Skip to main content

Fil 1:27-2:4 Kleingroepmateriaal 29 Januarie 2012

Week van 29 Januarie tot 4 Februarie 2012

Ons werk hierdie kwartaal met die brief van Paulus aan die Filippense.

RUS EN ONTVANG

  • Gesels met mekaar oor julle ervaring van onderskeidende liefde (Fil 1:12-26 van verlede week) en wat die Here julle die week geleer het.
  • Word stil en oordink die betekenis vir jou van die sleutelteks in Filippense – 2:5-8.
  • Laat iemand met ‘n gebed open.

HOOR EN ONTGIN

  • Lees Filippense 1:27-2:4 – Die Gees verander ons tot vreugdevolle eensgesindheid
  • Sê vir mekaar wat die teks by jou wakker gemaak het.

Hier volg ’n paar verhelderende opmerkings oor die gedeelte:

Eenheid kom tot sy reg kom in ’n evangeliese lewenstyl na buite

Paulus roep die gemeente van Filippi op om te fokus op hulle lewenswandel na buite.  Hulle publieke gedrag moet in ooreenstemming wees met die evangelie van Jesus Christus – onverskrokke en kompromieloos.  Dit gaan vir hom nie net of hulle reg glo, of dit reg kan verwoord of nie, maar of hulle lewenstyl die evangelie waardig is, al beteken dit dat hulle daarvoor moet ly.  Lyding is immers ’n voorreg, en ’n teken van ware geloof.  Niks rand immers mense se geloof in die evangelie so ernstig aan, as gelowiges wie se lewens nie die waarheid van geloof sigbaar maak nie.

Eensgesindheid moet ook na binne gehandhaaf word

Dit is net so belangrik om eensgesind na binne te wees – “een in liefde, een van hart, en een in strewe” (2:2).  Die frase wat met eensgesind vertaal word beteken letterlik “om dieselfde te dink”, of like-minded te wees. Dit dui nie net op intellektuele denke nie, maar sluit emosies, houdings en die wil in.  Paulus vra van hulle: “a unity of spirit and sentiment in which powerful tensions are held together by an overmastering loyalty to each other as brothers and sisters in Christ” (Hawthorne).

Hierdie eengesindheid word met drie frases gekwalifiseer wat die betekenis verder uitspel:  deur “dieselfde liefde (agape – liefde ten spyte van) te hê” (vgl 1:9), deur “een van siel te wees” (sumpsuchos – “togetherness in soul”, emosies in harmonie – waarskynlik lê hieragter die Griekse idee dat ware vriende een siel was wat in twee liggame geleef het), en deur “een van gedagte” (phronountes – denke in harmonie) te wees.  Hulle word dus hier opgeroep om eenheid in Christus te soek, en nie in hulle eie onvolkome begrip of ervaring van die evangelie (intellektueel of emosioneel) nie, en dit veral nie te gebruik as ’n verskoning om mekaar te los of ten minste nie die moeite te doen om mekaar te vind nie. En dit moet hulle met vreugde en blymoedigheid doen.

Daarvoor het hulle die ondersteuning en inspirasie van Christus – Sy troos (paraklesis – ’n woord wat ook veral vir die Gees se werk gebruik word) en, die aansporing van Sy liefde – en Sy Gees – die gemeenskap (koinonia) en innige meegevoel en meelewing van Sy Gees.  Dit is die dinge wat selfsug en eersug laat plek maak om aan ander se belange te dink.

LEEF EN ONTPLOOI

  • Hoe is die Here in jou lewe besig om jou vreugdevolle eensgesindheid te leer?
  • Hoe kan jy groei in jou verantwoordelikheid daar rondom?
  • Sluit af met ‘n gebed rondom Fil 2:9-11.

Fil 1:12-26 Kleingroepmateriaal 22 Jan 2012

Week van 22-28 Januarie 2012

Ons werk hierdie kwartaal met die brief van Paulus aan die Filippense.

RUS EN ONTVANG

  • Gesels met mekaar oor julle ervaring van onderskeidende liefde (Fil 1:1-11 van verlede week) en wat die Here julle die week geleer het.
  • Word stil en oordink die betekenis vir jou van die sleutelteks in Filippense – 2:5-8.
  • Laat iemand met ‘n gebed open.
  • Lees Filippense 1:12-26 – Die Gees verander ons tot vurige vrymoedigheid
  • Sê vir mekaar wat die teks by jou wakker gemaak het.

HOOR EN ONTGIN

Hier volg ’n paar verhelderende opmerkings oor die gedeelte:

Die evangelie word vreesloos verkondig

Paulus verwys waarskynlik terug na die onderskeiding waarvan hy in vers 9-10 gepraat het. Hy wil hê hulle moet weet – dws onderskei – dat ontwrigting die evangelie bevorder. Selfs jaloerse mense, wat groot ontwrigting vir Paulus veroorsaak, dra daartoe by. Op ‘n verrassende wyse het die gebeure boonop die ander gelowiges gemotiveer om met nog meer vertroue die evangelie vreesloos te verkondig. Hulle het waarskynlik gedink: as Paulus steeds binne die tronk die evangelie kon verkondig, hoeveel te meer kon hulle dit nie buite die tronk doen nie!  Paulus waardeer daarby alle bydraes tot die evangelie, selfs dié wat uit onsuiwer bedoelings gebore is.  Laat ’n mens dink aan Josef se opmerking aan sy broers: “Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen” ( Gen 50:20).

Die Gees van Jesus Christus werk deur gebed

Let op dat Paulus weer hier van die Gees van Jesus Christus praat, soos die geval was in Hand 16:6-10, toe hy die roeping na Filippi ontvang het.  Toe is hy twee keer verhinder om sy eie kop te volg, voordat hy geroep is na Europa.   Hier noem Paulus dat hy nie moed verloor nie, omdat hulle vir hom bid en die Gees van Christus hom bystaan, net soos hy tevore aan die Romeinse gelowiges geskryf het, dat die Gees ons bystaan in en deur ons gebede (Rom 8:26-27).  Paulus gaan in hierdie brief nog twee keer na die Gees verwys.  In Fil 2:1 praat hy van die koinonia van die Gees.  In Fil 3:3 praat hy van die aanbidding (dien) van God deur die Gees (vgl Joh 4:23-24).  Die Gees het dus ’n hele paar funksies: Hy roep en begelei, Hy staan ons by en werk deur gebede, Hy skep gemeenskap onder gelowiges, en Hy is die Een deur wie ons God aanbid.

Paulus volg die kruispad

Die gebede van die gelowiges en die bystand van die Gees motiveer Paulus om sy doel in die lewe sonder huiwering na te volg, d i om Christus te verheerlik in lewe en sterwe.  Maar let op hoe onselfsugtig hy dit stel: hy wil heengaan om by Christus te wees (onthou hy sit in die tronk met die swaard van die dood oor sy kop), maar hy besef dat dit in die gemeente se belang is dat hy bly.  “Need dictates direction” (Hawthorne).  Die kruis vorm dus sy persoonlike keuses sowel as sy bediening.

LEEF EN ONTPLOOI

  • Hoe is die Here in jou lewe besig om jou vurige vrymoedigheid te leer?
  • Hoe kan jy groei in jou verantwoordelikheid daar rondom?
  • Sluit af met ‘n gebed rondom Fil 2:9-11.

Fil 1:1-11 Kleingroepmateriaal – 15 Jan 2012

Kleingroepmateriaal

Week van 15-21 Januarie 2012

 

Ons werk hierdie kwartaal met die brief van Paulus aan die Filippense.  Ons lees dit in die volgende 9 weke deur.  Jy kan ook by die Bybelskool aansluit Woensdae 18:30 en nog 6 ander van Paulus se briewe hierdie kwartaal saam met ons deurlees.  Registreer by www.bybelskool.com om die bydraes per e-pos te ontvang.

 

RUS EN ONTVANG

  • ­Gesels met mekaar oor julle ervaring van ontwrigting en bevestiging (Hand 16 van verlede week) en wat die Here julle die week geleer het.
  • ­Word stil en oordink die betekenis vir jou van die sleutelteks in Filippense – 2:5-8.
  • Laat iemand met ‘n gebed open.

 

HOOR EN ONTGIN

­ Lees Filippense 1:1-11 – Laat julle liefde in onderskeiding toeneem

­ Sê vir mekaar wat die teks by jou wakker gemaak het.

 Hier volg ’n paar verhelderende opmerkings oor die gedeelte:

Liefdesonderskeiding

Ons praat gereeld van geloofsonderskeiding – om in geloof te onderskei wat God se wil is.  Hier praat Paulus van liefdesonderskeiding, waar hy die woord liefde (agape) koppel aan die woorde betekenisvolle kennis  (epignosis) en  alle onderskeiding  (pase aisthesis) in die oorspronklike Griekse teks, wat in die NAV met liefde, begrip en fyn aanvoeling onderskeidelik vertaal word.  Die woordjie alle (onderskeiding) beteken nie soseer volledige onderskeiding nie, maar ’n breë of diep begrip van wat op die spel is. Paulus bid dus dat hulle liefde só sal toeneem, spesifiek in betekenisvolle kennis (begrip/insig/praktiese kennis) en diep onderskeiding (ervaring/fyn aanvoeling/diep begrip), dat hulle die dinge kan onderskei waarop dit regtig aankom.  Hulle perspektief op wat God doen, moet dus – soos ’n dataprojektor se lens – verhelder en skerper gefokus word.  So kan hulle intelligente keuses maak deur te onderskei wat God wil, gebaseer op ‘n liefde wat groei in/deur kennis en onderskeiding!  En die doel daarvan is 1) persoonlik: om geheel en al in die regte verhouding met God te kom – om “the best people possible” te wees, en 2) publiek: sodat hulle manier van leef en liefhê tot God se lof en eer sal wees – om “the best choices possible” te maak.

Vertroue en verantwoordelikheid

Paulus sit dus twee konsepte reg aan die begin van die brief op die agenda: vertroue en verantwoordelikheid.  Hy is oortuig daarvan dat God die goeie werk in hulle begin het, en dat Hy dit end-uit sal voer en voleindig op die dag van Christus (Fil 1:6).  Sy vertrekpunt, vertroue en verwagting is dus dat die gelowiges met God se voortdurende betrokkenheid en genade (Fil 1:7) staande sal kan bly.  Maar, dit sal ook nie gebeur sonder dat elke gelowige hulle verantwoordelikheid nakom nie.  Daarom die klem hier op onderskeidende liefde, wat deur die brief aangevul sal word met ’n oproep tot persoonlike, en publieke gehoorsaamheid wat in ooreenstemming is met die evangelie van Christus Jesus is.  Dit sal verseker dat hulle op die dag van Christus onberispelik en sonder blaam sal wees, en deur Jesus Christus geheel en al in die regte verhouding met God. En sy gebed is dat hierdie proses tot God se lof en eer sal bydra, die einddoel en mikpunt van alles (Fil 1:10-11).

 

LEEF EN ONTPLOOI

  • ­ Hoe is die Here in jou lewe besig met ’n groeiende onderskeidende liefde?
  • ­ Hoe kan jy groei in jou verantwoordelikheid daar rondom?
  • ­ Sluit af met ‘n gebed rondom Fil 2:9-11.

 

Handelinge 16:6-40 Kleingroepmateriaal – 8 Jan 2012

Kleingroep materiaal – HANDELINGE 16:6-40

Week van 8-14 Januarie 2012

Ons werk hierdie kwartaal met die brief van Paulus aan die Filippense.  Dit is egter belangrik om die verhaal van die gemeente se ontstaan daarmee saam te lees.  Volgende Sondag is Handelinge 16:6-40 dus die fokusteks vir die erediens.

RUS EN ONTVANG

Gesels met mekaar oor die afgelope vakansie en wat vir julle daarvan uitstaan.

Word stil en oordink die betekenis vir jou van die sleutelteks in Filippense – 2:5-8.

Laat iemand met ‘n gebed open.

HOOR EN ONTGIN

Lees Handelinge 16:6-40

  • Sê vir mekaar wat die teks by jou wakker gemaak het.

Hier volg ’n paar verhelderende opmerkings oor die gedeelte:

  • Die Gees van Jesus lei Paulus na Europa: Die Gees tree hier as ontwrigter op deur hulle te verhinder om hulle eie kop te volg, selfs terwyl hulle met die verkondiging van die evangelie besig is.  Let op hoe die band tussen die Gees en Jesus beklemtoon word.
  • Lidia glo in die Here: Die Europese kerkgeskiedenis begin met die bekering van ’n vrou, nogal ryk ook, wat langs ‘n rivier in Jesus begin glo!  Ironies dat ‘n Masedoniese man Paulus in ‘n droom hierheen lok, en dat die eerste bekeerling ‘n vrou is!  Wys jou net hoe die evangelie nie langs die normale sosiale konvensies loop nie.  Interessant is dat haar kinders waarskynlik ingesluit is en dat dit onmiddellik gebeur het.
  • Die Romeinse manier van lewe word ontwrig: Die geestelike beroering wat ontstaan het met die uitdrywing van die slavin se waarsêersgees – waardeur Christus se mag oor die geeste gedemonstreer is – ontlok regsoptrede deur haar eienaars wat Paulus-hulle by die owerheid aankla weens hulle vrees vir ‘n verlies aan inkomste (vers 19).  Interessant genoeg kla hulle vir Paulus-hulle as Jode aan, nie as Christene nie, en omdat Paulus hulle gebruike wil leer (nie leringe nie!) wat volgens die eienaars in stryd sou wees met die Romeinse manier.
  • ‘n Bewaarder glo in God: Met die gebede en lofsange van Paulus en Silas in die tronk kom daar ‘n verdere stuk ontwrigting met die aardbewing wat die tronkdeure oopskud en die boeie laat losspring, wat tot die bewaarder van skrik wil laat selfmoord pleeg.  Die ontwrigting steek egter die lig in die lewe van die bewaarder aan – die bewaarder vra ‘n lig,en kry baie meer! – met die woord van redding wat aan hom verkondig word, en met sy geloofsverbintenis word hy en sy familie gedoop.  Let op hoe dié gebeure ook uitmond in ‘n ete, waardeur die gemeenskap wat nou tussen gelowiges uit verskillende agtergronde tot stand gekom het, gevier word.
  • God werk deur ontwrigting en bevestiging: Wat ons dus hieruit leer, is dat God op twee maniere aan die werk was.  Hy het aan die een kant oortuigings by gelowiges geskep deur die verkondiging van die evangelie, en hulle geloof in Hom bevestig.  Maar Hy was ook besig in die ontwrigtende gebeure deur die eienaars en die skare wat gesorg het dat die evangelie in die publieke ruimte ingedra is.  Selfs die ontwrigtende aardbewing het bygedra tot die impak van die evangelie op en in die lewens van mense.

LEEF EN ONTPLOOI

Hoe is die Here in jou lewe besig met ontwrigting en bevestiging?

Hoe kan jy daarop reageer?

Sluit af met ‘n gebed rondom Fil 2:9-11.