy hulle ken, dat Hy hulle beskerm.  Hulle bestemming is die gevolg van God se beskerming.

3.  Oordink die betekenis van die Psalm – (Meditatio)

  • Elkeen kies ’n vers of woord uit die Psalm wat jou ruk/troos/uitdaag en oordink die praktiese betekenis daarvan vir jou. Deel dit met mekaar.

4.  Antwoord die Here in gebed – (Oratio)

  • Fokus op wat julle gehoor het en antwoord die Here. Julle kan ook hier voorbidding doen.

5.  Geniet God se teenwoordigheid – (Contemplatio)

  • Gee ’n tyd van stilte waar in julle sonder woorde God se teenwoordigheid geniet (3 min).

6.  Wees gehoorsaam aan God – (Incarnatio)

  • Gaan doen wat julle gehoor het!

Jy kan ook elke Woensdagaand 17:30-18:30 met Rethie die Psalm van die week met Lectio Divina saamlees.