Skip to main content

Author: Chris van Wyk

Joh 4 – Son 25 Jan 09

VERWELKOMING

Daar is by baie van ons ‘n begeerte na meer: meer tyd vir die belangrike dinge in die lewe, meer insig in wat mense by ‘n regtig betekenisvolle lewe uitbring, en veral om meer van God in ons lewe te hê. 

Die wonder is, hierdie begeerte na meer val nie uit die lug nie.  Die begeerte na meer in ‘n mens se lewe is alreeds ‘n getuienis dat God aan die werk is in ons lewe.

Wat ons nodig het, is maniere om hierdie werk van God nie net agter te kom in ons lewe nie, maar veral om ruimte daarvoor te maak, daarby aan te sluit en daarmee saam te werk.

Een van die wonderlike maniere waarop ons ruimte vir God kan maak, is deur Geestelike Gewoontes of dissiplines.  Geestelike Gewoontes is soos druppels water vir ons dors na God.  Dit skep ‘n ruimte waarin ons dors na God geles kan word: druppels vir die dors.  Dít is waarop ons dié kwartaal fokus.

Al die inligting is in die brosjures asook in die Joernaal wat u soos verlede kwartaal elke Sondag sal ontvang.  Dit is nie net vir gebruik in die kerk nie, maar veral ook in kleingroepe en saam met vriende.

Kom ons begin met ‘n lied wat van ons behoefte na God praat wat ook ons verootmoediging voor die Here is:

VEROOTMOEDIGING

Lied 163: “Soos ‘n wildsbok wat smag na water, smag my siel na U, o Heer.” – sit

VOTUM

Psalm 36:8-11:
“Hoe kosbaar is u trou, o God!
U beskerm die mense wat by U skuil.
In u huis geniet hulle oorvloed,
U laat hulle drink
uit die strome van u goedheid.
U is die bron van die lewe,
deur u lig lewe ons.
Laat u liefde bly by dié wat U erken
en u trou by dié wat opreg is.

SEËNGROET

Jesaja 55:1:
“Kom, almal wat dors is,
kom na die water toe,
selfs ook dié wat nie geld het nie, kom,
koop en eet;
ja, kom, koop sonder geld
en sonder om te betaal,
wyn en melk.”

LOFSANG

Lied 154:2,3 “Hier is die Heer by ons teenwoordig, Hy skep die ruimte vir sy werk” – staan
Lied 484:1,3 “Almal wat dors het, kom geniet, die grootste gunsbewys, neem wat die Here gee, verniet.” – staan

DOOP

Lied 289:1 “Jesus, Heer, op wie ons hoop, ons maak soos U ons beveel het: Ons bring kinders hier ten doop.” – sit
Lied 288:3 “Gee aan ons kroos u hulp en troos; gee aan ons wysheid, Here.” – sit

KINDERTYD

Lied 541:1,2,3 “Ons bring aan U, Heer Jesus, ons lof en dank en eer.  Ons wil U met ons lewe, terwyl ons jonk is, eer.” – sit

Was julle al regtig dors?

Wat doen julle as julle dors is?

En help dit?

Hier is ‘n paar diere – kom ons kyk wat hulle doen?

Hoe lank help dit?

‘n Mens raak altyd maar weer dors.

Een keer het die Israeliete in die woestyn só dors geraak.  En hulle het gekla.

Wat het toe gebeur?  Kan julle onthou?

Moses het gebid en die Here het vir hulle water gegee.

Moses het op ‘n rots geslaan, en toe het daar water uitgevloei.

En hulle kon hulle dors les.

Dink julle dit was genoeg?

Nee, want hulle het weer dors geraak.

Net soos ons.

En ons kan ook vra vir God vir ons behoeftes, water, kos, klere, al die dinge wat ons nodig het.

Nou ons gaan netnou die storie lees van Jesus by ‘n put.

Weet julle wat is ‘n put?

Hier is ‘n prentjie van ‘n vrou by ‘n put.

Nou Jesus was ook dors.

En daar kom toe ‘n Samaritaanse vrou aan wat ‘n kruik het waarmee sy water kan skep.

En Jesus vra vir haar vir water.

En as sy wonder hoekom hy vir haar vra, dan begin Jesus praat van ‘n ander dors.

Die dors na God.

Want julle weet, ons sal altyd weer water wil drink as ons dors is.

En dit is reg so.  Ons is so gemaak.

Maar, Jesus kan ons dors na God regmaak.

Weet julle wat dit is as ons dors is na God?

Dit is as ons sleg voel oor iets wat ons verkeerd gedoen het, en ons wil hê Hy God moet ons vergewe, dan het ons ‘n dors na God.

En as ons bid en ons vra Hom om ons te vergewe, en ons weet mos Hy doen dit as ons dit bedoel, dan voel ons asof ‘n lekker glas koue water of ‘n glas koeldrank gedrink het.

God gee vir ons geestelike water!

En Hy les ons dors.

GEBED

SKRIFLESING

Net iets oor die put van Jakob – dit is ‘n put wat Hy gekoop het van Hamor (Gen 33) en aan Josef gegee het op sy sterfbed (Gen 50), hoewel Josef dit nooit in besit geneem het nie.  Net sy bene is daar begrawe (Jos 24).

Lees Johannes 4

WOORDVERKONDIGING

Jesus is die enigste een wat jou lewe kan verander.  Hy is die enigste een wat jou begeerte na God, daardie behoefte na sin en betekenis, na heelheid en tevredenheid kan bevredig.

En die beste manier om dit reg te kry, is om, soos Eugene Petersen dit noem, ‘n aptyt vir God te ontwikkel, ‘n dors na Hom.  Hoekom sê hy so?  In The Message, vry vertaal, sê hy dit as volg: “God is die kos en wyn van die beste ete wat jy ooit sal eet.” (Matt 5:6).

Nou die interessante van God se manier, is dat Hy ons ontmoet waar óns is, in ons behoeftes en begeertes.  Hy sit nie eers jou begeertes af en begin dán met jou werk nie.  Hy vra nie eers dat jy darem net só ‘n bietjie meer volwasse moet raak in jou begeertes nie.  God is nie ‘n askeet, een wat die vreugdes en genietinge van die lewe afsit, nie!

Nee – Hy is maar te bly as ons behoeftes het, want dan kan Hy daarby aansluit, dit bevredig, en ‘n geleentheid skep dat ons dieper dors na meer van Hom bevredig kan word.

Hoekom?  Want verborge in ons behoeftes en begeertes is ‘n aptyt, ‘n dors vir God, die een wat ware lewe gee.

KOM ONS KYK EERS VAN JESUS SE KANT AF NA DIÉ VERHAAL:

Jesus is op reis na Galilea in die noorde.  Hy vat die kortpad deur Samaria en nie die gebruiklike langer roete aan die oostekant van die Jordaanrivier om die Samaritane te vermy nie.

Nou ons moet onthou: Jode het nie met Samaritane geassosieer nie.  En dit was wedersyds.  Hulle onderlinge stryd het reeds 7 eeue tevore begin, toe die noordelike ryk, met Samaria as hoofstad, deur die Assiriërs verower is.  ‘n Klomp Assiriërs het daar kom bly, wat tot grootskaalse ondertrouery tussen die Jode en Assiriërs gelei het.  Dit het tot ’n gemengde godsdiens en ‘n gemengde rasse groep in daardie gebied gelei. Die Jode van Juda, die suidelike ryk, het die Samaritane dus as ’n onsuiwer groep mense beskou en hulle gehaat omdat hulle, volgens die Jode, hulle volk en godsdiens verraai het. Daarom het die Jode uit hulle pad gegaan om Samaria en die Samaritane te vermy.

Jesus laat Hom egter nie deur dié eeue lange stryd van stryk bring nie, en as hy by die fontein ‘n Samaritaanse vrou kry, vra Hy vir haar water.

Daarmee het Jesus twee grense oorgesteek.  Hy steek 1) die rasse en sosiale grens oor, én Hy steek 2) die geslag- of gender grens oor – Hy as man praat met ‘n vreemde vrou op ‘n publieke plek.

En die interessante van sy gesprek met haar, is dat Hy haar baie spesifiek vra om sy dors te les.  Daardeur erken Hy haar behoefte aan waardigheid, en Hy gee haar die mag om iets vir Hom te beteken.

As sy met Hom terug begin praat, bied Hy vir haar die lewende water aan, iets waarin sy onmiddellik belang stel, hoewel sy dit eers verkeerd verstaan.

En op haar vraag na die regte plek van aanbidding, lei Jesus haar na ‘n nuwe manier om God te aanbid, nie meer in Jerusalem of Samaria nie, maar op enige plek, solank dit in Gees en in waarheid geskied.

Daarmee steek Jesus natuurlik saam met haar ook 3) die godsdiens grens oor na ‘n nuwe plek waar almal voor God gelyk is en met Hom in ‘n geestelike verhouding kan leef.

Die afloop van die verhaal is treffend – die vrou wat ‘n verstoteling in haar eie gemeenskap was, dié dat sy op die middag kom water skep het, gaan terug na die Samaritaanse gemeenskap, bring hulle na Jesus toe, en herstel eintlik die gemeenskap nie net met God nie, maar ook tussen Jode en Samaritane.

Jesus bevredig dus haar behoefte aan menswaardigheid, aan gemeenskap met haar mense, maar ook aan die regte verhouding met God.

MAAR KOM ONS KYK NOU NA DIE VERHAAL UIT DIE VROU SE HOEK:

Sy gaan skep water op die warmste tyd van die dag, 12:00.  Vroue het twee keer ‘n dag gaan water haal vir hulle huise in daardie tyd, soggens en saans, wanneer dit koeler was.  Hierdie Samaritaanse vrou vermy dus die ander vroue van die dorp, miskien omdat sy verwerp gevoel het, of meer waarskynlik inderdaad ‘n verworpene was.  En verwerpte mense weet ons mos, het ‘n behoefte aan aanvaarding en gemeenskap met ander mense – al sal hulle dit wegsteek of ‘n front voorhou. Die feit dat sy saamgebly het met iemand op dié stadium verraai dat sy ‘n behoefte aan mense gehad het, al was dit dan nou ‘n opeenvolging van mans.

As Jesus vir haar by die put vra na water, is haar eerste reaksie om Hom weg te stoot met die verweer dat Jode nie met Samaritane gepraat het nie, en mans weer nie met vroue in die openbaar nie.

Maar ‘n interessante ding gebeur.  As Jesus vir haar antwoord en begin om God by haar behoefte uit te bring: “As jy geweet het wat God gee …” (vers 10) dan raak sy geïnteresseerd en wil sy by hierdie vreemdeling leer, haar behoefte na meer bevredig.

Eers toets sy nog ‘n laaste keer sy vermoë: “Jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob nie …” (vers 12), maar soos Jesus haar al hoe dieper inlei in alles wat God haar kan gee, ‘n fontein van water wat in haar binneste kan opborrel en vir haar die ewige lewe kan gee, dan raak sy leerbaar.

En haar leerbaarheid lei haar tot ‘n oorgawe aan Jesus se perspektief op God en die wyse waarop Hy aanbid moet word.

En as Jesus vir haar sê dat Hy die Christus is, raak sy ‘n getuie, wat nie net teruggaan na die dorp en die waarheid oor haarself vertel nie, maar nog meer belangrik, Jesus as die Christus aan hulle voorstel.

Dit is asof die ruimte in haar lewe vir God progressief groter word deur vier fases:
•    Sy raak leerbaar.
•    Sy gee haarself oor aan Jesus
•    Sy vertel die waarheid oor haarself
•    En sy raak ‘n getuie.

En nou moet u mooi luister, want ons leer ongelooflik baie hieruit: Jesus sluit aan by haar behoefte aan aanvaarding, haar behoefte om mens in eie reg te wees, haar behoefte om ingesluit te word in die gemeenskap waar sy bly, en Hy bevredig ál die behoeftes, oor en oor … maar sy leer ook die Messias ken, dié Een wat haar diepste begeerte na God kan bevredig.

En God laat water opborrel uit die fontein binne in haar, sodat sy in die dorpie gaan getuig van die lewende water wat Jesus bring.  En haar getuienis maak die deure van die dorpie oop vir Jesus.  Hulle reageer in gasvryheid, nooi Jesus om vir ‘n paar dae daar oor te bly, en raak op hulle beurt getuies: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vir ons vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.” (vers 42).

BETEKENIS

En dit gee ons ‘n diep insig in hoe die geestelike lewe werk:

Van God se kant af sluit Hy by die behoefte aan wat dié vrou het na aanvaarding, en selfs in die geval van die dorpie.  En Jesus nooi haar uit, daag haar uit, moedig haar aan, vertoef by haar totdat sy kan reageer op die geskenk wat Hy gee.

En in die proses kom daar ruimte vir Hom in haar en in die dorpie se lewens.

Wat sien ons in die vrou?
•    Leerbaarheid
•    Oorgawe
•    Getuienis!
•    Praat die waarheid

En by die dorpie Sigar?
•    Gasvryheid
•    Getuienis

Van die vrou en die dorpie se kant af, maak hulle ruimte vir God in hulle lewe deur leerbaar te word, deur hulle oor te gee aan wat God deur Jesus vir hulle wys, deur nie stil te bly oor die geskenk van lewende water wat God deur sy Gees gee nie, deur die waarheid te begin omhels as die enigste manier waarop gemeenskap herstel word, deur gasvry te wees en deur te getuig.

En omdat dié dinge so kragtig gewerk het in hierdie mense se lewens, het dit deel geword van die geestelike wysheid van die kerk.  Die kerk het agtergekom, mense wat leerbaar word, mense wat hulle aan God oorgee, mense wat die waarheid begin praat, mense wat gasvryheid begin leef, is mense wat die lewende water wat God gee, ervaar as ‘n fontein wat in hulle binneste opborrel.

Én … het die kerk geleer deur die eeue, as jy meer van God in jou lewe wil ervaar, is dit dié dinge wat jy as geestelike gewoontes of dissiplines kan aanleer, sodat dit jou gedrag kan bepaal en jy ruimte vir God kan maak in jou lewe.  Dws, as jy leerbaar is, as jy jou oorgee aan God op ‘n daaglikse basis, as jy die waarheid praat, as jy gasvry lewe, dan gee jy God kans om sy werk te doen. 

En dit is wanneer dié dinge ‘n lewenswyse word, wat jou lewe regtig vrug begin dra, dat jou behoeftes bevredig word, dat jy ‘n fontein van lewende water vir ander word.

Só word ‘n mens met jou volle menswees en met jou spesifieke behoefte ingetrek in God se werk en kom daar ‘n ruimte dat Hy ons lewens kan transformeer.

Natuurlik is die dieptepunt van al ons begeertes eintlik ‘n begeerte na God, maar jy begin op die plek waar jy is, soos die vrou, by haar verworpe ervaring, die middag by die put, en deur die ruimte wat daar in haar kom vir God se werk,  in haar geval deur leerbaarheid en oorgawe aan Jesus lei dit haar tot ‘n lewe in waarheid en getuienis … En haar diepste begeerte na God word bevredig.  Sy ontmoet die Messias.

Dít is waarmee geestelike dissiplines ons hierdie kwartaal gaan help.  Om in ons begeertes ons behoefte aan God raak te sien, en in die beoefening van spesifieke geestelike gewoontes ruimte te skep dat Hy ons lewe kan volmaak met die lewende water, vir ons, en vir ander.

Elke week gaan ons daarom een geestelike gewoonte neem, dit verbind aan ‘n behoefte na meer, die Skrif perspektiewe daarop uitspel, en dan maniere om die gewoonte te beoefen ondersoek en voorstel vir inoefening in die daaropvolgende week.  Rethie gaan ook ‘n groep Woensdagaande met Didage op ‘n dieper reis met die geestelike gewoontes neem.  Daar is plek vir 20 mense.

VOORBIDDING

DANKOFFER

SLOTSANG

‘n Mens kan baie woorde vir die dissiplines gebruik: om Hom te aanbid, om sy Naam aan te roep, om Hom te loof, om tot Hom te bid. En ‘n mens kan dit op baie maniere doen – Adel Calhoun noem 62 sulke dissiplines wat ons vandag nog kan beoefen, en daar was en is nog meer.

En hoe ‘n mens ook al dink oor die doel van die geestelike dissiplines, ten diepste is dit telkens om met God gemeenskap te hê.  Om Hom lief te hê, om Hom te dien, om na Hom te luister, om van Hom te leer, om deur Hom vertroos te word, om deur Hom tot rus gebring te word, om deur Hom vergewe te word, om ‘n antwoord op gebed van Hom te ontvang.

Lied 601:1,4,5 “Elkeen wat dors het, mag kom; drink die fontein se water.  God kom dan self by ons woon.” – staan

SEËN

AMEN

Lied 313 – staan

Bybelskool: Lukas en Handelinge – Chris van Wyk

Ons lees die evangelie van Lukas en die Handelinge van die apostels.  Geskrywe deur Lukas, die dokter, fokus die evangelie van Lukas op die redding wat Jesus bring vir alle Jode, van die platteland in Galilea tot in die stad Jerusalem.  Sy tweede boek, Handelinge, vertel die verhaal van die redding wat deur die werk van die Gees horisontaal versprei van die stad Jerusalem terug na die platteland, maar dan ook verder na Asië, Afrika, Europa en uiteindelik na die groot stad en magsentrum van daardie tyd, Rome.
Koste: R30 per persoon – almal welkom
{yootooltip title=[Inskrywings] width=[400]}Liesl by die kerkkantoor: 0415835115 – ete R25 pp{/yootooltip}

1 Sam 3 – Son 18 Jan 09

Die gevaar om in die kerk te slaap
Iemand het voorgestel dat ’n goeie titel vir ‘n preek oor hierdie episode in Eli se lewe, sou wees – “Die gevaar om in die kerk te slaap”. 
Dit laat dink my aan die ou storie van ’n man wat baie lief was vir slaap in die kerk.  Die predikant was later so gefrustreerd met die man se geslapery tydens sy preek dat hy besluit het om die man ’n lessie te leer.  Die predikant se eentonige manier van preek het die man gou-gou gesus tot in ’n diepe slaap.  Die predikant het hierna vir die gemeente gesê:  “Almal wat hemel toe wil gaan, staan op!”  Almal het opgestaan behalwe die slapende man.
Die predikant het almal laat sit en toe gevra:  “Almal wat hel toe wil gaan…” hy het sy vuis op die kansel hard geslaan en hard geskreeu:  “… Staan op!”
Die slapende man het met ’n gesnork wakker geskrik en penorent gespring – en die res van die gemeente het omtrent gegiggel.  Die man het rondgekyk na al die mense wat bly sit het en toe na die predikant gekyk en gesê:  “Dominee, ek weet nie waarvoor ons stem nie, maar dit lyk of ek en jy die enigstes is wat ten gunste daarvan is!”
Maar … Samuel het net soos Eli in die kerk, dit is nou letterlik in die tempel geslaap … en anders as Eli, het hy daar God se stem gehoor.  
Agtergrond: 
U ken die verhaal goed.  
Net om die breër prentjie eers te skets: 
  • Die eerste boek van Samuel vertel die verhaal van die eerste koning van Israel, Saul. 
  • Die tweede boek vertel die verhaal van Dawid, die tweede koning.  En die boeke word na Samuel vernoem omdat hy hierdie twee konings gesalf het.  
  • 1ste Konings vat die verhaal dan verder met Salomo en so aan met die res van die konings van Israel en later die Suid-ryk en die Noordelike ryk.
Hoofstuk 1-7 van 1 Samuel vertel die begin van die verhaal, die verhaal van Samuel en later die verhaal van die ark. Samuel is ‘n unieke karakter, gelyktydig priester, profeet en rigter (leier-koning), gebore uit ’n vrou wat nie kinders kon hê nie, wat uit dankbaarheid teenoor die Here, hom in die sorg van die priester Eli gelaat het om voltyds in diens van die Here te staan.  
Waar Eli se seuns ’n goddelose spul was, het Samuel die guns van die Here geniet.  
Hoofstuk 3 vertel nou hoedat die Here hom geroep het om as ’n betroubare profeet op te tree. 
Uitleg: 
In die eerste vers word dit duidelik gemaak dat die Here nie meer gereeld met Sy volk deur profete of priesters gekommunikeer het nie.  Waarskynlik is die rede hiervoor die sonde van Eli en sy familie, soos bekendgemaak in hoofstuk 2.  In die sewe, agt jaar wat Samuel onder toesig van Eli in Silo was, het die woord van die Here net een keer tot iemand gekom.   
Soos talle kere in die heilsgeskiedenis, sou God dan ook hier nie deur Eli, die ervare priester, met Sy volk praat nie, maar deur die geringste – die jong seun Samuel.
Die verhaal van God se roeping van Samuel begin toe hy in die tempel by die ark geslaap het, en die bejaarde Eli (sy oë was al swak – in 4:15 is hy basies blind en 98 jaar oud) op sy beurt in ’n kamer langs die tempel geslaap het.  Die priesters se slaapplek was in vertrekke langs die tempel sodat hulle ook snags kon toesig hou (vgl. Eks. 33:11).   
Vroeg in die môre het die Here na Samuel geroep.  Die lamp waarna hier verwys word (vers 3) moes deur die nag in die tempel brand en is eers in die môre, wanneer dit lig word, geblus (sien Eksodus 27:21).  
Nadat God drie keer na Samuel geroep het – en hy Eli gaan pla het – besef Eli dat dit God is wat na die jong seun roep.  
Gevolglik gee hy aan hom leiding, eintlik ‘n soort liturgiese stukkie raad, oor hoe hy moes antwoord (Praat, Here, u dienaar luister) indien die Here hom weer sou roep.  
Interessant is dat in die oorspronklike Hebreeuse manuskrip, Samuel die vierde keer antwoord sonder om die woordjie “Here” te gebruik, hy sê net: “Praat, u dienaar luister” – dalk omdat hy nog onseker was of dit werklik die Here was wat met Hom gepraat het.  Die woord is in die Afrikaanse vertaling bygevoeg.
Dit is dus duidelik dat Samuel op die stadium nog nie die Here waarlik geken het nie.  God kies iemand wat as’t ware van onder af kan begin om ‘n pad met Hom te loop.  En dit is ook interessant dat dit wil lyk asof daar nie net ‘n stem was nie, maar een of ander verskyning van die Here.  Die skrywer vertel dat die Here gekom het (vgl. Deut. 33:2; Ps. 50:3), gaan staan het (vgl. Eks. 34:5; Num. 22:22) en dan vir Samuel twee keer op sy naam (amper soos met Moses in Eks. 3:4) geroep het.
Die eerste boodskap wat Samuel as profeet moes bring, was ’n harde boodskap.  Eli se seuns wat die offerdiens by die huis van die Here oneer aangedoen het, sou sterf.  Die Here maak dit duidelik dat geen versoeningsoffer hulle sondes kon uitwis nie, want hulle het die offers ontheilig.
Eli word ook nie gespaar nie.  Omdat hy hulle laat begaan het, word hy saam met hulle veroordeel.  Tot Eli se krediet aanvaar hy God se oordeel oor sy versuim om sy seuns te straf in geloof (vers 18).
Die gedeelte sluit af met ’n oorsig van Samuel se grootword jare.  Die belangrikste is dat die Here by hom was en dat Hy nie een van Samuel se woorde onvervul gelaat het nie.  En waar die Here se woord in die begin afwesig was in die land, het dit nou “van Dan tot Berséba” (so in die Hebreeus) onderskeidelik die noordelike en suidelike grens van Israel – weerklink. 
Hoe klink God se stem?
 Dit laat dink my aan die storie …
’n Jong kind het ’n spontane vraag tydens ’n erediens gevra.  Dit het gebeur toe die kinders almal kansel toe gekom het vir die kindertyd.  Voor die predikant haar eerste woorde kon sê, het die seun gevra:  “Hoe klink God se stem?”
Almal in die gemeente het gewag op die predikant se antwoord op die vraag “Hoe klink God se stem?”
Sy het stadig begin praat:  “God se stem klink soos …” terwyl sy ’n skietgebed bid:  “Here, help asb!” 
Sy het weer begin: “Die stem van God klink soos jou beste vriend, soos iemand wat vir jou lief is, soos iemand wat jy vertrou, iemand met wie jy dinge kan deurpraat. Die stem van God klink soos jou ma of pa of gunsteling “baby sitter” wat jou troos as jy in die nag ’n slegte droom gehad het. Jy hoor hoe hulle langs jou bed praat:  “Alles is okei.  Alles is reg.  Ek is hier langs jou.” 
En ons kan ‘n paar ander maniere byvoeg, God praat deur Die Bybel, deur ’n boek, deur ‘n fliek, deur musiek en die natuur. 
Herkenning
Soms is dit maar moeilik om God se stem te herken; soos in Samuel se geval.  Samuel was besig om te leer hoe om na ‘his Master’s voice’ te luister.  Dit is ons probleem ook.  Dan het ek en jy vriende of ander mense nodig om ons daarmee te help – soos Eli vir Samuel gehelp het.   
Versigtig vir die komitee in jou kop!
Jan Johnson waarsku dat ‘n mens in jou luister na God versigtig moet wees vir die stemme van die “komitee” in jou kop! Sy noem hulle “your worst interrupters” (Savoring God’s Word p 76). Hulle maak God se stem na, maar is eintlik deel van een of ander gebrokenheid in jouself.
Die een komitee-lid wat my tref in haar lysie is “The rescuer” – die een wat voorstel dat jy betrokke raak by alles en almal … sodat hulle jou kan waardeer! “As a result, busyness is next to godliness.”
Daarom sê sy: “If you think you hear God saying in every passage, ‘Help people until it exhausts you. Make people happy.’ that is not God but your rescuer sabotaging your meditation.”
Sy stel ook voor dat ‘n mens nie die stemme moet probeer uitdoof nie, maar moet herken vir wat hulle is. En dan: “gently escort (them) to the door of your heart”, terwyl jy bv. vir die “rescuer” sê: “God shows up in every catastrophe. Sometimes God asks you to come along; other times, you stay behind.”
Mense maak dit ook nie altyd maklik met hulle skeptisme nie.
Lili Tomlin, die Amerikaanse komediant, het ’n pittige opmerking gemaak:  “Why is it when we talk to God, we call it prayer, but when God talks to us, we say you’re schizophrenic.” 
God praat vandag nog met mense. God praat nie net met ons op een manier nie, wees oop vir Sy metodes!  Ons kan dus elke môre vra, “Here, laat my vandag U stem hoor.”
Hulp dié kwartaal
Didage gaan aan – en elkeen van die aanbiedinge het in ‘n mindere of meerdere mate iets oor die herkenning van die stem van die Here. 
Gehoorsaamheid
Maar nou vir iets baie kosbaar.  
C.S. Lewis het gesê:  “There are two kinds of people in the world: those who respond to God saying, ‘Thy will be done, God, have it Your way’ and those to whom God says, ‘All right, then, have it your way.’”
As ‘n mens die Here se stem hoor, en jy doen nie wat Hy sê nie, dws jy is nie gehoorsaam nie, dwarsboom jy jou herkenning van die Here se stem.  Dit is wat met Eli gebeur het – Hy het die stem van die Here geken … maar met tyd ongehoorsaam geraak daaraan … en toe die herkenning van die stem van die Here verloor (have it your way).
Gehoorsaamheid herstel nie net jou verhouding met die Here nie.  Dit is die enigste wyse waarop jy sal voortgaan om die stem van die Here te hoor. 
Hoe kan ons gehoorsaam?
 Nou wat vra die Here van ons?  Wat is die dinge waaraan ons gehoorsaam moet wees?  Wat is die dinge wat ons moet doen, sodat ons die woord van die Here kan hoor en herken?
Wel ons hoef net te doen wat Samuel gedoen het.  Hy illustreer wat elke kind van God moet doen.  Hy was ’n koning (reg laat geskied – in die uitvoering van sy pligte), Hy was ’n priester (liefde en trou bewys – in sy omgee vir mense) en Hy was ‘n profeet (bedagsaam gelewe voor God – wat ingesluit het dat hy die woorde van God met sy mense gedeel het). 
En dit is wat Miga in hfst. 6:8 verduidelik:

Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is:
Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied,
dat jy liefde en trou sal bewys,
dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.

Dis God se BTW vir die lewe:
• Beoefen regverdigheid en billikheid.
• Toon liefde en trou.
• Wandel met God.
Micah 6:8 The Message:

But he’s already made it plain how to live, what to do, 
what God is looking for in men and women.
It’s quite simple:  Do what is fair and just to your neighbour,
be compassionate and loyal in your love,
and don’t take yourself too seriously – take God seriously

Miga 6 : 8 se kinder parafrase

Play fair (reg sal laat geskied) – Koning
Be nice (liefde en trou sal bewys) – Priester – Wounded & Gentle Healer
Hold God’s hand (bedagsaam voor God sal leef) – Profeet

1.  Om Koning te wees – het te maak met jou daaglikse lewe – jou werk, skool, universiteit , wat ook al. Hoe pak jy dit aan? Is ‘play fair’ deel van jou aanslag? Die aksent is op play & fair – speel én regverdig.  Dit beteken dat ons die wêreld aan die kant sal maak sodat mense daarin kan speel!
Luther was lief om te sê:  “God melk die koeie deur jou.”  M.a.w. alles wat jy doen, is potensieel ’n roeping van God.  God wat deur jou wil werk.  Somtyds kan dit moeilik wees om in ons daaglikse doen en late te sien dat dit ’n roeping van God af is.
2.  Be nice (liefde en trou sal bewys) – Priester 
Beoefen liefde in alles wat jy doen!  Gee liefde vir mense, maar as jy dit nie kan regkry nie, sal jy dan ten minste probeer om niemand seer te maak of kwaad aan te doen nie?
Dit was Winston Churchill wat die wyse woorde kwyt geraak het:  “We make a living by what we get, but we make a life by what we give.”
3.  Hold God’s hand (bedagsaam voor God sal leef) – Profeet
Lees die Woord daagliks (Deut. 29:29) – leer meer hoe God is, en wat vir Hom belangrik is.  Hoe beter ons God se denke, motiewe en maniere leer, hoe meer sensitief sal ons wees om Sy wil te gehoorsaam.
Lees My woord, Hê My Woord lief, Leef my Woord.
Die gevolg van sulke optrede?
As ‘n mens dié dinge doen, as jy só gehoorsaam raak, dán kom daar meer spesifieke opdragte van die Here, wat maar net meer spesifiek uitvoering gee aan play fair, be nice en hold God’s hand.
Om jou roeping na te kom, jou spesifieke roeping as gelowige (en dit is ook waar van ons as gemeente), begin by die algemene goed, en dan word dit meer spesifiek.
Ek sluit af – wat kan ‘n mens verwag as jy begin om te luister en regtig te doen?
Die volgende storie verduidelik iets daarvan:
’n Klomp teologie studente is in die studie lokaal deur hulle dosent betrap waar hulle sit en Dambord speel – in plaas van om die Bybel te bestudeer soos hulle veronderstel was om te doen.  Baie verleë is hulle toe gou agter die boeke in.  Maar die dosent  glimlag en sê hulle hoef nie skaam te wees nie, want as hulle mooi kyk, sal hulle God se wette kry waar hulle hulleself ook al mag bevind.
Hy vra hulle toe of hulle die drie reëls van Dambord ken.  Natuurlik, het hulle gedink, hulle ken die reëls van die spel wat hulle speel!  Maar nie een was so voorbarig om te lyk of hy die dosent wil leer nie.  Daarom gee die dosent, ’n student van die  Bybel en teologie, vir hulle die reëls van Dambord deur:
• Eerstens, sê hy, ’n mens mag nie twee skuiwe tegelyk maak nie.  
• Tweedens, ’n mens mag net vorentoe skuif.  
• En Derdens, as ’n mens die laaste ry  bereik het, kan jy skuif net waar jy wil.
Dit, sê hy, is wat die Bybel ook leer. Toe stap  hy weer uit.
Eers baie later het die studente besef wat hulle daardie dag deur Dambord geleer is:  
1. Hulle moet nie hulle lewens versmoor deur meer as een skuif op ‘n slag te probeer maak nie, 
2. Hulle moet hulle doel, dit waaraan hulle werk (in Miga se woorde: play fair, be nice, hold God’s hand), duidelik voor oë hou,
3. en dat hulle eers waarlik vry gaan wees as hulle by die laaste ry uitkom. As hulle God en hulle naaste liefhet soos hulleself.