Skip to main content

Fil 4:2-9 Week vanaf 4 Maart 2012

RUS EN ONTVANG

  • Gesels met mekaar oor julle ervaring van ’n fokus op geestelike volwassenheid (Fil 3:1-4:1 van verlede week).
  • Word stil en oordink die betekenis vir jou van die sleutelteks in Filippense – 2:5-8.
  • Laat iemand met ‘n gebed open.

HOOR EN ONTGIN

  • Lees Filippense 4:2-9 – Die Gees verander ons tot blymoedige vrede
  • Sê vir mekaar wat die teks by jou wakker gemaak het.

Hier volg ’n paar verhelderende opmerkings oor die gedeelte:

Om eensgesind saam te dink in die Here

Onthou dat dit ’n gemeente is wat begin het met ’n baie diverse samestelling (Hand 16).  Die potensiaal vir konflik vanuit hulle agtergronde – taal, klas, opvoeding, afkoms – was dus altyd daar.  Daarom moedig Paulus hulle aan om te fokus op eensgesindheid, spesifiek in die konflik wat daar tussen Euodia en Sintige bestaan het.  Beide was waarskynlik sterk vroue, met ’n passie vir die evangelie, en ’n roepingsbewustheid binne die gemeente.  Maar hulle sterk persoonlikhede, of die sterk bewussyn van hulle roeping, het hulle in konflik met mekaar gebring.  Paulus spreek hulle en die gemeente dus sterk aan om die eenheid wat God tussen hulle geskep het, te bewaar.   Interessant, die frase wat Paulus hier gebruik wat ons met “eensgesind te wees in die Here” vertaal, is to auto phronein en Kuriô – wat ook vertaal kan word “om saam te dink in die Here”.  Dit is presies wat ons vandag met die woord geloofsonderskeiding bedoel: om jou in te stel om saam te dink in die Here, om die Godsvrae te vra (Waarmee is God besig?  Waartoe roep God ons?), om gesprek te hê totdat daar ’n oortuiging opdaag wat harmonie en konsensus bring, iets waaraan die hele gemeenskap van gelowiges hulleself kan verbind.

Om met vreugde en inskiklikheid te leef

Paulus skryf verder dat dit nie net eensgesindheid in die Here is wat kenmerkend van die gemeente (en sy leiers) moet wees nie, maar ook ’n vreugde in die Here, iets wat regdeur die brief beklemtoon word.  Hy gebruik die woord chairete (blydskap/vreugde) waarmee hy nie net die innerlike blydskap beskryf wat in God se teenwoordigheid hulle deel sal wees nie, maar ook die gesamentlike blydskap in die gemeenskap van gelowiges.  Let op dat hierdie blydskap verbind word aan ’n inskiklikheid (epieikes) teenoor alle mense.  Daarmee bedoel Paulus dat dit nie net die gemeenskap van gelowiges is wat ’n veilige, vriendelike, vreugdevolle plek moet wees nie, maar dat hierdie gesindheid ook die wyse waarop gelowiges met die publieke gemeenskap saamleef, moet stempel.  Die bereidheid om te skik, om te luister na rede, om bereid te wees om van ander te leer, of soos een kommentaar dit stel, om met: “sweet reasonableness” op te tree, moet die uitstaande kenmerk van die gemeente se interaksie met die wêreld wees.

Om die vrede van God in gebed te beleef

Met die gedagtes oor God se nabyheid as begronding vir hulle vreugde en inskiklikheid, is dit geen wonder dat Paulus daarvandaan beweeg na die gemeente se behoeftes en besorgdhede nie.  Omdat God naby is, kan hulle oor alles en in alle omstandighede na Hom toe gaan in gebed.  Letterlik staan daar in vers 6: “maak in alles (alle situasies) julle versoeke (aitema) bekend aan God deur gebede (proseuche) en versoeke/petisies (deesis) met danksegging (eucharistie).” Die verskillende woorde vir gebed in die vers moenie te veel onderskei word nie, omdat dit eintlik as sinonieme gelees kan word.  Die punt van die vers is eintlik net om duidelik te sê: angstigheid oor allerlei word deur voortdurende veelvuldige versoeke verlig!  Die aanmoediging tot gebed word opgevolg met een van die mees ongelooflike beloftes wat Paulus gee, letterlik vertaal: “gevolglik sal die vrede (eirene) van God, wat alle begrip/denke (nous) te bowe gaan, oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus”.  Dit is die enigste plek in die NT waar só van “die vrede van God” gepraat word.  Paulus bedoel hier nie die vrede met God nie, maar die vrede van God, die vrede wat Hy self het, die vrede wat Hy self is, die vermoë wat Hy het om nie angstig te raak oor allerlei nie, maar in beheer en veral getrou aan Homself te bly.  Dít is wat die harte en gedagtes van die gemeente sal bewaar.  En dié vrede gaan alle denke te bowe – dit bedoel letterlik dat dit iets is wat beter is as die beste beplanning!  Ons gedagtes en emosies is soos ‘n oorlogsterrein wat God sal beskerm teen angstigheid en chaos.

LEEF EN ONTPLOOI

  • Hoe is die Here in jou lewe besig om jou van blymoedige vrede te leer?
  • Hoe kan jy groei in jou verantwoordelikheid daar rondom?
  • Sluit af met ‘n gebed rondom Fil 2:9-11.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.